Sosiale Skakels

Besoekers

We have 5 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Sunday, 15 November 2015 20:23

2 Kon 17:9 & 13 God voorsien in 'n droogte

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: 1 KONINGS 17:1 – 16

TEKS: 1 KONINGS 17:9 & 13

TEMA:  GOD VOORSIEN IN ‘N DROOGTE

Broeder en suster. 

Wat het u vanoggend regtig nodig?

                                Ja,  wat is u grootste nood? 

Ons is tans in die greep van ʼn knellende droogte. Die hulpgeroep van mens en dier word dringend.   Wat ons almal nou nodig het, is reën, sommer baie reën, want dit is bitter droog.

Benewens reën is daar dalk nog iets anders wat u baie nodig het. Moontlik sit u in ʼn finansiële verknorsing en het daarom ʼn sekere bedrag geld bitter nodig.

En wat van hoop? U ervaar miskien u huidige situasie as hopeloos. Daar is geen vooruitsig nie. Die toekoms lyk so donker.  Of wat van krag? Dalk het u net nie meer genoeg krag om voort te gaan nie.

Hoe dit ook al sy, as u vanoggend voel dat daar ʼn dringende tekort in u lewe is, moet u mooi luister, want deur die droogte waarin Elia vasgevang was, wil  die Here vir ons leer hoe Hy die klein bietjie wat ek en jy het baie kan laat word......  Sodat ek en jy genoeg kan hê

Die profeet Elia moes op ʼn stadium  vir die goddelose koning Agab en die volk sê dat dit vir ʼn paar jaar nie sou reën nie.  Hierdie aankondiging het hom egter baie ongewild gemaak.  Hy was sy lewe nie seker nie en moes by die spruit Krit weggekruip.  Nou het die droogte hom persoonlik ook begin raak. En dan lees ons die Here het kraaie gestuur om vir Elia kos te bring. Hy het Elia daar op ‘n besondere manier versorg. Op ʼn stadium het die water in die spruit egter ook begin opgedroog.  En dan kan mens jou voorstel hoe Elia moedeloos word en bid: Here hoe gaan U my nou uit hierdie doodloopstraat red?

Ons ervaar soms persoonlike noodtoestande. Ons ervaar egter ook algemene nood. Ons land se droogte. En dink ook maar aan Frankryk na die terreuraanvalle in Parys. 

Kom ons kyk hoe die Here ‘n mens in ‘n noodsituasie bewaar en versorg.    Elia 5 kry vyf opdragte by die Here. Kom ons kyk na opdrag een

1.       VERLAAT JOU GEMAKSONE

Kom ons lees weer vers 9:   Gaan na Sarfat toe by Sidon ....  Elia het weggekruip. By die Krit spruit was hy veilig, maar nou laat die Here die spruit opdroog. 

Ja, soms laat die Here juis jou en my spruit opdroog. Hy wil ons uit ons gemaksone uitkry, want dikwels sit ons so half gemaklik in ons swaarkry. Die Here wil hê ons moet besef hoe groot ons probleem is, want Hy het ʼn oplossing. Hy wil ‘n wonderwerk laat gebeur, maar ons sit op een plek.

Ons moet r eers besef hoe groot ons probleem is. Soos in Elia se geval, moet die water in ons spruit ook eers opdroog.  Ja, as Hy ook ons laaste hoop laat verdwyn, dan vra ons:

Waarheen nou Here?

Vir Elia het die Here gesê:  Gaan na Sarfat toe .......  Elia moes uit sy wegkruipplek, uit sy gemaksone, maar hy is bang!  Sarfat in Sidon?

Die Here se opdrag nommer 2 word meer geïmpliseer as direk gesê, maar dit beteken

2.       BREEK MET JOU VREES

Waarom was Elia bang?  Agab en sy heidense vrou Isébel het hulle mes vir hom in gehad. Hy het immers die droogte aangekondig.  Nou moes hy Elia vir ongeveer 90 km in die openbaar na Sarfat toe loop. Dit terwyl hy ‘n voortvlugtige is.  Boonop is Sarfat in Sidon. Die omgewing waar Isébel vandaan kom. Haar pa was die koning van Sidon.  Die Here sê Elia moet in vyandsland inbeweeg!   Hoe kan die Here dit verwag?   En dan sê die Here boonop vir Elia:  .... bly daar. By daar in vyandsland!

As ek in Elia se skoene was, sou ek dalk nog ‘n bietjie langer probeer wegkruip. Maar die Here sê: Breek met jou vrees. Gaan na Sarfat toe.

Die Here weet waar ek en jy is. Hy ken ons omstandighede.    Kyk mooi hoe die Here werk.   So stap vir stap lei die Here vir Elia:  Maak jou gereed, .....  staan op, .... gaan .....  En dan Here? So vra Elia seker.  Die Here maak ook die plek gereed waarheen hy jou laat gaan ... Na Sarfat toe Elia. Hy weet ook waarheen Hy met ons ons op pad is. Hy ken ook die situasie daar. 

Geliefdes, die Here wil hê ek en jy moet met ons vrese breek.  Ons hoef nie bang te wees om te beweeg nie. Ons kan skuif. As die Here sê ons  moet gaan, moet ons Hom vertrou. Hy het ons toekoms veilige in sy hande. 

Daarom kom opdrag 3

3.       SOEK GOD SE VOORSIENING

Luister wat staan in ons teksvers:  Ek het ‘n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.

In daardie tyd was ‘n weduwee een van die heel slegste posisies om in te wees. Weduwees het niks gehad nie. Hulle is gewoonlik onder die heel armste mense gereken.  Elia was seker stom van verbasing ... ʼn weduwee sal vir hom sorg. Dit wat die Here vir hom sê, klink al hoe meer vergesog.....  Ja, onmoontlik!

Maar is dit nie so dat die Here juis op ongewone maniere werk nie?  Dit is nie noodwendig die rykes wat die meeste vir liefdadigheid doen nie. Hoe dikwels hoor ‘n mens nie van mense wat dit juis self nie te breed het nie, wat juis help en ondersteun.

Die Apostel Paulus praat van die Masedoniërs wat oorvloedig bygedra het. Hy sê: Al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheidEk verseker julle, hulle het na vermoë, ja bo vermoë bygedra. (2 Kor 8:3).  En wat van die arm weduwee wat alles wat sy gehad het in die offergawekis by die tempel gegooi het?  Elia gaan versorg word .... en dit deur ʼn brandarm weduwee.

As ek en jy uit ons droogte wil kom, moet ons weet dat God al klaar vir ons voorsiening gemaak het. Dalk op ʼnmanier wat ons nooit aan sou dink nie. Op ʼnmanier wat vir ons selfs na ʼntotale onmoontlikheid lyk!

Dit bring ons by opdrag no. 4.

4.       STEEK JOU TROTS IN JOU SAK

Elia na ‘n weduwee gaan soek en hy moes by haar gaan bedel. Stel jou dit voor. Hy die profeet van die Here.  Hy moes homself verneder en by ʼn weduwee bedel water en vir kos. 

En haar antwoord? Sy het waarskynlik in trane uitgebars:

So seker as die Here u God leef, ek het nie meer brood nie, net ‘n handjie vol meel in die kruik en bietjie olie in die erdekan.  Ek maak nou ‘n paar houtjies bymekaar en dan gaan ek vir my en my seuntjie iets klaarmaak om te eet. Daarna moet ons maar doodgaan....

Maar dan sê Elia:

Moenie bekommerd wees nie. Gaan maak dit klaar net soos jy gesê het, maar maak eers vir my ‘n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg.....

Wat gebeur hier?

Elia en die weduwee het mekaar nodig.  Die Here lei hulle na mekaar toe. Elia het kos nodig en sy het geloof nodig.  Sy moes leer om die Here te vertrou en die Here stuur Elia na haar toe sodat sy die ware God kan leer ken.

Ons moet leer om die here te vertrou. Hy werk op buitengewone maniere.  Elia moet op ‘n weduwee staatmaak om hom te versorg en sy moet ‘n onbekende man vertrou om aan die lewe te bly.

Het u opgelet? Beide, sowel Elia as die weduwee moes eers gee voordat hulle kon ontvang. Dis hoe die Here werk. Hy wil hê dat ons Hom sal vertrou, maar Hy werk deur mense en omstandighede. Hy werk op manier wat nie met ons logika en ons gewoontes in lyn is nie. 

Hy kom met wonderwerke. Ons moet net ons oë oopmaak!

Kyk maar net hoe Hy ons in en deur ons Here Jesus Christus verlos. ‘n Kruis wat altyd nog dood beteken, word ‘n oorwinningsteken oor die dood. ‘n Graf wat toegemaak word, gaan oop. ‘n Lewe wat skynbaar hier ophou, gaan in ewigheid voort.

Hoe sterk is my en jou vertroue in die Here?  Kyk na opdrag 5

5.       GEE WAT JY NOG OOR HET AAN DIE HERE

Toe die weduwee stap om water te gaan haal, roep Elia agterna:

Bring asseblief vir my ‘n stukkie brood saam.

En dan weer: .

.. maak eers vir my ‘n roosterkoek en bring dit hier, daarna kan jy vir jou en jou seuntjie sorg....

Die weduwee moes haar laaste meel en olie aan die man van God gee.  Elia moes homself verneder en van haar ‘n hulpelose weduwee hulp vra...

Die Here verwag dat jy alles wat jy het aan Hom sal gee. 

Ons moet verstaan: Dit is nie my plaas of my besigheid of my huis en my motor nie. Alles behoort aan die here. Eers as ek en jy dit verstaan, kan ons ook gee.  Sowel Elia as die arm weduwee se lewe is in die Here se hande. Toe hulle alles aan Kom oorgee, beleef hulle die wonder van sy bonatuurlike versorging.

 

SLOT

Geliefdes,

Is ons bereid om ons hele lewe in die Here se hande te plaas. Is ons bereid om Hom ten volle te vertrou?  Kan ek en jy alles wat ons het in sy diens stel ... soos die weduwee?

Kyk wat doen Hy vir ons! Hy  het sy alles, sy lewe, vir ons kom gee!

 Dit is mos wat ons vandag hier aan die Nagmaalstafel opnuut beleef.

                                                                                   AMEN.

Read 4774 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek