Sosiale Skakels

Besoekers

We have 11 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 30 January 2017 05:56

2 Korintiërs 9:6-8. DIE HERE TOETS JOU GELOOF AAN JOU DANKOFFER

Written by 
Rate this item
(0 votes)

   

 SKRIFLESING:  2 KOR 9:1 – 15

TEKS: 2 Kor. 9:6 – 8

TEMA:  DIE HERE TOETS JOU GELOOF AAN JOU DANKOFFER

 

Broeder en suster.  Voor ons begin, net eers ‘n vroegtydige waarskuwing!

Die Kerkraad het my verlede jaar al die opdrag gegee om oor ons dankoffers aan die Here te preek.  

Ek mag dalk heeltemal verkeerd wees, maar ek dink dat die preek vanoggend sommige van u ongemaklik kan laat voel of selfs kwaad kan maak.  Party mense is mos baie sensitief as dit oor geld gaan en hulle hou ook glad nie daarvan dat ‘n mens aan hulle beursies raak nie.......

Die feit dat sommige lidmate sensitief is en nie eintlik daarvan hou dat daar oor geld gepreek word nie, is in ‘n sekere opsig die bewys dat geld hulle baie na aan hulle hart lê.

As ek en jy voor die Here staan, is jou hart die heel belangrikste. Die Here kyk jou hart.  Daarom sê Hy in Spreuke 4:23:

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

Die tema van die preek vanoggend is:

DIE HERE TOETS JOU GELOOF AAN JOU DANKOFFER

Die feit van die saak, broeder en suster, is:

Jou en my dankoffer is ‘n ware toets vir dit wat in ons harte aangaan ......

Verstaan my mooi, ek sê glad nie: As jy ‘n dankoffer gee, is jy noodwendig ‘n ware ‘n gelowige, en as jy daarenteen nie ‘n dankoffer gee nie, is jy verseker ‘n ongelowige nie.  Nee, so ‘n benadering is ‘n oorvereenvoudiging van die saak.

Tog stem ons almal saam dat ‘n mens se  persoonlike finansies ‘n baie belangrike saak in jou lewe is. Dit gaan immers oor jou daaglikse bestaan en  lewensonderhoud.  Omdat ons ‘n kapitalistiese ekonomiese stelsel gebruik, het materiële welvaart vir ons ‘n bewys van sukses geword.  Dit is egter een van die grootse leuens van die duiwel. 

‘n Mens sal dit nie dink nie,  maar vir die Here is my en jou finansies véél meer belangrik as wat dit vir onsself is.  Ja, broeder en suster, elkeen van ons se beursie is vir die Here van wesenlike belang ....  

Hy kyk baie mooi wat ek en jy met ons beursies aanvang, want sodoende kan Hy presies bepaal wat in ons elkeen se hart aan die gang is.  

Kom ons gaan nou na ons teksverse.  Toe Paulus met die lidmate in die gemeente van Korinte oor hulle dankoffers gepraat het, gebruik hy ‘n treffende beeld uit die boerdery.    Met sy beeld sê hy:

1.       JOU DANKOFER  AAN GOD IS GELYK AAN SAAIWERK

Boerdery en geloof loop saam.  ‘n Boer se saaiwerk het alles met geloof te doen.

Kom ons lees weer vers 6:

Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.

‘n Saaiboer wat sy land voorberei, wil saai.  En as hy die saad gesaai het, glo hy dat daar uiteindelik ‘n oes sal wees.  Op die manier word sy geloof in die grond, die saad en die reën getoets.  Watter boer sal duur saad koop en dit in die grond saai as hy nie gló dat daar ‘n oes kan wees nie?  Anders sal hy nie eers die moeite doen om te saai nie.

Ons geloof in God en hoe ek en jy sy betrokkenheid in ons lewens ervaar, werk op presies dieselfde manier.

In Hebreërs 11:1 staan:

Om te glo, is om seker te wees van die dingewat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

Elkeen van ons se dankoffer aan die Here werk soos die boer wat saai.  Ek en jy moetglo dat ons nie tevergeefs gaan offer nie. Ons moetglo dat die Here op grond van ons dankoffer aan ons ‘n oes van seën sal gee. As ons dit nie glo nie, sal ek en jy onsself  nooit so ver kry om ‘n dankoffer aan die Here te gee nie.

Kom ons luister wat staan in Hebreërs 11:6:

As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.

Hoor u?   Ons ....  moet GLO dat Hy bestaan en dat Hy die wat Hom soek beloon .....

Paulus se uitspraak in Rom. 14:23 sluit hierby aan. Hy sê:

....enigiets wat ‘n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.

Broeder en suster.  Dit is baie logies: As ‘n ek en jy probeer om ons dankoffer aan die Here af te skeep, is ons net soos ‘n onkundige boer wat op sy saad probeer spaar en dan nog steeds ‘n groot oes verwag.  So ‘n suinige boer gaan verseker baie teleurgesteld wees.  Selfs ‘n kind kan tog verstaan dat dit onmoontlik is om ‘n groot oes te verwag as jy te min saad gesaai het.

Die teenoorgestelde is natuurlik net so waar. As jou dankoffer so is dat dit met die boer se volop saad vergelyk, kan jy ook die wonderlike seën van die Here verwag en ‘n groot oes kry.  

In Mal 3:10 en 11 sê die Here

Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die venters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie. Ek sal die sprinkane keer dat hulle nie die oes op julle land sal vernietig nie, en dat julle wingerde nie sonder vrugte is nie .... 

Twee keer sê die Here hier: Toets My ....

·         Is ek en jy bereid om die Here se uitdaging te aanvaar?

·         Is ons bereid om te saai ..... volop met ons dankoffer te saai, sodat die Here aan ons ‘n groot oes kan gee?

·         Die vraag is uiteindelik: Het ek en jy genoeg geloof?

Onthou:

2.       JOU DANKOFFER AAN GOD WYS VIR HOM JOU HART

Die bron waaruit jou en my dankoffer kom, is nie jou beursie nie, maar in jou hart  ....

Kom ons lees weer vers 7:

Elkeen moet gee soos hy hom IN SY HART VOORGENEEM HET, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.

Het u gehoor?  Jou en my dankoffer lê ons harte bloot voor God.

Elkeen moet gee, soos hy hom in sy hart voorgeneem het...

Ons weet mos: As die Here in die Skrif oor ‘n mens se hart praat, gaan dit nie maar net oor die orgaan wat jou bloed pomp nie. Nee, jou hart is die setel van jou lewe. Dit is jou innerlike menswees, jou diepste wese. Dit het te doen met wie jy is en hoe jy optree. Dit gaan oor hoe jy dink en wat jy voel.

Ons Here Jesus het in sy bergrede gesê:

Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar  ..... WAAR JOU SKAT IS, DAAR SAL JOU HART OOK WEES..... (Matt 6:19- 21)

 

Hier spreek die Here Jesus Hom direk uit teen ‘n materialistiese ingesteldheid.

Broeder en suster. Luister mooi na die vraag wat die Here vandag aan ons elkeen persoonlik vra: 

Is jou hart by die geld in jou beursie of is jou hart by die Here?

In dieselfde bergrede het die Here Jesus gesê:

Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. ......  Julle kan nie God en Mammon dien nie.                                (Matt 6:24)

Hoor u? Dit gaan verseker oor ‘n mens se hart!  Jou hart kan nie op twee plekke gelyk wees nie. Jy dien of die Here of jy dien die geldgod -vir Mammon!

Waar jou skat is .....  daar is jou hart ......  As iets jou kosbare skat is, beskerm jy dit.  Jy bewaar dit, jy steek dit weg en sluit dit toe.  Jy raak ook baie gou kwaad as iemand dit by jou wil vat.

Dink maar net aan die ryk jongman wat eendag by die Here Jesus gekom het.  Jy ken mos sy verhaal. (Matt 19:16 ev)  Hy wou graag by die Here Jesus self hoor presies wat hy moet doen om in die hemel te kom.  Hy het reg gelewe, want hy het die wet getrou nagekom...... Hy het homself as ‘n toegewyde godsdienstige mens gesien.   

Maar dan toets die Here Jesus sy hart..... 

Hy sê vir die ryk jongman:

...... gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê.  Kom dan terug en volg My.   

Dan lees ons:

Toe die  jongman dit hoor, het hy bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

Sy hart was nie by die Here Jesus nie. Sy hart was by sy geld en sy besittings.   

U stem saam.  Hierdie is regtig ‘n baie tragiese verhaal.  Al het die jongman voor die Here Jesus gestaan en persoonlik met Hom gepraat, het hy  uiteindelik vir Jesus as Verlosser en Saligmaker verwerp ........ Hy het na sy besittings terug gegaan......   Sy beursie was sy god .....  nie die Here nie.  Sy hart was op die verkeerde plek...... Hy was nie bereid om vir homself ‘n skat in die hemel bymekaar te maak nie. Toe word sy geld en sy besittings sy ondergang.

Broeder en suster as ek en jy, met ‘n materialistiese en selfgesentreerde optrede, gierigheid openbaar en daarmee te kenne gee dat ons lewe en ons toekoms van geld en besittings afhanklik is, is ons presies waar daardie jongman was..... By ons geld en besittings, maar nie by die Here nie.  

As ek en jy probeer sê dat ons nie geld het om ‘n dankoffer aan die Here te gee nie, sê ons inderwaarheid dat ons lewe nie van die Here afhanklik is nie, maar wel van ons geld en ons besittings.  

As ek en jy met ‘n swaar hart ‘n dankoffer aan die Here gee, en soos Paulus in ons teksvers sê:  dit uit teësin of met dwang doen, kan ons tog nie op die Here se liefde aanspraak maak nie! 

Niemand kan tog  verwag dat die Here hom of haar moet liefhê en op ‘n besondere manier moet versorg as jy met jou gebrekkige dankoffers  inderwaarheid duidelik wys dat geld en besittings vir jou belangriker as die Here is nie ......

Soms  raak dit baie ironies. Wanneer ‘n mens jou dankoffer aan die Here terughou, laat hy daardie geld wat jy nie aan Hom wil afstaan nie, op ‘n onverwagse manier uit jou beursie wegraak. Op ‘n stadium dink jy byvoorbeeld dat jy met ‘n goeie spaarplan ‘n lekker neseier bymekaarmaak ....... En dan sommer uit die bloute breek jou betroubare kar. En dit kos jou duisende Rande om reg te maak.  Jy kon daardie geld maar as dankoffer vir die Here gegee het....  

Die Here soek jou hart.  Hy het waarlik die blymoedige gewer lief ......

Die blymoedige gewer is die een wat die Here se liefde raakgesien het en beleef het.  Dit is die liefde wat God in die Persoon van die Seun aan ons kom bewys het.

Maar kom ons vra:

Wat gebeur as die Here Jesus in my hart woon en ek my dankoffer, soos Paulus dit in ons teksvers sê, met blymoedigheid gee?

Broeder en suster. As ‘n mens onder leiding van die Heilige Gees en met volle oorgawe jou dankoffer aan die Here gee, sal jy sien en beleef:

3.       JOU DANKOFFER AAN GOD KAN VIR JOU RYKE SEËN BEWERK

Kom ons lees weer vers 8:

En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hé en volop kan bydra vir elke goeie werk.

Uit eie krag kom ek en jy natuurlik nooit so ver om ‘n ware offer van dankbaarheid aan die Here te bring nie. Ons is van nature maar redelik suinig en op ons eie behoeftes ingestel. Ons dink baie maklik dat sukses en geluk met materiële oorvloed saamloop.  

Wanneer Paulus in die vorige hoofstuk oor die gelowiges in Macedonië se vrygewigheid ten opsigte van dankoffers praat, sê hy:

Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in oorvloedige vrygewigheid.

Dan sê Paulus:

Ek verseker julle hulle het na vermoë, ja, bo vermoë bygedra ..... Dit was meer as wat ons verwag het, want eers het hulle hulleself aan die Here gegee ..... ( 2 Kor. 8:2- 5)

As jy onder leiding van die Heilige Gees jouself aan die Here gee, kan jy met blydskap saai.  Dan gee jy jou dankoffer aan die Here en jy gee ook aan jou naaste wat nood het. Jy gee met oorgawe, want jy weet alles wat jy het behoort aan die Here. Jy ervaar dan die Here se liefdevolle en kragtige hand van versorging. Jy weet dat niks jou van sy liefde kan skei nie.

Onder leiding van die Heilige Gees raak ‘n mens vrygewig, want jy jy beleef elke dag  God se oorvloedige seën.

Kyk weer mooi na vers 8.  Luister net na die woorde waarmee Paulus die oorvloed van seën, wat God gee, probeer uitdruk.

En God is by magte om aan julle ALLES in OORVLOED te skenk, sodat julle in ALLE opsigte ALTYD van ALLES GENOEG kan hé en VOLOP kan bydra vir ELKE goeie werk.

Vir die wat met blymoedigheid en uit dankbaarheid volop saai, gee die Here alles in oorvloed.  Hy doen dit sodat die gelowige nog meer kan hê, nie om op ‘n geldgierige manier self te geniet nie, maar sodat jy nog meer het om weg te gee.

Luister weer na Paulus:

.... sodat julle in alle opsigte van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.

Sien u hoe werk die Here?  Hoe meer ek en jy gee, hoe meer ontvang ons uit sy hand sodat ons nog meer kan gee vir die liefdeswerk in sy koninkryk.  

SLOT

Kom ons sluit af. 

Wat sien die Here as Hy na jou dankoffer kyk?

As Hy jou en my dankoffer sien, kyk Hy tot binne in ons elkeen se hart.  Hy sien of jy Hom of die geldgod dien.  Hy kyk of jy bereid is om Hom, soos ‘n boer doen wat saai, te vertrou.  Hy sien of jy suinig is met jou saad.  Hy sien ook of jy jou dankoffer met teensin of dwang gee.

Die Here kyk hoe ek en jy ons beursies hanteer.  Sodoende kan Hy sien waar ons harte is...... Of ons skatte op aarde of skatte in die hemel bymekaarmaak.

As Christus in jou hart is, loop jou hart oor van dankbaarheid. Dan is jy onder die kragtige leiding van die Heilige Gees vrygewing.

Die Here leer ons om volop te saai, want Hy wil aan ons ‘n groot oes gee, sodat ons nog meer vrygewig kan wees.

                                                                                              AMEN 

Read 5513 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek