SKRIFLESING: HEB 10:19 – 31
TEKS: HEB 10:21 – 25
TEMA: LAAT ONS INGAAN, AAN DIE HOOP VASHOU EN NA MEKAAR OMSIEN
Ons kan sonder teëspraak sê: Die wêreld is ʼn stukkende plek.
Sodra jy dink dit gaan goed, dan kom daar meteens teëspoed. Een oomblik lag jy uitbundig en die volgende huil jy met ʼn stukkende hart. Soms kan dinge in ‘n mens se persoonlike lewe baie skeef loop.
· ‘n Geliefde sterf.
· Jy word siek of beland in ‘n ernstige ongeluk.
· Jou huwelik kry ‘n lelike knou.
· Iemand kom jou te na. Jy word benadeel.
· Jy kry een of ander finansiële terugslag.
Tans gaan dit alles behalwe goed in ons land.
· Hoe hanteer ‘n mens die aanhoudende misdaad? En dan veral die verskriklike geweldsmisdade? Plaasmoorde en 'n stiefpa wat 'n drie-jarige dogterjie doodskop?
· Wat maak ‘n mens met onbevoegde en korrupte munisipale- en staatsdiensamptenare?
· Werkloosheid en armoede word ‘n tydbom wat enige oomblik kan ontplof.
· Die parlement in die Kaap is ‘n sirkus met ‘n president as die hanswors.
· Studente, wat dankbaar behoort te wees vir die geleentheid om geleerdheid te bekom, word intimideerders, brandstigters en plunderaars
· Ons land word ‘n bespotting in die wêreld.
· In ons landbou-omgewing is die afgelope jare se droogtes, stygende insetkoste en natuurlik die voortslepende misdaad en arbeids-onrus die dinge wat ons boere moedeloos maak.
Hoe moet ek en jy die swaarkry, skok, bekommernis en hartseer hanteer?
Vanoggend, waar ons as Gereformeerde Kerke in SA ons voor God verootmoedig, val die Here se lig vanuit die boek Hebreërs op ons daaglikse lewens.
Die Hebreërskrywer het ‘n besondere manier van dinge sê. Hy doen dit regdeur die boek. Hy gebruik ‘n skema van verlede, hede en toekoms. Hy praat oor die hede. Sy vertrekpunt is vandag. Dit wat hy oor die hede sê, begrond hy in die verlede, en hy sê dit met die oog op die toekoms.
Die hooftema van die boek Hebreërs is:
DIE HEERLIKHEID VAN CHRISTUS.
Luister wat staan in Hfst 1:3:
Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand. Nadat Hy die reiniging van sondes bewerkstellig het, het Hy gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel.
Alles draai vir die Hebreërskrywer om die Here Jesus Christus. Hy is die Hemelvors! Ja, in ons lewe vandag, en elke dag, is Hy die heel belangrikste. Hy is, kan ons sê, die allesoorheersende bepalende faktor. Hy is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde van alles.
In ons teksgedeelte sê hy: Ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom .... Hier praat die skrywer oor die hede. En kyk nou: Hy begrond dit wat hy sê, oor ons vrye toegang, in die verlede: Hierdie weg het Hy vir ons gebaan, deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.
Die oomblik toe die Here Jesus sy laaste asem aan die kruis uitgeblaas het, het die voorhangsel, die groot gordyn wat die voorste, allerheiligste deel van die tempel van die res geskei het, van bo na onder middeldeur geskeur. Voorheen kon net die hoëpriester alleen een maal per jaar, nadat hyself gereinig is, met bloed daar ingaan om dit op die versoendeksel van die verbondsark te sprinkel. So moes hy versoening doen vir die volk se sondes.
Die Here Jesus Christus het met sy bloed aan die kruis eens en vir altyd versoening gedoen vir die mens se sondes. Hy het die pad oopgemaak na die allerheiligste. Daarom, sê die Hebreërskrywer, het ons nou vrye toegang. Niks kan ons meer van God skei nie.
En nou, geliefdes. As ons dan vrye toegang het, op grond van dit wat die Here Jesus in die verlede gedoen het, wat moet ons nou, in die hede doen? Hoe moet ek en jy ons lewe as dissipels van die Here Jesus inrig? Wat moet ons lewensbenadering wees, selfs in die moeilikste omstandighede?
Die Here gee vanoggend, in ons huidige omstandighede, op grond van die Here Jesus se verlossingswerk, vir ons 3 dinge om te doen. Elke keer word dit wat ons moet doen ingelei met: Laat ons .....
1. LAAT ONS IN DIE HEILIGDOM INGAAN
Kom ons lees weer vers 22:
... laat ons tot God nader met ʼn opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ʼn skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.
As ‘n mens ‘n skuldige gewete het, is jy geneig om draaie te loop. Jy is skaam oor die sonde wat jy gedoen het. Omdat jy ongehoorsaam was kan jy nie die Here in die oë kyk nie. Verder kan jy ook nie jou medemens behoorlik in die oë kyk nie, want jy weet nie wat hulle van jou weet nie. Jou verhouding met jou hemelse Vader is nie reg nie.
Omdat ek en jy, broeder en suster, egter aan die Here Jesus met ‘n opregte geloof vasgryp, kan ons seker wees dat Hy met sy bloed ons harte skoon gewas het. Die waarborg daarvan het ons die dag toe ons gedoop is, ontvang. Omdat ons met 'n ware geloof aan ons Here Jesus Christus verbind is en ons aan sy oorwinning deel het, is daar niks meer waaroor ons skuldig hoef te voel nie.
Ons kan met groot vrymoedigheid na ons God toe gaan. Ons kan voluit in sy teenwoordigheid leef, want daar is niks wat ons van sy liefde kan skei nie. Die apostel Paulus sê dat ons so onder leiding van die Heilige Gees as kinders van God lewe dat ons Hom “Abba” kan noem. Dit beteken Vader (Rom. 8:15). In die Hebreeuse woord “Abba” is daar iets van ʼn intimiteit soos in ons woord “Pappa”.
Jesus Christus het ons elkeen wat in Hom glo ‘n kind van God gemaak. Ons kan met volle vrymoedigheid na God in sy heiligheid en heerlikheid as ons hemelse Pappa gaan. Ons het nie ‘n priester of enige iemand anders nodig om namens ons met God te praat nie. Ons hoef ook nie iemand spesiaal te kry om vir ons te bid nie. Ons kan dit alles self doen. Ons kan met vrymoedigheid self met ons hemelse Vader praat. ...... Enige tyd en onder alle omstandighede.
Maar dit is nie al wat die Here Jesus vir ons aan die kruis gedoen het nie. Hy het nog meer gedoen. Hy het ons ook hoop gegee. Daarom is die tweede ding wat die Hebreërskrywer sê ons moet doen:
2. LAAT ONS VASHOU AAN DIE HOOP
Vers 23
Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.
Ons lewe op aarde is maar moeilik. Die lewe is gevaarlik en onseker. Soms wil hartseer, spanning en bekommernis ʼn mens oorweldig.
Ons moet ons egter nie blindstaar teen die onsekerheid en gevaar van ons daaglikse bestaan nie. Dit kan selfs nog veel egter gaan as dit wat ek en jy in ons huidige omstandighede beleef. Dink net vir ‘n oomblik wat ons voorouers al in die land deurgemaak het. Die Voortrekkers het baie gevare trotseer en baie van hulle is tydens die trek uitgemoor. Bloukrans en Wenen is onder andere vandag nog name wat van die hartseer geskiedenis getuig. Later was daar die Anglo-Broere oorlog. Binne ‘n paar jaar het 26 000 vroue en kinders in die konsentrasiekampe gesterf. Ons voorgeslagte het beslis swaarder tye as ons beleef.
Maar dit gaan nie oor wie die swaarste gekry het nie. Die punt is: Ons is net tydelik op hierdie aarde.
Die Hebreërskrywer wys in Hfst 11 op die voorgeslagte wat ook swaar gekry het, maar gelowige op ‘n ewige toekoms gehoop het. Hulle het gesterf voordat hulle die toekoms waarop hulle gehoop het, kon ontvang. Van hierdie voorgeslagte sê hy:
.... hulle het dit uit die verte gesien en daaroor getuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. (Heb. 11:13)
Al is die pad soms bitter moeilik, is ons verseker op die nuwe lewende weg. Ja, omdat ons in die Here Jesus Christus glo, kan niks ons van Hom af wegruk nie. Hy sê in Joh. 11:25
Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook. En elkeen wat lewe en in My glo sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.
En in Joh. 14:6 sê Hy:
Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.
Die apostel Petrus praat ook oor ons hoop op die ewige lewe en sê:
Nou het ons lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. (1 Pet 1:3 & 4)
Ons het ‘n lewende hoop en ons het ‘n ewige toekoms!
Soms is die lewe so bitter moeilik en die toekoms op aarde lyk so donker. Ons het aanmoediging, bemoediging en ondersteuning nodig. Daarom is die volgende punt van die Hebreërskrywer baie belangrik:
3. LAAT ONS NA MEKAAR OMSIEN
Dit is mos so: As ‘n mens alleen is, voel jy maklik eensaam en raak jy nogal gou verward. As die gevaar dreig soek jy iemand om jou by te staan. ....... Wanneer jy moedeloos is of hartseer voel, moet daar iemand wees wat jou bemoedig of vertroos ... Ons het mekaar nodig.
Ek en jou moet as kinders van ons hemelse Vader na mekaar omsien. Ons lewe mos nie net vir onsself nie!
Lister wat sê die Hebreërskrywer:
Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade(vers 24)
As die pad moeilik raak, word jou bene lam, jou asem jaag en jou bors brand. Jy voel naderhand om op te hou. Dit raak net te veel.
Daarom het ons mekaar nodig. Ons moet mekaar aanspoor. Die beeld hier is die van ‘n perderuiter wat ‘n perd aanspoor. Dink aan daardie spore aan die ruiter se skoene waarmee hy die perd in sy lieste druk om die perd vinniger te laat gaan.
So moet ons mekaar aanmoedig en opskerp om liefde te bewys en goeie dade te doen. Ja, ons moet mekaar op die geloofspad help sodat ons geloof nie net by praat bly nie, maar in goeie dade vol liefde sigbaar word.
En waar, by watter geleenthede, spoor ons mekaar so aan?
Die Hebreërskrywer sê: In die samekomste van die gemeente! In die eredienste, kleingroepbyeenkomste, wyksbyeenkomste en geleenthede waar ons met mekaar oor ons geloofsgroei en diensbaarheid praat. Daarom waarsku hy:
Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly, soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan.
Hoor u? Ons is vir mekaar se geloofslewe verantwoordelik.
En as ons met mekaar oor ons betrokkenheid en meelewing praat, is dit juis omdat ons mekaar liefhet en vir mekaar omgee.
SLOT
Omdat die Here Jesus ons verlos het, kyk ek en jy met nuwe oë na die lewe. Ons staar ons nie blind teen die moeilike omstandighede nie. Politieke onrus, finansiële onsekerheid en droogtes is deel van hierdie verganklike lewe. Dit is deel van ‘n wêreld wat deur die sonde uitmekaar geskeur is. Dit is deel van die verganklikheid.
Ons Here Jesus het ons van die mag van die sonde bevry. Hy het vir ons ʼn nuwe toekoms geskep. Hy het die pad na ons woonplek saam met Hom by ons hemelse Vader oopgebreek.
Ons is op pad na ons hemelse erfenis.
Op hierdie pad wil ons mekaar aanspoor en bemoedig sodat ons in liefde kan lewe en goeie dade kan doen om alle eer aan die Here te gee.
AMEN.