Sosiale Skakels

Besoekers

We have 17 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 19 January 2015 06:13

Eksodus 33:15 HERE GAAN TOG SAAM MET ONS

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: EKSODUS 33

TEKS: EKSODUS 33:15

TEMA:  HERE GAAN TOG SAAM MET ONS

 

Vanoggend wil ek  ʼn geheim met u deel. Die geheim van die Here se teenwoordigheid in jou lewe. 

 

Elkeen  van ons wil mos graag weet dat die Here die pad saam met ons loop.   ʼn Mens wil mos sy nabyheid en liefde beleef.

 

Jy kry mos mense wat die Here se nabyheid meer  intens beleef. Hulle kan vir jou maklik verduidelik hoe wat die Here wil hê en ook hoe Hy hulle elke dag vashou en versorg.

 

As jy na so  ʼn persoon luister, raak jy skoon jaloers. En dan wonder jy: Wat is die persoon se geheim om so  ʼn besondere verhouding met die Here te kan hê?

 

En broeder en suster, jy het dit seker ook al beleef. Tye in  jou lewe toe jou gevoel het die Here is ver van jou. Tye wat dit vir jou voel:  Hy het van my vergeet ....

 

Dit was juis hierdie soort ervaring wat die volk Israel  gehad het terwyl hulle aan die voet van die berg vir Moses moes wag. Moses was nou al vir  ʼn geruime tyd op die berg om met die Here te praat, maar hy kom nie terug nie.

 

Dit laat hulle aan die aan die Here twyfel. 

 

Die punt is, broeders en susters

 

1. ONS WIL HOM SIEN

 

Ons wil sien hoe die Here in ons lewe betrokke is. Ons wil dit beleef.  Ons wil sy teenwoordigheid ervaar.

 

Kom ons lees net gou die vorige hoofstuk se eerste vers:

 

Toe die volk sien dat Moses talm en nie van die berg afkom nie, het hulle om Aäron saamgedrom en vir hom gesê: “Kom maak vir ons  ʼn god dat hy ons kan lei. Hierdie man Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie”.

 

Die volk wil die Here sien, maar daar is niks om na te kyk nie.  Hulle raak ongeduldig en begin twyfel.  Later het hulle by Moses se broer Aäron saamgedrom. Moses het hulle van die Here vertel en gesê dat hierdie God hulle na hulle eie land sou lei, maar nou gebeur daar niks.

 

Waar is die Here nou?  Wat het van Moses geword?

 

Ons weet mos wat toe gebeur het.  Aäron het vir die volk  ʼn god gemaak om na te kyk. Hy het vir  hulle  ʼn goue kalf gemaak wat lyk soos een van die gode van die Egiptenare.  En kyk wat staan in Hfst. 32:3:

 

Toe sê die volk: Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het Israel!

 

Nou het die volk iets gehad om na te kyk!

 

Maar dit was toe hulle grootste fout!  Hulle maak  ʼn beeld. En nou begin hulle om die beeld te aanbid.  Dit maak die Here so kwaad dat Hy opdrag gee dat die Leviete met swaarde kruis en dwars tussen die mense moes ingaan en doodmaak.

 

Die volk het die Here se heiligheid aangetas. Hulle het  Hom met die afgode van die wêreld gelykgestel.

 

Die feit van die saak is

 

2. ONS KAN HOM NIE SIEN NIE

 

Ons bely in Art.1 van die Nederlandse Geloofsbelydenis:

 

Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar  ʼn enige en enkelvoudige wese is wat ons God noem. Hy is onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys en regverdig ....

 

Ons bely:  Hy is onsienlik ....

 

Die Here het selfs vir Moses toe hy op die berg, in die sy teenwoordigheid, was en toe ook gevra het om Hom te kan sien,  gesê:

 

Vir my kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en  bly lewe nie. (vers 20)

 

Waarom kan ons nie vir God sien en bly lewe nie?

 

Dit gaan oor ons sonde en God se heiligheid.

 

God is heilig. Dit beteken dat Hy die enigste, ewige almagtige God is. Daar is niks en niemand soos Hy nie. Toe Hy Homself destyds by die brandende bos aan Moses bekend gestel het, het Hy Homself genoem:

 “Ek is”....   Dit beteken Hy is uniek en spesiaal. Daar is niks en niemand soos Hy nie.

 

Toe die volk saam met Aäron  ʼn  goue kalf gemaak het, het hulle Hom met die afgode van die wêreld gelyk gestel.  Hulle het van Hom  ʼn gebruiksartikel gemaak.  En dit mag nie.  Ons mag Hom op geen enkele manier aan ons wêreldse manier van dinge doen gelykstel nie.

 

Toe Israel  ʼn beeld van Hom gemaak het en so sy eer en heiligheid aangetas het, sê Hy dat Hy nie meer saam met hulle sal trek nie.  Hy sê vir Moses dat hy  ʼn engel saam met hulle sal stuur, maar Hy gaan nie saam nie.  Hy is so kwaad dat Hy hulle oppad daarheen sal verdelg......

 

Kom ons lees net weer vers 5:

 

Daarop het die Here vir Moses gesê: Sê vir die Israeliete:  Julle is  ʼn moedswillige volk.  As Ek net  ʼn oomblikkiesaam met julle trek, sal Ek julle verdelg.  Sit al julle juwele weg. Ek sal later besluit wat Ek met julle gaan doen.

 

Nou var  ʼn mens dadelik:  Waarom moes hulle hul juwele afhaal?

 

Juwele, broeders en susters, vestig jou aandag op die draer van die juwele.  Juwele trek aandag, maar dit is oppervlakkig.  Juwele bly iets wat aangetrek word.  Dit is aangeplak.

 

Die Here is nie oor ons buitekant, oor dit wat ons kan aantrek of aanplak begaan nie.  Wat vir Hom belangrik is, is ons binnekant....... Ons harte.  Daar moet dit reg wees.  Juwele kan jou van buite aantreklik maak, maar wat gaan in jou hart aan?

 

Volk moes hulle juwele afhaal, sodat  ʼn mens hulle harte kon sien.  Die volk se harte moes verander.  En daarmee het Moses  ʼn belangrike rol vervul. Hy was die volk Israel se middelaar.  Hy het tussen die volk en die Here gaan staan.

 

3. ONS BENODIG ‘N MIDDELAAR

 

In vers 7 lees ons dat Moses  ʼn tente gevat het en dit op  ʼn afstand buite die kamp gaan opslaan het. Hy het dit die tent van ontmoeting genoem. Elkeen wat na die wil van die Here wou vra, het na Moses by die tent van ontmoeting, buite die kamp, gegaan.

Hierdie ontmoeting kon net buite die kamp plaasvind. Die persoon wat die Here wil ontmoet moes uit sy ou situasie, uit sy omstandighede tree en deur middel van Moses en in die tent van ontmoeting by die Here se wil uitkom.

 

Nou is dit sommer duidelik waarom ons juis op  ʼn Sondag die Here hier in die kerkgebou kom ontmoet.  Ons verlaat ons daaglikse lewe en omstandighede en kom hier eenkant saam waar ons die Here ontmoet.  Hier op  ʼn Sondag, waar ons alle daaglikse bedrywighede staak, kan ons met Hom, die heilige God besig wees.

 

En ons kan dit net doen as ons dit deur middel van ons Middelaar doen.

 

Moses was  ʼn tipe van Christus in sy middelaarswerk. Hy het vir die volk by die Here ingetree.  Hy was egter nie  ʼn volmaakte middelaar nie, want hy was nog steeds  ʼn sondige mens.

 

God het in sy genade vir ons die volmaakte Middelaar gegee toe Hy sy Seun na hierdie wêreld gestuur het.

 

Ons Here Jesus Christus het onder ons kom woon.  Hy is as mens in Betlehem gebore. Hy het  hier op aarde gelewe.  Mense het hom gesien en kon  met hulle hande aan Hom raak.

 

Eendag het een van Jesus se dissipels weer die begeerte uitgespreek om die Here te sien:

Toe sê Filippus vir Hom:  “Here wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg”.  En Jesus sê vir Hom “Ek is al so lank by julle , en ken jy My nie, Filippus?  Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: Wys vir ons die Vader?  (Joh. 14:8 & 9)

 

Die geheim, broeder en suster, om God te sien, is om na ons Here Jesus Christus te kyk.  En jy sien Hom in die kerk. Die kerk is die liggaam van Christus.  Ek en jy is deel van die liggaam van Christus. Ons is ledemate van sy liggaam.  Ons is op mekaar aangewese en vir mekaar verantwoordelik.

 

Net soos die Israeliete na Moses in die tent van ontmoeting moes gaan en daar die Here se wil leer ken het, moet ons buite onsself en ons omstandighede uit tree.  Ons moet ons verlossing buite onsself in Christus soek.  Ons SAAM as gelowiges ons nuwe lewe in Christus vind.  Ons sien Hom in mekaar en beleef Hom in mekaar se optrede van liefde en omgee.

 

Ons sien God in en deur ons Here Jesus Christus. In Hom waar ons sy ledemate is, beleef ons die Here se teenwoordigheid. Petrus sê ons het in Christus deel aan die goddelike natuur (2 Pet 1:4)

 

Die Here Jesus is nie weg nie......  Hy is, soos Hy beloof het, elke dag by ons (Matt 28:20). Hy het sy Gees gestuur om in ons te kom woon.

 

SLOT

 

Ons beleef die Here se teenwoordigheid saam met ons medegelowiges in ons Here Jesus Christus.  Ons as lidmate van die kerk vorm saam die liggaam van Christus.  Onder leiding van die Heilige Gees beleef ons God se teenwoordigheid en kan ons Hom saam dien en verheerlik.

 

Die Here gaan saam met ons, want Hy het ons deur sy Gees in Christus ingelyf.  Ek en jy beleef God se teenwoordigheid  in ons saamwees en saamleef met ons medegelowiges in die gemeente.

 

                                                    AMEN

Read 3609 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek