Sosiale Skakels

Besoekers

We have 14 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 13 March 2017 08:17

2 Korintiërs 12:10 Waarom moet ek bly wees as ek swaarkry?

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:  2 KOR 12:1 – 10

TEKSVERS 2 KOR. 12:10

TEMA: WAAROM MOET EK BLY WEES AS EK SWAARKRY?

 

U sal sekerlik  saamstem dat die Woord van die Here ‘n mens dikwels verstom laat staan.  Die Woord kom dikwels met sulke, sal ons maar sê, radikaal ander soort uitsprake.

Normaalweg haat ‘n mens mos jou vyande.  Maar luister wat sê ons Here Jesus: 

Julle het gehoor dat daar gesê word: Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg ... (Matt 5:43 & 44)

Nog ‘n voorbeeld: Gewoonlik reageer ‘n mens met woede en  wraakgedagtes op iemand wat jou kwaad aandoen, maar luister wat leer die Here in sy Woord:

Moenie kwaad met kwaad vergeld nie, .....  oorwin die kwaad deur die goeie. (Rom. 12)

Vanoggend kom ons voor so ‘n verstommende uitspraak in die Bybel:

Paulus skryf onder leiding van die Heilige Gees:

Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging, en moeilikhede .... (2 Kor. 12:10)

Bly oor swaarkry? 

Ja, dit is wat hier staan en daar is nog ander plekke in die Skrif waar min of meer dieselfde gesê word:  Dink byvoorbeeld aan Jakobus wat sê: 

My broers julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom .....( Jak 1:2).

En saam met Habakuk sing ons mos:

Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my redder.  (Hab. 3:18 en 18)

Vanoggend vra ons die vraag:

WAAROM MOET EK BLY WEES AS EK SWAARKRY?

In hierdie lewe is die vraag nie OF ek gaan swaarkry nie, maar: WANNEER gaan ek swaarkry?  Swaarkry kom een of ander tyd op elkeen van ons se pad. Party kry dalk meer swaar as ander, maar swaarkry is noodwendig deel van ons aardse bestaan.   Kom ons kyk:

1.       HOE SWAAR KRY EK?

In ons teksvers verwys Paulus kortliks na sy eie swaarkry:

Hy praat oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede.

In die vorige hoofstuk het hy reeds breedvoerig oor sy ontberings uitgewy.  Kom ons lees verse  23 – 27

...ek was in die tronk, ek is ... dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege-en -dertig houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ‘n dag en ‘n nag op die oop see deurgebring. Ek was dikwels op reis in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld en gevare op see en gevare onder vals broers. Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; dikwels was ek sonder kos en, sonder skuiling of bedekking teen die koue.

U stem sekerlik saam:  Paulus het swaarkry geken! 

Dan is daar boonop nog die saak wat hy in ons teksgedeelte beskryf, naamlik sy doring in die vlees.

Hy sê:

Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van satan om my met vuiste te slaan.....

Oor wat presies hierdie doring in Paulus se vlees was, is al baie gespekuleer. Sommige verklaarders meen dat hy epileptiese aanvalle gekry het.  Ander glo weer dat hy met ernstige hoofpyne gepla was.

Daar is  egter nuwe navorsing wat daarop dui dat Paulus aan ‘n ernstige oogsiekte gelei het  Dit het, dan, as gevolg van die swak sig,  waarskynlik hewige hoofpyne tot gevolg gehad. Benewens die feit dat hy na sy ontmoeting met die Here Jesus op pad na Damaskus vir drie dae lank blind was, lees mens inGal 6:1 dat hy sê hoe hy met groot letters skryf.  En in Handelinge 23:5 sê hy dat hy nie die hoëpriester herken het nie.  In Gal 4:15 verwys hy byna woordeliks na ’n oogprobleem as hy oor die Galasiërs se goedgesindheid teenoor hom praat en dan sê:   As dit moontlik was, sou julle julle oë uitgeruk en vir my gegee het

Dit is dus moontlik dat Paulus swaksiende was. En dit was uiteraard vir hom baie moeilik om met die gestremdheid saam te leef.

Ek en jy kan sekerlik ons eie moeilikhede en swaarkry vandag hier vir mekaar sit en uitspel. Ons kan probeer vergelyk en besluit wie nou al op ‘n stadium die swaarste gekry het.

Siekte, gestremdheid, die skielike dood van ‘n geliefde, egskeiding, ‘n plaasaanval, roof, moord en geweld.  Arbeidersprobleme asook finansiële terugslae wat met droogtes, haelskade of oorstromings te doen het. ‘n Hele klomp boere in ons omgewing het die afgelope week miljoene Rande se finansiële verliese gely as gevolg van ‘n maatskappy wat hulle graan gekoop het en toe gelikwideer is. 

Sulke swaarkry en moeilikhede laat ‘n mens altyd vra:

Waarom ek?  ......

Waarom Here?......en ....

Hoe lank nog Here? .

 Luister maar net na Habakuk:

Waarom laat U my die onreg sien ... waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? (Hab. 1:3)

Luister hoe worstel Dawid in Psalm 13:

Hoe lank gaan U my nog bly vergeet Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af wegkyk? (Ps. 13:2)

Swaarkry bring vrae. Dit lei tot hewige worsteling en soms self tot twyfel en moedeloosheid.

 Maar, broeders en susters, kom ons

2.       KYK WAT IS GOD SE DOEL MET SWAARKRY IN ONS LEWE

Die apostel Paulus het geleer dat alles oor die Here en sy koninkryk gaan en nie in die eerste plek, soos ons in ons sondigheid sou verwag, oor homself as persoon nie.  As hy oor sy geestelike ervarings praat en dit beskryf as ‘n “wegruk na die paradys”, praat hy in die derde persoon. Hy sê:

Ek ken ‘n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel ....

Luister hoe beskeie is hy as hy sê:

Oor hierdie man sal ek roem, maar nie oor myself nie.

Paulus het besef dat hy, met alles wat hy ervaar het, dalk net te veel van homself sou kon begin dink. Teen die agtergrond sien hy die Here se doel met sy swaarkry. Daarom skryf hy in vers 7:

Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my ‘n doring in die vlees gegee ....

Die probleem waarmee Paulus moes saamleef, soos ons gesien het heel moontlik ‘n probleem  met sy oë was, het hom geleer om nie op homself te vertrou nie, maar op die Here.  Hy het elke dag sy afhanklikheid van die Here beleef.  En Hy het gebid dat die Here die probleem, die doring in sy vlees sou wegneem, maar dan maak die Here aan Paulus duidelik:

My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.

Net soos die Here destyds deur middel van swakhede, beledigings, ontbering en vervolging vir Paulus nederigheid en afhanklikheid geleer het, doen Hy dit ook vandag met ons.

 Soos Paulus, moet ek en jy ook in ons rol en plek in God se koninkryk inpas.  Ons het daarvoor egter verandering en vernuwing nodig. In Rom. 12:2 sê Paulus:

....laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.

Maar hoe verander God aan jou en my? Wat doen Hy?

In die Bybel is daar ‘n treffende beeld wat herhaaldelik gebruik word. Om normaalweg ‘n rowwe stuk metaal te vorm, is ‘n vuuroond nodig.  Daar in die smeltkroes word die klipharde metaal sag en vormbaar.  Die vakman wat uit die harde stuk metaal ‘n bruikbare instrument moet vorm, druk dit telkens weer in die vuur. Daarna kap en buig en vorm hy daaraan tot dit reg is vir gebruik.  Diegene van u wat al na ‘n glasblaser wat aan die werk is, gekyk het, sou dieselfde proses sien. Sonder die vuuroond kan ‘n glasblaser glad nie sy kuns beoefen nie.

Broeder en suster, omdat ek en jy met die Here se kosbare bloed gekoop is, is ons nou sy eiendom.  Aanvanklik is ek en jy soos ‘n rowwe stuk yster of ‘n ongevormde bol glas.  En dan begin die Here aan jou werk.  Hy druk jou in die vuurproef van beproewing, want Hy is besig om jou te verander. Hy wil van jou ‘n bruikbare instrument maak, ‘n kunswerk tot sy eer.

Luister wat skryf die apostel Petrus as hy oor jou en my geloof   praat:

Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus (1 Pet 1:6 – 7)

In Jesaja 43 hoor ons die Here se bemoedigende woorde:

Luister, so sê die Here WAT JOU GESKEP het, Jakob, wat jou GEVORM het, Israel: Moenie bang wees nie, ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne ......  as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die heilige van Israel, jou Redder.

In die smeltkroes van die vuur kom daar vorm en ook tempering.  Soos metaal deur die vuurproef beter en sterker gemaak word, so gebeur dit ook met jou en my in die behendige hande van ons hemelse Vader. Hy verander ons en vorm ons elkeen sodat ons kan wees soos Hy ons wil hê. 

En broeder en suster .............

3.       KYK HOE STERK IS ONS NOU!

Paulus sê: .... as ek swak is, dan is ek sterk

In God se hande word ek en jy wat maar swak en onvolmaakte mense is deur die louteringsproses van beproewing  gevorm tot nuttige en bruikbare instrumente.

·         ‘n Stamelende en stotterende Moses word  in die smeltkroes van die Here die magtige leier wat die volk Israel uit Egipte, deur die Rooi See en deur die woestyn tot by Kanaän lei.

·         Dawid, die bloedjong skaapwagtertjie wat vir sy broers kos na die slagveld toe moes bring, word in die vormende hande van God die held wat die reuse Goliat soos ‘n dooie os laat neerslaan.

·         Die Fariseër en ywerige kerkvervolger Paulus wat gelowiges in die tronk gestop het, word in die smeltkroes van die Here die groot apostel wat die verlossingsboodskap van ons Here Jesus Christus met drie sendingreise onder groot gevaar gaan uitdra.

Ons word in die vuur van beproewing gedruk, maar ons is nooit alleen nie.  Soos dit met die drie vriende van Daniël in die vuuroond van Nebukadnesar in Babel gebeur het, kom loop die Here saam met ons in die vuur. Hy hou ons veilig in sy hande terwyl Hy ons vorm en in sy diens gebruik.

Maar dan, broeder en suster moet ons natuurlik na Hom kyk wat dit alles bewerk het:  Kyk na ons Here Jesus Christus! 

As weerlose kindjie lê hy in Betlehem in die krip.  Later in die beskuldigde bank van die Joodse raad en die regter Pontius Pilatus is Hy soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders. As Lam word Hy na die slagplek op Golgota gelei.  Hy sterf as ‘n vervloekte.  En dan word Hy deur God verlaat ....... Stukkend gebreek .... Fyn gemaal.... tot in die dood.

Maar Hy is ook ewige God!  Daarom oorwin Hy die dood. Hy vaar op na die hemel en daar ontvang Hy alle mag in die hemel en op aarde.

Ek en jy, broeder en suster, is deur die kragtige werking van die Heilige Gees in ons Here Jesus Christus ingelyf. Ons is soos lewende lote op Hom die ware wingerdstok ingeënt.  Ons is deel van sy liggaam. 

Saam met ons Here Jesus Christus is ons ‘n koninklike priesterdom in God se ewige koninkryk.

Ons is swak, maar omdat ons in Christus ingelyf is, is ons sterk. Paulus sê ons is meer as oorwinnaars!

SLOT

Op hierdie aarde beleef ek en jy allerhande teenslae. Ons kry seer, ons is soms stukkend en moedeloos. Party van ons worstel soos Paulus met ‘n baie pynlike doring in die vlees.  Dit alles is egter deel van God se loutering en vorming in ons lewe.  Daarom is ek en jy saam met Paulus en Jakobus en Petrus, en sommer baie ander gelowiges, bly die beproewing. Bly oor die smeltkroes ....

Want as ons swak is ....

dan is ons sterk.    

                                                                                                            AMEN.

Read 3649 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek