Sosiale Skakels

Besoekers

We have 17 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Sunday, 16 February 2014 17:52

Amos 2:11c My reaksie op God se genade?

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: AMOS 2:6 – 16

TEKS: AMOS 2:11c

TEMA:  MY REAKSIE OP GOD SE GENADE?

 

Het u al  ʼn gevoel van verwerping ervaar?

Om deur iemand baie na aan jou verwerp te word, is van die heel moeilikste dinge wat oor jou pad kan kom.  Aanvanklik was daar  ʼn lewende verhouding van liefde en toegeneentheid. Jy het jou lewe met die betrokke persoon gedeel ..... en dan meteens,  wil hy of sy niks meer met jou te doen hê nie.  Dit voel of jou hart uitgeruk word.....

Iemand wat op  ʼn stadium ʼn  groot liefdesteleurstelling gehad het, sal sekerlik kan verduidelik hoe dit voel om so verwerp te word.

 ʼn Mens ontmoet hulle ook in ouetehuise. Ouers wie se kinders hulle daar kom aflaai het en dan bitter min kontak maak. Bejaarde mense wat hulle kinders met moeite en opoffering grootgemaak het en dan op hulle oudag deur hulle kinders verwerp word.   Dit is hartverskeurend om sulke mense se belewenis van verwerping te aanskou.

Die Here stuur Amos as profeet om hulle te vertel hoe Hy oor hulle as sy verbondsvolk se optrede voel.

Die Here het immers  ʼn lang pad met die volk Israel geloop. Hy het met hulle  ʼn verbond,  ʼn ooreenkoms, gesluit.  Daar was  ʼn lewende verhouding tussen die Here en sy volk....  Maar nou is daar  ʼn probleem...... 

Sewe keer moes Amos oordeel aankondig.  Ses heidense volke moes een na die ander hoor dat die Here se oordeel hulle gaan tref.  En dan kom selfs Juda aan die beurt.....  Israel se broers in die Suide.  Hulle hoor ook  ʼn oordeelsaankondiging .... Sewe keer oordeel -  Die volheidsgetal!  Is God se volledige oordeel nou uitgepreek?

Amos se profetestem klink weer helder.  Die agtste keer!  God se oordeelsbeker loop oor.  Israel wat gedink het hulle is reg. Hulle wat gedink het hulle dien die Here..... Hulle gaan ook deur God se oordeel getref word.  

Opvallend. Die vorige sewe keer word telkens net een sonde, die vierde sonde, van die bepaalde volk uitgelig en dan volg die Here se oordeelsaankondiging.   So is dit ook wat Juda betref. 

Maar nou is dit Israel wat aan die beurt kom..... En hier word nie van  ʼn vierde sonde gepraat nie.. nee, nou is dit sondes.... meervoud!

Israel wat die Here se genade geken het. Hulle wat sy liefde in oorvloed ervaar het........  Hulle is vol sonde... dit gaan by hulle erger as by die heidene!             Dit  is oos  ʼn klap in die Here se gesig!

Die Here wys deur sy profeet op al die seëninge wat die volk ontvang het.   Hulle het dit immers ervaar.......

1.  DIE HERE GEE SY OORVLOEDIGE SEËN.

Hoor hoe praat Hy: 

·         Ek het die Amoriete ... uitgeroei om vir julle plek te maak, Israeliete .....

·         Ek het julle uit Egipte laat trek......

·         Ek het julle veertig jaar lank in die woestyn gelei........

·         Ek het julle die land van die Amoriete  in besit laat neem....

·         Ek het julle seuns as profete laat optree en julle jongmanne as nasireërs.

Alles genade...  Die Here het alles vir sy volk gedoen. Hy het hulle oorlaai met liefde.

En dan die vraag waarin  ʼn mens die feit in die Here se stem kan hoor:

Is dit nie so nie Israeliete?

Niemand kon dit ontken nie. Almal het dit geweet.

Net soos ons vandag ook nie kan ontken dat ons die Here se genade, liefde en troue sorg ervaar nie.  Ons is in en deur ons Here Jesus Christus verlos uit die mag van die sonde, die satan en die dood. Ons het die nuwe lewe, die ewige lewe net uit genade ontvang.

Vanoggend se nagmaal was weereens die duidelike bevestiging dat ons aan die verlossing Christus en die ewige lewe deel het.

Die Here vra vanoggend vir ons wat deel is van sy verbondsvolk:

Is dit nie so nie?   Is dit nie so dat julle genade op genade ontvang het nie?

Maar kom ons keer terug na ou Israel.  As  ʼn mens deur die Ou Testament lees kan jy nie anders nie as om diep in jou hart aangegryp te word oor die hoeveelheid genade wat die Here aan Israel betoon het.  Van geslag tot geslag, oor dekades, oor eeue was die Here getrou in sy liefde......

2.  WAAROM WORD HY DAN VERWERP

Om een of ander onverklaarbare rede het die volk, in weerwil van die Here se volgehoue genade, liefde, ontferming en toegewyde versorging begin om daardie liefdesband te ruk en dit heeltemal los te skeur.  

Israel het geestelike owerspel gepleeg. Hulle het al hulle tyd en energie toegewy aan ander sake, persone, instellings, voorwerpe en lewenstyle ... ja, skynbaar aan alles...., behalwe aan die Here..  Hulle het Hom die enigste ware God verloën ..... Hulle het Hom verwerp!

En dan Kom die Here se stem:

So sê die Here: Selfs as Israel net drie keer sonde gedoen het, sou Ek sy straf nie herroep het nie. Maar nou het hy nog sondes daarby gevoeg.....

En dan begin die lys:

Julle verkoop die onskuldiges....

Julle trap die swakkes se koppe plat.....

Pa en seun slaap by dieselfde diensmeisie.....

Julle strek julle by die altaar uit op klere wat as pand gevat is...

Julle drink wyn wat by die armes gesteel is.......

Israel se sondes is  ʼn klad op die Here se naam. Hulle dink hulle is besig om Hom te dien, maar hulle godsdiens is  ʼn openlike misbruik...... Dit is  ʼn vertrapping van die swakkes en die armes. Dit gaan vir hulle net oor hulle eie begeertes..... daarom sê die Here:

.....julle doen my heilige Naam oneer aan.

As ek en jy, wat soveel genade en liefde van die Here ontvang het, nog steeds met sonde in ons lewe voortgaan, sleep ons die Here se heilige Naam deur die modder. Ja, ons tas sy eer aan!

Daarom moet ons verwag dat die Here sal reageer....

3.  HOE LYK DIE HERE SE REAKSIE?

Omdat die volk Israel die Here se profete belet het om die Here se woord te bring en omdat hulle die nasireërs, manne wat in volle toewyding aan die Here moes leef, laat wyn drink het, laat die Here hulle vasval, soos  ʼn wa wat oorlaai is....

Die Here laat toe dat hulle sonde hulle platdruk, hulle oorweldig.....

Maar kom ons vra op die stadium  ʼn belangrike vraag:

Hoe dink u, broeder en suster, is daar  ʼn verskil tussen  ongelowiges en gelowiges se sonde.........? 

Of kom ons stel die vraag so: 

Dink u daar is  ʼn verskil in die Here se reaksie op  ʼn gelowige wat sondig en  ʼn ongelowige wat presies dieselfde sonde doen?

Die sonde is dieselfde...... Dit is teen God se wil, maak nie saak wie dit doen nie!  Die straf is dieselfde.....  Die ewige dood.

Die verskil, broeder en suster, kom egter by die persoon.  Een is God se kind, die ander een nie. 

Sonde is sonde. Maar as God se kind, wat sy/haar hele bestaan aan Hom alleen te danke het, en wat voluit sy liefde geniet en sy genade beleef, sonde doen, is dit soos  ʼn dolksteek in God se hart........  Dit is om jou hemelse Vader wat nog net liefde aan jou bewys het, te verwerp.....  Hom in die gesig te spoeg!

Die Here het na Israel se optrede gekyk en gesê:

Hoe kon julle?  Hoe kon julle dit aan my doen? ...........  Ek wat julle so met liefde oorlaai het?

Dit is wat God ervaar as sy kinders aanhou met sonde..... Verwerping!

En nou moet ons vandag baie goed nadink, broeder en suster. 

Vanoggend se nagmaal het ons opnuut gewys en verseker van al die liefde wat ons sonder enige verdienste in Christus ontvang het.  Ons is  weereens verseker van ons nuwe lewe onder leiding van die Heilige Gees.

Die vraag is:  Hoe loop ons die pad van hier af verder?

Hoe ernstig is ons oor die Here?

Hoe belangrik is ons verhouding met Hom regtig vir ons? 

Het ons Hom bo alles lief? Is ons in die ware sin van die woord bereid om Hom voluit te vertrou? Glo ons wat Hy in sy woord aan belowe?

Verstaan u die Here se liefde?

Die Here se liefde is  ʼn kragtige liefde. Hy het ons lief met  ʼn passie, met oorgawe.  Soveel so dat Hy in die Persoon van die Seun sy hemelse woning verlaat het en hier op aarde  ʼn mens kom word het.  En hier het Hy in ons sonde en ellende kom instap ... om ons te verlos!

Hy het in verwerping kom instap.....

 Totale verwerping deur die volk wat God uitgekies het om sy naam te dra. Verwerping en veragting deur mense wat God se liefde en genade in oorvloed ontvang het. Hy is letterlik in die gesig gespoeg!  Hy is aan die heidene oorgegee om gekruisig te word.

Maar Hy het oorwin!  Hy het die sonde se mag verbreek, die satan se kop vermorsel en uit die dood opgestaan.....

In Christus kan ons met oorgawe toegewyd aan God lewe. Die apostel Paulus sê ons is saam met Christus meer as oorwinnaars.

 

 

SLOT

Vandag is ons aan die nagmaal opnuut versterk om onder leiding van die Heilige Gees die pad saam met Christus te kan loop.

Is u gewillig om die pad te loop?

Op  ʼn stadium het die Here Jesus uitgeroep:

Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak soos  ʼn hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!

Wil ons? 

Wil ons die Here vertrou?

Wil ons Hom met oorgawe dien?

Dink aan jou beursie – jou uitgawes – wat kom eerste?

Dink aan jou tydsbesteding – wie kry jou beste tyd?

Dink aan jou verhoudings – is dit mense wat jou help om jou verhouding met die Here te bou?

Kan jou kollegas, vriende klasmaats sien, kan hulle getuig dat jy die Here Jesus bo alles liefhet?

Die liefde wat God in en deur ons Here Jesus Christus aan ons bewys het, kyk ons vandag vierkantig in die oë ….

Is u reg vir die nuwe week?

                                                         AMEN

Read 2898 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek