SKRIFLESING: EF 4:25 – 5:5
TEKS: EF 4:29
TEMA: LET OP JOU TAAL - DIT VERKLAP WIE JY IS
Elkeen van ons behoort sekerlik vir onsself die vraag te vra:
Pas my taalgebruik by my Christenskap?
Ons Here Jesus het mos op ‘n keer gesê:
Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.....
En toe gaan Hy verder:
Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart. (Matt 12:34 & 35)
Die apostel Paulus verduidelik in sy brief aan die gelowiges in die stad Efese dat elke Christen se taalgebruik deel van sy roeping is. Die punt is, broeder en suster
1. ONS GEBRUIK NIE VUIL TAAL NIE
Paulus sê: Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie...
Kom ons kyk eers wat kenmerkend van die gesprekke en kommunikasie van die ongelowige en goddelose mense is.
Hier is ‘n paar dinge wat uitstaan:
Die eerste kenmerk van die goddelose se gesprekke is dat dit oordadig en buite beheer is. Goddelose mense praat te veel en hulle praat ook sonder om eers te dink .... hulle is inderwaarheid gedurig aan die praat. As jy mooi oplet sal jy sien dat gelowige mense nie so baie praat soos ongelowiges nie.
Die tweede kenmerk van die goddelose se kommunikasie is dat dit byna uitsluitlik oor die persoon self gaan. So ‘n ongelowige is gedurig besig om op ‘n selfsugtige en selfgesentreerde manier homself op die voorgrond te plaas. Daarom sal jy sien hoe ‘n klomp ongelowiges almal op die selfde tyd probeer praat. Die selfgesentreerde mens kan nie wag dat iemand anders eers klaar praat nie. Nee, hy of sy val die ander sommer in die rede om ‘n woord in te kry.
As jy so ‘n klomp ongelowiges dophou. Sal jy sien hoe elkeen probeer om meer interessant en meer vermaaklik as die ander te wees. En dan juis om die aandag op die eie-ek te vestig. Net om bewonder te word. Die goddelose mens, en ook die onwedergebore mens, se gesprekke draai tot ‘n baie groot mate net om hom- of haarself.
Maar dan is daar nog ‘n derde kenmerk van die goddelose se gesprekke, en dit is die gebrek aan keurigheid. Paulus sê die goddelose se taalgebruik is grof, vuil, ligsinnig en waardeloos. Ons het soms mooi woorde om sulke taal te beskryf. Ons sê so ‘n persoon gebruik ‘n bietjie gekruide taal, maar intussen is die gesprek bloot net vulgêr, suggestief, grof en vuil.
Die probleem word deesdae al hoe groter. Jy het ‘n paar dekades terug kwalik gehoor dat iemand ‘n vloekwoord gebruik. Deesdae is dit anders. Jy hoor die lelikste woorde uit die mond van mense van wie jy dit die minste verwag. Selfs mense wat professionele posisies beklee en leiers in die samelewing is, vertel graag in geselskappe stories waarmee hulle die ander mense wil beïndruk. En hoe meer gewaagd en vulgêr hulle kan wees, hoe beter, want dan kry hulle mos meer aandag!
Hierdie vieslike taalgebruik is een van die beste bewyse hoe erg die samelewing wat met sonde besoedel is.
Vuil taal en growwe praatjies is kenmerkend van die onwedergebore mens. Die mens wat nog nie die nuwe lewe onder leiding van die Heilige Gees ken nie se taalgebruik verklap wie hy in werklikheid nog is.
Om weg te bly van growwe en vuil taal is een van die belangrikste kenmerke van ‘n gelowige. Vuil taal en growwe praatjies besoedel jouself en ook ander mense wat na jou luister.
Jakobus sê in sy brief dat die tong ‘n vuur is wat uit die hel aangesteek word. Hy sê dit is ‘n wêreld vol ongeregtigheid wat die hele mens besmet. En dan noem hy die tong ‘n rustelose kwaad vol dodelike gif.
Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie, sê Paulus, dit pas nie by jou as ‘n Christen nie.
Die volgende punt wat Paulus in ons teksvers aanraak is die positiewe. Hy sê:
2. ONS TAAL MOET GOED EN OPBOUEND WEES
‘n Christen se leefwyse is nie in die eerste plek ingestel op die negatiewe nie. Dit gaan nie oor dit mag jy nie doen nie en daaraan mag jy nie raak nie. Nee Ons Christelike leefwyse is positief.
Die evangelie bring lewe , nuwe lewe, en is daarom vol positiewe aktiwiteit en uitdrukking. Daarom sê Paulus:
Praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede.....
Wat moet dan kenmerkend wees van my gesprekke as gelowige?
Die eerste en belangrikste is dat my gesprekke beheersd moet wees. ‘n Klomp ongelowiges praat al hoe harder. Hulle val mekaar in die rede, hulle raak buite beheer en later word dit ‘n geskree op mekaar.
Ek en jy as Christen se tonge mag nooit buite beheer raak nie. Ons mag nooit so opgewonde raak dat ons nie meer verantwoordelikheid kan neem vir dit wat ons sê nie. Ja, ons moet dink voor ons praat, want ons manier van praat verklap wie ons is.
As Christene word uitgeken aan die feit dat ons nie onbeheers praat en ongedissiplineerd sê wat in ons gedagtes opkom nie. Ons wil liewer die lig van ons nuwe lewe in Christus uitstraal en in liefde by die waarheid bly.
Ons nuwe lewe in Christus is so vol aktiwiteit en uitdagings dat daar oor genoeg is om oor te praat. Daarom sê Paulus dat die gelowige se gesprekke nie ‘n ligsinnige gebabbel vol vuil praatjies moet wees nie.
Die tweede kenmerk van ons as Christene se gesprekke is dat dit nie selfsugtig en selfgesentreerd is nie. Ek en jy as gelowiges neem nie aan gesprekke deel om aandag te trek of onsself as bewonderenswaardig voor te stel nie. Ons doen dit nooit! Dit is die ou onwedergebore mens wat dit doen.
Ons as gelowiges se kommunikasie en gesprekke gaan oor die mense rondom ons. Kyk wat staan in vers 32
Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.
En in Hfst 5:2
Lewe in liefde, soos Christusons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as offergawe gegee het.
As gelowiges is ek en jy verantwoordelik om ons medemens op te bou. Ons gesprekke moet tot sy of haar voordeel wees. Ja, ons moet dinge sê wat opbouend is.
En dan gaan dit nie daaroor dat ons ander moet veroordeel en vir hulle moet preek nie. Nee, ons as gelowiges is nederig. Ons moet mos ons naaste liefhê en daarom is die volgende punt wat Paulus maak:
3. ONS TAAL MOET ANDER BEVOORDEEL
Dit gaan mos glad nie oor onsself nie! Dit gaan vir ons oor die Here en oor sy koninkryk. Oor hoe Hy ons Koning is en oor die wonderlike nuwe lewe wat ons onder leiding van die Heilige Gees ervaar.
Paulus sê ons gesprekke moet opbouend wees. Daar moet doel, betekenis en waarde in wees. Nadat iemand met jou en my as gelowiges gepraat het, moet hulle kan sê: Dit was nou ‘n goeie gesprek.
Verder moet ons gesprekke by die eis van die omstandighede pas.
As ek en jy met ‘n meerderwaardige houding iemand wil reghelp en dit dan met ‘n prekerige stem doen, gaan ons eerder mense afstoot. Ons moet met vriendelikheid en opregtheid iemand wat in nood is help en ondersteun.
Ek en jy moet eers probeer agterkom wat die situasie is waarin die persoon hom of haar bevind en dan nadat ons mooi gedink het op ‘n gepaste manier ‘n gesprek aanknoop.
Onthou dat jy nie met ‘n kleuter kan praat asof hy ‘n grootmens is nie en ‘n mens moet ook nie met ‘n oumens praat asof hy ‘n kind is nie.
Elke mens wat op jou pad kom is ‘n eie persoon met spesiale gawes en behoeftes. Elkeen moet met die nodige respek en met die liefde van die Here benader word.
Daar is elke dag mense op jou en my pad wat bemoediging, aanmoediging en vertroosting nodig het. En ons het die opdrag van ons Here en Koning om juis dit te doen.
Ek en jy moet soos ons Here Jesus optree. Hy het die eensames opgesoek die siekes bygestaan en die verdwaaldes teruggeroep. Hy het Hom oor die swakkes ontferm en die stukkendes se wonde verbind.
Soos wat ons deur hierdie lewe op reis is, moet ons mense langs die pad bystaan met ‘n woord van bemoediging, ons moet hulle opbeur, maar ook op ‘n sagmoedige wyse reghelp.
Ons het ‘n groot taak om met ons woorde die mense rondom ons te bedien. Ons gesprekke moet getuig van ware Christenskap en ‘n toegewyde lewe in diens van ons Koning. Hierdie werk kan ons nie uit eie krag doen nie, Daarom het God ons sy Gees gegee.
In vers 30 sê Paulus:
En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.
Die Gees van waarheid lei ons sodat ons in liefde die waarheid kan praat.
SLOT
Broeder en suster. Kom ons sluit af met die vraag waarmee ons begin het:
Pas my en jou taalgebruik by ons Christenskap?
Ek en jy moet goed op ons taal let, want dit verklap wie en wat ons is.
AMEN.