Sosiale Skakels

Besoekers

We have 14 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 17 October 2016 08:53

Ef 1:6,12 & 14 SOLI DEO GLORIA

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: EF.1:1 – 14

TEKS: EF. 1:6.12 & 14

TEMA:   SOLI DEO GLORIA!

Gestel ʼn totaal vreemde en ongelowige persoon sou vir jou vra:

Vertel bietjie vir my wat dit beteken om ʼn Christen te wees?

Wat sal jy op so ʼn vraag antwoord?  Miskien iets soos:

Jesus het aan die kruis vir my sondes gesterf.

Ek gaan eendag as ek sterf hemel toe.

Ek is nou ʼn kind van die Here

Sulke antwoorde is natuurlik waar, maar is EK en MY REDDING regtig die belangrikste aspek van ons Christenskap? ...... Kan ek regtig so redeneer dat dit alles primêr  oor my saligheid gaan?

In die gedeelte wat ons saam uit Paulus se brief aan die Efesiërs saam gelees het, praat hy met hulle oor die feit dat hulle gelowiges geword het.  Hy verduidelik dan vir hulle hoe dit gebeur het dat hulle Christene is en ook wat dit prakties in hulle elkeen se persoonlike lewe beteken.

As die gedeelte deurlees, is daar iets wat jou opval. Paulus roep 3 keer uit – in verse 6,12 en 14 uit:

Daarom moet ons God se grootheid prys.

Paulus verdeel op so ʼn manier die gedeelte in drie dele.  En in elkeen van die drie gedeeltes verduidelik hy wat God gedoen het om  die mense in Efese gelowiges te maak.  Paulus wys daarop dat dit alles aan God-Drie-Enig te danke is. In verse 3 – 6  verduidelik hy wat God die Vader doen, in verse 7 – 12 God die Seun, en verse 13 en 14 gaan dit oor God die Heilige Gees se werk.

                                               

Paulus sluit dan nadat hy van ‘n bepaalde Persoon van die Drie-Eenheid se werk gepraat het, af met die woorde: 

Daarom moet ons God se grootheid prys.

Die tema vir die preek vanoggend is: Soli Deo Gloria.

Dit beteken:  Alle eer aan God alleen.

Calvyn, een van die groot Hervormers het gesê: Die mens se belangrikste opdrag is: Om God te eer!

Nou is die vraag: Hoe kry ek en jy dit reg om God te eer?  Uit onsself kan ons dit nie doen nie.  Alle mense word in sonde ontvang en gebore en is daarom geestelik dood. Uit homself kan geen mens die Here verheerlik nie.  Daarom sê ons belydenis onomwonde: Die mens is van nature geneig om God en sy naaste te haat.

Wat Paulus in dan hierdie gedeelte sê,  is dat die Drie-Enige God op ʼn bonatuurlike manier in jou en my lewe kom werk het met die doel om ons uit die kloue van die satan, die sonde en die dood te red. Hy red ons sodat Hy ons in sy diens kan aanstel.

Kom kyk saam met my na dit wat Hy gedoen het.  In die eerste plek

1.       GOD DIE VADER HET ONS UITVERKIES - PRYS SY GROOTHEID!

Kom ons lees weer verse 3 - 6

3 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 4. So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5 In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6 Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het.

Nog voordat God die wêreld geskep het, het Hy bepaalde mense uitverkies om sy kinders te wees.  Ons moet goed begryp:   God se verlossingsplan hang nie van die mens af nie. Luister mooi wat staan in vers 5:

In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om sy kinders te wees.

Letterlik elke mens wat deur ʼn ware geloof in ons Here Jesus Christus ingelyf is se ewige bestemming is vooraf bepaal. 

In Johannes 6:38 en 39 lees ons:

Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan.

In Johannes 6:44 sê ons Here Jesus:

Niemand kan na My toe kom as die Vader, wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie .....

Sien u? Dit is alles God se werk. Die mens kan uit homself niks doen nie.

God het ons daarvoor bestem om sy kinders te wees.  Daarom moet ons God prys vir sy genade en liefde.

Om so van die sonde en die dood gered te word en die ware lewe te ontvang, moet ek en jy deur ʼn ware geloof in Christus ingelyf wees.  Hy is ons redder. Daarom  gaan Paulus nou verder en sê

2.       GOD DIE SEUN HET ONS VERLOS – PRYS SY GROOTHEID!

Kom ons lees weer verse 11 en 12

Deur Christus het ons deel gewordvan die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys.

Hier staan:  Deur Christus het ons deel geword van die volk van God. 

Daar is geen ander manier waarop ‘n mens deel van God se volk  kan word nie.  Die enigste manier is: Jy moet deel van die Here Jesus se liggaam word.  Jy moet in Hom ingelyf word.   Luister wat sê Hyself:

“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. (Joh. 15:5 & 6)

Die apostel Paulus skryf verder in sy brief, in Hfst. 4, aan die Efesiërs

....  ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na  Christus toe.  Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde(14 en 15)

God voer sy ewige raadsplan met ons as mense uit deur middel van ons here Jesus Christus. Dit is waarom ons Here Jesus op hierdie aarde mens moes word. Hy wat self God is, moes mens word om vir ons mense se sondes te kom betaal. Hy moes sterf en weer uit die dood opstaan om vir ons die nuwe lewe te kom bewerk.  Paulus sê:

Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe ....  So het Hy Hom dit voorgeneem wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit......

En dan sluit hy weer die gedeelte af

        Daarom moet ons ... die grootheid van God prys.

Nou kom Paulus by die Heilige Gees se werk. Luister wat sê hy 

3.       GOD DIE HEILIGE GEES IS ONS WAARBORG – PRYS SY GROOTHEID!

Daar is op aarde geen mens wat in die Drie-enige God kan glo sonder dat die Heilige Gees die geloof in so ‘n mens ingeplant het nie.  Dit is net God die Heilige Gees wat ‘n hard van klip kan vervang met ‘n hart van vlees. Dit is slegs deur die kragtige werking van die Heilige Gees wat ek en jy wedergebore word. 

En as ek en jy nou begin verstaan dat ons hier is en in hierdie gemeente deel van die liggaam van ons Here Jesus geword het,  is dit duidelik as gevolg van die werking van die Heilige Gees. Dit is net die Heilige Gees wat ons enersyds kan oortuig van ons sondeverlorenheid sonder Christus en andersyds ons kan oortuig van ons verlossing in Christus alleen.  

Verstaan u? Die feit dat ons in die Drie-Enige God glo en Hom wil dien en eers, het ons alles net aan die Heilige Gees se werk te danke!

Die Heilige Gees se werking in ons is die waarborg dat God met ons besig is.  Paulus sê: Dit is die bewys dat Hy ons ook volkome sal verlos!

Ons daaglikse lewe se fokus moet daarom die eer van God wees. Ons moet alles wat ons doen vir die Here, en die uitbreiding van sy koninkryk doen.  Ons lewe mag nie selfgesentreerd wees nie. Dit moet God gesentreerd wees.

SLOT

Kom ons luit af en vra nou weer: 

Wat beteken dit vir jou en my om ‘n Christen te wees?

Dit beteken dat die Heilige Gees ons sodanig verander het dat ons as nuwe mense in Christus leef om God se grootheid te prys.  In ons  Christenwees gaan nie in die eerste plek oor my redding en my verlossing nie .....

Ons  enigste en uitsluitlike lewensdoel is:   OM GOD TE EER!

                                                                          AMEN

Read 2545 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek