Sosiale Skakels

Besoekers

We have 12 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Tuesday, 15 September 2015 14:51

Rom 11:17 & 18 Kerklikdmaatskap - 'n Geskenk van God

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:  ROMEINE 11:11 – 24

TEKS: ROMEINE 11:17 & 18

TEMA: KERKLIDMAATSKAP – ‘N GESKENK VAN GOD

Voor ons vandag na ons teksgedeelte kyk, wil ek eers vir u ʼn vraag vra:

Hoe het u ʼn lidmaat van die gemeente geword?

·         Sommige sal sê: Ek is hier van geboorte af. My ouers was lidmate en ek het in die gemeente groot geword.

·         Ander kan weer sê: Ek is getroud en het saam met my man of vrou lidmaat geword.

·         Iemand kan sê: Ons het op ʼn stadium hierheen verhuis en met attestaat hier aangesluit.

·         Nog ander kan sê:  Ek het na ʼn nuwe geestelike tuiste gesoek en toe besluit om lidmaat van die gemeente geword.

Al hierdie verskillende maniere om lidmaat te word, is moontlik en ook waar, maar kom ons kyk vanoggend saam met die apostel Paulus ʼn bietjie dieper na ons lidmaatwees  van die gemeente.

Hy teken vanoggend vir ons ʼn unieke prentjie. Hy teken vir ons ʼn boom -  ʼn olyfboom en dan sê hy:

1.       DIE HERE SE KERK IS SOOS ‘N OLYFBOOM

Kyk wat staan in ons teksvers:

Party van die takke is uitgekap en jy, ʼn wilde olyf, is tussen die takke op die mak olyf geënt.

Om aan die lidmate van die gemeente in Rome te verduidelik wat dit vir hulle beteken om deel van die gemeente te wees, gebruik Paulus ʼn beeld.  Hy sê dat lidmate van die gemeente met takke aan ʼn  boom vergelyk kan word.  Hy sê dat die lidmate van die gemeente in Rome takke van ʼn wilde olyfboom is wat op ʼn mak olyfboom ingeënt is.

In hierdie gedeelte van sy brief aan die Romeine is Paulus besig om te verduidelik hoe die Here besig is om sy kerk op aarde te bou. Hy maak vir Hom ʼn volk bymekaar wat tot in ewigheid by Hom in die hemelse heerlikheid sal bly. 

Hoe doen die Here dit?

In die voorafgaande hoofstukke van sy brief verduidelik Paulus hoe die Here met Abraham begin het. Hy het vir Abraham uit Ur anderkant die Eufraatrivier  gaan roep en met hom en sy nageslag ‘n verbond gesluit. Die Here het belowe dat Hy vir Abraham en sy nageslag ryklik sou seën. Hulle sou die land Kanaän ontvang en so baie word soos die sterre aan die hemel.  Uit Abraham, Isak en Jakob word die volk Israel gebore en hulle het as die Here se volk bekend gestaan.

Paulus verduidelik dan dat die volk Israel soos ʼn boom is, ʼn olyfboom wat deur die Here geplant is. Dit is immers die Here wat na Abraham toe gegaan het en hom geroep het en aan hom beloftes gemaak het. Dit was dus die Here se besluit en ook sy optrede – nie Abraham sin nie. Abraham en sy nageslag het alles net ontvang.  ʼn Geskenk uit God se hand.

Dit was net die Here en Hy alleen wat Abraham en sy nageslag as olyfboom geplant en versorg het.....

En nou verduidelik Paulus aan die lidmate van Rome hoe hulle ook takke in hierdie selfde olyfboom geword het.  Hy sê dat hulle van ʼn wilde olyfboom, dws heiden nasies,  afgesny en op die mak olyfboom (Israel) ingeënt is.

Die mak olyfboom het oor die jare takke verloor. Paulus sê daar is baie van sy takke wat uitgekap ...... omdat hulle nie geglo het nie. 

In Hfst. 9:6 & 7 sê Paulus: 

.... nie almal wat van Israel afstam, is werklik kinders van Israel nie; en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie.

Baie van Abraham se fisiese nasate het verlore gegaan.  Johannes die Doper het op ʼn stadium aan ʼn klomp Israeliete gesê:

Julle moet julle nie verbeel dat julle by julleself kan sê: “Ons het Abraham as voorvader” nie.  Dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwerk.  Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom (tak) wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.(Matt 3:9 & 10)

Die punt waaroor dit gaan, broeder en suster, is dat dit die Here is wat met sy boom besig is. Ons mense kan nie op ons eie besluit om deel van die Here se kerk te wees of nie.  Hy het sy olyfboom reeds in die Ou Testament, in Abraham se tyd geplant en Hy is vandag, in ons tyd, nog met presies dieselfde boom besig.

Aanvanklik het die boom net uit die volk Israel bestaan, maar Israel het die Here verwerp. Hulle het die Here Jesus laat kruisig.   ʼn Baie groot deel van Israel is takke wat uitgekap is, maar die here het ʼn oorblyfsel gered.   Van Israel het daar uiteindelik net ‘n droë stomp oorgebly. Maar dan kom die Here Self, in die Persoon van die Seun, na hierdie aarde en Hy maak ‘n nuwe begin. Daar spruit ‘n takkie uit die stomp van Isai.

Sien u?  Alles is God se werk. Hy kap takke uit en Hy ent nuwe takke in. 

Paulus verduidelik aan die lidmate van die kerk in Rome dat hulle nuwe takke is, takke wat uit die heiden nasies op die mak olyf ingeënt is. Net genade.

En ons?  Ek en jy, broeder en suster?

2.       ONS IS NUWE TAKKE WAT INGEËNT IS

Net soos die lidmate in Rome is ons ook takke van die wilde olyf  wat op God se mak olyf ingeënt is.  Ons is nuwe takke wat in die plek van ou takke, wat uitgekap is, ingeënt is.

Ons moet goed verstaan. Net so min as wat ʼn tak homself op ʼn boom kan inent, kan ek en jy  self besluit om deel van God se kerk te word.  Dit sluit mooi aan by die kinderdoop. Die deur die doop word kinders in die verbond ingesluit. Sonder dat hulle dit weet en sonder dat hulle iets daaraan kan doen.  Hulle kry op die manier deel aan die sap van die wortel van die mak olyf.

Soos wat hierdie gedoopte kinders saam met hulle ouers in die gemeente betrokke is, die Woord hoor, huisgodsdiens hou, katkisasieklasse bywoon en betrokke is by gemeentelike aktiwiteite kry hulle deel aan die werking van die Heilige Gees.   Ons het hier met ʼn wonderlike, bonatuurlike, Goddelike werking te doen.  Dit is God die Heilige Gees wat nuwe lewe in ons dooie harte wek. Dit is Hy alleen wat aan ons geloof as gawe gee.  Dit is die wedergeboorte.  In Ef. 2:8 -10 staan:

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ʼn gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is ......

Dis net God se genadewerk in Christus.  Dit is net die Heilige Gees wat lewend maak. In ons teksvers sê Paulus:

So het jy deel gekry aan die lewensap van die mak olyf se wortel....  Moet jou dan nie bo die ander takke verhef nie! Moet jou ook nie verbeel jy is iets nie:  dit is nie jy wat die wortel dra nie, die wortel dra jou ....

God se genade is groot.  Hy maak jou en my deel van sy olyfboom.

Maar kyk mooi......  Kyk ook na jouself ..... 

In die kerk is daar vandag, net soos die geval in Israel destyds, ook dooie takke. Dooie takke wat aan die boom sit, maar nie vrugte dra nie. Dooie takke wat nutteloos is en net die boom se groei benadeel.  Hierdie takke word  een of ander tyd uitgekap en in die vuur gegooi.  

Ek en jy het ʼn opdrag.

3.       ONS OPDRAG: LEWE UIT GOD SE GOEDHEID

Kom ons lees weer wat in vers 22 staan:

Let dan op die goedheid en strengheid van God: sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders word jy ook uitgekap.

Die feit dat ek en jy deel is van God se kerk is net genade. Hy maak ons deel. Hy ent ons as takke in op sy boom.

Juis omdat ons alles uit genade ontvang, verwag die Here dat ons in sy koninkryk diensbaar sal wees.

Ja, as ingeënte takke moet ons nou vrugte dra ..... Onder leiding van die Heilige Gees moet ons meelewende, toegewyde en diensbare lidmate van die Here se kerk wees  ......   

Kom ons elkeen vra onsself vanoggend weer die vraag:

Wat doen ek vir die Here?

Ons wil die heeltyd hê die Here moet vir ons allerhande dinge doen:

·         Hy moet ons beskerm

·         Hy moet ons gelukkig maak

·         Hy moet ons seën  ens. ens.

Maar wat doen ek en jy vir Hom?  Wat doen ek en jy aan die uitbreiding van sy koninkryk?  Hoe lyk die vrugte wat ons vir Hom dra? Wat doen ons vir ons mede-lidmate? Wat doen ons vir ander mense?  Maak ons dissipels?  Is ons sout en lig?  Watter verskil maak ek en jy regtig in die samelewing?

Luister weer mooi wat staan hier in vers 22:

Maar dan moet jy uit sy goedheid LEWE, anders kan jy ook uitgekap word

SLOT

Om deel van God se kerk te wees, is nie in die eerste plek ons besluit en ons aksie nie.  Om deel van God se kerk te wees, is net genade. Dit is God wat jou en my inent, ons inplant.  Om deel van God se kerk te wees, is ‘n geskenk uit God se hand.

Die groot vraag is: Wat maak ons met die geskenk? Ons het deel aan die lewensap van die mak olyf se wortel.  Dra ons vrugte? Hoe lyk ons vrugte?

                                                                                        AMEN.

Read 3596 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek