SKRIFLESING: JESAJA 40:27 – 31
TEKS: JESAJA 40:29
DIE WAT OP DIE HERE VERTROU, KRY NUWE KRAG
Ek is seker dat nie een van ons wat vandag hier saam is nog nooit moedeloos of teleurgesteld was nie. Elkeen van ons was al moedeloos. Elkeen was al teleurgesteld. Elkeen van ons weet ook dat jy in sulke omstandighede met die Here worstel. Jy vra vrae en later slinger jy selfs verwyte. Luister net na die volk van die Here se worsteling in die tyd van die profeet Jesaja:
Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby(vers 27).
1. KYK NA DIE PROBLEEM
Die feit van die saak is: Die lewe verloop nie altyd soos ek en jy dit graag wil hê nie. Ons beland soms in situasies wat ons glad nie kan hanteer nie. By geleentheid gebeur daar selfs dinge wat ons in ons wildste drome glad nie kon voorsien nie.
In Jesaja se tyd was die volk van die Here onder geweldige druk. Die imperialistiese Babiloniërs was ʼn wesenlike gevaar. Hulle was besig om die strop al stewiger om die Judeërs se nek te trek. Die druk is so aanhoudend deur Nebukadneser en sy leërmag toegepas dat die volk moedeloos geword het. Hulle het gevoel dat die Here hulle verwerp het.
Luister wat het hulle gesê:
Die Here sien nie raak wat van my word nie. My reg gaan by God verby.
Sien u hulle probleem?
Dit is dieselfde as wat ek en jy dikwels ook ervaar. Dit voel mos so asof die Here nie meer omgee nie. Dit lyk asof hy anderpad kyk terwyl ʼn mens in ʼn geweldige krisis is. Daar is ernstige siekte of ʼn finansiële toestand. My huwelik is besig om te wankel of my kind is besig om die pad byster te raak. Ja onder sulke omstandighede worstel ʼn mens en vra: Hoe kan die Here dit aan my doen? Ek is dan ʼn gelowige! Ek dien Hom dan. Ek probeer om te lewe soos Hy wil hê.........
Die Here se verbondsvolk het juis destyds so geworstel. En in werklikheid het met twee vrae geworstel:
Die eerste vraag is teologies. Dit het met die wese van God te doen:
Hy sien nie raak wat van my word nie.....
Die volk plaas in ʼn sekere sin die alwetende en alomteenwoordige God in die beskuldigde bank. Met hulle menslike manier van oordeel verwyt hulle die Here vir die toestand waarin hulle is. Volgens hulle behoort Hy mos te sien wat aan die gang is. Hy is mos almagtig, alsiende en alwetend..... Maar nou is Hy skynbaar te besig met ander dinge om aan hulle ook aandag te gee.
Die tweede vraag gaan oor die praktyk, oor dit wat die volk beleef:
My reg gaan by God verby....
Die Here gee nie ag op hulle gebede nie. Hy steur Hom nie aan dit wat hulle van Hom vra nie. Die Here behandel hulle dus, so meen hulle, onregverdig.
Kom ons kyk wat is die Here se reaksie op die volk Juda se probleem
Sy antwoord kom in twee dele. Die eerste is teologies en die tweede gaan oor die praktyk.
In antwoord op die beskuldiging:
Die Here sien nie raak wat van my word nie, sê die Here
2. ONTHOU WAT JY GELEER HET
Kom ons lees weer vers 28:
Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God. Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie en Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik.
Kyk wat sê die Here: Weet jy nie en het jy nie gehoor nie?
Hulle het tog geleer Wie God is. Hy is Skepper en Onderhouer van die hele aarde. Die volk moet maar net onthou wat hulle al geleer het.
Voel ons nie ook soms soos die volk Juda destyds nie? So asof die Here nie raaksien dat dit sleg gaan nie.
Met die stakings en kragonderbrekings word ons elke keer ekonomies seergemaak. Die boere kan nie hulle produkte lewer nie, want die werkers by die verspreidingspunte staak.
Kontrakteurs kry nie werk nie, want die stakings en kragonderbrekings en grondeise het alles ʼn kettingreaksie of domino-effek. Die een probleem lei tot die volgende.
Ons probeer om as gelowiges te doen wat die Here van ons vra, maar dan lyk dit nie of ons getrouheid of toewyding enigsins help nie. Dit lyk of die Here nie sien wat aangaan nie. Dan voel mens amper soos Asaf in Psalm 73 wat begin twyfel. Hy sien die goddelose se voorspoed terwyl elke dag vir hom net teenslae bring.
As ons so voel asof die Here nie sien wat met ons gebeur nie, moet ons net weer onthou wat ons geleer het: Wie is die Here?
Die Here is Skepper en Onderhouer. Hy raak nie moeg nie en sy insig is ondeurgrondelik. Hy weet presies wat aangaan.
En dan verder, kyk na die praktyk
3. DINK AAN DIT WAT JY AL ERVAAR HET
Die lewe leer ʼn mens dat natuurlike dinge, gewone aardse dinge, faal.
Vers 30:
Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val .....
Selfs jongmanne waarvan hier gepraat word, die wat fisies sterk is, atlete of soldate, hulle wat fiks en gesond is, hulle word ook moeg. Die woorde moeg en afgemat wys beide op die feit dat jou omstandighede jou oorweldig....... vir jou te veel word.
In die gewone lewe van elke dag sien ʼn mens hoe die sterkes en gesondes deur hulle omstandighede oorweldig word. Die lewe eis sy tol.
Die praktyk leer egter ook iets anders en dit is:
dié wat op die Here vertrou kry nuwe krag.
Kyk net na daardie krag!
Hulle vlieg met arendsvlerke. Met kragtige vlerke bereik hulle geweldige hoogtes.
Hulle hardloop en word nie moeg nie. Hulle loop en raak nie afgemat nie. Hulle is sterker as hulle omstandighede.
In Rom. 8 sê Paulus:
Nie lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard nie ....
Hy sê verder hiervan is ek oortuig:
Geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Ja, as mens na die geloof in die praktyk kyk, kan jy verstaan hoe die apostel Paulus kan sê:
Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.
Omdat ons in Christus is, is ons nuwe mense. Ons lewe draai nie om ons aardse omstandighede nie, ons fokus is op die Here Jesus en sy koninkryk. Hy het alle mag in die hemel en op die aarde.
En Hy verseker ons:
En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan (Joh. 6:39)
SLOT
Ons omstandighede is dikwels net te veel om te hanteer. Dit oorweldig ons. Ja, selfs al is ons hoe sterk. Ons word moeg en voel afgemat. Dan voel ons ook sommer van God verlate.
Maar as ons onthou wie God is en ons kyk na die praktyk van geloof, van vertroue in God, dan sien ons krag wat ons hoog oplig en volharding wat geen einde het nie.
Onder leiding van die heilige Gees word ons meer oorwinnaars in Christus.
AMEN