SKRIFLESING: JAKOBUS 4:1 – 17
TEKS: JAKOBUS 4:8 EN HK SON 23 VRAAG 60
TEMA: LEWE NADER AAN DIE HERE EN VERVUL SO JOU LEWENSDOEL
Lewe ek en jy naby genoeg aan die Here?
Hy is immers ons hemelse Vader!
Die kind wat naby aan sy/haar aardse vader leef, word groot met die vader se liefde, sy beskerming en sy leiding. Dink maar aan ‘n kleutertjie wat dit al hoe meer waag om van pa af weg te beweeg, maar as die gevaar dreig, vinnig terughardloop om in pa se sterk arms opgetel te word.
Ons lees in die Bybel hoe mense naby aan God geleef het en so God se liefde, beskerming en sy leiding geken het.
· Henog het naby aan God geleef. Hy is lewend in die hemel opgeneem (Gen 5)
· Noag het naby aan God geleef. Hy is in die ark bewaar.
· Asafsê in Ps 73:
... dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal al sy werke bly vertel.
Jakobus praat in Hfst. 4 van sy brief met mense wat van hulle hemelse Vader weggedwaal het. Hulle optrede lyk soos ʼn klomp kleuters wat oor speelgoed baklei. Hulle is net op hulle eie selfsugtige begeertes ingestel.
Kom ons lees weer verse 1 en 2.
Waar kom die stryd vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ʼn ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle.
Broeder en suster
1. WAAROP IS JOU EN MY LEWE GEFOKUS?
Jakobus sê sy lesers se lewe was op hulle eie selfsugtige begeertes gefokus.
Luister wat sê hy in vers 3:
As julle bid ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.
En dan gaan Jakobus nog verder: Hy noem hulle vriende van die wêreld! En dan sê hy:
Wie ʼn vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is. (vers 4)
Hierdie mense aan wie Jakobus geskryf het, was wel gelowiges, hulle was kerklidmate, maar hulle ingesteldheid was verkeerd. Hulle het nie meer op God gefokus nie. Hulle was met hulle eie, selfsugtige begeertes besig en nog boonop vriende met die wêreld.
Jakobus spreek hulle baie ernstig aan. Hy wys hulle daarop dat hulle selfsugtig en hulle gierig is. Hulle is afgunstig op mekaar en veg soos kinders met mekaar omdat hulle so materialisties ingestel is. Selfs hulle gebede is deurspek met selfgesentreerde begeertes. En dit is die ooglopende rede waarom hulle gebede nie verhoor word nie.
Die kerkmense aan wie Jakobus geskryf het, het op daardie stadium nie meer die Here bo alles liefgehad nie. Hulle het nie meer die Here van harte gedien nie. Hulle het wel nog kerk toe gegaan en ook nog gebid, maar hulle harte was nie meer daarin nie. Die eer van die Here was nie meer hulle prioriteit nie. Nee, hulle eie voordeel, dit het voorop gestaan.
Kan u verstaan waarom Jakobus in die paar verse wat ons saam gelees het twee keer sê dat hulle hulleself moet onderwerp:
Vers 7: Onderwerp julle dan aan God.
En weer in vers 10: Onderwerp julle in nederigheid voor die Here.
As ʼn mens die Here dien en Hom alleen aanbid, wys jy jou eie kleinheid , jou afhanklikheid, jou nederigheid en respek. Daarom buig jy voor Hom? Jy gaan staan op jou knieë. Jou hele liggaamshouding wys dat jy klein en Hy groot is.
En nog belangriker is jou hartsgesindheid. Die Here kyk tot diep binne -in jou hart. Hy lees jou gedagtes en weet wat jou bedoeling is. Hy weet as jy net met jou eie selfsugtige begeertes besig is. Daarom het Hy op ʼn stadium vir die Israeliete gesê:
Skeur julle harte en nie net julle klere nie....
As ek en jy die Here wil dien, gaan dit oor ons hartsgesindheid. Die Here Jesus sê:
Moenie vir julle skatte op aarde bymekaar maak, waar mot en roes verniel en diewe inbreek en steel nie.... Maak vir hulle skatte in die hemel bymekaar. Waar jou skat is daar sal jou hart ook wees. .... Waar jou skat is ... daar sal jou hart ook wees!!
Waarop is ons harte deesdae gerig? Ons is tog so bekommerd oor ons besittings. As die President die minister van finansies vervang en die Rand as gevolg van politieke onstuimigheid tuimel, skrik onsself tot stilstand. Dan wil ons veg! As die wêreld rondom ons onstuimig begin raak, word ons benoud. Ons is tog so begaan oor wat van ons en ons kinders gaan word. Ons vergeet so maklik dat hierdie wêreld nie ons woonplek is nie. Ons is net reisigers op pad na ons hemelse woonplek.
Daarom kom Jakobus se ernstige waarskuwing :
2. KOM NADER AAN DIE HERE
Jakobus sê: Nader tot God en Hy sal tot julle nader.
Net soos Jakobus se lesers het ons ook al ver van God af weggedwaal.... agter onsselfsugtige begeertes aan .... agter die wêreld se dinge aan.
Ons lewenskoers het ook verkeerd gegaan. As ons eerlik is, moet ons ook maar ons eie selfgesentreerdheid erken. Waaroor word ons kwaad en waaroor wil ons veg?
Jakobus spreek sy lesers baie ernstig aan:
Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte huigelaars.
Was julle hande, sondaars? Hulle hande was vuil van hulle sondige dade. Dit wat hulle gedoen het, was in stryd met die Here se wet.
Reinig julle harte, huigelaars? In die oorspronklike staan; Reinig julle harte, dubbelhartiges. Hulle harte was nie meer net op die Here alleen ingestel nie. Hulle het nog so op ‘n manier probeer om die Here dien, maar intussen al hoe selfsugtig geword en agter die dinge van die wêreld aangeloop.
Hoe gaan dit met my en jou lewe, broeder en suster? Kan ons sê dat ons hande mooi skoon is van sonde? En ons harte? Het ons nie ook maar ‘n soort dubbelhartigheid nie? En wat van die dinge van die wêreld? So aanloklik! So verleidelik!
Jakobus sê: Nader tot God.
Dit beteken ek en jy, net soos Jakobus se lesers destyds, moet leer om weer nader aan die Here lewe. Ons moet ons hande skoon kry en ons harte moet weer op God gerig wees.
Dit beteken ek en jy moet ons bekeer! .... Ons moet OMDRAAI....
As ‘n mens jou bekeer, kom daar ‘n duidelike ommekeer in jou lewe. Waar jy besig was om agter jou eie begeertes en ook agter die wêreld aan te loop, gaan jy staan. En dan draai jy duidelik en doelbewus om. En dan begin jy terugloop God toe. Jy soek jou hemelse Vader. Jy verlang na sy liefde, sy leiding, sy beskerming....
Kyk hoe sê Jakobus, hoe
3. MAAK JOU LEWE SKOON
...... bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander enjulle blydskap in droefheid.
Met ‘n gevoel van skaamte ‘n hart vol berou kom buig jy voor jou hemelse Vader. En soos die verlore seun sê jy:
My Vader ek het gesondig. Ek is nie werd om u kind genoem te word nie.....
Dit gaan daaroor dat ek en jy ons sonde en ellende in diepe afhanklikheid voor die Here bely.
Die apostel Paulus het mos, toe hy in Romeine 7 so met sy eie sondigheid geworstel het gesê:
Die goeie, wat ek wil, dit doen ek nie, en die slegte, wat ek nie wil nie, dit doen ek.....
Later roep hy uit:
Ek, ellendige mens, wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?
Elkeen van ons kan maar saam met Paulus uitroep: Ek ellendige mens!
Nie een van ons is in staat om self, uit eie krag, tot God te nader nie.
Ons is volkome van God se genade afhanklik. Juis daarom kom Hy na ons toe......... In die Persoon van die Seun het Hy uit die hemel na hierdie aarde gekom en ʼn mens kom word. Ja, Hy het in ons bedremmelde, selfgesentreerde en ons eie-geregtige lewens kom instap!
Ons belydenis sê: Ek en jy is regverdig voor God. Dws ons saak met Hom is reg, ....
Slegs deur ‘n ware geloof in Jesus Christus; só dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het ... en ek nog gedurigdeur tot all kwaad geneig is, God nogtans uit louter genade aan my die volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus skenk.
Die Kategismus sê:
Ons het deel aan hierdie verlossingswerk van Christus..... vir sover ek dit met ʼn gelowige hart aanneem.
Die groot vraag wat elkeen van ons vandag eerlik moet beantwoord is:
Wil ek die Here dien, sodat dit met my goed sal gaan OF wil ek die Here uit dankbaarheid vir sy verlossingswerk in Christus dien?
Dit is net die Heilige Gees wat jou en my kan oortuig dat dit in ons geloofslewe en kerklidmaatskap nie oor my eie voordeel en die bevrediging van my eie selfsugtige begeertes gaan nie. As ons onder leiding van die Heilige Gees lewe, sal ons verstaan dat alles oor die Here en sy koninkryk gaan.
SLOT
Eers wanneer ek en jy onder die kragtige leiding van die Heilige Gees verstaan wat ons totale afhanklikheid van God se verlossingswerk beteken, kan ons met ʼn ware geloof aan ons Here Jesus Christus vasgryp. Eers dan kan ons van ware geloof praat......
Ware geloof het alles te doen met ons totale afhanklikheid van God. Dit gaan oor ʼn nederige oorgawe en absolute onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan sy wil. Ja, geliefdes, ons almal moet sommer baie nader aan Hom lewe..... Hy sê dan sal Hy ook tot ons nader....
Kom ons ondersteun mekaar en bid saam met mekaar en ook vir mekaar gedurende hierdie fokustyd dat ons as gemeente saam nader aan ons hemelse Vader sal lewe.
AMEN