Sosiale Skakels

Besoekers

We have 5 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 14 October 2013 08:13

1 Kor 2:12 & 13 So soek jy ware wysheid

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:  1 KOR 2:6 – 16

TEKS:  1 KOR 2:12 EN 13             

TEMA:  SO SOEK JY WARE  WYSHEID

 

Wysheid en dwaasheid..........

Iemand met wysheid neem die regte besluite en maak goeie keuses. Die dwaas, daarteenoor, neem verkeerde besluite en maak slegte keuses.

Broeder en suster.  Hoe en waar kry ek en jy ware wysheid? Elkeen van ons wil immers die regte besluite neem en ook goeie keuses maak.

Toe die jong Salomo destyds sy pa Dawid as koning opgevolg het, het hy gebid en vir die Here gevra:

Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê.... (1 Kon 3:9)

En dan antwoord die Here hom:

Omdat dít jou versoek is en jy nie vir jou  ʼn lang lewe, of rykdom, of die dood van jou vyande gevra het nie, maar insig in wat reg is, sal Ek aan jou versoek voldoen.  Ek gee aan jou wysheid en insig soos niemand vóór  jou gehad het of ná jou sal hê nie. (1 Kon 3:11 en 12)

Dit is nogal  ʼn goeie vraag of die mens van ons tyd nog steeds soos Salomo  ernstig na wysheid soek.  

Die meeste mense dink mos nie meer behoorlik vir hulleself nie.  Heeltemal te veel mense loop soos  ʼn klomp skape agter die moderne media aan.  Dit wat op die TV verskyn en wat jy met behulp van jou rekenaar kan opspoor, of wat op Face Book vertel word,  word sommer so eenvoudig as die waarheid aanvaar. 

En wat ons kinders betref, is die onstellende feit is dat TV programme en die inligting op die rekenaar deesdae  ʼn veel groter invloed op hulle denkwyse het as wat die deursnee dalk ouer besef.

Hoe en waar kry   ʼn mens ware wysheid?  En hoe begelei ouers hulle kinders om ware wysheid te soek?

Ons kan maar weer na die wyse Salomo se raad luister.  In die boek Spreuke sê hy:

My seun, neem aan wat ek jou sê, maak wat ek jou voorskryf jou eie, hou jou ore oop vir wysheid , span jou in om te verstaan.  Roep insig by, vra na gesonde begrip.  Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos  ʼn verborge skat.      (Spr.2:1 – 4)

Een ding staan soos  ʼn paal bo water

1. SOMMIGE MENSE KRY WYSHEID EN ANDER NIE

Kom ons begin by die wat  nie die ware wysheid kry nie. Wie is hulle?  In ons teksgedeelte praat die apostel Paulus twee keer van die heersers van hierdie wêreld. Hy sê húlle ken nie die ware wysheid nie.

Waarskynlik het Paulus die Joodse en Romeinse heersers van destyds hier in gedagte. Hy sê:

Nie een van die heersers van hierdie wêreld het hierdie wysheid geken nie.  As hulle dit geken het, sou hulle nie die Here van die heerlikheid gekruisig het nie.

Omdat hulle nie die ware wysheid geken het nie, het hierdie heersers dom en verkeerde besluite geneem. Hulle het die Here Jesus verwerp..... Hulle het Hom gekruisig!  

Die probleem is dat mense wat in die oë van die wêreld die leiers is, gewoonlik volgens eie insig optree. Hulle maak staat op hulle kennis en ervaring.  Sulke mense leef dus nie in afhanklikheid van die Here nie.  Uiteindelik verwerp sulke mense die Here Jesus.   

En die hartseer is dat sulke mense selfs op  ʼn stadium die Here op  ʼn manier leer ken het – soos in die geval van die Joodse leiers. Hulle was deel van God se verbondsvolk – maar dan verwerp hulle vir Christus!    

Aan die anderkant is daar weer die mense wat die ware wysheid soek en dit kry. Wie is hulle?

In vers 6 sê Paulus:

Tog is wat ons verkondig wysheid, maar net vir die wat daarvoor ryp is(mens kan dit ook vertaal:  net vir die wat geestelik volwasse is). 

Mense wat geestelik volwasse is,  is uiteraard diegene wat hulle deur die Heilige Gees laat lei.  In sy brief aan die Galasiërs skryf Paulus die volgende: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nie swig voor die begeertes van julle sondige natuur nie. (Gal 5:16)

Dit is die mense wat die vrug van die Gees dra (Gal 5:22).  Elke mens  wat so onder leiding van die Heilige Gees lewe se optrede staan in skerp kontras met diegene wat agter die begeertes van hulle sondige natuuraanloop.

Ware wysheid, broeder en suster, is nie afhanklik van   ʼn hoë intellek of  ʼn klomp akademiese kennis nie. Die ware wysheid waarvan die apostel Paulus hier praat, het volledig te doen met die kragtige leiding van die Heilige Gees. 

Jakobus verduidelik dit so:

Is daar  ʼn wyse en verstandige mens onder julle?  Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie.  Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, want waar daar naywer en selfsug is, kom wanorde en allerhande gemene dade.  Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelyde en goeie vrugte, onpartydig, opreg. (Jak 3:13 – 17)

Nou  die belangrike vraag:

2. HOE KRY MENS DEEL AAN HIERDIE  WARE WYSHEID?

In die eerste plek moet ons verstaan dat hierdie wysheid nie van menslike oorsprong is nie.

Paulus sê hierdie wysheid is iets: 

Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van  ʼn mens nie opgekom het nie.....  God het dit gereedgemaak vir die wat Hom liefhet.(Vers 9)

Maw, broeder en suster, hierdie wysheid het nie ʼn menslike oorsprong nie.   Daarom noem Jakobus dit wysheid wat van Bo kom.

En Paulus sê in vers 10:

Aan ons dan het God dit deur sy Gees bekend gemaak.    

Hierdie ware wysheid kan nie uit  ʼn mens voortkom nie. En in vers 7 noem Paulus dit die verborge waarheid wat bedek was....  en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid.

Paulus sê verder hierdie openbaarmaking van die ware wysheid is  ʼn proses.  In verse 10 – 13 verduidelik hy. Sodat ons uiteindelik die wysheid van God kan ontvang, het Hy dit eers deur sy Gees aan sy apostel bekend gemaak en hulle het dit weer aan ander oorgedra wat dit onder leiding van dieselfde Gees ontvang het. So ontvang ons dit vandag nog ook deur die Gees as ons die Bybel lees. 

3. WAT IS WARE WYSHEID DAN?

Volgens verse 7 en 9 is dit  ʼn verborgenheid wat bedek was, maar wat van ewigheid af vir ons gereed gemaak is tot ons ewige heerlikheid.  Dit het alles te doen met God se ewige verlossingsplan. Hy het nog voordat Hy die wêreld geskep het vir ons  ʼn heerlikheid in Christus voorberei.

In Ef. 1 skryf Paulus:

So het Hy , nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.  In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking toe ook al daarvoor bestem om sy kinders te wees.  

Ware wysheid het alles te doen met ons nuwe lewe in Christus. As jy in Hom lewe, is jy  ʼn nuwe mens vol wysheid wat van Bo kom.  Daarom kan die apostel Johannes so met oortuiging sê: 

Wie die Seun het, het die lewe(1 Joh 5:12). 

In vers 16 sê Paulus: 

Wie ken die gedagtes van die Here?  Wie sal Hom raad gee? Maar ons, ons het die Gees van Christus

En nou gaan dit dikwels met ons soos dit met Christus gegaan het.  Hy was nederig en sagmoedig. Hy was soos  ʼn skaap wat stil is voor sy skeerders. Hy was soos  ʼn lam wat ter slagting gelei is. Maar Hy is die Here van die heerlikheid!  Ons as Christene mag deur die regeerders van hierdie wêreld verwerp en verag word, maar ons is kinders van die heerlikheid.  Daarom sê Paulus:

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. (Rom. 8:18)

SLOT

Kom ons vra weer:  Hoe kry ek ware wysheid?  Ons kry dit alleen in Christus.  Hy is die wysheid wat van Bo kom.  In die Ou Testament was sy heerlikheid nog bedek, maar God het Hom na hierdie aarde gestuur. Sodat elkeen wat in Hom glo, die ware lewe kan ontvang. En deur die Gees het God sy apostels gestuur om sy heerlikheid te openbaar. Wees  ʼn navolger van Christus, en leer jou kinders om navolgers van Christus te wees,  dan tree jy met wysheid op. Dan deel jy en jou kinders in die ewige heerlikheid wat God vir ons gereedgemaak het.

                                                                        Amen.

Read 3884 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek