SKRIFLESING: AMOS 7 & EF. 2:19 - 22
TEKS: AMOS 7:7 – 8 & EF 2:20
TEMA: DIE HERE SE SKIETLOOD EN HOEKSTEEN
Dit voel asof die boek Amos, waarmee ons nou vir meer as ʼn maand lank besig is, regtig net oor God se oordeel gaan. As ʼn mens die boek in die Bybel lees, klink dit asof die Here erg ontevrede is en die heeltyd net kwaad is. Dit klink net na oordeel.
Daarom wil ʼn mens vra: Maar waar is die genade? Die Here is mos ʼn liefdevolle en ʼn genadige God ......
Ja, broeder en suster, die Here is ʼn liefdevolle en genadige God, maar Hy is ook ʼn regverdige God. Hy is ook ʼn heilige God. Hy haat ongehoorsaamheid. Daarom moet ons verstaan:
1. DIE HERE MEET EN HY TOETS
In Hfst. 6 beskryf Amos met ʼn tikkie ironie in sy stem hoe die Here die volk Israel sien as Hy na hulle lewenswyse toets:
...... vername mense van die voorste nasie wat rustig in Sion woon en veilig voel op Samariaberg.
En dan ʼn paar verse verder:
Julle lê op julle beddens wat met ivoor ingelê is, julle strek julle uit op julle rusbanke, julle eet lammers uit die kleinveetrop en kalwers uit die stal, julle maak liedjies vir die harp, julle dink vir julle musiekinstrumente uit soos Dawid, julle drink wyn uit offerkomme en salf julle met uitsoekolie.
Die verbondsvolk het sonder die Here begin lewe. Hulle was vas oortuig dat hulle op grond van hulle afkoms die Here se guns geniet. Hulle was vas daarvan oortuig dat hulle godsdiensbeoefening reg was en verder ook dat hulle juis die Here se eer voor oë gehou het. Hulle was so tevrede met hulleself en na hulle mening selfs baie dankbaar vir die Here se seëninge!
Die Here se reaksie op sy verbondsvolk se lewe voor Hom is egter alles behalwe positief. Hy sien hulle as selfvoldaan en hoogmoedig en arrogant.
Die Here wil die volk straf. Hy laat Amos 2 gesigte sien:
Eers sien Amos hoe die Here ʼn sprinkaanswerm vorm om al die groenigheid in die land af te vreet. En dadelik tree Amos in vir die volk:
Here my God, vergewe tog vir Jakob! Hoe sal hy staande bly? Hy is klein! En wat doen die Here? Ons lees dat Hy afsien van sy voorneme.......
Daarna laat die Here vir Amos ʼn tweede gesig sien. Hy sien hoe die Here ʼn vuur oproep om al die water op te droog en ook die bewerkte grond verteer. Weer bid Amos:
Here my God hou tog op! Hoe sal Jakob staande bly? Hy is klein!
Elke keer bid Amos. Hy tree in vir die volk. En let op: Hy bely dat hulle klein is ....... juis in teenstelling tot hulle eie grootheidswaan. Op grond van Amos se gebede, sien die Here af van sy voorneme. En Hy sê: .....dit sal nie gebeur nie.
Die Here wys Hy is geduldig...... Hy gee tyd vir bekering.......
Maar die volk kom egter nie tot bekering nie.
Hulle luister nie, want die probleem lê op ʼn dieper vlak. Om vir Amos te laat verstaan hoe diep gewortel die probleem is, wys die Here vir Amos ʼn derde gesig:
Die keer sien Amos hoe die Here by ʼn loodregte muur gestaan, met ʼn skietlood in sy hand. ʼn Skietlood is ʼn outydse instrument waarmee gemeet kan word of ʼn muur regop of skeef gebou is en of ʼn paal regop of skeef geplant is. (Dit is ʼn tou met ʼn gewig aan die onderpunt wat bloot met behulp van swaartekrag altyd 100% vertikaal hang)
Nou sê die Here:
Ek gaan ʼn skietlood aanlê in my volk Israel. Ek gaan hom nie meer spaar nie.
Wat die Here met hierdie gesig duidelik maak, is dat die volk Israel soos ʼn muur is, wat in die bouproses algaande skeef geraak het. En die hartseer is: ʼn Muur wat skeef gebou is, kan nie reg getrek of reggeskuif word nie. Daar is net een oplossing: ʼn Skewe muur moet afgebreek en van voor af gebou word!
En dit is nou die punt waarby die Here met Israel gekom het. Die tyd van probeer regmaak is verby. Nou is al wat oorbly die afbreekproses. Daarom hoor ʼn mens verder ........
2. DIE HERE SPREEK SY OORDEEL UIT
Dit is insiggewend om te hoor hoe Hy dan sy oordeel uitspreek.
Kom ons lees weer verse 8 en 9:
Ek gaan ʼn skietlood aanlê in my volk Israel, Ek gaan hom nie meer spaar nie. Die hoogtes van Isak sal verwoes word, die heiligdomme van Israel sal in puin gelê word, en Ek sal met die swaard optree teen die koningshuis van Jerobeam.
Hier is ʼn lyn deur die geslagte: Isak ... Israel(Jakob)... . Jerobeam.
Die probleem het nie maar in die onlangse verlede se kop uitgesteek nie. Dit kom oor geslagte! Soos die volk van geslag tot geslag gebou is. So in die proses het die muur meer en meer skeefgetrek.
Nou is die vraag natuurlik: Hoe lyk dit vandag by ons? Wat sien die Here as Hy ons, sy kerk, met die skietlood meet ?
Ja, wat sien Hy as Hy elkeen van ons se persoonlike lewe met die skietlood meet? Lewe ons in opregte afhanklikheid? Het ons nie ook , soos Israel, altevol selftevrede en arrogant begin raak nie? Verlustig ons nie ook maar, net soos Israel destyds, ons in ons materialistiese voorspoed nie? Dink ons nie ook maar al te maklik dat die manier waarop ons die Here dien, is nou juis die regte manier nie. Eiewilligheid en selftevredenheid ....... is dit nie ook maar ʼn groot probleem nie?
Maar kom ons keer terug na Amos se werk as profeet. Die ironie word net groter. Pas nadat die Here gesê het dat Hy met die skietlood meet en dat Hy sy volk Israel nie meer gaan spaar nie, lees ons wat die priester Amasia se optrede.
Hy val vir Amos skerp aan.
Eers verkla hy vir Amos by koning Jerobeam. Hy beweer dat Amos ʼn komplot teen die koning smee.
Daarna jaag hy vir Amos van Bet-El af weg. Hy mag nie verder profeteer nie. Verder sê hy sê Bet-El is die staatstempel. Sodoende stel hy die kerk ondergeskik aan die staat. Boonop sê Amasia dat Amos sy brood in Juda moet gaan verdien. So asof sy profeetwerk sommer net ʼn beroep is waarmee hy vir homself ʼn inkomste verdien.
Amos se reaksie daarop is dat nie by die profeteskool opgelei is nie en hy verdien ook nie geld deur sy profetewerk nie. Hy boer met skape en wildevye. Die Here het hom gestuur.
En dan kom hy met die Here se oordeelsuitspraak. Die priester se vrou gaan ʼn prostituut word en sy kinders gaan sterf. Hyself sal in ballingskap weggevoer word ......
Eeue later sê die apostel Petrus:
Die oordeel begin by die huis van God! (1 Petrus 4:17)
Die kerk of te wel die huis van God hier op aarde, is verantwoordelik om die Here se lig en sy waarheid uit te straal. Die kerk moet die beeld van God wees. Sy verteenwoordigers wees.
As die kerk egter die mense begin dien en selfs aan die staat gedienstig raak en dan nog toelaat dat die lidmate ophou om as verteenwoordigers van God op te tree., dan gryp God in. As die kerk nie meer sout en lig is nie, kom die kerk onder God se oordeel..... Dit is wat met die volk Israel gebeur het. En dit is wat telkens met die kerk gebeur as sy as die bruid van Christus ophou om haar verantwoordelikheid na te kom.
Ons Gereformeerdes is baie trots op die feit dat daar op ons kerkseël staan: Die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie. Maar maak dit ons nie so ʼn bietjie oorgerus nie? So asof ons dink dat ons die Here se witbroodjies is en daarom onaantasbaar......
Ja, dit is waar, die poorte van die hel sal nie die Here se kerk oorweldig nie.... maar die vraag is: Is ons nog werklik die Here se kerk? Ons is gou om die kenmerke van die ware kerk soos dit in art 29 van die NGB bely word, uit te wys en ons daaraan te meet: Suiwer woordverkondiging, suiwer bediening van die sakramente en die toepassing van die tug. Hierdie drie kenmerke gaan egter uitsluitlik oor die verantwoordelikheid van die predikant en die kerkraad.
Ons vergeet dat ons die hele artikel in ons belydenis moet lees. Net in die volgende gedeelte gaan dit oor die lidmate van die kerk en oor die kenmerke wat hulle as Christene moet hê. Daar staan:
..... hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na links of regs afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. (Art 29 NGB)
Broeder en suster, toe die Here destyds sy verbondsvolk Israel verwerp het, was dit genadiglik nie die einde nie. Die Here hou sy woord. Hy het immers aan Abraham belowe. Die wonderlike boodskap is:
3. DIE HERE MAAK ʼn NUWE BEGIN
Amos het toe hy die gesig van die skietlood gepreek het, die einde van die volk van God binne die grense van Israel as die 10-stammeryk aangekondig. Die skietlood het gepraat ..... die muur moet afgebreek word.. God ontrek Hom nou van hierdie ongehoorsame en ontroue volk. Hulle gaan in ballingskap weggevoer word.
Maar genadiglik is dit nie die laaste woord nie. In sy genade beloof die Here verderaan in Hfst. 9:11 Daardie dag bou Ek die vervalle hut van Dawid weer op.
Eeue later maak God ʼn totaal nuwe begin. Die bouwerk wat God dan aan sy huis doen, se fondasie word reg gelê. Die apostel Paulus beskryf dit In Ef. 2:20 - 22:
Julle is ʼn gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en profete, ʼn gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ʼn heilige tempel vir die Here in wie julle ook saam opgebou word as ʼn geestelike huis waarin God woon.
Omdat die mense deur die Ou Testament oor en oor bewys het dat hulle glad nie uit hulleself gehoorsaam en getrou aan God kan wees nie, het God in die verlore toestand ingeryp.
Hy het Persoonlik na hierdie aarde gekom en ʼn nuwe begin kom maak. In Jesus Christus het God ook mens kom word die satan en die sonde en die dood kom oorwin.
Hy word persoonlik die begin van God se nuwe bouwerk, die hoeksteen van die gebou. In Hom sluit die gebou saam as ʼn geestelike huis waarin God deur sy Gees woon.
Onder die kragtige leiding van die Heilige Gees kan elkeen van ons nou ons lewe op Christus bou. En dan kan die skietlood kom. Ons lewe kan getoets word, want in Christus is ons nuwe mense ... saam met Hom is ons oorwinnaars.
SLOT
Geliefdes, as ons in Christus ingelyf is, leef ons nie meer nie. Dan lewe Christus. Ons is ledemate van sy liggaam en daarom deel van die huisgesin van God. Ons lewe nie meer vir onsself nie. Ons leef vir Hom en werk aan die uitbreiding van sy koninkryk. Nuwe mense met ʼn ewige toekoms.
AMEN.

