NAGMAAL
SKRIFLESING: OPENB. 21:1 – 8
TEKS: OPENB. 21:5
ONS VIER NAGMAAL, WANT DIE NUWE LEWE IN CHRISTUS IS ’N FEES!
Oud ...... en nuut ......
Alles wat die mens doen, is oud ...... Alles wat God doen is nuut.
Volgens die Skrif is die ou mens iemand wat sonder die Here lewe. So ʼn lewe sonder God word geteken met begrippe soos haat, rusie, twis, onmin, verdeeldheid, skeuring, afguns dronkenskap, eiewilligheid en selfgesentreerdheid.
Van hierdie soort lewenswyse sê die Here: “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word (Ef 4:22)
Daarteenoor word die nuwe lewe onder leiding van die Heilige Gees geteken met begrippe soos liefde, vreugde vrede, geduld vriendelikheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
Hieroor leer die Skrif:“Lewe as nuwe mense. Julle gees en gedagtes moet nuut word.” (Ef. 4:23) en verder: “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” (Rom. 12:2).
Die Blye Boodskap wat ons vanoggend ook weer aan die Nagmaalstafel beleef het, is
1. GOD MAAK ALLES NUUT
Hierdie wêreld is oud en verslete. Hierdie wêreld is vol sonde. Hierdie wêreld het nie ’n toekoms nie. Alles van hierdie wêreld stuur op ’n ramp af. Die ou dinge moet verbygaan. In hierdie wêreld, so het die Prediker al eeue voor Christus gesê, is daar niks wat ’n mens kan bevredig nie. Die mensdom se lewe is tevergeefs en ’n gejaag na wind!
Die ou lewe, is ’n sondige lewe. Dit is ’n lewe waar die sondige mens met sy sondige denkwyse en selfgesentreerde lewensbenadering alles rondom hom stukkend breek. Hy verwoes die natuur en hy breek verhoudings tussen mense. En die hartseer is dat die ou sondige mens met sy eiegeregtigheid besig is om homself en sy sondige optrede te regverdig.
Maar God sê: Kyk Ek maak alles nuut.
Is dit nie wonderlike nuus nie, broeders en susters?
Die mens het in sonde geval. Die mens het homself sowel as God aarde in die greep van die satan, die sonde en die dood laat beland. As gevolg van die mens se ongehoorsaamheid en selfgesentreerdheid is die hele skepping, soos die apostel Paulus sê, verslaaf aan verganklikheid (Rom 8:21). Alles is besig om tot niet te gaan.
Maar God gryp in! Hy laat nie alles maar aan ʼn wrede noodlot oor nie. Nee, Hy sê: Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar: Kyk Ek maak alles nuut.
As mens openbaring lees, is jy geneig om te dink dat dit gaan oor dinge wat eers eendag in die hemel gaan gebeur. Dit is nie waar nie. Die boek Openbaring gaan wel oor die eindtyd, maar die eindtyd is nou. Dit is die tyd waarin ons vandag lewe. Die eindtyd is die tyd tussen die Here Jesus se hemelvaart en sy wederkoms.
Daarom praat die Here in ons teksvers oor dinge wat nou besig is om te gebeur. Dinge in ons huidige lewe .....
Ons wag dus nie eers vir eendag, daar ver in die toekoms nie. Nee, dinge is nou reeds besig om te verander. Die feit van die saak is:
2. IN CHRISTUS IS EK NOU REEDS NUUT!
Toe Jesus die Nagmaal ingestel het, het Hy gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed” (Luk 22:20).
Die nagmaal is die bewys en bevestiging dat ek en jy nou reeds deel het aan ons Here Jesus Christus se verlossing. En daarom het ons nou reeds deel aan die nuwe lewe wat Hy deur sy opstanding uit die dood vir ons verwerf het.
Omdat ons deur ʼn ware geloof in Christus ingelyf is, is ons nuwe mense. Ons lewe nie meer nie, want Christus wat uit die dood opgestaan het, lewe deur sy Gees in ons. In en deur Christus het ons mos met die ou sondige mens en sy gewoonte gebreek. Ons lewe nou die lewe van die nuwe mens.
Die nuwe mens is iemand met nuwe optrede. Die ou dinge het verbygegaan. Alles word nou nuutgemaak en ons, diegene wat in Christus ingelyf is, is nou reeds in ons gees en gedagtes nuutgemaak. Ons is nuwe mense, mense van liefde en vrede en vergewensgesindheid.
Die nuwe mens is die mens wat eenheid soek en verdeeldheid teenstaan. Die mens wat lyding en onreg verdra omdat Jesus Christus lyding en onreg verdra het. Die nuwe mens oordeel en veroordeel niemand nie. Die nuwe mens laat die oordeel aan God oor. Dit is God se reg om te veroordeel en te straf, want Hy is die kenner van die harte. Die nuwe mens dra en verdra!
En natuurlik doen die nuwe mens hierdie dinge nie uit homself nie! Uit onsself kan ons mos niks doen wat nuut is nie.
3. ONS VERNUWE ONDER LEIDING VAN DIE HEILIGE GEES
God se vernuwingswerk kry gestalte in my lewe deur middel van die Heilige Gees se vernuwende en lewewekkende krag. Die Here sê aan Johannes: Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar. God waarborg sy vernuwingswerk.
Hy kan dit waarborg, want Hy is die oorsprong van alles wat nuut is. Dit is immers Hy alleen wat ons deur die kragtige werking van die Heilige Gees opnuut gebore laat word. Hy maak met jou en my ʼn nuwe begin.
En ek en jy kan net in sy koninkryk inkom as ons opnuut gebore word. Sonder die wedergeboorte kan ʼn mens nooit deel in die nuwe lewe nie. Sonder die wedergeboorte bly jy in die ou sondige lewe vasgevang.
Maar nou is daar ’n vraag wat ’n mens kom hinder en jou verward laat voel:
As dit dan so is, dat elkeen wat in Christus is, ’n nuwe mens is, waarom sien ons dan gelowiges, kerkmense, wat nog sonde doen? Waarom sien ’n mens Christene wat skei en Christene wat steel? Waarom sien ’n mens Christene wat haatlik optree en ander mense seermaak? Waarom sien ’n mens Christengelowiges wat mekaar aanval en beskinder en beskimp?
Daar is net een rede, broeders en susters. Hierdie mense, hierdie Christene wat so optree, weerstaan die Heilige Gees.
Die probleem is dit: Solank ons nog op hierdie aarde woon, is ons nog binne die bedeling van die sonde en die dood. Al is ons geestelik nuutgemaak, is ons liggame nog deel van die sondige natuur. Daarom is ons nog steeds van nature nog geneig om sonde te doen.
Uit onsself is ons tot niks goed in staat nie.
Dit is net onder leiding van die Heilige Gees wat ons as nuwe mense kan lewe.
Daarom het ons elkeen ʼn voortdurende stryd. Ons wil die goeie doen en ons kan onderleiding van die Heilige Gees die goeie doen. Die probleem kom as ons nie vir die Heilige gees luister nie. Dan trek ons sondige natuur ons af na die ou lewe toe.
Dit is waarom ons Sondag vir Sondag kom om die Here in die erediens te ontmoet en dit is waarom ons weer en weer Nagmaal vier. Ons moet geestelik versterk word. Ons moet krag kry om weerstand te bied teen ons sondige natuur. Ons moet met die krag van die Heilige Gees herlaai word om as nuwe mense te kan lewe.
Die apostel Paulus se raad is: “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe”. (Rom12:1 & 2) En : “...breek met die ou sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word” (Ef 4:22 en 23)
SLOT
Geliefdes. Jesus Christus het gekom om ons ou sondige bestaan met ’n nuwe toekoms te vervang. Die Heilige Gees werk in ons om ’n ou leefwyse en ’n ou benadering met ’n nuwe leefwyse en ’n nuwe lewensbenadering te vervang.
Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Die nuwe lewe in Christus is ʼn fees! ..........
Dit is alles die werk van God.
AMEN.