Sosiale Skakels

Besoekers

We have 2 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 25 July 2016 08:45

1 Tim 4:8 & 9 SORG DAT JY GEESTELIK FIKS BLY

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: 1 TIM 4:1 - 16

TEKS: 1TIM 4:8 en 9

TEMA: SORG DAT JY GEESTELIK FIKS BLY

                       

In die Bybel word ons lewe as gelowiges soms met  ʼn wedloop vergelyk.  Luister wat staan in Hebreërs 12:1 - 3

 

Terwyl ons dan so  ʼn groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof ...  Hou Hom voor oë .... dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

 

In 2 Tim 4:7 en 8 skryf die apostel Paulus:

 

Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig enduit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God .....

 

Net soos liggaamlike fiksheid ʼn voorvereiste vir ʼn suksesvolle wedloop in atletiek is, kan ek en jy ook nie die geloofswedloop suksesvol voltooi as ons nie geestelik fiks is nie.  Daarom sê die apostel Paulus onder leiding van die Heilige Gees:

 

Om jou liggaam te oefen, het wel  ʼn bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde...

 

Broeder en suster.  EK EN JY MOET SORG DAT ONS GEESTELIK FIKS BLY,    want

 

1. ONS GELOOFSLEWE IS ‘N GEESTELIKE WEDLOOP

 

Hoewel die Skrif ons in soveel woorde leer en dit baie duidelik maak dat ons lewe as gelowiges met  ʼn wedloop vergelyk word, sien baie kerklidmate hulle Christenskap meer in terme van een of ander saamry geleentheid.

 

Die lidmate se kerklidmaatskap kan vergelyk word met mense wat op  ʼn bus te klim wat, so meen hulle, besig is om hemel toe te ry. Al die verant­woordelikheid rus op die busbestuurder en sy personeel wat die passasiers gelukkig en tevrede moet hou. Hulle betaal immers om saam te ry!

 

Hierdie saamry-christene wil gedurig bedien word.  Van inspanning en opoffering is daar by hulle nie juis sprake nie. Die grootste inspanning wat jy by hulle sien, is wanneer hulle oor iets kla wat nie na hulle sin is nie.  En wanneer sulke saamryers wel gevra word om iets te doen, hoor jy baie vinnig allerhande verskonings.

 

Sulke saamry-lidmate in 'n gemeente laat 'n mens dink aan mense wat graag vir jou vertel dat hulleself voorgeneem het om te begin oefen om fiks te word. Hulle wil graag daardie ekstra vetrolletjies afskud, maar dan kom nooit sover nie.  As hulle wel tog met  ʼn gesukkel so ver kom om te begin oefen, is hulle sommer gou-gou uit-asem.  Hulle kry dit nie reg om aan te hou nie.  Nee wat ..... ons ry liewer saam met die bus....

 

Maar nou is daar  ʼn probleem, .....  ʼn groot probleem!. Hierdie saamryers kan nooit die hemelse prys behaal nie...  Maw hulle sal nooit in die hemel kom nie. ....  Waarom nie? ..... Die antwoord is heel eenvoudig: Hulle neem nie deel aan die wedloop nie! 

 

Dink vir ʼn oomblik aan die duisende mense wat elke jaar bu die Comrades Marathon betrokke is. Daar is natuurlik die duisende atlete wat op die pad is. En dan mense wat in motors of busse saam met die atlete beweeg. Daar is ook derduisende wat die helewedloop op TV volg. Uiteindelik dit is dit egter net die atlete, wat met vol­harding en inspanning self die wedloop hardloop, wat elkeen ʼn medalje as oorwinnaarskroon ontvang.

 

Die vraag wat ons elkeen onsself moet afvra is: 

 

Is ek  ʼn in die geloofswedloop 'n aktiewe deelnemer of net  ʼn saamryer en toeskouer?

 

Ek en jy kan net ʼn deelnemer aan die geloofswedloop wees as ons

 

2.  SORG DAT ONS DEUR OEFENING FIKS BLY

 

Paulus sê in ons teksvers:

 

            "Oefen jou om in toewyding aan God te lewe."

 

'n Atleet wat onfiks is, word gou moeg en sak uit. Hy hardloop al hoe stadiger en gaan sit later langs die pad terwyl die ander atlete hom verbygaan. Netso kan geen gelowige aan die wedloop van die geloof deelneem as hy of sy nie geestelik fiks is nie.

 

Die logiese vraag is nou: Hoe word ek en jy geestelik fiks?

 

Paulus gee die antwoord as hy sê: "Oefen jou om in toewy­ding aan God te lewe."

 

In die eerste plek beteken oefen om prakties met die daad besig te wees. ‘n Atleet moet op die baan of op die pad kom en begin hardloop. Om boeke te lees en met atlete oor die wedloop te praat, is nie oefen nie.

 

Verder beteken om in toewyding aan God te lewe. Dat jy gefokus is.  En hier is twee dinge ter sprake. Gehoorsaamheid en liefde.

 

Ek en jy moet die Here se groot gebod gehoorsaam uitleef. Ons ken dit mos baie goed.

 

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en al jou kragte. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

 

Sommige mense lees baie oor sport. En hulle kyk na sport op die TV. Hulle kan jou alles oor sport vertel. Hulle kan ook duidelik sê waar en wanneer die skeidsregter verkeerde beslissings gemaak het....... Maar hulle neem nie deel nie....  Hulle bly net toeskouers!

 

In die kerk hoor ons elke Sondag ʼn preek. Tuis lees ons uit die Bybel en sommige van ons lidmate is ook weekliks deel van kleingroepe waar die Bybel ook bestudeer word. Ons hoor wat in die Bybel geskryf staan en ons praat graag oor die boodskap. Die probleem kom egter by die praktyk.  Die gehoorsaam-deel, die leef-en-doen-deel.   

 

Jakobus sê in sy brief (Hfst. 2) as jou geloof nie dade word nie, is dit  ʼn dooie geloof!  Ek en jy moet hierdie dinge wat die Here in sy Woord vir ons leer en waaroor ons met mekaar in die kleingroepe praat, elke dag prakties gaan toepas, ons moet dit in praktyk uitleef!

 

Hoe pas ek en jy die woord prakties toe?  Hoe oefen ons  om in die geloof te lewe?  

 

Dink weer aan die atleet. Dit help net mooi niks as die atleet elke week ʼn artikel lees oor hoe ʼn atleet moet oefen en hoe sy of haar dieet moet lyk nie.  Die atleet moet op die baan kom of op die pad kom en begin hardloop.

 

Die Here se opdrag aan ons is om gehoorsaam te wees. Dit beteken ons moet elke prakties in liefde leef.  Die apostel Johannes sê as jy God liefhet, sal jy sy opdragte uitvoer.

 

En weet u wat is die Here se groot opdrag?  Ons lees dit in Matt 28.

 

 Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels.

 

Ja, ek en jy moet dissipels maak. Ons moet mense leer en hulle begelei om dissipels van die Here Jesus te word. 

 

Broeder en suster, as ek en jy die Here liefhet, sal ons die mense wat Hy op ons pad bring, sy dissipels te maak. Ons sal aan sy groot opdrag gehoorsaam wees.  En as ons hieraan ongehoorsaam is, beteken dit heel eenvoudig dat ons Hom nie liefhet nie – al sê ons so!

 

Ek en jy moet met mense oor die Here se verlossingswerk praat. Ons elkeen moet persoonlik gaan en siekes en eensames besoek. Ons moet mense in nood met kos en klere gaan help.  Onthou hierdie dinge gebeur nie sommer vanself nie. 

 

Dit help ook nie om net elke dag te bid en te sê:

Here wees met die armes en die eensames en die siekes nie.

 

Jakobus sê as jy sien hoe iemand honger is en nie klere het nie en jy gee nie vir hulle wat hulle nodig het nie, is jou geloof morsdood.

 

Ons moet ons daagliks daarop instel om ons geloof dade te laat word. Ons moet in die wedloop kom.  En onthou, dit vra wilskrag en opoffering en moeite, Daarom sê die apostel Paulus onder leiding van die Heilige Gees:  

 

3. SPAN AL JOU KRAGTE IN

 

Ek en jy mag nie die fout maak om agter ons eie onvermoë weg te kruip nie. As ons op ons eie kragte staatmaak om die wedloop van die geloof te probeer voltooi, sal ons weliswaar nooit daarin slaag nie...

 

God weet hoe swak ons is. Daarom het Hy ons sy Gees gegee sodat ons onder leiding van die Heilige Gees as nuwe mense kan lewe. Geloof is op sig self is ʼn gawe van die Gees.  Daarom, as ons nie ons geloof dade laat word nie of as ons ons met verkeerde dinge besig hou, bedroef ons die heilige Gees.

 

En  Paulus waarsku in ons teksvers:

 

Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly. Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe.

 

Wat is hierdie onheilige en sinlose verdigsels? Volgens verse 2 en 3 was daar dwaalleraars wat mense met hulle wettiese godsdienstige reëls mislei het. Hulle beweer dat die geloof uit  ʼn klomp wette en reëls bestaan. Sodoende word hulle instrumente in die hand van satan om die gelowiges se oë van die Here Jesus weg te neem en op hulleself, hulle eie wetsprestasies te fokus. Dan neem hulle nie meer aan die wedloop deel nie, want hulle ken sommer vir hulleself punte toe. Op so ‘n manier laat jy jouself sommer wen.

 

Vandag sien ons ook hoe mense verlei word om wettiese gelowiges te wees. Daar is lidmate wat dink: 

As ek my Bybel lees en bid en Sondae kerk toe kom en ʼn bydrae gee, is ek ‘n gelowige. Al wat ek dan nog moet doen, is ʼn ordentlike skoon lewe lei. Nie vloek nie, nie drink nie, nie na pornografie kyk nie. Dan is ek reg.....

 

Maar dit is nie waar nie, broeders en susters! 

 

‘n Wettiese godsdiens is ‘n vals godsdiens! Dit is ‘n leuen van die satan.

 

Die enigste manier wat ek en jy as ware gelowiges kan lewe, is in en deur ons Here Jesus Christus. Net as ons deur ‘n ware geloof in Hom ingelyf is, kan ons die geloofswedloop saam met die apostel Paulus voltooi.  Maar dit vra opoffering en inspanning. Dit verg toewyding.

 

As jy onder leiding van die Heilige Gees deur ‘n ware geloof in Christus ingelyf is, leef jy nie meer nie, maar Christus leef in en deur jou. Dan is jy ‘n nuwe mens!   Daarom kan Paulus in Fil.4:13 sê: "Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee"  Die krag waarmee ons dus aan hierdie wedloop deelneem, is nie ons eie krag nie, maar Christus se krag! Die krag waarmee Hy oorwin het. Die krag van sy opstanding uit die dood.

 

Die Heilige Gees werk so in ons dat ons in die ware sin van die woord dissipels van Jesus word. Dan loop ons agter Hom aan. Dit beteken ons doen wat Hy doen. Dan is ek en jy nie meer oor ons eie eer en voordeel begaan nie. Nee, ons is dan bereid om ons eie voordeel en eie belang heeltemal eenkant toe te skuif sodat ons aan Hom alleen gehoorsaam kan wees.   Ons voer dan sy opdragte sonder teëpraat of verskonings uit!

 

Maar nou is daar nog die vraag: 

 

Waarom is daar 'n traagheid en  saamry-gees tussen ons lidmate?  Waar is die ywer, toewyding en volharding?  

 

Die probleem, broeders en susters, lê by ons gehoorsaamheid.  Ons is eenvoudig ongehoorsaam. Ons wil die Here op ons voorwaardes dien. Ons wil hê die Here moet ons help en ons versorg en bewaar, maar intussen is ons elke dag ongehoorsaam. Ons doen nie wat Hy sê nie! Ons steur ons nie aan sy opdragte nie!

Boonop is ons selfgesentreerd. Ons is net met onsself en ons persoonlike behoeftes besig. Ons is aan onsself toegewy in plaas van aan God toegewy. Ons sien onsself nie regtig as diensknegte van ons Koning Jesus Christus nie.

 

Ja,  ons moet dit maar erken:

 

            Ons oefen nie om in toewyding aan God te lewe nie!  

 

Ons dink dat God net daar is om ons te help sodat ons hier gelukkig kan wees en saam met die bus hemel toe kan ry!  Dit is ‘n valse siening van gelowigwees.

 

Kom ons wees vanoggend blatant eerlik!

 

            Ons praat te veel en doen te min!

 

Ons stel nogal baie in die godsdiens belang, soos mense wat in sport belangstel. Sulke mense verslind die sportblaaie in die koerante, kyk graag na sport op TV en woon selfs baie getrou die wedstryde as toeskouers by....... Maar hulle kom nooit op die veld of op die baan nie .......

 

Die vraag is, broeder en suster:  Is ek en jy op die baan?  Is ons in die wedloop van die geloof?  

 

SLOT

 

Geliefdes, die Here sê in ons teksvers:

 

 "Dit het wel 'n bietjie waarde om jou liggaam sekere dinge te ontsê, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit hou belofte in vir die teenswoordige en toekomstige lewe.

 

Liggaamlike oefening is regtig waardevol vir 'n gesonde liggaam, maar dit gaan jou nie in die hemel bring nie! 

 

Geestelike oefening het veel meer waarde, want dit sorg nou hier elke dag vir 'n gesonde verhouding met jou hemelse Vader en maak jou diensbaar in sy koninkryk. Dit maak van jou  ʼn deelnemer aan die wedloop wat uiteindelik die oorwinnaarskroon, die ewige lewe, sal ontvang

 

Onthou:  As ek en jy nie uit ons gemakstoele opstaan en aan die wedloop begin deelneem nie, sal ons nooit die hemelse prys behaal nie.                                           

 

Daarom, broeders en susters, kom ons vat hande en moedig mekaar aan sodat ons ywerig kan oefen om in toewyding aan God te lewe....  Dan sal ons die oorwinnaarskroon ontvang.

 

                                                                                     AMEN.

Read 2724 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek