SKRIFLESING: MATTEUS 2:1 – 23
TEKS: MATTEUS 2:16 – 18
TRANE VAN KERSFEES
Wanneer huil ‘n mens, ..... enige mens?
Trane vloei mos altyd wanneer een of ander gebeurtenis jou werklik diep in jou hart, ...... in jou wese, raak. Jy huil as jy bitter hartseer is, maar die trane loop ook wanneer jy regtig baie bly en diep dankbaar is. Ja, ‘n mens huil wanneer jou hartsnare geroer word.
Kersfees is so ‘n tyd van trane. ..... Trane van blydskap en dankbaarheid, maar ook trane van bitter hartseer. Vir sommige mense is Kersfees ‘n tyd van blydskap en vreugde. Ander ervaar dit egter as ‘n bitter eensame en hartseer tyd .... veral diegene wat ‘n eerste Kersfees sonder daardie geliefde moet deurbring.
Die beeld van Kersfees het oor eeue totaal verander. Kersfees word al hoe meer verromantiseer. Ons teken sulke mooi prentjies en ons sing nog mooier liedjies ..... Vrede en vreugde ..... Feesvreugde en blydskap.
Die heel eerste Kersfees was egter nie so mooi nie......
Die eerste prentjie van Kersfees wys ‘n primitiewe stal met ’n vuil voerkrip en ‘n hopie vodde lappe waarin die kindjie toegedraai is .......
En dan was daar nog boonop die man wat alles van Kersfees wou doodmaak ......... Koning Herodus! Hy het in die tyd van Jesus se geboorte al die seuntjies jonger as twee jaar in die omgewing van Betlehem laat doodmaak ..... Stel jouself voor watter verskrikking, trauma en hartseer daardie ouers, gesinne en families moes deurmaak.
Hoe lyk die eerste Kersfees? Vol trane. Trane van blydskap, maar ook trane van bitter hartseer.
In die vuil, primitiewe stal het Maria na die geboorte van Jesus trane van vreugde in haar oë gehad, ..... maar Ragel aan die ander kant, ..... sy het hartverskeurend gehuil oor ‘n wrede kindermoord.
Met al die blink liggies en geskenke, al die mooi liedjies en lekker kos sukkel ons nogal deesdae om vir onsself ‘n prentjie van die werklikheid Kersfees te kry.
Kom ons kyk vanoggend, nie na ons eie prentjie nie, maar na die werklikheid van Kersfees soos die Bybel dit beskryf. Die eerste Kersfees was alle behalwe mooi en skoon en blink soos ons dit vir onsself voorstel.
Veral die verhaal van die wrede kindermoord moet ons tot stilstand ruk. Waarom is dit in die Bybel opgeteken? Dit moet seker belangrik wees, anders sou dit nie hier geskryf wees nie. As jy hierdie paar verse dieper ontleed, kom veral 4 punte van waarheid na vore. Die eerste is:
1. DIE SONDIGHEID VAN DIE MENS SE HART
Dink net vir ‘n oomblik aan die skrikwekkende, gewetenlose en barbaarse wreedheid in Herodes se optrede. Hy het soos ‘n Hitler, Stalin of een of ander gewetenlose Afrika-leier opgetree.
Hy was op die stadium vir meer as 40 jaar aan bewind. Hy was slim, maar ‘n baie wrede man. Soos alle diktators het hy styf aan die mag vasgeklou en het almal wat in sy pad kom, laat doodmaak. Sy swaer, sy skoonma en toe hy nog maar 44 jaar oud was, ook sy vrou omdat hy gemeen het sy is ‘n bedreiging vir sy posisie. In die eerste plek was Herodus ‘n moordenaar. ‘n Menslike lewe het niks vir hom beteken nie. Die groot geskiedskrywer van daardie tyd, Josefus, het hom ‘n barbaar genoem, terwyl ander skrywers hom as ‘n maniak en ‘n pervert beskryf.
Sy karakter word dalk die beste beskryf deur ‘n insident in die jaar 7 vC. Hy hoor dat sy twee seuns saamgesweer het om hom te onttroon. Hy beveel dat hulle doodgemaak moet word en meer spesifiek gee opdrag dat hulle verwurg moet word.
Daar is egter iets anders waaroor ek en jy moet besin.
Hierdie koning Herodes se optrede pas mooi in by die mens se sondige natuur. Dit is maklik om oor Herodes te lees en hom op grond van sy optrede as ‘n monster uit te maak. Ons doen dit graag, want dan plaas dit hom in ‘n ander kategorie as onsself. Al was hy ‘n wrede moordenaar, was hy meesal normaal soos ek en jy. Hy was blykbaar ten spyte van sy wreedheid tog ook ‘n goeie koning wat dikwels baie regverdig en goedhartig opgetree het. Miskien is die enigste verskil tussen ons elkeen en Herodus dat hy die mag gehad het om sy bose planne uit te voer.
‘n Paar jaar gelede het ‘n Amerikaner ‘n artikel geskryf oor ‘n getuie in die verhoor van Adolph Eichman. Hy was tydens die 2 de wêreldoorlog een van die meesterbreine agter die sogenaamde “holocaust” van meer as 6 miljoen Jode.
Kort na die oorlog is Eichman, wat ontvlug het, in sy afwesigheid verhoor. Tydens hierdie aanvanklike verhoor het ‘n Jood met die naam Yehiel Dinur, wat hierdie massamoord vrygespring, teen Eichman getuig. Jare later, in 1961, het spesialis magte van Israel vir Eichman in Argentinië gevang. Hy is te weer verhoor en Dinur het weer getuig. Toe hy vir Eichman in die hofsaal sien, het hy flou geword. Was hy bang? Was dit haat? Was dit slegte herinneringe wat hom oorweldig het? Tydens ‘n TV onderhoud daarna is aan hom die vraag gevra. Hy verduidelik toe dat hy tydens die oorlog ‘n doodse vrees vir Eichman gehad het omdat hy hom as iemand fundamenteel anders as hyself gesien het. Maar jare later daar in 1961 in die hofsaal het Dinur vir Eichman gesien net vir die mens wat hy was. “Gestroop van sy beeld van mag, was Eichman maar net ‘n gewone mens” het Dinur gesê.....
“En toe het ek meteens besef: Ek is ... presies soos hy.....” En dit het hom laat flou word. Die opskrif by die rubriekskrywer se artikel spreek boekdele:
Eichman is in elkeen van ons.
Hier het ons met, sal ons sê, die basiese waarheid van die menslike natuur te doen. Ek en jy staan nie net in die versoeking om sonde te doen nie, ons het regtig die volle potensiaal om sonde te doen. Die waarheid is: Die sonde woon in elke mens! Ook in jou en my ......
Ons wil natuurlik nie van ons eie sonde hoor nie ... Net so is dit ook nie vir ons lekker is om ‘n verhaal te lees van ‘n klomp babaseuntjies wat wreed vermoor is nie. Die feit van die saak is egter dat ons met die Kersverhaal in die Bybel heel persoonlik, elkeen met die werklikheid van ons eie sondige natuur gekonfronteer word. In Rom. 3:12 en 19 staan:
Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie .... Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God.
Ons almal, persoon vir persoon, van die oudste tot die jongste, staan skuldig voor God! ............... Ons het geen verskoning nie.
En dit bring ons sommer nou by die tweede punt van hierdie verhaal van die wrede kindermoord naamlik
2. DIE REDE WAAROM CHRISTUS GEBORE MOES WORD
Toe die engel aan Josef verskyn, om die Here Jesus se geboorte aan te kondig, het hy gesê:
..... jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. (Matt 1:21)
Toe die engel aan die skaapwagters verskyn het, het hy gesê:
Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore. Christus die Here! (Luk 2:11)
Jesus het na hierdie aarde gekom en is as mens gebore om VERLOSSER te wees. ‘n Verlosser is uiteraard onnodig as daar nie sondaars is nie ...... As ‘n mens kan regkom en nie gered hoef te word nie, het jy mos nie ‘n verlosser nodig nie.
Tog is dit waaroor Kersfees gaan ..... Ons verlossing.
Daardie kindermoord in Betlehem. Jesus het gekom vir daardie kindertjies. Ook vir hulle ouers en familie. Hy het gekom vir die herders in die veld. Hy het gekom vir Herodes. En hy het ook gekom vir jou en my broeder en suster, ..... want Rom. 3:22 en 23 is so waar:
Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.
Daar is uiteindelik geen verskil nie. Ons is almal sondaars. Ons almal het ‘n Verlosser nodig.
En kyk nou na die volgende punt:
3. KYK NA GOD SE VOORSIENIGHEID
Hy is in beheer van elke detail in die heelal. Alles, nie net die groot dinge, soos sommige mense dink nie, maar selfs die kleinste dingetjies, soos die aantal hare op jou kop, is onder sy beheer. Alles in die skepping pas presies in sy ewige raadsplan in.
Om God se volle beheer en bestuur te verstaan, moet ons so ‘n tree terugstaan en na die groter konteks kyk:
In Matt 2:12 – 23 lees ons hoe God aan mense vier drome gee.
In die eerste waarsku Hy die wyse manne om met ‘n ander pad terug te gaan huis toe. In die tweede waarsku Hy vir Josef en Maria om met die kindjie na Egipte te vlug. In die derde laat weet hy hulle om terug te keer na Herodes se dood. En in die vierde waarsku hy hulle om nie na Betlehem toe teug te gaan nie en daarom het hulle na Nasaret toe gegaan.
In hierdie gedeelte is daar ook drie Skrifaanhalings. Die eerste in vers 15, wys dat die Here Jesus se verblyf in Egipte ‘n vervulling van die profesie van Hosea 11:1 is. Die tweede in vers 18 verbind die gehuil van die moeders in Betlehem aan die hartseer van die volk wat in ballingskap gegaan het. Die derde een, vers 23, vertel dat die keuse van Nasaret as woonplek deel was van God se vooraf vasgestelde raadsplan.
Weet u wat dit alles beteken?
Hierdie drome sowel as Skrifaanhalings waarborg dat God se raadsplan nooit verander kan word nie en ook nie gekeer kan word nie. God is aan die werk volgens sy raadsplan. Herodes het byvoorbeeld alles in sy vermoë gedoen om Jesus dood te maak, maar hy kon dit nie regkry nie. God se voorsienigheid was in aksie. Geen mens en selfs ook nie die satan en sy bose magte kan teen God se ewige raadsplan en wilsbesluite ingaan nie.
God se plan is ook natuurlik veel groter as wat ons kan sien of verstaan. Hy sê in Jesaja:
My gedagtes is nie julle gedagtes nie en, en julle optrede nie soos myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde , is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes (Jes. 55:8 & 9)
God het destyds, daar in Betlehem, sy Seun beskerm sodat Jesus Christus een dag aan die kruis sou sterf ter wille van die versoening van die mensdom se sonde. ‘n Hele klomp babas is daardie tyd doodgemaak, maar dit moes gebeur sodat Jesus vry kon kom om later aan die kruis te sterf.
Nou kan ‘n mens vra: Watter troos was dit destyds vir die ouers en families van daardie kindertjies? Hierdie waarheid was sekerlik geen troos vir die huilende moeders van Betlehem nie. Nie daardie dag nie, selfs ook nie ‘n week of jaar later nie. ...... Eers 33 jaar later kom alles in fokus. Dan sterf daar ‘n Man aan ‘n kruis op Golgota. Hy was die seuntjie wat Herodes destyds nie in die hande kon kry om dood te maak nie..... Nou gee Hy Homself as ‘n offer vir die sonde van die wêreld. Uiteindelik sterf Hy ook. As Hy in Betleme as kind sou sterf, kon Hy nie op Golgota versoening doen vir ons sondes nie.
Alles is deel van God se groter plan. As ek en jy dit verstaan, gee dit vir ons gemoedsrus, want ons moet onthou daar is, solank hierdie aarde nog bestaan,
4. DIE VOORTDURENDE STRYD TUSSEN GOED EN KWAAD
In die kerkgeskiedenis staan hierdie kinders, wat in Betlehem vermoor is, bekend as die eerste christen-martelare. Hulle het ter wille van Christus gesterf.
Hulle moord is simbool van die voortdurende stryd tussen God en satan, tussen lig en duisternis. Sedert Adam en Eva se sondeval in die paradys tot vandag toe het die sonde ‘n houvas in hierdie wêreld. Die sonde skop nes in elke mens se hart. Al die pyn en lyding in die wêreld, en ook dié in jou en my persoonlike lewe, kan terug gespoor word na daardie noodlottige verkeerde besluit van ons eerste voorouers.
In die stryd tussen God en satan, het God met Jesus se geboorte in Betlehem ‘n reuse teen aanval begin loods. En dit was inderdaad die begin van die einde vir die satan en sy bose magte. En dan aan die kruis op Golgota sou God het die finale oorwinning behaal....... Uiteindelik word die satan se kop vermorsel!
Die Here Jesus vaar op na die hemel en gaan sit aan regterhand van God. Hy ontvang alle mag in die hemel en op die aarde.
Ons elkeen, wat in die Here Jesus Christus glo, is nou reeds saam met Hom ‘n oorwinnaar oor die sonde, die satan en die dood.
Ons kan elke dag as oorwinnaars leef, want niks kan ons van sy liefde skei nie.
Kom ons sluit af.
SLOT
Waaroor gaan Kersfees?
Dit is ‘n tyd vir feesvier!
Jesus Christus is ons oorwinnaar Koning ...... Ons is saam met Hom oorwinnaars.
Maar kyk waar het dit begin. ......
Dit het begin met ‘n klein babaseuntjie wat, buite-egtelik, in ‘n primitiewe stal gebore is. Hy is in ‘n stal gebore, omdat daar nie vir Hom plek was nie. Hy het ook nie eers klere gehad het nie, daarom is Hy in doeke toegedraai en daarna in ‘n vuil krip neergelê. Hy was nie regtig welkom nie......
In die ware Kersverhaal word nie ‘n romantiese prentjie geteken van engeltjies en wyse manne en herders met hulle skapies nie!
Die prentjie wat die Bybel skets is een van verwerping .......
Die sondige mensdom wil hierdie Kindjie nie hê nie!
En dan ....... Dan meteens bars Herodus se soldate die toneel binne!
Hulle soek Hom, want Herodus wil Hom dood hê. .... In die proses word ‘n hele klomp babas vermoor. ...... Waarom moes so ‘n klomp babas sterf?
Eers later sou ons verstaan: Hulle moes sterf sodat Jesus kon lewe.
Jare later sou Jesus Self aan die kruis sterf sodat hulle kan lewe. ...... En sodat ook ek en jy kan lewe.......
Hierdie stryd tussen lig en duisternis is vandag nog steeds aan die gang, ook in jou en my lewe.....
Ons het egter, kan ons maar sê, met die laaste stuiptrekkings van die slang te doen. Sy kop is vermorsel. Jesus Christus het klaar die oorwinning behaal!
Daarom vier ons vandag fees! Ons oë is vol trane .... trane van blydskap en dankbaarheid ................
AMEN