VOORBEREIDING VIR NAGMAAL
SKRIFLESING: LUKAS 14:15 – 24
TEKS: LUKAS 14:17 EN 18a
TEMA: AANVAAR DIE HERE SE GENADIGE UITNODIGING
Het jy al die voorreg gehad om op spesiale uitnodiging van ʼn baie belangrike persoon ʼn deftige dinee by te woon? Om met ʼn feesmaal deur ʼn hooggeplaaste persoon onthaal te word, is beslis nie vir die massas, die breë publiek, beskore nie. Nee, dit is slegs vir enkele uitgesoekte gaste beskore om in so ʼn feesmaal te deel.
Ek wil u vanoggend bekendstel aan die feesmaal wat ons Here Jesus Christus vir ons gereël het.....
En ja, Hy nooi jou persoonlik uit!
Nou sou ʼn mens wou aanvaar dat almal, wat so genooi word om saam met die Here Jesus feesmaal te hou, die geleentheid met albei hande sal aangryp, maar moenie glo nie.......... Daar is vele wat hierdie wonderlike uitnodiging nie aanneem nie.
Daar is verskeie plekke in die Skrif waar van hierdie feesmaal gepraat word. Byvoorbeeld in Openb. 19:9
Toe sê die engel vir my: Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam genooi is.
En in Lukas 13:29
Daar sal mense uit die ooste en die weste kom, uit die noorde en die suide, en aansit by die feesmaal in die koninkryk van God.
En ook in Openb. 3:20 waar die Here Jesus sê:
Kyk Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My.
Ek en jy word na die na die Here se feesmaal in sy koninkryk uitgenooi.
Wat maak ons met hierdie spesiale uitnodiging wat ons van die Koning van die heelal ontvang?
Kom ons kyk na
1. DIE HERE SE UITNODIGING
Die Here Jesus verduidelik hierdie uitnodiging aan die hand van ʼn gelykenis.
Hy het die gelykenis vertel terwyl Hy op ʼn Sabbat saam met ʼn paar hooggeplaaste Joodse leiers aan huis van ʼn vooraanstaande Fariseër geëet het. Net ʼn uur of wat tevore het Hy ʼn siek man op die Sabbat gesond gemaak. Hiervan het die wetsbehepte Fariseërs natuurlik niks gehou nie. Toe die mense aan die tafel gaan aansit, sien Jesus hoe die Fariseërs die voorste plekke uitsoek. Dadelik spreek hy hulle aan oor hulle hoogmoed.
Hy gaan ook verder en praat met die gasheer. Vir hom sê Jesus dat hy nie sy ryk familie en vriende na sy feesmaal uitnooi nie, maar eerder die armes, kreupeles en blindes. Die mense wat hom nie kan terug betaal of vergoed vir sy gasvryheid nie.
In die lig van Jesus se direkte vermanings aan die gasheer en hooggeplaastes kan ʼn mens seker verstaan dat die ete in die Fariseër se huis verder half ongemaklik verloop het. En toe, moontlik om die gespanne stilte aan tafel te verbreek, merk een van die gaste toe op:
Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem(vers 15)
Na aanleiding van hierdie opmerking, vertel die Here Jesus toe die gelykenis van ʼn man wat baie mense na sy feesmaal uitgenooi het.
Die feesmaal het die mense niks gekos nie. Hulle kon net kom deel in die fees. Dit kos hulle niks en dit wat gebied word is ruimhartig.
Hierdie gelykenis wat die Here Jesus oor ʼn feesmaal vertel het, is ʼn metafoor, ʼn afbeelding, van die uitnodiging na nuwe lewe saam met die Hom in sy koninkryk. Ja, om in die Here se koninkryk te deel is ʼn wonderlike voorreg. Dit is net genade op genade. En dit verander jou lewenskoers en jou lewensdoel. Dit gee aan jou lewe sin en betekenis.
Net soos hierdie man in die gelykenis nooi die Here mense om aan die feesmaal, die nuwe lewe, in sy koninkryk deel te hê. Maar kyk nou na
2. DIE REAKSIE OP DIE HERE SE UITNODIGING
In die gelykenis wat die Here Jesus vertel, kom party mense met verskonings. Hulle wil nie die fees bywoon nie.
Hoe dit destyds gewerk het, was dat die gasheer ʼn ruk voor die tyd uitnodigings aan sy gaste gestuur het. Hulle kon dan reageer. Op grond van die feit dat hulle die eerste uitnodiging aanvaar het, stuur die gasheer dan ʼn tweede uitnodiging sodra die feesmaal gereed is.
En dit was op hierdie tweede uitnodiging wat hulle met allerhande verskonings reageer.
Een sê hy het ʼn stuk grond gekoop en moet daarna gaan kyk. Dit is ʼn ooglopende flou verskoning. ʼn Mens kyk tog na ʼn stuk grond voordat jy dit koop. Die tweede sê hy het osse gekoop en hy moet hulle gaan uittoets. Destyds het die mense glad nie osse gekoop voordat hulle seker gemaak het dat die osse die werk kon doen nie. Die derde het weer gesê hy is pas getroud. Die gasheer sou seker geen probleem gehad het om ook die man bruid ook op die fees te ontvang nie.
Die mense met die verskonings in die Here se gelykenis was Israel, die verbondsvolk. Hulle met wie die Here ʼn afspraak gemaak het. Sedert Hy Abraham geroep het, loop die Here al met hulle ʼn pad. Hy het die besnydenis as verbondsteken aan hulle gegee. Hy het hulle uit Egipte verlos en hulle na die land Kanaän gelei. Hy het hulle het in sy seëninge laat deel!
Hulle was die eerste genooides, maar toe die fees van ʼn nuwe lewe saam met die Messias, die gesalfde van God, moet begin, toe daag hulle nie op nie. Hulle reageer met flou verskonings......
Vandag is ons, die lidmate van die kerk, die verbondsvolk van God. Die dag toe ons gedoop is, het ons reeds die uitnodiging om in die koninkryksfees te deel ontvang. Toe al het die Here aan ons ʼn feestelike lewe saam met Hom belowe. Ons hoef ook niks te doen om in die fees te deel nie. Ons kan maar net opdaag......
Maar nou, waar die Here deur sy boodskappers vir ons sê: Kom die fees is gereed. Wat antwoord ons Hom?
Kom ons nie ook met allerhande flou verskonings nie?
· Ons kom met ons materialistiese ingesteldheid. Ek het ʼn stuk grond gekoop. My besittings is prioriteit. Ek fokus nou daarop. Ek het nie geld vir ʼn behoorlike dankoffer aan die Here nie. Verskoon my asseblief .......
· Of ek het osse gekoop. My werk. Ek is nou te besig. My werksure laat my nie toe nie. Ek kan nie nou saam met die ander lidmate in die gemeente werk nie. Wag eers bietjie. Dalk later as ek tyd het. Verskoon my asseblief......
· Jou verskoning is dalk jou persoonlike lewe. Dit pas my nie nou nie. Ek het verantwoordelikheid teenoor my huweliksmaat of my gesin. Ek kan nie nou nie. Verskoon my asseblief......
Die Here Jesus vertel dat die man in die gelykenis kwaad geword het toe die slaaf terugkom en die mense se flou verskonings kom stel. Ja, die Here word kwaad vir ons flou verskonings.
Die man in die gelykenis stuur toe weer sy slaaf uit, maar die keer na die strate en gangetjies in die stad. Hy moet die armes, die kreupeles en blindes en verlamdes gaan haal. Die mense wat nie grond en osse of ʼn nuwe huweliksmaat het nie. Mense wat van ander afhanklik is. Mense wat bedelaars is. Hulle word na die feesmaal genooi.
En toe daar nog plek is, stuur die gasheer weer sy slawe uit en sê gaan na die paaie en lanings buite die stad. Die vreemdelinge, boemelaars en leeglêers. Die mense wat gewoonlik deur die godsdienstige Jode verag is, hulle word in die gelykenis wat die Here Jesus vertel, na die feesmaal genooi!
Met hierdie gelykenis het die Here die godsdienstige Joodse leiers op hulle probleem gewys. Hulle probleem van hoogmoed en selfgesentreerdheid.
Hulle wat al lankal die uitnodiging na die feesmaal van die koninkryk ontvang het, hulle verwerp uiteindelik die uitnodiging. Hulle wil nie nuwe lewe in Christus aanvaar nie.....
En dit maak die Here kwaad. Daarom gaan Hy sy boodskappers na die mense buite die verbondsvolk stuur. Hy gaan hulle haal om in die koninkryksfees te kom deel.
En dit is presies wat uiteindelik gebeur het!
Omdat die Jode die Here Jesus en sy koninkryk verwerp het, het Hy sy boodskappers na mense buite Israel gestuur. Oor die hele wêreld word mense nou geroep om in die koninkryksfees te kom deel.
Broeders en susters, ons wat soos die Jode destyds, gewoonlik van geboorte af deel van God se verbondsvolk is. Ons wat die verbondsteken van die doop ontvang het.
Waar staan ons?
Neem ons deel aan ʼn nuwe feestelike lewe saam met ons Here Jesus Christus? Is ons met ʼn ware geloof aan Hom verbind? Kan die mense rondom ons aan ons optrede sien en ervaar dat ons in hierdie feestelikheid deel? Sien hulle dat ons dieselfde gesindheid van nederigheid, opoffering en toewyding as die Here Jesus uitleef?
Of is ons maar met ons verskonings van grond of osse of huweliksake besig?
Die Here Jesus het sy Gees getuur om ons na ʼn feestelike lewe met Hom te lei. Wat doen ons as die Heilige Gees ons roep om in die fees te deel? Laat ons Hom toe om ons te lei, of bedroef ons die Heilige Gees? Bid ons om die kragtige leiding van die Gees of vertrou ons op ons eie insigte en maak ons maar ons eie keuses?
SLOT
Aanstaande Sondag vier ons DV die heilige nagmaal.
Volgens die nagmaalsformulier is die nagmaal juis ʼn afbeelding van die koninkryksfees, die nuwe lewe saam met ons Here Jesus Christus.
Ja, die nagmaal gee ons ʼn idee van die nuwe lewe in die koninkryk. Aan die Nagmaalstafel word ons geestelik gevoed met die ryke hemelse seëninge wat ons Here vir ons verwerf het!
Die Here nooi u persoonlik uit na sy feesmaal aanstaande Sondag.
Hoe gaan u reageer?
AMEN