Sosiale Skakels

Besoekers

We have 27 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 21 November 2016 07:44

Joh 6:52,53,68 & 69 VIR GESONDE GELOOFSGROEI MOET JY REG EET

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: JOH 6: 41 - 71 en NGB art 35 se eerste paragraaf 

TEKS: JOH 6:52,53,68 & 69 

TEMA:  VIR GESONDE GELOOFSGROEI MOET JY REG EET

                                         

Die Here Jesus verander  ʼn mens se hele lewe!

Hy neem ʼn eenvoudige, en deur-sonde-beperkte-lewe wat boonop in  ʼn doodloopstraat is, en maak daarvan  ʼn heilige, feestelike lewe!

Maar hoe doen Hy dit?

Hy doen dit deur eenvoudig net vir ons die regte kos te gee!

In die eerste gedeelte van Joh. 6 lees ons hoe die Here Jesus meer as 5 000 mense met net 5 brode en twee vissies soveel kos gee  dat hulle daarna  12 mandjies oorskiet bymekaar kon maak.  Die mense is geweldig beïndruk.  

Kom ons lees vers 15:

Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg opgegaan, Hy alleen.

Vroeg die volgende dag is die skare weer op sy spoor. Uiteindelik kry hulle Hom in Kapernaum aan die oorkant van die see van Galilea.

En toe Jesus die skare wat hom volg, sien, sê Hy:

Dit verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het(v 26)

Hy verwyt hulle sommer dadelik omdat hulle  soveel moeite doen om Hom te volg, maar dan om die verkeerde rede. Hulle het ‘n selfgesentreerde en boonop materialistiese ingesteldheid.

Luister wat sê Jesus vir hulle: 

Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie.  Dit sal die Seun van die mens vir julle gee ....(v.27)

 

Maar kyk nou na die ironie.  Dadelik vra die mense: 

Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen? (v. 30)

Nie eers 24 uur tevore het Hy in hulle teenwoordigheid meer as 5000 mense met 2 vissies en 5 brode kos gegee!  Hy het klaar ‘n wonderteken gedoen.  Hy het sy mag gewys.  Hy het duidelik gewys dat Hy groter is as daaglikse kos en ander materiële dinge.  Maar die mense sien nie sy grootheid nie.

Broeder en suster.  Die Here Jesus wil hê dat ons moet verstaan:

                  VIR GELOOF EN GESONDE GELOOFSGROEI MOET JY REG EET

Daarom is ons immers vanoggend hier. Ons kom om te eet en te drink.

Hier staan ‘n feesmaal gereed.

U word vanoggend uitgenooi:   Kom nader

1. KOM ONTMOET ONS GASHEER

En wat ‘n wonderlike geleentheid.  Ons Gasheer vanoggend  is niemand minder nie as ons Here Jesus Christus Self.

Luister wat sê Hy:

Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie                           (v. 35)

Dit is van wesenlike belang dat ek en jy goed sal nadink waarom ons vandag na hierdie erediens en nagmaalfees gekom het.  Ons moet ons ernstig voorberei en vra: Wat kom soek ek vandag by hierdie feesmaal?

·         Wie en wat is die Here Jesus vir my persoonlik?

·         Wil ons Hom met geweld koning maak sodat Hy ons politieke verlosser moet wees? Moet Hy ons van die Zuma’s en Malema’s verlos?

·         Wil ons miskien genoeg brood en vis, .... dinge van materiële voorspoed, by Hom hê?

·         Wil ek en  jy ook hê dat Hy eers vir ons ‘n wonderteken moet doen sodat ons in Hom kan glo?

 Ja, broeder en suster, die vraag is:  Wat verwag ons van Hom?

Die Jode het destyds glad nie verstaan wat die Here Jesus vir hulle wou sê of doen nie.      Daarom lees ons in vers 41:

Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het”.  Hulle het gesê: Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma....     

Hulle wou Hom nie as die Seun van God erken nie.  Die feit dat Hy God sy Vader genoem het en gesê het dat Hy uit die hemel kom, was nie vir hulle aanvaarbaar nie.  

Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?”

Ons Gasheer, die Here Jesus gee Homself. Hy gee Homself volledig vir ons ...  soos kos wat jy in jou mond sit en dit opeet en dit deel van jou word, so wil Hy geestelik volledig deel van jou en my wees.

Daarom nooi Hy ons almal ook vandag uit:

2.KOM PROE DIE KOS

Hier aan die tafel is vir u brood en wyn gereed gemaak.  Vir elkeen van ons net  ʼn stukkie brood en net  ʼn slukkie wyn. Op die oog af lyk dit maar min.  Hoe kan dit nou so oorgenoeg wees dat  ʼn mens nooit weer honger en nooit weer dors sal word nie?

Net soos die twee vissies en die vyf brode destyds vir  ʼn skare van meer as 5000 totaal te min gelyk het, lyk die stukkie brood en slukkie wyn vandag dalk ook vir ons heeltemal te min.  Maar onthou wat destyds gebeur het!  Jesus het  ʼn wonderwerk laat gebeur. Net twee vissies en 5 brode  .......     Al daardie mense is versadig en daar het nog baie oorgebly!

Toe daardie mense, wat saamgeëet het, die volgende dag weer na die kos kom soek, sê die Here Jesus:

Ek is die brood wat lewe gee....

Die Here Jesus wou hê dat die skare na die kos, die brood en vissies  en die wonderwerk wat gebeur het, moes kyk en HOM RAAKSIEN ....., maar hulle het nie.  Hulle het net teen die kos vasgekyk.  Hulle wou meer kos, meer brood en vis,  hê.  Daarom sê Hy in vers 36:

Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My en tog glo julle nie in My nie.

Broeder en suster. Wat sien ek en jy vanoggend?  Sien ons net die stukkie brood en die slukkie wyn?  Of kan ons beter sien, dieper kyk? Sien ons die Here Jesus wat die ware brood is?

Toe Hy die nagmaal ingestel het, het Hy die brood geneem en gesê:

Neem, eet dit is my liggaam en toe die wyn: Drink almal daarvan, dit is my bloed.

Die apostel Paulus waarsku, en ons nagmaalsformulier beaam dit: 

As jy aan die Nagmaalstafel kom sit en die brood eet en die wyn drink en dan nie verstaan dat jy so geestelik met die Here Jesus gevoed word nie, eet en drink jy  ʼn oordeel oor jouself!

Onthou die brood en wyn is net die tekens. Tekens wat ons gedagtes by die geestelike kos, die Here Jesus Christus self, moet uitbring.  Ja, ons word, as ons gelowig eet en drink, geestelik met die Here Jesus Self gevoed!  Hy is die ware voedsel!

Maar

3. KOM KYK WIE IS DIE GASTE

Destyds was daar drie groepe mense wat sy wonderteken gesien het en Hom die volgende dag tot in Kapernaum gevolg het.

Die eerste groep was die groot skare. Toe Jesus vir hulle sê dat Hy die brood is wat uit die hemel gekom is, is hulle reaksie om Hom te verwerp. Hulle glo eenvoudig nie. Hulle sê:  

Is dit nie die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: “Ek kom uit die hemel?”

Vir hulle is en bly hy maar net ‘n mens.  Hulle verwerp Hom.

Die tweede groep gaste by Jesus is die kleiner kring wat dissipels genoem word.   Toe hulle hoor dat die Here Jesus God sy Vader noem en dat hy sê sy liggaam is die ware voedsel en sy bloed die ware drank, het hulle dit moeilik gevind.  En dan gaan Jesus nog verder. Hy sê:

Dit verseker Ek julle:  As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe...

In vers 60 lees ons wat hulle reaksie was:

Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê:  Wat Hy nou sê is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?

Die Here Jesus antwoord hulle dan en sê:

Dit is die Gees wat lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie.  Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe. Maar daar is party van julle wat nie in my glo nie ... (v. 63 & 64)

Dan gaan Hy verder:

Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan Hom gegee het nie. (v.65)

Kyk wat gebeur toe!

Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie.  

Die Here Jesus se dissipels word al hoe minder. Eers draai die skare om en toe nog baie van sy gereelde volgelinge.

En dan vra Jesus vir die derde groep, die twaalf:

Wil julle nie ook weggaan nie?(v. 67)

Petrus reageer dan namens die twaalf:

Here, na wie toe sal ons gaan?  U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is. (v. 68 & 69)

Ons moet die regte rede hê waarom ons die Here Jesus volg. Ons moet die regte rede hê waarom ons hier aan die Nagmaalstafel sy liggaam wil eet en sy bloed wil drink.   Dit gaan oor ʼn ware geloof en ʼn Geesgedrewe begeerte om Hom met oortuiging te volg. Jesus Christus het die woorde wat ewige lewe gee.  Hy is die Alfa en die Omega - begin en die einde van alles en almal.  Ons kan ook net na die Here Jesus toe kom. 

Ons is vandag die gaste, broeders en susters,  ons is God se kinders.  In ons belydenis, die Nederlandse Geloofsbelydenis, Art 35 bely ons dat die mense wat aan die fees van die nagmaal deelneem, wedergebore moet wees.

Om  ʼn kind van jou aardse pa en ma te wees, moet jy uit hulle gebore word. Dan word jy mens en dan kan jy aan jou ouers se tafel met gewone kos, soos brood en vis, gevoed word.

As jy egter aan die Here se tafel wil aansit, moet jy as sy kind gebore wees!  Dit beteken prakties dat God jou deur sy Gees  ʼn hartsverandering moes gee. Hy moes die dooie hart van klip verwyder en aan jou  ʼn nuwe lewende hart gee.  ʼn Hart waarmee jy Hom bo alles kan liefhê en wat jou ook in staat stel om jou naaste lief te hê soos jouself.  ‘n Hart wat Geesvervuld is en koninkrykswerk wil doen!

Net soos ouers net hulle eie kinders daagliks aan hulle tafel versorg, voed en versorg die Here ook deur sy Heilige Gees net sy ware kinders aan sy tafel.  Daarom kan nie sommer enige een vandag hier kom aansit nie.  Hierdie kos is mos net vir God se kinders bedoel!

SLOT

Vandag vier ons fees!  Die Here Jesus is ons Gasheer. Die kos is die Here Jesus Self!  Hy voed ons, sy gaste,  deur sy Heilige Gees sodat ons hier kan opstaan en daar buite gaan lewe en werk.  Omdat ons God se kinders is, sal ander mense dit aan ons optrede kan sien.  Kom ons eet vandag om in ons geloof versterk te word, want ons wil mos uitgaan en ‘n verskil gaan maak.                                                                                            AMEN.

Read 2700 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek