Print this page
Tuesday, 02 May 2017 11:17

Johannes 21:15 - 17 DIE HERE JESUS WIL JOU WARE LIEFDE SIEN.

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:   Mark. 14:26 – 31 & 66 – 72 en Joh. 21:1 – 19

TEKS: Joh. 21:15 – 17

TEMA:  DIE HERE JESUS WIL JOU WARE LIEFDE SIEN

As ‘n mens se gewete jou aankla en jy  met ‘n knaende skuldgevoel worstel, kan die lewe nogal onaangenaam word.  Onder sulke omstandighede is ‘n mens mos geneig om jou van die mense rondom jou te onttrek. Jy voel skaam en boonop uiters teleurgesteld in jouself.

Dit is presies wat met Petrus gebeur het.  Van die dissipels was hy mos die impulsiewe een.  Dit is hy wat toe die Here Jesus op die water geloop het, sommer uit die skuit gespring het en saam met die Here op die water wou loop. Dit was ook hy wat die hoëpriester se slaaf se oor afgekap het toe die soldate gekom het om die Here Jesus gevange te neem.  Hy het dikwels te gou gepraat, te vinnig gereageer en homself dan in moeilike situasies laat beland.

Toe die Here Jesus en sy dissipels die aand hulle paasmaaltyd klaar geëet het en na die tuin van Getsemane op pad was, het Hy vir hulle gesê:

Julle sal almal van My afvallig word .......   (vers 27)

Al die dissipels se onmiddellike reaksie was:

Ons sal nooit van U afvallig word nie.

Ja, broeders en susters

1.       PRAAT IS MAKLIK

Die dissipels was so seker van hulleself. Hulle was so oortuig van hulle toewyding aan die Here Jesus.

Van een van die dissipels se reaksie word spesiaal melding gemaak:

Ons het mos gelees:

......  Petrus het nadruklik gesê:  Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.... (Mark 14:29)

En

Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie.                    (Mark 14:31)

U sien, broeder en suster. Praat is maklik.  Om net te sê dat ons in die Here Jesus glo is eenvoudig. En om soos die dissipels heilig oortuig te wees dat jy nooit van die Here Jesus afvallig sal word nie, is ook nie so ingewikkeld nie. Dit is maklik om eredienste by te woon, saam met jou mede-gelowiges Bybelstudie te doen en saam te bid.  ‘n Mens kan selfs ry en elders  groot massa saamtrekke  gaan bywoon – soos verlede naweek by Bloemfontein gehou is.  Ons lewe mos in ‘n land waar jy nie vervolg word as jy openlik sê dat jy ‘n Christen is nie.

Maar die vraag is:  Wat gebeur as dinge skielik verander?

2.       WAT GEBEUR AS DIE TOETS KOM?

Nou ken ons mos dissipels se die verhaal toe die Here Jesus deur Judas verraai is.  Toe Hy later die aand gevange geneem is, was  daar chaos.  Die dissipels het toe wel almal, soos Jesus voorspel het, weggehardloop.  Hulle het vir hulle lewe gevlug.  Almal wat so seker was van hulle liefde en toewyding  ...  hulle hardloop die donker nag in! 

En Petrus?  Aanvanklik was hy nog so ‘n bietjie braaf. Hy het sy swaard uitgepluk en toe sommer die hoëpriester se  slaaf se oor afgekap, maar uiteindelik is hy ook die donker in en die Here Jesus word alleen deur die soldate weggeneem.   

Later kom Petrus wel weer so ‘n bietjie nader.  Hy bly so half op ‘n afstand. Daar by die hoëpriester se huis waag hy dit selfs tot in die binnehof en staan hy saam met van die bediendes by ‘n vuur. Daar vra hulle drie keer vir Petrus of hy dan nie een van die Here Jesus se dissipels is nie. Hy ontken dit heftig!

Ons lees selfs:

Toe begin hy vloek, en hy sweer: Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.

En dan hoor hy hoe die haan ‘n tweede keer kraai .....  En Petrus bars in trane uit!

Ek en jy moet nou seker vir onsself die vraag vra: 

Wat sou ek gedoen het as ek in een van die dissipels se skoene was?  Sou ek bly staan het?  Sou ons bereid wees om saam met die Here Jesus gevange geneem te word ..... en dalk selfs gekruisig te word?

Wat sou ons gedoen het?

Maar, broeder en suster, dit hoef selfs nie eers so moeilik te gaan nie.  Kom ons dink maar net aan ons gewone daaglikse lewe......

Is ek en jy bereid om onder alle omstandighede met ‘n vaste geloof en onwrikbare toewyding by die Here Jesus te staan?

·         Wat doen jy as jy tussen mense is waar die Here se Naam aanhoudend gelaster word?

·         Wat gebeur met as die satan met sy versoekings kom? 

·         Wat doen jy as die drank begin vloei?  Watter houvas het dit op jou?

·         Val jy ook vir die versoeking om met dobbel geld te probeer maak? Jy soek mos daardie ou gelukkie wat al jou finansiële drome waar sal maak.

·         En wat van party gelowiges se  verslawing aan pornografie?

·         En wat van ‘n buite-egtelike geflirt terwyl jy baie goed weet dat jy voor die Here aan jou huweliksmaat trou beloof het?

·         Wat van die versoeking om op ‘n oneerlike manier met jou belastingopgawes te werk?

Daar is soveel plekke en geleenthede waar ons, presies soos Petrus, maak of ons nie die Here Jesus ken nie.

Ons praat te gou en tree onnadenkend op. Ons sê so maklik dat ons die Here Jesus dien en dat ons Hom nooit sal verlaat nie.

Maar kyk bietjie na ons optrede. Luister maar na al die verskonings!

Waarom bly sommige lidmate so maklik van Sondag se ontmoeting met die Here af weg?  En as dit by dankoffers kom, is daar heelwat gelowiges  wat, terwyl hulle wel die finansies het,  net bereid is om so ‘n afskeep bedraggie, vir die Here te gee.  En dan is daar sommige wat nie eers bereid om iets as dankoffer aan die Here te gee nie!  

Broeders en susters. Maak ons nie soms ook, soos Petrus, asof ons Hom nie ken nie ...... Met ons optrede kan ons Hom mos ook verloën!

Maar kyk nou na die Here Jesus!  

3.       DIE HERE BLY GETROU EN WIL ONS ELKEEN IN SY DIENS GEBRUIK

Kyk net wat doen Hy nadat Hy aan die kruis gesterf het, begrawe is en toe uit die dood opgestaan het.

Soos Hy vooraf aan sy dissipels bekend gemaak het, ontmoet Hy hulle in Galilea.

Petrus was skaam en baie teleurgesteld in homself  -  hy wat so voortvarend en seker van homself was!   Hy wat so met oortuiging gesê het:

Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie.

Hy het nou maar teruggegaan na sy ou lewe .....

Hy het maar weer ‘n visserman geword.  En dit gaan maar moeilik. Hulle spook die hele nag en kry niks gevang nie. Hulle is op hulle ou pad en sukkel maar voort.....

En dan is daar ‘n man op die strand wat sê:

Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.

Hier gebeur presies dieselfde as die dag toe die Here Jesus die eerste keer vir Petrus en Johannes as dissipels geroep het. Destyds het hulle ook die nag deur geworstel en niks gevang nie en dan stuur Jesus hulle weer die see in en hulle vang soveel vis dat die nette wou skeur.

Die dissipels besef dan dit is die Here Jesus!

Hy lewe en Hy roep hulle opnuut om vissers van mense te wees!  Hy nooi hulle om dan saam met Hom daar op die strand te eet.

En dan gee Hy spesiaal aandag aan Petrus.  Petrus wat skaam is. Petrus wat in homself so diep teleurgesteld is.

Drie maal vra die Here Jesus vir Petrus:

Simon, seun van Johannes, het jy My lief, meer as hulle hier?

Petrus wat vol bravade gesê het: 

Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.

Hierdie Petrus wat so selfversekerd was ... en toe die Here drie maal verloën het ......... Drie maal vra die Here Jesus Hom:  Het jy my waarlik lief?

Elke antwoord Petrus:  Ja, Here, U weet dat ek u liefhet.  Dan sê die Here Jesus: 

Laat my lammers wei,

Pas my skape op en

Laat my skape wei.

Op die manier word Petrus weer in sy diens as gestuurde van die Here herstel.  Die Here hou nie sy sonde teen hom nie.

En kyk hoe wil die Here hê moet Petrus sy liefde vir die Here uitleef!

Hy moet die Here se kudde versorg. Dit is hoe die Here ons elkeen wat sy vergifnis en verlossing ontvang het se liefde wil sien.  Ons moet in die eerste plek ons medegelowiges met liefde ondersteun en versorg. En dan moet ons ook uitreik na ander mense wat nie die lig van die evangelie en die liefde van die Here ken nie.

Ons kan ander leef. Ons kan nuut optree. Ons kan weerstand bied teen die versoekings van die satan. Ons kan ons vertroue in die Here alleen stel. Ons hoef nie ongesonde verhoudings te beland nie en ons kan onder leiding van die Heilige Gees in ware gemeenskap met die Here Jesus lewe. Ons kan ons fokus op ons medegelowiges rig en die Here se waarheid verkondig en sy liefde uitleef.

SLOT

Geliefdes. Praat is maklik en impulsiewe optrede kan ons maklik in ongemaklike situasies laat beland.   Om te vinnig te sê dat jy die Here dien, kan jou soms lelik in die verleentheid stel  - veral as jy dan nie by jou woord kan hou nie.

Die Here Jesus het ons sy Heilige Gees gegee sodat ons nie uit eie krag ons geloof en dienswerk in stand hoef te hou nie. Deur die kragtige leiding van die Heilige Gees kan ons onverskrokke getuies van die Here wees en kan ons sy liefde prakties uitleef tot uitbreiding van sy koninkryk.

Bid daarom gedurig om die lig en leiding van die Gees.

                                                                                                      AMEN.

Read 3118 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Latest from Danie de Kock

Login to post comments