Sosiale Skakels

Besoekers

We have 18 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 10 July 2017 08:12

Prediker 9:7 - 10 Lewe jy met 'n vuis vol moeite of uit die oop hand van God?

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: Pred. 9:1-12

Teks: Pred. 9:7 - 10                            

                                                            

LEWE JY MET 'N VUIS VOL MOEITE OF UIT DIE OOP HAND VAN GOD?

 

Die Prediker was iemand wat ‘n bietjie dieper as die gewone mens na die lewe gekyk het.  In Hfst. 1:13 sê hy:

 

Ek het my daarop toegelê om alles wat in hierdie wêreld gebeur te ondersoek en behoorlik te deurdink.

 

Ons het ‘n gedeelte uit Hfst. 9 gelees. Luister tot watter gevolgtrekking kom die Prediker in vers 3:

 

Die ellende met alles wat in hierdie wêreld gebeur, is dat dieselfde lot almal tref

 

Ja, sê die Prediker:

 

Soos dit met die goeie en opregte gaan, so gaan dit met die heiden en die sondaar

 

As ek en jy na die wêreld rondom ons kyk, sien ons ook dat daar regtig  nie 'n verskil is nie.  Presies dieselfde lot tref alle mense.   Enige mens word siek of beland in 'n motorongeluk; enige boer se oes kan deur ontydige ryp vernietig of  deur ʼn haelstorm beskadig.  Boonop word ons almal se lewe deur swak politieke besluite, misdaad en ‘n swak ekonomie beïnvloed. 

 

Daarom vra die Prediker heel tereg sommer hier heel aan die begin van sy boek, in hfst. 1:3 

 

Wat kry die mens vir sy geswoeg, sy geswoeg in hierdie wêreld?

 

En dan is sy eerlike gevolgtrekking: 

 

Alles kom tot niks, dit is 'n gejaag na wind (1:14).

 

Hierdie bevinding van die Prediker laat baie mense dink dat hy  eenvoudig maar ‘n aartspessimis was.  Maar dit is allermins die geval. 

 

Die Prediker was  ʼn baie wyse man. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat die lewe  ʼn dubbelkantigheid het. Byna soos  ʼn muntstuk wat  ʼn kop- en  ʼn stertkant het. Dit is dieselfde lewe wat ons almal elke dag leef, maar soms gaan dit goed terwyl dit ander kere weer bitter sleg kan gaan ..... en dit gebeur met alle mense!

 

Die vraag  wat die Prediker op die tafel plaas is:

 

Hoe hanteer jy die lewe?

 

Begin jy by die kop- of die stertkant?

 

Ons tema vanoggend, na aanleiding van die Prediker se benadering, is:

 

LEWE JY MET 'N VUIS VOL MOEITE OF UIT DIE OOP HAND VAN GOD?

 

Ja, broeder en suster, hoe benader jy die lewe?

 

1.  PROBEER JY ALLES UIT DIE LEWE UITHAAL?

 

Die meeste mense van ons tyd is op wins ingestel, op groei, asook op ontwikkeling en uitbreiding.  Dit is immers wat ons materialistiese samelewing ons leer: Jy soek  na meer en na beter.  ʼn Materialistiese glanslewe word as die ideale voorgehou en die moderne mensdom glo dit is wat jy behoort na te strewe.

 

Ons het al so aan hierdie manier van lewe gewoond geraak dat ons graag dinge aan hulle geldwaarde meet. Ja, die mensdom raak al hoe meer geldgierig en hebsugtig. En dan is daar boonop nog  die ou leuen van die duiwel wat ons probeer wysmaak dat ryk mense noodwendig gelukkig is terwyl die armes ongelukkig moet wees.  

 

Mense wat so gierig en materialisties ingestel is, probeer gewoonlik alles uit die lewe uithaal.  Die lewe hier en nou word vir sulke mense die enigste bestaan.  Maar weet u, daar is regtig niks nuuts onder die son nie. Reeds in die Bybel se tyd het daar al 'n spreekwoord ontstaan wat sê:

 

Laat ons eet en drink en vrolik wees, want môre sterf ons!  (Jes. 22:13 en 1 Kor. 15:32).

 

Daarom kom die Prediker met sy indringende vraag: 

 

Watter voordeelkry jy met hierdie benadering? 

 

En dan antwoord hy die vraag self. Hy sê:  Dit is alles tevergeefs!

 

Dit is nogal 'n skreiende oordeel oor ons totale lewe!  As ons sin uit hierdie materialistiese en kapitalistiese lewe probeer kry, gaan ons teleurgesteld staan.  So 'n lewe, sê die Prediker, is alles tevergeefs en 'n gejaag na wind.

 

Maar nou.  As jy dan geen sinvolle bestaan kan voer deur alles uit die lewe uit te haal nie, moet die omgekeerde mos waar wees.  

 

2.  PROBEER JY OM ALLES IN DIE LEWE IN TE SIT?

 

Baie mense doen dit:  Hulle sit alles in!   Hulle werk hard om van hierdie lewe ‘n sukses te maak:  Meer tyd, meer krag, meer moeite, ....  selfs meer vriendelikheid en meer liefde. 

 

Dit is nogal goeie raad. Moenie selfsugtig wees en alles net wil inpalm nie. Jy moet gee. Gee om vir  die mense rondom jou. Gee vir familie en vriende en gee ook armes en die sukkelaars. Ja, hoe meer jy gee, hoe meer sal jy ontvang.

 

In die sakewêreld werk dit mos ook op die manier. Jy kan net wins kry as jy reg belê en genoeg belê. En die boer weet as jy baie saai kry jy ‘n goeie oes. Ja, dit is net deur harde werk wat jy sukses behaal.

 

Maar luister nou weer na die Prediker.  In hfst. 2:24 sê Prediker:

 

Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie.... 

 

Ja, al dink ons dat ons deur harde en getroue werk sukses kan behaal, het ons nie die laaste sê nie.  In Lukas 12 vertel die Here Jesus die gelykenis van die ryk dwaas wat vir homself gesê het:

 

Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare.  Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.  Maar God het vir hom gesê: Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaar gemaak het?

 

Wat sê die Prediker?  .......   Hy sê: 

 

Ek het ingesien dat dit (die lewe) 'n gawe uit die hand van God is.

 

Hier is die keerpunt, broeder en suster.  Die groot vraag is:  

 

Lewe jy uit God se hand of lewe jy met ‘n vuis vol moeite?

 

As hierdie lewe jou vertrekpunt is, begin jy by die verkeerde punt.  Dan begin jy nie by die kopkant nie, maar by die stertkant! 

 

Dit help nie om alles uit hierdie lewe probeer uithaal nie. Dit help ook nie om alles in hierdie lewe in te sit nie.  Die feit van die saak is: 

 

Hierdie lewe as dit sonder God is, is 'n sinlose lewe.......

Dit is net 'n gejaag na wind. ..........   Alles tevergeefs.  

 

Onthou wat die Prediker sê:

 

Die ellende mat alles wat in hierdie lewe gebeur, is dat dieselfde lot almal tref...

 

Wat moet 'n mens dan doen om sinvol te leef?

 

Broeder en suster

 

3.  KLIM LIEWER SELF IN DIE LEWE IN!

 

Luister weer na die Prediker se raad:

 

Eet jou brood met vreugde..., drink jou wyn met ‘n bly gemoed ....... dra wit klere..., geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet ...  ......... dié lewe wat tot niks kom nie .....

 

Die groot vraag is:   Wat is die lewe?

 

Is dit nie my huis, my werk, my skool, my kerk, my gemeenskap, my sport en my familie nie? 

 

Ja, jy is reg. Dit is ons lewe van elke dag.

 

Hierdie lewe en alles in hierdie lewe word deur God gegee.

 

Hierdie lewe is die lewe wat uit God se oop hand kom. 

 

Hierdie lewe is 'n gawe om te geniet, maar jy kan dit net geniet as jy verstaan dat daar nog meer is.... 

 

Daar is nog meer wat uit God se oop hand kom:

 

God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. (Joh. 3:16)

 

As ‘n mens in geloof aan die Here Jesus vasgryp en die lewenspad saam met Hom loop, maak die lewe sin en kry dit betekenis.  

 

Elke mens wat die pad saam met die Here Jesus loop, beleef hierdie alledaagse dinge op ‘n ander manier.

 

Die Prediker het dit al verstaan, want hy het geskryf:

 

Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie.

 

Alles word bepaal deur tyd en geleentheid .....

 

En onthou!  Tyd en geleentheid word deur die Here Jesus bepaal. Hy het mos gesê: 

 

Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.

 

Om jou lewenspad saam met die Here Jesus te loop, gee sin en betekenis aan jou lewe.

 

In Johannes 14:6 het Hyself gesê: 

 

Ek is die weg en die waarheid en die lewe.  Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

 

As ons werklik in Christus lewe, lewe ons sinvol.  In Christus is dit nie meer ons wat self met moeite die lewe probeer verander om ons te pas nie.  Nee, dan sien ons hoe die Here Jesus ons begin verander. Deur sy Gees wat in ons woon, maak Hy van ons nuwe mense wat met nuwe oë na die lewe kyk.

 

Dan sien ons nie meer geld en besittings en prestasie as die wonderlike dinge van die lewe nie ....  Nee, dan begin ons sien wat alles uit sy hand kom:

 

  • Hy was jou sondeskuld af met sy bloed sodat jy rein voor God kan staan.
  • Saam met Hom oorwin jy die dood sodat jy vir ewig kan lewe.

·         Hy gee vir jou sy Gees sodat jy kan glo en Hom kan dien.

·         Hy maak jou 'n oorwinnaar oor die sonde en die satan.

  • Hy laat jou saam met Hom in 'n nuwe ewige lewe opstaan.
  • Hy maak jou ‘n burger van sy ewige koninkryk.

 

Ons Here Jesus Christus is die lewe!

 

Hy is die Alfa en die Omega, die begin en die einde van alles.

 

Daarom sê iemand soos die apostel Johannes:

 

Wie die Seun het, het die lewe. Wie die Seun van God nie het nie, het ook nie die lewe nie. (1 Joh. 5:12)

 

SLOT

 

Broeder en suster.  Kom ons som op deur te vra:

 

Wat verwag jy van die lewe?

 

Wil jy op ‘n gierige manier met ‘n materialistiese ingesteldheid alles uit die lewe uithaal?  Jy gaan teleurgesteld wees, want jy gaan een of ander tyd besef dit is alles net ‘n gejaag na wind. Dit is ‘n vuis vol moeite.

 

OF

 

Probeer jy met slim planne, goed uitgewerkte skemas en harde werk alles in die lewe insit?  Jy gaan ook teleurgesteld wees, want jy gaan agterkom dat dit alles tevergeefs is.  Dit is ook ‘n vuis vol moeite.

 

NEE

 

Lewe uit die oop hand van God!   ..... Hy gee Homself aan jou in die persoon van sy Seun Jesus Christus. 

 

Ek en jy moet in die lewe wat God ons uit genade gee, inklim.  Ons doen dit in navolging van Christus en onder leiding van die Heilige Gees......

 

Dan kry ons lewe betekenis en is ons bestaan sinvol.

 

                                  

                                                       AMEN

Read 2389 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek