SKRIFLESING: AMOS 8:7–14 en Joh. 1:14 – 18
TEKS: AMOS 8:11-12 EN Joh. 1:14
HONGER NA DIE WOORD
Ons het mos al almal foto's van honger en uitgeteerde mense gesien. Mense wat sonder kos is omdat ʼn land of streek ernstige droogte beleef. Dink maar net aan daardie hartverskeurende tonele op TV van kindertjies wat soos geraamtes lyk. Met sulke groot starende oë.
Mens kan jou beswaarlik iets ergers indink as om so geleidelik van honger te sterf. Dink net wat ervaar ouers wat hulle kinders so voor hulle oë sien wegkwyn – tot net vel en been. En dan op ʼn dag dan moet hulle daardie uitgeteerde geraamtetjie begrawe.
Maar weet u? So ʼn hongersnood weens 'n gebrek aan kos is nie die ergste nood nie en ook uiteindelik nie die ergste nood nie.
Amos skryf hier van 'n erger nood – ʼn nood aan die Woord van God!
Dis nie dat mens dit persoonlik so erg beleef nie. Inteendeel, jy kom dit heel waarskynlik glad nie eers agter nie.....
Nou wat maak dit dan so erg?
Dit is die gevolge daarvan, en die langtermyn-gevolge - nie net op jouself nie, maar ook op jou kinders en kindskinders. Dit is ʼn hongersnood wat nie net die dood tot gevolg het nie. Die hongersnood na die Woord van God lei tot die ewige dood ......
En net 'n genade-ingryping van die Here, net 'n Geesgewerkte herlewing, kan dit regstel.
Amos profeteer onder leiding van die Heilige Gees en sê
1. DAAR WAG HONGERSNOOD
Kyk weer na ons teksvers: Daar kom dae, sê die Here...... Die profeet praat nie oor ʼn huidige situasie nie. Nee, die Here waarsku oor ʼn situasie wat besig is om te ontwikkel. Daar kom dae wat die mense ʼn hongersnood sal ontwikkel, ʼn hongersnood om die Here se woord te hoor.
Die Here het vroeër al hongersnood gebring. Volgens Hfst. 4:6 & 7 het die Here ʼn koshongersnood gebring om die volk tot bekering te lei. Dit het toe egter geen duik op hulle hardhorendheid gemaak nie!
Nou waarsku Hy oor ʼn baie erger hongersnood wat besig is om te ontwikkel. Dis eintlik so ironies. Toe die Here vir Amos met sy woord na hulle toe gestuur het, toe het hulle hom stil gemaak....... Hulle wou nie die woord hoor nie..... Nou is hulle stil.... en hulle soek. Hulle dwaal rond. Van see tot see. Van die Middellandse see in die weste na die see van Galilea in die ooste. Hulle slinger rond van noord na oos. Maar nie suid nie...... Waarom nie Suid nie? ...... In die Suide lê Jerusalem en die Tempel. Daarheen wil hulle asb. tog nie.... Met Jerusalem wil hulle mos niks te doen hê nie. Nee, hulle soek in hulle eie koers! Hulle het hulle eie, selfgemaakte aanbiddingsplekke ... Bet-El, Dan, Berseba.
En let nou op vers 14: Hulle verdwaal in godsdiensvermenging. (Hulle lê ede af by Samaria se afgod). Hulle verdwaal in afgodery ( ..... so seker as jou god leef, Dan), en verder in bygeloof (Dit was ʼn moeilike en lang pelgrimspad na Berseba toe. As jy die pad geloop het, het dit blykbaar in jou guns getel).
Wat die saak nog verder hartseer maak, is die feit dat dit die jongmense is wat die ergste ly. Kyk wat staan in vers 13: Daardie dag sal die mooi meisies en die jongmanne van dors beswyk. Dit is hulle wat van geestelike honger beswyk.
Waarom is jongmense is die eerste slagoffers?
Daar is verskeie redes voor.
· Enersyds volg baie jongmense hulle ouers blindelings.
· Andersyds is hulle soekers na egtheid en realiteit.
· Daarbenewens eksperimenteer hulle graag met nuwe dinge.
Dit maak hulle baie vatbaar vir misleiding. Omdat hulle onervare, naïef en onwys is, het hulle min onderskeidingsvermoë en beland hulle maklik in ʼn verkeerde koers of val hulle maklik vir enige nuwe idee - ook in die kerk.
Die belangrike vraag is nou
2. HOE ONTWIKKEL SO ʼn HONGERSNOOD?
Broeder en suster. So ʼn toestand ontwikkel wanneer mense die woord stilmaak. Die priester Amasia het mos vir Amos gesê: Maak dat jy wegkom siener.... In Bet-El mag jy nie meer as profeet optree nie. Op dieselfde wyse word die woord deesdae in sekere plekke en in sekere lande verbied. In Amerika se staatskole mag daar bv. glad nie uit ʼn Bybel gelees word nie. Hier by ons is dit darem nog nie so erg nie.
ʼn Ander manier waarop die woord stil gemaak word, is wanneer die woord onverstaanbaar word. In die donker Middeleeue was die Latynse Bybel die enigste Bybel. Die meeste mense kon dit glad nie lees nie omdat hulle nie Latyn kon praat of verstaan nie!
Dis is definitief ook so dat geestelike hongersnood altyd op een of ander manier in die ontrou van vorige geslagte gewortel is. En, tensy die Here ingryp, is dit altyd 'n bose kringloop........ van kwaad tot erger.
Ons elkeen dra 'n enorme verantwoordelikheid vir ons nageslag! Die kerk van môre, wat ons kinders en kleinkinders op die weg van waarheid en saligheid moet lei, word vandag gevorm. En hoe vorm ons? Hoe bou ons? Wat leer die volgende geslag by ons?
In 1 Kor. 3:10 e.v. praat die apostel Paulus oor die kerk as God se geestelike huis:
.... ek het soos ʼn goeie bouer die fondament gelê, en ʼn ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan ʼn ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Christus. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom.
Vandag se groot gevaar is dat ons die Bybel nie meer behoorlik lees nie. Al is hy beskikbaar. Ons lees te maklik net stukkies en brokkies van die Bybel. Die Bybel is nog in elke huis, maar ons mense ken nie meer die Bybel nie! Die Bybel is vir baie ʼn geslote boek!
Na Amos en ook ander profete se herhaaldelike waarskuwings was die Here se stem uiteindelik vir 400 jaar stil. Dit was die tydperk tussen die Ou en die Nuwe Testamente, stil...... Daar was in die 4 eeue geen profeet wat opgetree het nie.
Maar die Here is getrou aan sy woord. Hy hou sy beloftes. Beloftes wat Hy reeds eeue tevore aan Abraham en Isak en Jakob gemaak het. Beloftes wat Hy op die berg Sinai sowel as ander plekke bevestig het. Ook Amos het weer daarna verwys:
En hier in Hfst. 9 sê die Here:
Maar tog, Ek sal nie die nageslag van Jakob heeltemal uitroei nie ..... ( vers 8) en Daardie dag bou Ek die vervalle hut van Dawid weer op... (vers 11)
En dan op ʼn stadium, sien ʼn mens hoe die Here begin om die vervalle hut van Dawid weer op te rig...... Ja!
3. DIE HERE BREEK DIE HONGERSNOOD
Ons het mos Johannes 1:1 gelees
In die begin was die Woord daar, en die Woordwas by God, en die Woord was self God
En dan in Johannes 1:14
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.
Die Here stuur weer sy Woord! Meer nog, Hy kom self in die persoonlik van die Seun ...... as die Woord wat mens geword het!
Nou gaan dit nie net meer oor ʼn woord wat gehoor word nie, maar oor ʼn persoonlike verhouding wat gevorm word.
Daarom skryf dieselfde apostel Johannes in sy eerste brief:
Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God nie het nie, het ook nie die lewe nie. (1 Joh. 5:12)
In Hebreërs 1:1 staan:
In die verlede het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in die hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.
God se woord het onder ons kom woon. Hy het ons Leidsman geword. Ons kan Hom as mens navolg, want Hy het vir ons die pad na die ewige heerlikheid oopgemaak. Hy is die weg en die waarheid en die lewe. As die Heilige Gees jou met ʼn ware geloof in Hom ingelyf het, is jy ʼn nuwe mens. Dan is jy ʼn oorwinnaar. Dan het jy die ewige lewe.
Broeder en suster elkeen van ons het ʼn Bybel. Elkeen van ons kan dit lees. Hoeveel tyd gebruik jy om jou Bybel te lees? En hoe lees jy jou Bybel? Doen jy moeite om die Bybel as eenheid te lees, of versnipper jy dit in ʼn versie hier en ʼn versie daar wat dan amper soos towerspreuke hanteer word?
Die Bybel het nie ʼn klompie boodskappies in nie. Die Bybel lei jou na Christus toe. Na ʼn nuwe lewe onder leiding van die Heilige Gees. ʼn Lewe wat getuig van diensbaarbaarheid in God se ewige koninkryk.
Gaan vandag huis toe en gaan besluit hoe u in u persoonlike lewe, maar ook saam met u geliefdes u weer opnuut in die Woord van God gaan verdiep. Stel vir uself en u gesin ʼn sinvolle Bybelleesprogram op en hou daarby, want die Bybel is die brood van die lewe!
SLOT
Ons sien vandag hoe mense, soos die Here deur Amos gewaarsku het, weer in ʼn geestelike hongersnood verkeer. Mense dwaal rond en soek oral na die Woord van God. Hulle word egter mislei tot afgodery en bygeloof. Hulle beland by mense wat die Bybel as Woord van God met bygeloof en mense gemaakte reëls vermeng. Hulle is met godsdiens besig, maar steeds geestelik verhonger en uitgeteer, want hulle kom nie by die Here Jesus Christus as persoon uit nie.
Mense is so met die kerk besig, dat Christus mis! Kom lewe saam in en deur die ware Brood van die lewe! AMEN