Sosiale Skakels

Besoekers

We have 7 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Tuesday, 13 February 2018 05:04

2 Pet 1:5 -7 JY IS GEROEP - GAAN MAAK NOU JOU IMPAK

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: 2 PET 1:1 - 11

TEKS: 2 PET 1:5 – 7      

JY IS GEROEP -- GAAN MAAK NOU JOU IMPAK!

 

Vir die jongmense wat vanoggend hulle geloof bely, sal hierdie dag altyd as ‘n baken uitstaan -  ‘n dag om te onthou!

Met ons almal as getuies, gaan hulle bely dat hulle die beloftes wat die Here by hulle doop aan hulle gemaak het, nou self gaan aanvaar. Destyds toe hulle as babas gedoop is, was hulle te klein om te verstaan wat met hulle gebeur. Intussen het hulle ouers, ook met behulp van die gemeente, hulle geleer wie God is en wat dit beteken om sy kind te wees.

Nou het die tyd aangebreek waarop hulle elkeen, met ons almal as getuies, openlik gaan verklaar: 

                        Ek glo in die Drie-Enige God....Vader, Seun en           Heilige Gees..

Maar:             Wat beteken dit nou in die praktyk?

Ons som dit op met die tema:

            JY IS GEROEP -- GAAN MAAK NOU JOU IMPAK!

In rugby praat ons van impak spelers. Dit is die spelers wat op ‘n sekere stadium op die veld gestuur word om ‘n duidelike verskil in die wedstryd te maak.

As ‘n mens sê dat iemand impak maak, beteken dit dat die persoon ‘n duidelike invloed uitoefen en daarom ‘n positiewe verskil maak.

Broeder en suster ons opdrag as gelowiges is om in die samelewing impak te maak. Ja, ek en jy moet elke dag van ons lewe ‘n duidelike verskil in ander mense se lewens maak.

Die apostel Petrus het destyds aan gelowiges geskryf wat onder geweldige moeilike omstandighede moes leef. As gevolg van  vervolging deur die heidene was hulle nie aldag hulle lewe seker nie.  En dan was daar boonop dwaalleraars wat met verdraaide opvattings oor die Skrif hulle laat twyfel het.

Hoe het die apostel Petrus daardie gelowiges in hulle omstandighede bemoedig en ook aangemoedig?  

Luister wat sê hy vir die mense in hulle moeilike omstandighede:

                        Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat nodig    is om te lewe en Hom te dien.   

Hierdie mense moes hoor dat God aan hulle ‘n baie spesiale en unieke geskenk gegee het!  

Wat is die geskenk?  Die geskenk kan in een woord saamgevat word naamlik ......  GELOOF !

Broeder en suster. Geloof maak ‘n mens anders. Dit maak jou ‘n impakspeler in die samelewing!

As ‘n rugbyspeler op die veld gaan om ‘n impakspeler te wees, moet voluit gaan, maar uiteraard binne die reëls van die spel.

Petrus bemoedig die gelowiges deur hulle daarop te wys dat hulle ‘n verskil in die samelewing maak. Hy sê dat hulle hulle geloof moet verryk. Hoe doen ‘n mens dit? Hoe verryk jy jou geloof?   Daar is veral drie dinge wat uitstaan:

AKTIVEER JOU GELOOF

ONTWIKKEL ‘N NUWE INGETELDHEID

WERK AAN JOU VERHOUDING MET ANDER MENSE

Kom ons kyk in die eerste plek

 

1.  AKTIVEER JOU GELOOF    

 

Om net te sê jy glo, en selfs hier voor in die kerk te kom staan en sê jy glo, beteken regtig nie veel nie.

Geloof moet verby die praat kom. Geloof moet aktief word. 

Dit beteken daar moet dade wees. Geloof wat net by praat bly en nooit dade word nie, is ‘n dooie geloof, ‘n nikswerd geloof.

Daarom is die vraag:  Hoe kry  ʼn mens jou geloof aktief? 

Petrus sê jy moet jou geloof verryk. Jy moet jou geloof aktiveer:

            Om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle     geloof te verryk met deugsaamheid ....

Wat is deugsaamheid?  Deugsaamheid het met aksie te doen.  Dit beteken dat jy doen iets. Jy sit energie en aksie by jou geloof. Ons moet mooi verstaan: ʼn Leunstoelgeloof gaan jou nêrens bring nie.  Jakobus skryf in sy brief skryf dat geloof wat nie tot dade oorgaan nie,  ʼn dooie geloof is. Dit beteken net mooi niks.

Eers as jy as gelowige begin om dinge te doen, soos onder andere om mense in nood te ondersteun, die wat hartseer is te vertroos en die wat verdwaal is, op die regte pad te help en die wat eensaam is te besoek dan verryk jy jou geloof.

Maar dan kom die mooie. Dit bly nie net by dade nie.  ‘n Lewende geloof is ook ‘n honger geloof. Dit ontwikkel ‘n behoefte aan meer kennis. Daarom sê Petrus jou geloof wat met deugsaamheid verryk is, moet nou nog verder verryk word met kennis.  Jy ontwikkel ‘n begeerte om jou in die Skrif te verdiep sodat jy verder kan groei.  Jy gebruik elke geleentheid om die Skrif op jou eie, maar verder ook saam met medegelowiges te bestudeer.

‘n Lewende geloof is ‘n daad geloof en daarom ‘n honger geloof. As daar geloofsgroei is, sal daar ‘n voortdurende begeerte na meer kennis wees.

En dan, in die proses, kom jy agter

 

2. JY ONTWIKKEL ‘N NUWE INGESTELDHEID

 

Hierdie nuwe ingesteldheid gaan met selfbeheersing gepaard. As jy jou aktiewe geloof met kennis verryk, begin jy al hoe meer verstaan wat God se wil vir jou lewe is. En dan tree jy met selfbeheersing op. Jy word nie dan meer soos die ongelowige mense deur jou selfsugtige begeertes gedryf nie.  Nou lewe jy as navolger van die Here Jesus Christus. Hy is jou Koning. Hy gee die pas aan waarvolgens jy lewe.

En dit vra natuurlik ‘n volgende ingesteldheid, naamlik volharding. Ons geloofslewe word nie sonder rede so dikwels met ‘n wedloop, soos ‘n marathon, vergelyk nie.  Onder leiding van die Heilige Gees volhard ek en jy op die geloofspad. Aanhou en uithou. Al word jy moeg en al val die satan en sy bose magte jou aan en al wil die wêreld jou tot sonde verlei. Jy hou uit en jy hou aan.

Maar daar is nog meer.  ʼn Aktiewe geloof wat ook duidelik impak maak het altyd met verhoudings te doen.  Daarom moet ek en jy

 

3. WERK AAN JOU VERHOUDING MET ANDER

 

Die eerste woord wat Petrus hier noem is godsvrug.

Ons Here Jesus het mos  gesê dat ‘n lewende geloof soos ‘n goeie boom is wat goeie vrugte dra. Paulus noem hierdie godsvrug die vrug van die Gees. Ons lees daarvan in Gal 5:22:    Die vrug van die Gees is .... liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en         selfbeheersing ...

 

ʼn Godvrugtige lewe word sigbaar in verhouding met ons medegelowiges, Petrus noem dit ons liefde vir mekaar.

Maar liefde vir mekaar is ook iets wat groei en verder ontwikkel. Jou geloof laat jou nie net jou medegelowige liefhê nie. Daardie geloof wat in liefde gestalte kry word verryk sodat dit groei tot liefde vir alle mense – Ja, selfs jou vyande!

Daarom, as Paulus aan die gelowiges in Rome skryf, sê hy dat ‘n Christen se geloof gestalte kry in die feit dat hy of sy kan bid vir diegene wat hom of haar vervolg. Verder kan ‘n gelowige ander mense se vloek met ‘n seën beantwoord.  As gelowiges kan ek en jy selfs vir ons vyande wat honger is, kos geen en water as hulle dors is.

Liefde, broeder en suster, is die sigbare bewys dat ons geloof uiteindelik grond toe kom!

Die Here Jesus sê as ek en jy  ʼn verskil in ander mense se lewens maak, het ons dit vir Hom gedoen!  Daardie een wat hartseer was en jy toe vertroos het en daardie een wat honger was en jy toe kos gegee het .... Die Here Jesus sê jy het dit aan Hom gedoen...

Vandag gaan julle jongmense openlik julle geloof bely, maar onthou:

As jy nie jou geloof verryk nie, gaan jy nie kan vorder nie. Dan is die gevaar groot dat jy met  ʼn dooie geloof opgeskeep gaan sit.  En  ʼn dooie geloof is net so min werd soos geen geloof!  Nee, dit is nog erger!  ‘n Dooie geloof gaan jou in die ewige verderf laat beland.

Kom ons vergelyk dit met ‘n boom. Jy plant mos ‘n boom en versorg dit met die verwagting dat dit vrugte sal dra.

So plant die Here deur die lewewekkende krag van die Heilige Gees geloof in jou hart. En, sê Petrus, daarmee gee Hy aan jou en my alles wat nodig is om te lewe en Hom te dien.

Die Here verwag dan dat ons sal groei en vrugte dra.

Hy wil ons groei en die goeie vrugte in ons lewe sien.....

Omdat ons sy kinders is, is ons sy verteenwoordigers hier in ons samelewing.

Hy stuur ons uit om impakspelers te wees.

Ek en jy moet elke ‘n verskil in ander mense se lewens maak.

Dit is waarom Hy geloof in ons harte geplant het!

 

SLOT

Kom ons sluit af.

Die Here het reeds voor die skepping vir Hom bepaalde mense uitverkies. Hy het ons uitverkies om in sy se span te wees.

Hy kies egter nie op grond van ons prestasies of selfs ons potensiaal gekies nie. 

Nee, Hy kies uit genade.... Hy kies ons nie omdat ons glo nie, maar wel SODAT ONS SAL GLO.

Daarom lees ons dat geloof ‘n gawe is, ‘n geskenk van God.

En hierdie geloof as geskenk is alles wat nodig is om te lewe en Hom te dien.

Vanoggend bely hierdie jongmense dat God aan hulle hierdie gawe gegee het.

Hierdie geskenk van geloof moet nou gebruik word om te lewe en God te dien.

Ons elkeen, wat al ons geloof bely het, het belowe dat ons, soos God dit van ons elkeen verwag, ons God en ons medemens sal dien.  

In die lig van ons voorbereiding vir Nagmaal, moet ons elkeen onsself die vraag afvra:

            Hoe lyk die impak wat ek maak?

Onthou:

             Ons Christelike lewe begin by geloof en groei tot liefde!

 

                                                          AMEN.

Read 2165 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek