Sosiale Skakels

Besoekers

We have 20 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Wednesday, 02 August 2017 16:40

Ps 51:12 en Mark 7:15 SKEP VIR MY 'N REIN HART O GOD

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: PSALM 51:1 - 15 & MARK 7:1 - 8 & 14 - 23

TEKS: PS 51:12 EN MARK 7:15

 

SKEP VIR MY ‘N REIN HART O GOD

 

Hoe dink u?   Waar kom sonde vandaan?

 

Is sonde iets wat jou lewe van buite af indring en besoedel?

 

Kan ons sê die sonde was binne-in die vrug wat Eva daar in die Paradys geëet het?  Met ander woorde, is sonde iets soos 'n slang wat jou pik se gif wat jou liggaam aantas en siek maak?   

 

Sommige mense verstaan dat sonde iets is wat van buite af in jou inkom en jou besoedel. Daarom dink hulle is jy self in staat om die sonde van jou af weg te hou as jy jouself van die wêreld afsonder. Hulle dink sonde is iets wat jou van buite af besoedel.

 

Dit is die rede waarom die nonne en die monnike van die Roomse Kerk hulleself vandag nog steeds in kloosters gaan toesluit.  Hulle glo dat jy jou van sonde kan afsonder met hoë klipmure en sterk traliehekke.  Mense het selfs so ver gegaan om ver in die oop see op 'n verlate eiland te gaan woon sodat hulle nie met sonde besoedel sal raak nie.

 

Maar ons weet mos jy kan nie van die sonde af wegvlug nie.  Daar is juis verskeie gruwelstories oor die verskriklikste sondes wat agter die klipmure en traliehekke van die kloosters aan die gang was en steeds is. Nieteenstaande die feit dat hierdie mense hulleself geheel en al van die samelewing onttrek, kan hulle nooit van die sonde af wegkom nie!  

   Waarom nie?   

 

1. SONDE KOM VAN BINNE AF

 

Broeder en suster, ek en jy dra ons sonde saam met ons.  Ja, ons sonde gaan oral waar ons gaan. Daarom sal dit nooit help  om in ‘n klooster of op ‘n eiland te gaan wegkruip nie. Die feit van die saak is: Elke mens is boonop reeds van voor sy geboorte af 'n sondaar.  

 

In Ps. 51 bely Dawid:

 

“Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het”.

 

Terwyl sommige mense dink jy kan in ‘n klooster of op ‘n eensame eiland vir die sonde gaan wegkruip, is daar weer ander mense wat dink jy kan die sonde met ‘n klomp wette en reëls inperk.  Stel jou nou voor:  As dit kon werk, sou ‘n mens waarskynlik met meer reëls en strenger wette ‘n beter sameklewing kon skep.

 

Dit is presies wat die Fariseërs en Skrifgeleerdes destyds probeer doen het. En juis daarom het hulle so ‘n groot probleem met die Here Jesus gehad.  Hy en sy dissipels het gedurig hulle oorgelewerde gebruike, reëls en wette oortree.  Blykbaar het daar selfs Skrifgeleerdes en Fariseërs spesiaal op die Here Jesus en sy dissipels gespioeneer.  Hy was vir hulle met hulle wettiese godsdiens ‘n bedreiging en doring in die vlees daarom het hulle rede gesoek om Hom uit die pad te kry.

 

Op 'n stadium kry hierdie afvaardiging van spioene toe wel tog iets om Jesus mee aan te val.  Hulle het raakgesien dat  party van sy dissipels eet sonder dat hulle vooraf hulle hande op 'n bepaalde seremoniële manier gewas het. 

 

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes was baie begaan oor hulle reinigingsgebruike. Hulle het gedink omdat jy gedurig met jou hande aan besoedelde en onrein voorwerpe vat, is jou hande onrein.  As jy byvoorbeeld van die markplein af in jou huis inkom, moes jy eers jou hande en voete was. Voor ete moes jy weereens volgens 'n bepaalde seremonie jou hande was. As jy dit nie doen nie, so het hulle geglo, kom die sonde in jou liggaam in.

 

Om suiwer higiëniese redes was ons ook ons hande voor ete, maar hierdie handewassery van die Fariseërs was nie om higiëniese-, maar om godsdienstige redes.

 

Die Here Jesus reageer op hulle aanval oor die handewassery. Hy sê:

 

“Niks wat van buite af in 'n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit 'n mens uitkom, dit maak hom onrein”.

 

Luister wat sê Hy verder in vers 20:

 

“Wat van binne af uit 'n mens kom, dit maak 'n mens onrein. Van binne af, uit die hart van die mens kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak 'n mens onrein.”

 

Sien u waar is die oorsprong van die sonde!  Alle sonde begin binne-in die mens - by jou gedagtes!  Jy dink eers oor die sonde en dan begin jy dit doen.

 

By die sondeval het Eva nie besoedel geraak eers toe sy van die boom geëet het nie. Nee, haar sonde het al vroeër in haar hart ontstaan.  Haar gedagtes en begeertes het haar na die sondedaad van ongehoorsaamheid gedryf.

 

Luister hoe beskryf Jakobus die proses in sy brief:

 

“…’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort”(Jak1:14 en 15)

 

As ek en jy dalk dink dat ‘n mens deur reëls van jy moenie dit nie en jy mag nie dat nie van die sonde bevry kan word, maak ons 'n reuse fout!   

 

Paulus het juis hierdie benadering in die gemeente in Kolosse bestry deur aan hulle te vra:

 

Waarom gehoorsaam julle allerhande voorskrifte soos: Hieraan mag jy nie vat nie! Daaraan mag jy nie jou mond sit nie!  Daaraan mag jy nie raak nie? …..dit is maar net gebooie en leerstellinge van mense ... en het wel 'n skyn van wysheid……… maar dit het geen waarde vir die beteueling van die sondige drifte nie”     (Kol 2:20 – 23)

 

Ons sonde lê in ons sondige natuur ingeweef. Dit ontstaan hier diep binne-in jou hart. In jou wese.  Dit het te doen met die manier waarop jy dink. Dit gaan oor jou gesindheid. Dit gaan oor jou begeertes en jou drange. Die Here Jesus sê dit gaan oor die manier waarop jy na ‘n ander man of vrou kyk. Dit gaan oor jou begeertes. Dit gaan oor gierigheid of die wrok waarmee jy in jou gedagtes rondloop.

 

As ek en jy van ons sonde af wil wegkom, is daar net een manier!  ....... Ons moet van onsself af wegkom!  

 

Ek en jy moet van ons eie innerlike menswees, ons diepste wese, daardie deel waar die sonde woon, ontslae raak.......

 

Maar nou is die probleem: En ons kan dit nie self doen nie!!

Dit is menslik onmoontlik ......  

 

Daarom, as ons van sonde praat en hoe ons daarvan ontslae moet raak,  moet ons die tweede belangrike beginsel begryp.

 

2. DIE NUWE LEWE KOM VAN BUITE AF

 

Sonde kom van binne af en redding kom van buite af!  Ons kan nie self van ons sonde ontslae raak nie. Iets moet van buite af met ons gebeur.

 

Toe Adam en Eva se gedagtes en begeertes hulle sonde laat doen het, hardloop hulle uit skaamte vir God weg!  Ja, in plaas daarvan dat hulle hul probleem insien en na God soek, gaan kruip hulle toe mos weg....

 

Maar kyk wat gebeur dan: God kom na hulle toe! 

 

Van buite af kom ontferm Hy Hom oor hulle.  Adam en Eva het geen innerlike begeerte gehad om na Hom toe te gaan nie! Hulle redding kom van God af - wat na hulle gaan soek!

 

Ons het Ps 51 gelees. Na Dawid se owerspel met Batseba en die moord op haar man Uria, is dit nie Dawid wat na God toe gaan en by Hom vergiffenis gaan soek nie. Nee, hy gaan voort met sy lewe asof daar niks fout is nie. Hy geniet selfs sy verhouding met sy nuwe vrou Batseba.  

 

En dan is dit weer die Here wat vir Dawid kom opsoek. Die Here stuur sy profeet Natan na Dawid toe om hom tot 'n sondebelydenis te bring.

 

Broeders en susters. Hier het ons met die wese van die gereformeerde leer te doen.  Daarom moet ek en jy hierdie punt goed verstaan. 

 

In die Bybel is dit nooit die sondige mens wat vir God opsoek nie. Keer op keer is dit die Here wat die sondeverlore mens opsoek en hom lewend maak deur sy Gees.

 

Dit is God wat sy Seun na hierdie aarde toe stuur om ons te verlos. Ons redding, ons verlossing, kom nooit vanuit onsself nie. Ja, selfs ware bekering en ‘n nuwe lewe begin nooit by die mens nie. Dit is God wat by jou en my in ons sondeverlorenheid kom ingryp.

 

Dit is verder ook God wat sy Heilige Gees uitstort.  Dit is Hy wat Woordverkondigers uitstuur om ons te roep, soos Hy daar in die tuin van Eden na Adam en Eva geroep het.

 

Toe die Fariseër, Nikodemus, vir Jesus vra hoe 'n mens in die hemel kom, het Jesus geantwoord:

 

“As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie”  (Joh3:3)

 

Jy kan net deel word van God se koninkryk as Hy van buite af kom en jou sondige hart, deur die lewewekkende krag van sy Gees, kom verander. Dit is wedergeboorte.

 

En dan, broeders en susters, eers wanneer God jou 'n nuwe hart, gegee het, eers dan kan jy uit jouself tree.  Eers dan kan jy as 'n nuwe mens in Christus begin lewe.  .

 

Daarom sê Jesus in Luk 9:23:

 

“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis dra en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou”.

 

 

As ek en jy so deur die Heilige Gees verander is, begeer ons nie meer die dinge van die wêreld nie. Nee, dan dink ons aan die dinge daarbo waar God is. Deur die verlossingswerk van ons Here Jesus Christus word ons harte en ons gedagtes nuut. Die Here Jesus se verlossingswerk laat ons hele lewensbenadering, ons totale gesindheid verander.

 

Dan begin ek en jy onder leiding van die Heilige Gees met liefde, vreugde en vergewensgesindheid werk. Dan vermy ‘n mens  rusies en verdeeldheid en soek jy vrede en eensgesindheid.  Jy los jou selfsug en negatiwiteit en begin op 'n positiewe manier bou aan God se kerk en sy koninkryk.

 

Dan is jou hart en gedagtes nie op aardse rykdom en wêreldse plesier gerig nie, maar op die rykdom van God se koninkryk en die vreugde en vrede wat jy in Christus beleef.

 

SLOT:

 

Geliefdes, sonde kom nooit van buite af nie.  Sonde kom van binne af.  Dit kom uit 'n besoedelde hart vol selfsug en haat. 

 

Verlossing en 'n nuwe lewe kom nie van binne af nie, maar van buite af.  Dit kom van ons liefdevolle hemelse Vader wat sy Seun gestuur het om ons te verlos. Dit kom van God wat deur sy Gees nuwe lewe in ons dooie harte kom wek. 

 

Daarom moet 'n mens saam met Dawid bid: 

 

Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees

                                                                (Ps. 51:12)

 

As jy so, van buite, deur Christus verlos word, dra jy die vrug van die Gees tot eer van jou hemelse Vader.

                                                                  AMEN.

Read 2231 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek