Print this page
Monday, 13 February 2017 16:51

Sagaria 8:23 'n Lewende geloof in God lok mense aan.

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: Sagaria 8:1 – 8 en 18 – 23

TEKS:  Sagaria 8:23

TEMA:  ‘N LEWENDE GELOOF IN GOD LOK  MENSE AAN!

                  

Vir elkeen van hierdie jongmense wat vandag hulle geloof bely, is dit ‘n besondere dag. Natuurlik ook vir hulle elkeen se ouers asook die oupas en oumas en ander familie. Dit is ‘n groot dag en belangrike geleentheid. Daar word na afloop van ons erediens foto’s geneem en gesinne en families gaan heerlik saam feesgevier.

Maar nou die belangrike vraag?

Oor wie gaan dit vandag? .........

Gaan vandag oor hierdie jongmense wat hulle geloof bely?  Is die fokus vandag op hulle wat hier sit?

Kom ons begin by ons teksvers:

Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.”

Hoe dink u? Oor wie gaan dit in ons teksvers? 

.... tien man uit al die nasies gryp een Judeër aan die klere....

Die Judeër is skynbaar hier belangrik.  Daar is sommer tien mense wat hierdie een Judeër aan die klere gryp en sê:    Ons wil saamgaan!

 

1.  WAT SOU DIE MENSE SO LAAT OPTREE?

 

Boonop kom die mense uit ander nasies en gryp die Judeër aan die klere? En dan sê hulle:

Ons wil met julle saamgaan ....?

Kom ons kry eers net vinnig ‘n bietjie agtergrond.

Die plek in ons teksgedeelte is Jerusalem. Die datum ongeveer 520 v.C.  ‘n Groepie mense van Juda is reeds ‘n paar jaar terug uit Babel. Vir 70 jaar was hulle daar in ballingskap. Vreemdelinge in ‘n ver en vyandige land. Uiteindelik kon hulle terugkeer.

Op hierdie stadium was hulle besig om die stad en die tempel, wat destyds deur Nebukadnesar se leërmag verwoes en geplunder is, weer op te bou. Hulle kry egter baie teenstand en ook teëspoed. Hulle was op ‘n stadium baie moedeloos.

Dan stuur die Here vir Sagaria as profeet om hierdie klompie teruggekeerde ballinge moed in te praat.

Al het die Here hulle vanweë hulle ongehoorsaamheid en ontrouheid gestraf en in ballingskap laat wegvoer, het Hy Hom nou weer oor hulle ontferm. Hy het immers belowe dat Hy sy volk nooit sal verlaat nie. Selfs die ballingskap was ‘n tugproses. Die Here wou leer om Hom alleen te vertrou.

Luister wat staan in vers 3: 

So sê die Here: Ek gaan na Sion toe terugkom, EK GAAN IN JERUSALEM WOON....

En dan verder in verse 12 en 13.

Daar sal nou voorspoed wees: die wingerdstok sal sy druiwe dra, die land sal sy oes lewer, die hemel sal sy vog lewer, en Ek sal dit alles aan die oorblyfsel van hierdie volk gee.  Julle name, Juda en Israel, is onder die nasies gebruik in vervloekings, maar Ek het julle gered, en nou sal julle name gebruik word in seënwense.  Moenie bang wees nie, skep moed!

Die Here bring ‘n oorblyfsel van die Judeërs terug uit Babel en belowe aan hulle ‘n nuwe lewe in Jerusalem.

Ek dink dit is belangrik om op die stadium te verduidelik hoe die profesieë van die Ou Testament gewerk het. Daar was dikwels ‘n eerste, of te wel korttermyn vervulling, maar dan was daar ook vir dieselfde profesie ‘n langtermyn vervulling. Uiteindelik is so ‘n profesie dan met die koms van die Here Jesus Christus vervul.

Ten opsigte van hierdie profesie van Sagaria het dit gebeur dat daar op die korttermyn ‘n nuwe toekoms vir die inwoners van Jerusalem aangebreek het. Die mure is opgebou en die tempel is herstel. Daar is weer landerye aangelê en wingerde geplant. Daar was weer vrede en vooruitgang. Dit was die kort termyn vervulling.

Die werklike, langtermyn vervulling, van hierdie profesie het egter eers 500 jaar later met die koms van die Here Jesus Christus aangebreek.  God het toe Self in die persoon van die Seun na Jerusalem gekom en sy Koningskap kom vestig. Hy het die satan, die sonde en die dood in die aardse Jerusalem kom oorwin.

Nadat Hy egter uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het, het  God in Christus aan sy nuwe verbondsvolk gestalte begin gee.

Daar waar Hy aan die regterhand van God sit het Hy alle mag in die hemel en op die aarde.  Op Pinksterdag het Hy sy lewendmakende Gees uitgestort om in sy uitverkore volk se harte te kom woon.

In ‘n sekere sin is daar op Pinksterdag die eerste geestelike stene van die Nuwe Jerusalem gelê. Die Here Jesus bou sy kerk, of te wel die Nuwe Jerusalem, vanuit die hemel.  Ja, elke uitverkore kind van God word as ‘n geestelike steen in die bouwerk van die nuwe Jerusalem, die geestelike woonplek van God, ingemessel.

En dit is juis na hierdie nuwe Jerusalem wat die mense uit alle nasies kom, om God se wil te soek. Dit is wat Sagaria geprofeteer het.

Vers 22

Baie volke sal kom, groot nasies , OM IN JERUSALEM na die wil van die Here  die Almagtige te vra, om Hom te raadpleeg.  

As tien man uit ander nasies dan ‘n Judeër, die inwoner van Jerusalem, se klere gryp, en sê hulle wil saamgaan, gaan dit nie in die eerste plek oor die Judeër as persoon nie .....

Luister wat sê daardie tien man wat een Judeër aan sy klere gryp:

Ons wil met julle saamgaan, WANT ONS HET GEHOOR GOD IS BY JULLE.

 

Die vervulling van Sagaria se profesie, sien ons vandag in die kerk

 

2. DIE HERE KOM WOON SAAM MET SY VOLK IN DIE NUWE JERUSALEM

In Openb. 21 skryf die apostel Johannes wat die Here aan hom geopenbaar het:

... ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien afkom. Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.  (vers 2)

En dan verder

‘n Tempel het ek nie in die stad gesien nie, want sy tempel is die Here God, die Almagtige en die Lam. (vers 22)

Ons beleef in die kerk, hoe God besig is om die nuwe Jerusalem te bou.  Hy is by sy kerk teenwoordig. Die Here Jesus is die hoeksteen en die fondament waarop God sy geestelike huis bou.

Ons lees in 1 Pet 2:4 en 5

Kom na Hom toe die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.

Broeder en suster ek en jy moet baie goed verstaan:  Omdat ons lewende stene in die nuwe Jerusalem, of te wel God se geestelike woonplek is, is Hy in ons en ons in Hom.

Deur die Heilige Gees het Hy in ons elkeen kom woon.

En dit is presies wat julle jongmense vanoggend openlik gaan verklaar.

Julle gaan sê: 

Ek glo in God – Die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Dit kan ‘n mens net eerlik en opreg sê as jy deur die werking van die Heilige Gees wedergebore is. Jy kan net sê dat jy glo dat Jesus Christus jou Verlosser en Saligmaker is, as God jou daardie geloof gegee deur sy Gees het. 

As God so deur sy Gees in ‘n mens se lewe ingegryp het, word jy deel van die nuwe Jerusalem. Dan ervaar die volmaakte liefde van jou hemelse Vader, die wonderlike verlossing en Jesus Christus en die ewige nuwe lewe onder leiding van die Heilige Gees.

En dit, is duidelik sigbaar vir ander mense. Ander mense wat met jou te doen kry, kom dan agter dat jy ‘n lewende steen in God se geestelike huis is. Hulle kom aan jou houding en gesindheid agter dat die Here Jesus Christus jou Koning is. Hulle sien die vrede in jou oë en die vreugde op jou gesig. Hulle ervaar die liefde, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en geduld wat deur die Heilige Gees in jou bewerk word......

                                               En dit spreek hulle aan!

Omdat dit wat hulle in jou optrede, in jou houding en gesindheid sien, hulle aanspreek, wil hulle dit ook graag ervaar...... Hulle vra rond en hulle vind uit. Hulle wil weet: Waarom is jy so anders, so vol krag en lewenslus en vreugde .......?  . En luister dan wat sê hulle:

Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle....

Die fokus is nie op die Judeër wat aan sy klere gegryp word nie. Die fokus ook nie op julle wat vandag julle geloof hier openlik bely nie.

            Die fokus is op die Here!  

Vanoggend gaan julle jongmense julle geloof bely en daarmee verklaar julle openlik en opreg dat julle deel van God se geestelike huis, die nuwe Jerusalem is.

Vanoggend sien ons hoe getrou ons hemelse Vader is.  Dit wat Hy aan julle belowe het, die dag toe julle gedoop is, dit is nou duidelik dat daardie belofte vervul is.

Julle elkeen kan nou openlik verklaar dat God julle Vader is, Jesus Christus julle elkeen se Verlosser is en dat die Heilige Gees julle gelei het om dit openlik te glo en uit te leef.

Die apostel Johannes het deur die Gees gelei die nuwe stad Jerusalem gesien en gesê:

Die stad het die heerlikheid van God: sy glans is soos dié van die kosbaarste edelsteen, soos ‘n kristalhelder opaal.                                  (Openb. 21:11)

Hierdie stad, soos ons gesê het, is die kerk van die Here Jesus Christus. En ons elkeen is deel daarvan, lewende stene in God se bouwerk!

En ander mense kyk na ons. Hulle sien ons liefde, ons vrede en vreugde. Hulle sien ons oorwinning oor die satan, die sonde en die dood. .... En hulle wil ook graag so lewe. 

SLOT

Die nuwe lewe in Christus gaan nie oor jou en my nie. In ons teksvers het die Judeër wat aan die klere geryp word nie eers ‘n naam nie. Hy is deel van God se verlossing en sy genadewerk.  Bloot net omdat Hy deel is van die nuwe lewe in Christus, lok hy ander mense aan om met Hom in die nuwe lewe te deel. Sy lewe in die nuwe Jerusalem is so opvallend dat hy dit nie kan wegsteek nie.......

Hier by voorbereiding vir nagmaal moet ons elkeen vir onsself vra:

Gryp ander mense, by wyse van spreke, my ook aan die klere en sê:

Ons wil saamgaan, want ons sien God is by julle.....

 

                                                                                AMEN.

Read 3077 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Latest from Danie de Kock

Login to post comments