Sosiale Skakels

Besoekers

We have 14 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Wednesday, 22 November 2017 19:39

Matt 5:16 LAAT SKYN JOU LIG SODAT GOD VERHEERLIK KAN WORD

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:  MATT 5:1 – 16                                                                                                    TEKS: MATT 5:16

TEMA: LAAT SKYN JOU LIG SODAT GOD VERHEERLIK KAN WORD

Ons lewe in moeilike tye...... Dit klink dalk na ‘n cliché, maar ek twyfel of dit deesdae nog  as net maar ‘n cliché afgemaak kan word.  Mens kan sonder veel teëspraak sê dat dit in ons land glad nie goed gaan nie.  Mense is moedeloos en mense is bang.

Op politieke gebied was ons nog nooit in so ‘n duistere en chaotiese toestand nie.  Op finansiële gebied hang ons letterlik aan ‘n draadjie oor ‘n donker afgrond.  Haat en rassisme neem hand oor hand toe.  Misdaad is ook besig om die buite beheer te raak.

En dan vra mense:   Is daar lig in hierdie donker tonnel?

Sommige mense meen dat ons maar net kan hoop en bid dat  ‘n ander politieke party so gou moontlik aan bewind moet kom.  Ander meen weer dat ‘n nuwe eerlike president, selfs met die huidige regering, nuwe lig in hierdie duisternis kan bring.  Of dalk kan een of ander vorm van ‘n staatsgreep, soos tans in Zimbabwe, verligting bring.

Hoe ‘n mens ook al na die huidige situasie kyk, oor een ding moet ons saamstem:  As jy eenvoudig net op sosiaal-politiese vlak kyk, lyk die pad vorentoe beslis baie donker......     Daarom die groot en belangrike vraag: 

Hoe moet ek en jy as Christene die pad vorentoe aanpak?

Ons Here Jesus Christus gee in die gedeelte, wat ons saam gelees het, die antwoord as Hy sê:

Julle is die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld.

Toe die Here Jesus hierdie uitspraak gemaak het, was hy besig met sy sogenaamde bergrede. Hy het daar teen die berghang langs die see van Galilea met ‘n skare mense gepraat. Dit was gewone mense wat ook maar in donker tye geleef het. Hulle was polities onder die juk van die Romeine en op godsdienstige gebied het hulle swaar gedra aan die las wat die Fariseërs en Skrifgeleerdes op hulle gelê het. Ons het gelees hoe die Here Jesus met hulle begin praat het en gesê het:

Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.  Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word

Hy het mense bemoedig wat in ‘n donker tyd geleef het......

Maar kyk wat gebeur.  Hulle wat so vermoeid en belas was, kry ‘n verstommende opdrag: 

Julle is die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld ....

Kom ons kyk vanoggend wat dit vir ons prakties, juis in ons eie donker omstandighede, beteken om sout en lig te wees.  Ons gaan aan drie hoofpunte aandag gee:

·         Waarom moet ons sout en lig wees?

·         Hoe maak ons seker dat ons wél sout en lig is?

·         Wat is die regte manier om sout en lig te wees?

Kom ons kyk na die eerste punt

1.       WAAROM MOET ONS SOUT EN LIG WEES?

Met die beeld van sout en lig verduidelik ons Here Jesus presies wie ons is en wat ons moet doen.  Sout se werk is om sout te wees en lig se werk is om lig te wees.

As die Here ons met sout vergelyk, beteken dit dat ek en jy in die eerste plek soos sout aan kos smaak moet gee en in die tweede plek bederf moet teëwerk.

Wat lig betref, kom dit op presies dieselfde neer. Lig is veronderstel om lig in die donker te verskaf. Daarom sê Jesus: ‘n Mens steek ‘n lamp op en sit dit op ‘n lampstaander en dit gee lig vir almal in die huis.

Hier moet ons goed verstaan dat sowel sout as lig op geen manier ter wille van hulleself kan werk nie.  Sout en lig werk opofferend. Sodra ‘n mens sout in kos gooi, bemerk jy ‘n groot verskil aan die kos, maar die sout self het in die proses verdwyn. Met lig is dit dieselfde. Om lig te gee, moet daar brandstof wees. Om lig te kan gee verdwyn die olie in die lamp, die battery in die flitslig word pap en die elektrisiteit in die gloeilamp kos geld. Dit word opgebruik .....  Daar bly niks oor nie!

As ek en jy as Christene die opdrag kry om sout en lig te wees, moet ons verstaan dat dit oor opoffering en selfverloëning gaan.  Dit beteken ek en jy moenie iets uit ons Christenskap probeer kry nie. Christen-wees en diensbaarheid is gelyk aan mekaar.  Daarom noem Paulus homself ‘n slaaf van Christus.

Hier moet ons eerlik antwoord:  Is ek en jy regtig bereid om slawe te wees, om in die ware sin van die woord diensbaar te wees?  Ja, is ons bereid om die minste te wees?

As ek en jy nie bereid is om soos sout en lig diensbaar en selfopofferend optree te tree nie, raak ons situasie regtig onhoudbaar – inderwaarheid belaglik!  Kyk hoe verduidelik die Here Jesus dit. Hy sê:

‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie en  ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie.

Sowel die stad op die berg as die lamp op die lampstaander kan onmoontlik misgekyk word – almal sien dit raak!

Maar, sê die Here Jesus, as sout verslaan het, of te wel smaakloos geword het, beteken dit niks meer nie.  En as ‘n lamp onder ‘n emmer weggesteek word is dit ook nutteloos. Dit versmoor en gaan dood! 

Verstaan u die beeld wat die Here hier gebruik?  Inderwaarheid sê Hy dat daar in God se hele skepping, regtig niks so geheel en al nutteloos is,  soos ‘n naam-Christen nie.  Iemand wat hom of haarself ‘n Christen noem, maar dan tog nie as sout en lig is nie  - so ‘n mens maak ‘n bespotting van God se koninkryk.....

Die logiese volgende vraag  is nou:

2.       HOE MAAK ONS SEKER DAT ONS WEL SOUT EN LIG IS?

Die apostel Johannes verduidelik die Here Jesus se koms na hierdie wêreld soos volg:

Die ware lig, wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.                                                    (Joh. 1:9) 

Die Here Jesus sê:

Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee (Joh. 8:12)

Broeder en suster. Die enigste manier hoe ek en jy sout en lig kan wees, is as ons deur ‘n ware geloof in Jesus ingelyf is.  Hy is die lig vir die wêreld en as ons aan Hom vashou en Hom volg, lewe ons in sy lig.

Vandag hier aan die Nagmaalstafel, kry ons die opnuut die versekering dat ons aan Hom deel het.  Die brood wat ons eet en die wyn wat ons drink, word deel van ons. So, deur die kragtige werking van die Heilige Gees is Christus deel van ons, kom sy ware lig in jou en my lewe in. Dit verlig ons hele lewe. Dit ons lewend en gee vir ons geloof en liefde. Dit gee ons krag om toegewyd en diensbaar te wees.

Ons het nie self lig nie, maar ons lewe in die Here se lig .......

En dan is ek en jy mos weerkaatsers!

‘n Weerkaatser aan ‘n voertuig het mos geen krag of lig in homself nie. As ‘n mens egter in die donker met ‘n lig op daardie weerkaatser skyn, maak dit lig. 

Ons Here Jesus is die lig vir die wêreld en ons is sy weerkaatsers.  As mense na ons kyk, sien hulle die Here Jesus wat die lig is!

Kom ons vra nou die derde vraag:

3.       WAT IS DIE REGTE MANIER OM SOUT EN LIG TE WEES?

Ons Here Jesus sê: 

Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.

Die punt wat ons baie goed moet vashou, broeder en suster, is dat dit hier nie oor onsself of ons eie voordeel gaan nie.....

Ons kan net lig maak omdat die Here Jesus sy lig op ons laat skyn.   

Ander mense, wat saam met ons die donker van ons huidige bestaan beleef,   moet die lig sien wat ons so weerkaats. 

En kyk nou mooi:  Hierdie lig kry gestalte in ons geloof, liefde, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, nederigheid en selfbeheersing. Ja, die Heilige Gees lei ons om in hierdie wêreld ‘n radikale verskil te maak.

Ons as gelowiges probeer nie die kwaad van die wêreld met kwaad vergeld nie.  Ons oorwin die kwaad mos met die goeie.

·         As ons gevloek word, vloek ons nie terug nie. Nee ons antwoord met ‘n seën.

·         As iemand ons op die linker wang slaan, draai ons die regterwang.

·         As ons vyande honger het, gee ons hulle iets om te eet en as hulle dors is, iets om te drink. 

·         Ons ag ander mense hoër as onsself.  

·         Ons probeer, voordat ons reageer, altyd eers vra: “Wat wil die Here hê moet ek doen?”

Op die manier is ons sout en lig. Op die manier, sien ander mense ons goeie werke.  Mense sien wat ons doen, hoor wat ons sê en kom agter wat ons gesindheid is.  Hulle verstaan dan dat ons burgers van God se koninkryk is en dan kry ons Vader wat in die hemel is al die eer.

SLOT

Vandag se beginsel uit die Reformasie is:

Soli Deo Gloria  -  Alleen aan God die eer.

Omdat ons in ware geloof saam met ons Here Jesus loop, skyn sy lig op ons. Ons word sy weerkaatsers. 

In hierdie donker wêreld waarin ons ons tans bevind, is dit die enigste ware lig.  Ons hoor gereeld die versugting:

Kan iemand nie tog iets aan die politieke gemors, die finansiële krisis en die deurmekaar samelewing doen nie?

Broeder en suster, iemand kan.  ……..  Daardie “Iemand“ is ek en jy.

En as ek en jy niks doen nie, is ons die naam Christen nie werd nie …. Dan is ons sout wat verslaan het ....... en lampe onder emmers …….

Vandag kry ons aan die Nagmaalstafel die versekering dat Christus in ons woon. ................  Hy het ons lewe kom belig.

Daarom kry ek en jy vandag weer ons duidelike opdrag:

Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is verheerlik.

Ek en jy moet mense met woord en daad na ons Here Jesus toe lei.

                                                                                              AMEN.

Read 3525 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek