SKRIFLESING: LUK 19:11 – 27
TEKS: LUK 19:26
TEMA: WAT DOEN EK MET DIE GAWE VAN GELOOF?
ʼn Mens word nie sommer net ʼn gelowige nie. Om ʼn gelowige te wees, is baie spesiaal. In ʼn sekere sin is dit dieselfde as om in ʼn goeie pos aangestel te word. Jy is daar omdat jy ʼn bepaalde opdrag het. ʼn Werk om te doen. Elke gelowige is immers ʼn burger, of te wel ʼn dienskneg, in die Here se koninkryk.
Die Here Jesus gee aan ons elkeen ʼn baie duidelike opdrag:
Julle is die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld......
(Matt 5:13 -16)
Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels...(Matt 28:19)
Ons het gelees dat die Here Jesus, toe Hy die laaste keer oppad was na Jerusalem ʼn gelykenis vertel het. Sy aanhang het geweldig toegeneem en die mense wou hom koning maak. Net verder aan in hierdie hoofstuk lees ons hoe Hy op die rug van ʼn donkie die stad binnegery het en hoe die mense toe palmtakke en self hulle klere voor Hom op die pad gegooi het. Hulle het uitgeroep:
Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom .....
Die mense het verwag dat Hy die ou aardse koninkryk van Israel sou herstel sodat dit weer sou wees soos in die dae van koning Dawid.
Die Here Jesus wil egter hê dat die mense moet verstaan dat Hy nie ʼn aardse koninkryk oprig nie, maar ʼn hemelse koninkryk. Daarom die gelykenis.
Nou moet ons onthou dat ʼn gelykenis altyd met die werklike lewe in verband gebring moet word. Wat was die verband in die geval?
Koning Herodes is in dieselfde tyd oorlede. Omdat Judea in daardie tyd ʼn Romeinse provinsie was, het sy seun na Rome gereis om daar die koningskap in sy pa se plek te ontvang. Hy was egter nie gewild onder die burgers van Judea nie en hulle het ʼn afvaardiging Rome toe gestuur om teen sy aanstelling beswaar te gaan maak.
Die Here Jesus sluit met sy gelykenis by hierdie gebeurtenis in die werklike lewe aan en pas die beeld dan op Homself toe.
Sy volgelinge moet verstaan dat Hy ook so na ʼn ver land, dit wil sê na die hemel, sal weggaan en na ʼn tyd sal terugkom. En net soos die edelman in die gelykenis van sy diensknegte roep en hulle aanstel, doen die Here Jesus ook.
Ja,
1. DIE HERE STEL ONS UIT GENADE AAN
Hy roep mense om spesiaal in sy diens te werk. Hy roep duidelik nie almal nie. In die gelykenis is daar sprake van net tien.
So roep die Here ons vandag om deel van sy kerk, kom ons noem dit die Here se werkspan, te wees. Omdat ons deel van die kerk is, is ons deel van die tien diensknegte in die gelykenis.
Die man gee dan aan elkeen van die tien diensknegte tien goue muntstukke. Die bedrag wat elkeen gekry het, was genoeg vir die salaris van ʼn arbeider vir min of meer drie maande. Hulle het nie vooraf vir die bedrag geld gewerk nie. Hulle kry dit sonder dat hulle dit verdien. Hulle moet nou daarmee gaan werk.
Nou wat gee die Here Jesus aan ons?
In Efesiërs Hfst. 4 sê Paulus dat die Here Jesus, toe Hy na die hemel opgevaar het, gawes aan die mense gegee het. Wat het Hy gegee? In die eerste plek geloof! Hy gee aan ons die gawe van geloof. Geloof is mos nie iets wat ons verdien nie. Geloof word geheel en al net uit genade aan ons toevertrou. In Ef. 2:8 staan:
Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ʼn gawe van God.
Ons elkeen het die gawe van geloof ontvang. En terwyl ons wag dat die Here Jesus uit die hemel, waarheen Hy opgevaar het, terugkom, moet ons met ons geloof “handel dryf”. Ons geloof moet vir ons Koning “wins oplewer”.
Ons moet hierdie geloof meer laat word.
In die eerste plek moet daar in ons elkeen se eie persoonlike lewe geloofsgroei plaasvind. En dit vra werk. Dit vra toegewyde Skrifstudie saam met medegelowiges. Op die manier word ons al hoe meer sout vir die aarde en lig vir die wêreld.
In die tweede plek moet ons ook geloof laat groei ten opsigte van die getal gelowiges. Ja, die Here het mos gesê: Gaan maak die mense my dissipels ..... Ons elkeen moet daaraan werk om nog mense vir die Here Jesus bymekaar te maak.
Die edelman in die gelykenis is weg nadat hy die geld gegee het en ook ʼn baie duidelike opdrag gegee het. Soos dit maar altyd in die lewe gaan, was daar mense wat die betrokke edelman ondersteun het en ander wat niks van hom wou weet nie. In vers 14 staan: Sy landgenote het hom egter gehaat ...
Dieselfde gebeur natuurlik met die Here Jesus.
2. DIE HERE SE KONINGSKAP - AANVAAR OF TEENGESTAAN
Die Here Jesus se landgenote (Jode) het Hom gehaat. Hulle het planne gemaak om van Hom ontslae te raak. Uiteindelik het hulle dit reggekry om Hom te laat kruisig. Ons weet mos die Jode verwerp vandag nog steeds sy koningskap. Hulle is sy vyande. Daar baie mense op aarde wat die Here Jesus verwerp. Hulle gaan so ver om aktief teen sy koningskap teen te staan.
Deesdae hoor ʼn mens hierdie teenstand by die mense wat met hofsake probeer om Christenskap uit ons skole verban te kry. ʼn Mens sien die haat en afkeer in die oë van die terreurgroepe wat Christene op die wreedaardigste maniere in Moslemlande om die lewe bring. Oor die hele wêreld is daar mense wat Hom nie as Koning wil aanvaar nie.
Maar kom ons kyk verder na die gelykenis.
Ten spyte van die weerstand van sy landgenote is daar tog diensknegte wat aan die koning getrou bly. Hulle werk in sy diens.
In die gelykenis word net na drie van die tien verwys. In die drie se optrede sien ʼn mens wat oor die algemeen met die Here se diensknegte gebeur. Sommige van hulle is ywerig en getrou, ander is weer minder ywerig en maak ook minder wins. En dan is daar sommiges wat glad nie getrou is nie. In die gelykenis vertel die Here Jesus van die een dienskneg wat met die koning se terugkeer moes rapporteer dat hy geen wins gemaak het nie.
Ons wat die gawe van geloof ontvang het, is veronderstel om met ons geloof wins te maak. Ja, ons elkeen sal eendag verslag moet gee. Ons sal moet wys wat ons met die geloof wat ons van die Here ontvang het gedoen het.
Ons sal moet verduidelik. Het ons ywerig gewerk soos die dienskneg wat tien muntstukke ontvang het en dit toe met sy ywer en toewyding verdubbel het? Of het ons dalk met minder ywer gewerk en, soos die tweede dienskneg net die helfte wins gemaak?
Of gaan ons daardie dag soos die derde dienskneg voor die koning staan met leë hande en baie verskonings?
Die feit van die saak is:
3. DIE HERE KOM TERUG OM FINAAL TE OORDEEL
Net soos die edelman in die gelykenis as koning uit die ver land terugkom, gaan die Here Jesus weer kom. Met sy wederkoms kom Hy dan om te oordeel.
Op daardie dag gaan elkeen wat geroep is en geloof as gawe ontvangvan het verslag moet doen.
Die apostel Paulus verwys in sy brief aan die Korintiërs daarna. Hy sê:
Julle is ook die gebou van God. Volgens die genade wat God aan my gegee het, het ek soos ʼn goeie bouer die fondament gelê, en ʼn ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan ʼn ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets.
(1 Kor 3:9c -13)
Die Here Jesus sal elkeen se werk beoordeel. Die wat wins gemaak het en wie se bouwerk bly staan, sal beloon word. In die gelykenis sê die Here Jesus dat die diensknegte wat wins gemaak het, elkeen oor ʼn bepaalde aantal stede sal regeer. Ja, dit is die belofte! Ons sal saam met Christus regeer!
Maar daar is nog die derde dienskneg. Hy het die muntstukke weggesteek. Hy sê:
Ek was bang vir u, want u is ʼn harde man. U eis op wat u nie belê het nie, en oes waar u nie gesaai het nie.
Hierdie dienskneg wou net bewaar. Hy laat alles in die koning se hande. Hy sê die koning oes sonder enige werk.....
Sie u ook in hierdie man die tipiese houding van die mense wat graag alles in die kerk wil hou net soos dit is. Hulle is glad nie bereid is om by enige evangelisasie of uitreikprojekte betrokke te raak nie. Hulle sê gou vir jou die Here kies uit wie hy wil. Volgens hulle maak die Here self sy volk bymekaar. Hy oes dus waar Hy nie gesaai het nie....
Hierdie mense verduidelik ook met stroewe gesigte hoe ernstig jy in die kerk moet wees. Daar moet goeie orde wees. Die kleredrag moet volgens hulle standaarde reg wees en alles wat na verandering of vernuwing lyk word teengestaan. Sulke mense wys graag op die Here se heiligheid en hoe Hy gevrees moet word. Hoor u die derde dienskneg se stem?
Meneer, hier is u muntstuk. Ek het dit in ʼn doek gebêre. Ek was bang vir u, want u is ʼn harde man.
Die apostel Paulus sê: Elkeen se werk sal beoordeel word. Omdat sommige diensknegte se werk nie die vuurtoets sal weerstaan nie, sal hulle nie beloon word nie. Hierdie derde dienskneg het geen beloning gekry nie.
Sy muntstukke is vir die dienskneg met tien gegee. Dadelik het die ander diensknegte beswaar gemaak. Die koning sê egter:
Aan elkeen wat het, sal meer gegee word en van hom wat nie het nie, sal die bietjie wat hy het, weggevat word.
Wat is dit wat die een dienskneg het?
U onthou mos dat ons gesê het dat dit hier oor geloof gaan. Ons almal in die Here se kerk ontvang geloof as geskenk. Ons moet daarmee werk. Ons moet dit gebruik om vir ons Koning wins te maak. As ʼn mens groei in jou geloof, word dit al hoe meer. En hoe groter jou geloof groei en jy dit in diens van ons Koning Jesus Christus aanwend, hoe meer geloof ontvang jy.
Die teenoorgestelde is egter ook waar. As jy die geloof wat jy ontvang het net bewaar. Alles net wil hou soos dit is, sal jy nie in jou geloof groei nie. En dan sal die bietjie wat jy het ook later verdwyn. As ʼn mens nie aan jou geloof en jou verhouding met die Here werk nie, word dit naderhand niks meer werd nie.
SLOT
Ons elkeen is geroep om in die Here Jesus se diens te werk. Hy het ons sy Gees gegee om geloof in ons harte te plant.
Die apostel Petrus som dit mooi op as hy sê:
Ons moet daardie geloof verryk met deugsaamheid. Die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense. As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus beter leer ken. (2 Pet 1:5 - 7)
Hy sê verder:
Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is. Daarom broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. (2 Pet 1:9)
AMEN.