Sosiale Skakels

Besoekers

We have 16 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 11 September 2017 05:37

2 Kor 5:17 NUUTGEMAAK OM TE DIEN

Written by 
Rate this item
(0 votes)

 SKRIFLESING:  2 KOR. 5:11 -19

TEKS 2 KOR 5:17

TEMA:   NUUTGEMAAK OM TE BEDIEN

As ‘n mens aan Christus behoort, het daar in jou lewe ‘n drastiese, ‘n radikale verandering plaasgevind. 

Die apostel Paulus sê:

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom...

Dit alles is die werk van God.   Hy het ons deur Christus met Homself versoen ......

Broeder en suster. Kom ons kyk hoe God op grond van sy liefde Hom oor ons ontferm.  Wat gebeur met ons in hierdie vernuwingsproses?

1.       ONS KRY ‘N NUWE WESE

In Romeine 12:2 praat die apostel Paulus van hierdie verandering wat plaasvind, hy sê:

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle VERANDER  .....

Die oorspronklike Griekse woord wat in ons Bybels hier met verander vertaal word, is die woord metamorfose.   

Dit vir ons nie so ‘n vreemde woord nie, want ons gebruik dit net so ook in Afrikaans om ‘n bepaalde proses van verandering te beskryf.   

Reeds op Laerskool leer ‘n mens mos van metamorfose.

Metamorfose is ‘n proses van gedaanteverwisseling.  ‘n Baie lelike en grillerige ruspe ondergaan deur metamorfose ‘n gedaanteverwisseling en verander sodoende in die mooiste vlinder.   Wie van ons het nie as kinders met sywurms geboer nie.  Daar sien ‘n mens hoe die wurm in ‘n papie en dan in ‘n mot verander.

Dit is ‘n soortgelyke proses, hoewel geestelik, waardeur ek en jy as Christene onder die kragtige leiding van die Heilige verander word.  Ons noem dit wedergeboorte. Deur die proses van wedergeboorte ondergaan ek en jy ook ‘n gedaanteverwisseling.  Dit is waarom die apostel Paulus sê:

Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens.

Met sy offer aan die kruis het ons Here Jesus gesterwe sodat dié wat in Hom glo, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.

Sodat ons kinders dit ook sommer beter kan verstaan, kan ons die mens se ou sondige bestaan vergelyk met die lelike wurm wat alles wat voorkom wil opvreet en vernietig.  Sulke wurms, weet ons mos, kan geweldig skade aan ‘n boer se oes aanrig. Daarom moet sulke wurms in die lande met gif bestry word.

Ons nuwe lewe as gelowiges kan weer met die van die mooi skoenlapper vergelyk word.  As die lelike wurm deur metamorfose ‘n gedaanteverwisseling ondergaan het, is dit ‘n insek wat deur almal bewonder word en wat baie nuttig is met die bestuiwing van blomme.

Sonder Christus is die mens se lewe ‘n wurmlewe.  So ‘n mens is sonder liefde vir God en daarom baie selfgesentreerd.  Sulke mense lewe met haat in hulle harte. Hulle sal ander mense se goed steel en hulle aanrand. Dit is mense wat moeilikheid veroorsaak.

As God jou egter deur die wedergeboorte ‘n gedaanteverwisseling laat ondergaan, sodat jy in die Here Jesus glo, verander jou lewe ‘n vlinderlewe.  Jy lok mense aan en jy is diensbaar. Jy dien God en jou medemens. Jy is dan liefdevol, vergewensgesind, vriendelik, diensbaar, nederig en betroubaar.

Wat beteken dit nou in die praktyk?

2.       ONS MAAK ‘N NUWE BEGIN

Wanneer God ‘n mens verander, maak Hy met jou ‘n nuwe begin. 

Ons teksvers sê:

Die oue is verby, die nuwe het gekom.

Luister wat sê Paulus aan die gelowiges in die gemeente van Efese. Hy praat met lidmate van die kerk:

In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.                               (Ef. 4:17 & 18)

Hy sê verder:

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het: breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as NUWE MENSE WAT AS DIE BEELD VAN GOD GESKEP IS .... (Ef. 4:22 & 23)

Die wedergeboorte laat ons verander. Ons ondergaan ‘n gedaanteverwisseling. Ons word nou BEELD VAN GOD.

Hierdie gedaanteverwisseling, waardeur ons nou ‘n nuwe beeld kry, moet ons goed verstaan, is nie die voltooide prentjie nie. Deur die wedergeboorte word ons wel saam met  die Here Jesus kinders van God, maar aanvanklik is jy nog geestelik jonk. Jy begin as ‘n baba in die geloof. Mettertyd groei jy geestelik tot ‘n kleuter en dan ‘n tiener.  As jy aanhou groei raak jy mettertyd volwasse in die geloof.

In ons elkeen se geloofsgroeiproses is daar ‘n pad om te loop.  Dit is soms ‘n moeilike pad. Die Here Jesus praat van die smal pad. Dit is ‘n pad waarop ons voor baie hindernisse te staan kom. Boonop is daar langs die pad die alewige verleiding van die wêreld. Dan is daar ook nog die voortdurende aanvalle van die satan.  Ons nuwe lewe is nie net maanskyn en rose nie. Dit verg voortdurende opoffering en volgehoue toewyding.  

Dink maar net weer aan die vlinder. Met sy gedaanteverwisseling het hy vlerke gekry en is versier met die mooiste kleure, maar nou is daar ook nuwe gevare: Voëls en koggelmanders wat graag vlinders vang.  En as daar sterk wind waai, kan dit die vlinder heel van koers af dwing.

Met ons nuwe lewe, wat ons uit genade van God ontvang het, moet ons as kinders van ons hemelse Vader lewe.  Ons het ‘n nuwe lewensbenadering en ‘n nuwe lewensdoel.

3.       ONS LEWE MET ‘N NUWE OPDRAG

Elke wedergebore kinder van God is, hoor sy stem.

Ek en jy ontvang ‘n nuwe opdrag. Luister wat sê Paulus aan die gemeente in Korinte:

Hy het Homself met ons versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. (Verse 18 & 19)

Die bediening van versoening.......

Versoening beteken dat ‘n mens  in ‘n nuwe verhouding lewe.  Waar daar voorheen onderlinge verskille en negatiwiteit bestaan het, is die verhouding deur ‘n proses van versoening herstel.

Ons Here Jesus het aarde toe gekom en in ons plek die straf op ons sonde kom dra. Hy het ons sonde met sy kosbare bloed kom afwas  - Dit het Hy kom doen om ons met God te versoen:

·         Waar daar, as gevolg van ons sonde, eers skeiding tussen ons en God was, is daar nou vrede.

·         Waar ons eers as vyande van God gelewe het, is ons nou kinders van God.

·         Waar ons eers haatlik opgetree het, is daar nou liefde.

Die feit dat ons in Christus, deur die kragtige leiding van die Heilige Gees die ware nuwe lewe kan beleef, vervul ‘n mens met ontsag.  Die Heilige Gees lei ons sodat ons God se grootheid, almag en heerlikheid kan sien en ervaar.

En dan verstaan ‘n mens ook iets van die opdrag wat ons kry.

Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou....

Ek en jy, wat ‘n gedaanteverwisseling ondergaan het en die nuwe lewe in Christus beleef, kry nou ‘n opdrag!

Ons dra die wonderlikste boodskap wat ‘n mens kan hoor. Ek en jy moet dit aan die mense, wat ons op ons lewenspad ontmoet, oordra. Die boodskap is:

Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! (vers 20)

In hierdie deurmekaar wêreld waarin ek en jy elke dag moet leef en ‘n bestaan probeer maak,  is dit die enigste boodskap wat mense hoop kan gee. Ons sien en ervaar elke dag hoe haat, geweld, rassisme en korrupsie die samelewing uit mekaar skeur....  Hierdie samelewing het versoening nodig!

Ek en jy, broeder en suster, is die draers van die boodskap van versoening. Dit gaan niks help as ek en jy saam haat en saam rassistiese uitsprake maak nie. Jy kan nie haat met haat probeer bestry of geweld met geweld wil beantwoord nie.

Versoening ...... Dit is die enigste boodskap wat mense aan ‘n nuwe lewe van liefde, vreugde en vrede bekendstel.

Versoening ..... is die enigste pad wat ‘n toekoms kan bou.

SLOT

Broeder en suster. Ons hemelse Vader het Hom oor ons ontferm. Hy het ons deur die wedergeboorte ‘n gedaanteverwisseling laat ondergaan. Ons het ‘n nuwe wese, ‘n nuwe hart gekry. So het ons met ‘n nuwe lewe begin, ‘n nuwe lewe van versoening. Nou het ek en jy ‘n opdrag: Ons moet hierdie boodskap van versoening in Christus onder die kragtige leiding van die Heilige Gees uitleef en dit uitdra.                                                             AMEN. 

Read 1987 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek