SKRIFLESING: JES 42:18 – 43:7
TEKS: JES 43:1c
DIE HERE BOU ʼn PERSOONLIKE VERHOUDING
Watter groter wonder kan daar wees as die feit dat die almagtige God, skepper van hemel en aarde in ʼn persoonlike verhouding met ʼn nietige klein mensie wil wees?
Dink net vir ʼn oomblik ........ dink net wat dit beteken. Hy wat groter as die heelal met sy miljoene der miljoene sterrestelsels is. En ons is soos klein stofdeeltjies voor Hom ...... Hy wat onbeskryflik groot is, kom bou met jou en my ʼn persoonlike verhouding.
Luister wat sê Hy:
Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne
Kan jy jouself iets groter, wonderliker en meer asemrowend as dit voorstel?
En dan kom Hy en maak die wonderlikste beloftes aan ʼn nietige klein mensie , ...... dit is onbegryplik!
(Ons gaan dit vandag weer sien. Ons gaan vandag sien en beleef hoe die almagtige en ewige God met ʼn mensie, sommer nog klein, te klein om te weet of te verstaan, ʼn persoonlike verhouding begin bou.)
Wat my persoonlik nog meer verbyster laat en wat regtig eintlik onverstaanbaar is, is die feit dat die Here nog enigsins met die mens iets te doen wil hê.
Ja,
1. KYK HOE LYK DIE VERLEDE
Hier praat ons in die eerste plek van die volk Israel se verlede. Die gedeelte wat ons saam gelees het praat van die tyd so ongeveer 650 vC. Die Here se profeet Jesaja is besig om met die Here se verbondsvolk, wat op hierdie stadium in ballingskap is, te praat.
Waarom was hulle in ballingskap? Na herhaalde waarskuwings het hulle nog steeds weggedwaal. Hulle wou nie luister nie. Hulle het hulle nie aan die profete gesteur nie. Uiteindelik het die Here hulle aan die Babiloniërs oorgegee.
Luister wat sê Hy in Hfst. 42: 24
Wie het van Jakob ʼn gevangene gemaak, wie het vir Israel oorgegee aan dié wat buit gemaak het? Is dit nie die Here nie?
Die Here verwyt sy volk. Hoor wat sê Hy:
“Julle het baie gesien, maar julle slaan nie ag daarop nie, julle het baie gehoor, maar julle luister nie” (Hfst. 42:20)
Vers 25:
Daarom het Hy sy toorn teen hulle laat ontvlam: die geweld van oorlog.
Die volk Israel is in haglike omstandighede en dit is alles hulle eie skuld! En hulle is nie alleen nie. Die harde werklikheid is: Alle mense is as gevolg van ongehoorsaamheid en hardkoppigheid in die ellende. Die apostel Paulus beskryf in Romeine 3 die toestand van die mensdom:
Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie. Daar is nie een wat verstandig is nie, daar is nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, self nie een nie. (Rom. 3:10 -12)
Nou is die vraag: Hoe kan die ewige, heilige, almagtige God enigsins nog met die mens iets te doen hê? Hoe kan die volmaakte en heilige God met sulke ongehoorsame, liefdelose en hardkoppige mense bemoeienis maak?
Kom ons probeer vanoggend om blatant eerlik te wees. Wie van ons verdien God se liefde? Wie van ons kan op God se genade aanspraak maak? Wie kan sê: Die Here moet vir my sorg, want ek is so gehoorsaam, toegewyd en vol liefde? Nie een van ons kan dit ongekwalifiseerd sê nie.
Ons verdien net mooi niks, elkeen van ons weet dit ..... Ons bely dat ons eie goeie werke niks beteken nie. Ons maak eerder ons sonde nog meer....
Maar kyk nou
2. KYK WAT DOEN DIE HERE
Broeder en suster. Ten spyte van die volk Israel se ontrou, bly die Here getrou.
Kyk hoe beskryf Jesaja die volk se toestand:
Daar was vlamme rondom hulle, maar hulle wou nie verstaan nie, dit het hulle gebrand, maar hulle wou dit nie ter harte neem nie (Hfst. 42:25)
En dan kom die Here en Hy sê:
Luister, so sê die Here wat jou geskep het Jakob, wat jou gevorm het Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.
Sien u wat hier gebeur?
Die volk is in die diepste ellende. Daar vlamme rondom hulle. Hulle brand, maar hulle wil nie verstaan nie. Hulle kom nie tot die regte insig nie. Hulle sien nie hulle probleem nie.
En dan kom die Here. Hy verseker hulle van sy ewige trou. Ten spyte van hulle ongehoorsaamheid, liefdeloosheid en eiewilligheid sê Hy:
Ek het jou op jou naam geroep jy is Myne.
Hier val ʼn mens se mond oop van verbasing. Hier staan jy sprakeloos. Hoe is dit moontlik? ....... Dit is onverstaanbaar dat die Here, ten spyte van die volk se ongehoorsaamheid, hardkoppigheid en liefdeloosheid nog kan sê: Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.....,
maar dit is presies wat gebeur..... Al is ons ontrou, Hy bly getrou.
Hier is dit so duidelik soos daglig. Ons redding kom nie uit onsself nie. Dit is alles net genade. Die Here sê: Ek het jou geskep. Ek het jou gevorm. Hier gaan dit nie oor ons aanvanklike skepping as mense nie. Wat hier ter sprake is, is ons herskepping. Dit gaan nuwe lewe wat uit die ou sondige doodstoestand kom. Die Here maak jou nuut deur die wedergeboorte.
Ons gaan netnou na die doopformulier luister, dan moet u mooi hoor wat daar aan die begin staan:
Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore en is daarom onder die toorn van God, sodat ons nie in die ryk van God kan inkom nie, tensy ons opnuut gebore word.
Die apostel Paulus skryf aan die Efesiërs:
Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ʼn gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons wat ons nou is. In Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het(Ef. 2:8 -10)
Die wedergeboorte is God se genadewerk in ʼn sondeverlore mensdom. Geen mens kan in die ryk van God kom nie tensy hy of sy wedergebore word. En die wedergeboorte is God se alleen-werk. Net Hy kan lewe uit die dood skep ......
Selfs al laat die Here sy verbondsvolk deur water en vuur gaan om hulle te beproef, sal Hy by altyd hulle bly. Hy werk aan hulle verlossing. Sy verbondsvolk is vir kosbaar. So kosbaar sê die Here dat Hy mense in hulle plek gee, volke in ruil vir hulle lewe.... hy het Egipte opgeoffer toe Hy hulle eersgeborenes met die tiende plaag laat sterf het en Hy is bereid om ook ander volke te gee... En uiteindelik het Hy Homself gegee. In die Persoon van die Seun het God Homself aan die kruis vir sy volk geoffer.
Hy is bereid om ander volke en mense in die proses op te offer. Hy gaan selfs so ver om Homself in die persoon van die Seun as offer te gee om sy volk te red. God se optrede is onverstaanbaar. Sy liefde en genade onbegryplik groot.....
En kom ons kyk nou verder
3. KYK HOE LYK DIE TOEKOMS
Net omdat die Here ons en ons kinders in sy verbond insluit en sy beloftes aan ons maak, het ons ʼn toekoms.
Reeds by ons doop begin Hy aan ʼn persoonlike verhouding met ons bou. By die doop belowe Hy dat hy ons Vader sal wees, dat Hy ons in Christus sal verlos en deur die Heilige Gees in ons wil woon.
Soos enige verhouding, kan ook hierdie verhouding slegs bly bestaan en groei as dit van beide kante kom. Hy kom eerste na ons toe. Hy het ons eerste lief. Hy vestig die verhouding. En by die doop beseël Hy die verhouding. So plaas Hy ʼn verbondskindjie binne die milieu van ʼn verbondsgesin en ʼn verbondsgemeenskap. Binne hierdie atmosfeer van geloof, liefde en gehoorsaamheid kry die kind geleentheid om self in die verhouding met God te groei en te ontwikkel.
In vers 6 sê die Here:
Bring my seuns van ver af, my dogters van die uithoeke van die aarde af, elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het.
Ons het ʼn ewige toekoms in die Here se koninkryk.
SLOT
Die Here se genade IS ONBESKRYFLIK GROOT. Sy liefde is onbeperk. Ons en ons kinders deel voluit in sy liefde en genade. Kan daar ʼn groter wonder wees as dit? Ons het net rede tot dankbaarheid. Ons het net rede om Hom te loof en te prys!
AMEN.