SKRIFLESING: MATT 14:22 - 33
TEKS: MATT 14:32 & 33
TEMA: AS JY SAAM MET DIE HERE JESUS WIL WEES, KLIM TERUG IN DIE SKUIT
Broeder en suster. Met wie sou jy graag wou identifiseer?
· Met een van die dissipels in die skuit?
· Of sien jy jouself as ‘n Petrus wat probeer om op die water te loop?
Hierdie vraag is belangrik, want dit sê iets van jou en my benadering tot ons geloof in die Here Jesus.
Party mense wil, soos Petrus, die Here Jesus buite die gewone gaan soek. Hulle soek in hulle geloof en hulle verhouding met die Here juis die buitengewone en die opspraakwekkende.
Ander mense soek weer die Here in die gewone gang van die lewe ...... Daar in die skuit saam met die ander dissipels.
Ons kan in hierdie stuk geskiedenis heelwat leer oor hoe die Here in ons elkeen se persoonlike lewe teenwoordig wil wees.
In die prediking verdeel ons die gedeelte wat ons gelees het in drie dele:
· DIE DISSIPELS WORSTEL IN DIE STORM SONDER JESUS
· DIE DISSIPELS IS VERWARD WEENS ‘N ONBEKENDE Jesus
· DIE DISSIPELS AANBID DIE GEOPENBAARDE HERE JESUS
Nadat Hy die meer as 5000 mense met vyf brode en twee visse kos gegee het, beveel die Here Jesus sy dissipels om in die skuit te klim en solank na die oorkant van die meer te vaar. Hy bly agter en die toneel wat volg kan ‘n mens beskryf as:
1. DIE DISSIPELS WORSTEL IN DIE STORM SONDER JESUS
As ‘n mens 22 in die oorspronklike Grieks lees, is dit opvallend dat hier staan:
En onmiddellik het Jesus sy dissipels verplig om in die skuit te klim en solank voor Hom uit na die oorkant te vaar.
‘n Mens sou ook kon vertaal
....... Jesus het sy dissipels gedwing om in die skuit te klim.....
Lyk dit vir jou ook asof die dissipels nie juis ‘n keuse gehad het nie? Hulle moes eenvoudig die Here se opdrag uitvoer. Hulle moes eenvoudig in die skuit klim en begin om na die oorkant te vaar.
Nou wonder ‘n mens: ........... Waarom moes Hy hulle dwing?
Moontlik was hulle onwillig omdat dit byna donker was. Hulle sou beslis die nag moes invaar. Dit kan natuurlik ook wees dat hulle, wat ervare vissermanne was, duidelik kon sien dat daar ‘n dreigende storm op die meer begin opsteek. Volgens alle menslike logika sou dit dus beter wees om slaapplek te soek en die volgende môre die vaart oor die meer aan te pak.
Maar Jesus dwing hulle om in die skuit te klim ........
Teen hulle sin begin hulle roei. Die nag in ........ die ‘n storm tegemoet.
En die Here Jesus? .................. Wat doen Hy? ............. Hy bid!
Ons lees dat Hy eers die groot skare mense huis toe gestuur het. Daarna is Hyself alleen die berg op om te gaan bid.
Nou verskuif die toneel weer na die skuit met die dissipels in. Op die stadium is die skuit reeds ‘n paar kilometer van die kus af. Volgens die afstand wat aangegee word, was hulle byna reg in die middel van die meer. En dan, daar in die middel van die meer, in die donker van die nag, word die skuit deur geweldige golwe geteister ....... en boonop is die wind van voor. Die dissipels span al hulle kragte in om teen die wind in te roei en om die skuit in die malende watermassa regop te hou .........., maar hulle vorder nie.
Die nag word ‘n worsteling ..... sonder Jesus.
Die dissipels verstaan nie. Daar kom toe seker ook baie vrae by hulle op Vrae soos:
· Waarom het die Here hulle alleen gelaat.
· Waarom het Hy hulle in die nag binne-in ‘n storm ingedwing?
· Hulle is dan sy dissipels. Is Hy dan nie lief vir hulle nie?
· Het hulle iets verkeerd gedoen? Is hierdie hulle straf?
Broeder en suster. Ek en jy beland ook in storms van die lewe. Storms wat die Here op ons pad bring en omstandighede waar Hy ons klaarblyklik indwing. Niemand van ons vra mos om ernstig siek te word of om met kanker gediagnoseer te word nie. Jy vra tog immers ook nie om iemand vir wie jy lief is, aan die dood af te staan nie. Nog minder doen iemand doelbewus aansoek vir huweliksprobleme of ‘n krisis binne jou gesin.
Verder kan die omstandighede in ons land deesdae kwalik anders as nog ‘n verwoestende lewens-storm beskryf word.
Nou is die vraag:
Was die dissipels daar in die middel van die meer binne-in die storm van God verlate? ...... Was hulle werklik sonder Jesus? Aan hulle eie lot oorgelaat?
En ons, as ons die storms van die lewe aan ons voel ruk en die golwe dreigend oor ons slaan, is ons dan sonder die Here?
Nee, broeders en susters. Toe die Here Jesus sy dissipels in die boot ingedwing het en hulle die storm op die see laat ervaar het, het Hy hulle nie aan die noodlot of aan die geweld van die storm oorgelaat nie..... Hy het die heeltyd vir hulle gebid! Op verskeie plekke in die Evangelies lees ‘n mens dat die Here Jesus alleen gaan bid het en dan lees ‘n mens hoe Hy spesifiek vir sy dissipels by sy hemelse Vader ingetree het.
Hy bid ook vir ons en Hy tree vir ons in. Hy het mos juis na sy hemelvaart aan die regterhand van ons hemelse Vader gaan sit om daar vir ons in te tree.
Maar kom ons kyk nou wat doen die Here nog verder.
Aanvanklik dink die dissipels dat hulle alleen sonder die Here in die storm is, maar dan kom daar iemand op die water na hulle toe aan. En kyk nou:
2. DIE DISSIPELS IS VERWARD WEENS ‘N ONBEKENDE JESUS
Hulle worstel. Hulle word deur die deur die wind en wolke geteister. Hulle maak ook nie werklik vordering nie. En dan gebeur daar nog iets wat erger is.
Hulle sien ‘n gedaante wat in die sterk wind tussen die deinings van die golwe na hulle toe aankom. Hulle is oortuig dat dit ‘n spook is. In daardie dae het baie mense geglo dat daar soms bose geeste in die water bly. Moontlik het een so ’n figuur, wat hulle betref, uit die onderwêreld ontsnap. Hulle het so geskrik dat hulle aan die skreeu gegaan het.
Hulle is verward en daarom maak hulle ’n groot fout!
Kyk, die lewende Seun van God loop op die water en sy eie dissipels meen dis ‘n wese uit die doderyk wat by hulle in die storm kom spook.
Maar as die wese bo die gesuis van die wind tussen die malende waters begin praat, hoor hulle die Here se stem:
Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.
Hulle vrees begin bedaar en hulle kry hoop in hulle benarde toestand .....
Maar dan spring Petrus op!
Hy is mos die voortvarende, die impulsiewe een wat eers doen en dan later dink. Hy wil die buitengewone ervaar. Hy is nie tevrede om in die skuit te bly nie. Hy wil uit! ........ Luister wat sê hy:
Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.
Hierdie woorde van Petrus klink baie na woorde wat die satan in hoofstuk 4 gebruik het toe hy die Here Jesus in die woestyn versoek het. Hy het ook gesê:
As jy die Seun van God is ....
In ‘n sekere sin is Petrus hier besig om die Here Jesus te versoek. Om Hom uit te daag om sy Godheid te bewys.
Die Here Jesus gee dan tog toe aan Petrus se versoek. Hy sê vir Petrus: “Kom”.
Petrus klim uit die boot. Hy begin loop ..... Maar dan lyk dit of hy gate in die water trap. Hy het sy oë van Jesus af weggedraai en na die golwe begin kyk. En dan begin hy sink en hy roep:
“Here red my!”
Die ander dissipels is nog veilig in die boot, maar Petrus wil uit!
Hy wil sy lewe saam met die Here op ‘n ander, op ‘n bonatuurlike manier beleef. In die proses versoek Hy egter die Here en beland in die moeilikheid. Tog ervaar Petrus in die proses ook weer die Here se genade. Die Here Jesus steek sy hand na Petrus uit en trek hom op uit die malende watermassa.
Luister wat sê die Here Jesus vir hom:
“Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”
Die normale, die gewone manier van doen saam met die ander dissipels in die boot was nie vir Petrus genoeg nie ..... Met sy poging om die buitengewone te ervaar, openbaar hy toe sy kleingeloof en beland in die moeilikheid.
‘n Mens sien vandag nog dieselfde gebeur met mense wat altyd die buitengewone en die bonatuurlike in hulle verhouding met die Here soek. Hulle verlaat die veiligheid van die gevestigde gemeenskap van gelowiges in die kerk en gaan soek daar buite na dinge soos wondergenesings, die spreek in tale en die skynbare ontvangs van die Heilige Gees. Op die manier versoek hulle die Here Jesus om hulle geloof te probeer bevestig.
In die proses word hulle egter verswelg deur die malende massa van verdraaiings en valse leer. Hulle trap gate in die water waarop hulle probeer loop.
Die Here Jesus lei vir Petrus, nie om saam met Hom ‘n avontuurlike draai op die water te hardloop nie..... Nee, Petrus moet terug in die boot. ....... Saam met die ander dissipels van die Here.
Kyk wat gebeur daar in die boot
3. DIE DISSIPELS AANBID DIE GEOPENBAARDE HERE JESUS
Toe die Here Jesus, met Petrus aan die hand, in die skuit klim, word die waters kalm. Die stormwind gaan lê en die golwe word net ‘n sagte kabbeling. Hier kan die dissipels nou werklik die Here Jesus se teenwoordigheid en sy krag ervaar. Hy laat die storm bedaar...... ook die storm in hulle harte.
Ons het mos gelees: Toe die Here Jesus op die water na die skuit met sy dissipels in geloop het, was dit al amper dagbreek. Sy teenwoordigheid verander die donker, die onsekerheid en uitsigloosheid van die nag, wat boonop met ‘n vernietigende storm gepaardgaan, na ‘n ervaring van hoop op ‘n nuwe dag.
Waar die Here Jesus na jou toe kom, is daar altyd hoop. Daar is ‘n toekoms. Daar kom sekerheid, kalmte en vrede in jou hart.
Toe die Hy saam met hulle in die skuit klim, verander alles. Daar kom rustigheid.
En dan die dissipels se reaksie. Ons lees hulle het voor die Here Jesus gekniel en gesê:
“U is waarlik die Seun van God”
Daar in die skuit, saam met die ander dissipels ervaar die impulsiewe en voortvarende Petrus ook die kalmerende teenwoordigheid van die Here Jesus en daar aanbid hy saam met die ander die Here.
Broeder en suster. Ons het nie die opspraakwekkende en die buitengewone nodig om ons geloof in die Here te bevestig nie. Ons kry rustigheid saam met ons medegelowiges in die veiligheid van die gemeente.
Kyk mooi broeder en suster.
Dit is die mense wat kort-kort wil uitklim wat deur die wind verwaai en deur die golwe verswelg word.... Hulle is in werklikheid kleingelowig.
Dit is hierdie mense wat die Here se reddende genade so nodig het. Dit is hulle wat terug in die boot gehelp moet word.
SLOT
Kom ons sluit af.
Ons lewe kan soms met die ervaring in ‘n klein skuitjie in ‘n donker nag op die stormsee vergelyk word. Dit voel vir jou dan vir jou of alles tevergeefs is. Jy vorder nie en daar kom nie lig nie.
Hoe sien jy dan die Here? Wat verwag jy as Hy na jou toe kom? Sien jy Hom raak in sy almag en grootheid en vind jy rus in sy teenwoordigheid of wil jy hê dat Hy jou die buitengewone en die bonatuurlike sal laat doen?
As jy kort-kort wil uitklim om iets spesiaal te ervaar, gaan die wind van dwaalleer jou deurmekaar waai en die golwe van onsekerheid gaan oor jou spoel.
As jy saam die Here Jesus wil wees, klim terug in die skuit!
AMEN.