SKRIFLESING: AMOS 5:1 – 9 & 18 – 26
TEKS: AMOS 5:6
TEMA: AS DIE HERE ONS AANBIDDING HAAT
Het u gehoor wat die Here vir Israel gesê het?
Ek haat, Ek verafsku julle feeste, Ek het niks aan julle feestye nie. Al bring julle vir My brandoffers en graan offers, dit is nie vir my aanneemlik nie, en Ek kyk nie eers na julle maaltydoffers van vetgevoerde kalwers nie. Gee pad voor My met die rumoer van jou gesing. Ek wil nie jou harpmusiek hoor nie! (Hfst. 5:21 – 23)
Broeder en suster, hoe dink u, sou dit voel as die Here op so ʼn manier met ons as gemeente kom praat? Ja, wat sou u reaksie wees as die predikant vanoggend hier kom staan het, en vir u gesê het:
Luister, julle gemeente, luister wat sê die Here: Julle dankoffers is nie vir my aanneemlik nie. Ek haat julle eredienste! Gee pad voor My met die rumoer van julle orrel en julle gesing - Ek wil dit nie hoor nie!
Sou u dit aanvaar? Ek dink nie ek is verkeerd om te sê: Ten minste sommige mense sou hulle bloedig verg, en ja, heel moontlik sou selfs ʼn paar opstaan en uitloop .....
Kom ons kyk vanoggend waarom Amos hierdie dinge vir Israel gesê het en of ons vir ons eie situasie iets daaruit kan leer.
1. WAT WAS IN ISRAEL AAN DIE GANG?
In die agtste eeu vC het Israel onder koning Jerobeam II staatkundig en ekonomies sterk geword. Dit was byna weer soos destyds toe Salomo koning was. Israel het ʼn era van voorspoed beleef en die volk was positief.
Maar die Here is negatief!
Hy sien hoe die volk hulle verlustig hulle in die weelde van hulle voorspoed. Hulle is so tevrede met hulleself.....
Maar wat sien die Here? Hy sien hoe hulle die swakkes verdruk en die armes mishandel. In Plaas daarvan dat hulle Hom met hulle voorspoed eer, is hulle net op hulleself en hulle lekker lewe gefokus. Daarom vergelyk die Here die volk se vrouens met die stoetkoeie van Basan. Hulle lewe in oorvloed en verlei hulle mans om hulle aan drank te vergryp.
En wat nog erger is, is dat die volk by hulle godsdienstige sentrums , by Bet-El en Gilgal nog meer sonde doen. Dit wat by hulle samekomste gebeur, walg die Here. Hy sê dat Hy hulle feeste haat en hulle gesing is ʼn rumoer in sy ore.
Broeder en suster, Israel was onder die indruk dat dit goed gaan. So goed dat hulle by hulle godsdienssentrums feesgevier het. Hulle het lofliedere gesing en offers aan die Here gebring.
Volgens verskeie skrifverklaarders was dit waarskynlik juis tydens so ʼn fees by Bet-El waar die profeet Amos so half onverwags opgedaag het. Die volk was vrolik en dankbaar, want dit het so goed gegaan. Daarom sing hulle en maak musiek... En dan begin Amos saamsing...
Maar luister na sy lied.......
Dit is nie ʼn loflied nie!
Nee, hy sing ʼn treurlied, ʼn begrafnislied! ʼn Lied waarin hy treur oor Israel ....... Israel wat dood is. Israel vier fees omdat die lewe lekker en goed is....... En Amos treur oor hulle dood is......
Amos sing van Israel wat geval het en nie weer sal opstaan nie. Op militêre gebied is dit verby. Negentig persent van hulle soldate gaan op die slagveld sneuwel. Hy sing van ʼn gekerm in die strate.....
En dan praat Amos verder: Hy sê die volk moenie so uitsien na die dag van die Here nie, die dag gaan nie lig bring nie, maar wel donkerte. Die volk dink hulle vlug na die Here toe, maar Hy gaan nog erger onheil oor hulle bring. Amos verduidelik. Hy sê:
... dit sal wees soos iemand wat vir ʼn leeu vlug en ʼn beer val hom aan, of soos wanneer iemand tuiskom en hy leun met sy hand teen die muur en ʼn slang pik hom.(5:19)
Ja, net as hulle dink dit is veilig, gaan die volgende onheil hulle tref.
Die volk hou glad nie van Amos se preke nie, want hulle kon nie verstaan nie.
2. WAAROM IS DIE HERE SO NEGATIEF?
Vanuit hulle eie oogpunt, is hulle so dankbaar vir sy seëninge. Hulle bring juis offers by Bet-El en Gilgal. Boonop sing hulle allerhande lofliedere as hulle so saamkom....
Wat doen hulle verkeerd?
Amos sê vir die volk:
Vra na die wil van die Here, dan sal julle lewe!
Israel het nie die Here se wil gesoek nie. Hulle het gedink dat hulle die Here dien, maar hulle was op hulleself ingestel. Die Here was nie hulle prioriteit nie... Hy was bysaak.
Sonder dat hulle dit ingesien het of dit wou verstaan, het hulle van hulle godsdiens ʼn verbruiksartikel gemaak. Boonop het hulle toegelaat dat allerhande invloede van die afgodsdiens van die heidense volke in hulle godsdiens insluip.
Dit gebeur so maklik dat ʼn mens jou godsdiens beoefen soos jy goeddink en ter wille van die waarde wat dit vir jou persoonlik inhou.
Ons moet mooi dink: Maak ons nie dalk dieselfde fout nie?
ʼn Mens kan jouself maklik toets deur een of twee vrae te beantwoord. Byvoorbeeld:
Waarom het ek vanoggend kerk toe gekom? ........... Ter wille van myself:
Omdat ek ʼn goeie boodskap wil hoor?
Omdat dit van my verwag word?
Of , is Ek hier ter wille van Hom? :
Om Hom te aanbid?
Om sy wil te soek?
ʼn Tweede vraag: Waarom gee ek ʼn kerklike bydrae?
Omdat die kerkraad dit van my verwag?
Omdat ek my deel moet doen om die kerk se finansies te laat klop?
Of gaan dit oor die Here se wil?
Daarom gee ek om my dankbaarheid aan die Here te bewys!
En ek gee dit uit my hart as ʼnware dankoffer!
Broeder en suster Die groot probleem wat Israel gehad het, en wat ons vandag ook so maklik mee gekonfronteer word, is:
ʼn Mens is so met godsdiens en met die kerk besig, dat jy nie by God uitkom nie! Of kom ons stel dit anders: ʼn Mens is so besig om jou eie wil te soek, dat jy nie God se wil raaksien of dit verstaan nie.
Israel het “kerk toe gegaan”. In hulle menigtes het hulle die eredienste by Bet-El en Gilgal bygewoon. Hulle het feesgevier. Hulle het brandoffers, graanoffers en maaltydoffers gebring. Hulle het musiek gemaak en hulle het gesing....
MAAR hulle het nie die Here se wil gesoek nie......
Hulle het hulle eie wil en eie voordeel gesoek.
Kom ons vra:
3. WAT LEER ONS UIT DIE GEBEURE?
Ons moet leer dat die Here se wil die heel belangrikste in ons lewe is. Ons moet leer om ons verlossing en ons saligheid BUITE ONSSELF te soek.
Dit beteken, broeders en susters, dat ons nie op onsself en ons eie behoeftes sal fokus nie, maar op die Here se wil en op sy koninkryk.
Israel kon net nie uit hulle ei dit regkry om sy wil te soek nie. Hulle het voor die begeertes van hulle eie sondige natuur geswig. Hulle het geval vir die verleiding van die wêreld.
Wat doen die Here?
Hy kom gryp persoonlik in!
In die Persoon van die Seun het God Self na die aarde toe gekom om ons van ʼn selfgesentreerde leefwyse te verlos. En Hy het kom sê:
Julle moet julle nie bekommer en vra: “Wat moet ons eet en wat moet ons drink en wat moet ons aantrek?” nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. (Matt6:31 – 33)
Een ding moet ek en jy baie goed verstaan: Ons bestaan hier op aarde het net een doel: Dit is: Die Here en sy koninkryk. Ons is hier op aarde om sy beeld en sy verteenwoordigers te wees.
As ons Sondag kerk toe kom, moet ons eerste gedagte nie wees: Wat kry ek hier? Nie, maar: Wat kom DOEN ek hier?
Ons is hier om God te aanbid en Hom te verheerlik. Daarom praat ons van ʼn EREDIENS!
In ons teksvers gee Amos vir die volk die versekering:
Vra na die wil van die Here, dan sal julle lewe!
Maar, daarmee saam kom ook ʼn ernstige waarskuwing:
As julle dit nie doen nie, sal die Here vir Josef soos ʼn vuur tref, ʼn vuur wat Bet-El sal verteer sonder dat iemand dit kan blus.
As ek en jy Sondag kerk toe kom ter wille van dit wat ons hier kan kry, is ons, net soos Israel destyds, met ʼn selfgesentreerde godsdiens besig.....
Dan bring ons sowel ons eie toekoms, as die kerk se toekoms in gedrang.......
SLOT
Kom ons sluit af.
Daar is ʼn wesenlike verskil tussen godsdiensbeoefening en ware aanbidding. Godsdiensbeoefening het te doen met bepaalde gebruike en rituele wat op ʼn bepaalde vasgestelde manier uitgevoer word.
Ware aanbidding, daarteenoor, het met die Here te doen. Alles gaan oor Hom en sy wil!
Ons kan net by Hom, en by sy wil uitkom as ons in Christus lewe. Deur sy Gees maak hy elkeen van ons ʼn ware aanbidder.
Alleen in Hom en deur Hom is ek en jy nuwe mense wat die ware God in gees en in waarheid aanbid.
AMEN