Print this page
Monday, 16 July 2018 08:33

1 Joh 4:7 & 8 DIE HERE SE GEMEENTE IS VOL LIEFDE

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: 1 Joh. 4:7 – 21

TEKS: 1 Joh. 4:7 & 8

TEMA: DIE HERE SE GEMEENTE IS VOL LIEFDE

 

 

As  ʼn vreemdeling  vanoggend hier buite net voor u by hierdie erediens ingestap het, aan u sou vra:

 

Ek wil vandag hierdie erediens bywoon, maar sê my eers:

 

Wat is die uitstaande kenmerk van die hierdie gemeente?”

 

Broeder en suster.  Wat sou jy die vreemdeling antwoord?  

 

Verskillende lidmate sal seker verskillende antwoorde kon gee.    Kom ons formuleer dan die vraag so ‘n bietjie anders: 

 

Wat wil ons Here Jesus Christus hê moet die uitstaande kenmerk van hierdie gemeente wees?

 

Ons Here Jesus Christus is die Hoof van die kerk. Dit wat Hy van sy kerk verwag, is sekerlik die belangrikste. 

 

En wat Hy in sy kerk wil sien, is LIEFDE!

 

Toe die Fariseërs en Skrifgeleerdes Hom destyds met die wet gekonfronteer het en Hom gevra het: Wat is die grootste gebod?   Wat was sy antwoord?  LIEFDE!

 

En so was dit nog altyd, selfs in die Ou Testamentiese tye, die Here wil hê dat ons bo alles sal LIEFHÊ.

 

In 1 Kor. 13 lees ons dat die grootste en allerbeste gawe wat God aan sy kerk gegee het, juis die LIEFDE is.   En in ons teksgedeelte in vers 16 lees ons selfs: 

 

GOD IS LIEFDE.... 

 

En Hy verwag dat ons optrede ook deur absolute liefde gekenmerk sal wees .....      Maar nou is die vraag: 

 

            Is daar genoeg liefde in die gemeente?

Of anders gestel: 

            Is liefde die uitstaande kenmerk van die kerk?

 

Die kerk, seker ook hierdie gemeente, word al te dikwels van liefdeloosheid beskuldig, want

 

1. ONTROUES VERANDER GOD SE OPDRAG

 

God se doel met die liefdesopdrag is juis dat sy volk hulleself duidelik van alle ander mense moes onderskei. 

 

Sedert die Ou Testamentiese tyd moes God se verbondsvolk anders wees, uniek wees, heilig wees......

 

Maar Israel het ontrou geword. Hulle het nie hulle lewenswyse op die vaste grond van liefde gebaseer nie.  Hulle God se liefdeswet in  hulle eie koue, en meestal harde klomp reëls en gebruike gaan inforseer.  

 

Sien u?  Die leiers binne die verbondsvolk verander God se wet wat met LIEFDE gespel word, na een of ander mensgemaakte godsdiens met ‘n klomp reëls en gebruike wat hulleself uitgedink het. Hulle dien die Here op hulle eie manier  ...... reëls en gebruike in plaas van liefde!

 

Daarom verbaas dit mens nie as die Here in Maleagi 1:10 sê: 

 

Was daar maar iemand onder julle wat die tempel se deure wou toesluit, sodat julle nie my altaar tevergeefs aan die brand hou nie!  Ek hou nie van julle nie, sê die Here die Almagtige, en Ek wil nie  ʼn offer van julle hê nie .....

 

En dan bly die Here vir 400 jaar lank stil. Hy stuur nie ʼn profeet nie.  Hy wil nie met sy volk praat nie .....

 

Maar dan na eeue se stilte, stuur die Here weer ‘n profeet. Hy stuur Johannes die Doper om te sê die Here se Koninkryk het naby gekom. Die Here hou sy beloftes en Hy bly nie vir altyd kwaad nie. Hy ontferm Hom altyd weer oor sy verbondsvolk.  

 

2. GOD SE SEUN HET SY LIEFDE NA ONS GEBRING

 

Ons almal weet mos wat in Joh. 3:16 staan:

 

God het die wêreld so LIEFGEHAD dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

 

Maar kyk nou na die verbondsvolk, die Jode, se reaksie.  Die leiers van die volk, die Joodse raad en die Skrifgeleerdes verwerp  die Here Jesus!  Hulle sweep die volk op en lewer hom oor om gekruisig te word.

 

Waar God bloot uit genade en ontferming in die Persoon van die Seun na hulle kom om verhouding van liefde te vestig, gaan maak hulle Hom dood!  .......  Hulle soek ‘n godsdiens vol wette en reëls.

 

Is dit nie ironies nie, broeder en suster? Die Jode het die Verlosser wat God vir hulle stuur, letterlik doodgemaak. 

 

Maar laat ons nie te vinnig oordeel nie........ Wat doen ek en jy met ons Verlosser?

 

Hy is immers vandag steeds die verpersoonliking van God se liefde.  Daarom sê die Here vandag hier vir ons deur die apostel Johannes:

 

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is  ʼn kind van God en ken God.

 

Die Here verwag dat vernaamste kenmerk van ons as gemeente LIEFDE sal wees! ......  Liefde wat, net soos God gedoen het, met die daad bewys word.

 

Daarom is die wesenlike vraag vanoggend aan ons:

 

Hoe lyk die liefde in hierdie gemeente?  Nie watter spesiale reëls en gebruike en gewoontes het ons nie....

 

Hoe lyk ons liefde vir die Here?  Waaraan kan buitestaanders dit meet?

 

  • Kan ander dit sien aan ons gemeente se erediensbywoning?  Is daar nie te veel lidmate wat sommer maklik ‘n erediens of drie oorslaan nie? 
  • Ons toewyding om as gelowiges saam te kom om te bid en mekaar op te skerp?  Is daar nie te veel lidmate wat maar tevrede is met net  ‘n erediens nou en dan en dan niks meer nie. Geen kleingroep, gebedsgroep of diensgroep nie.
  • En wat van ons dankoffers?  Meer as die helfte van die gemeente se dankoffers aan die Here is regtig ver onder die merk.
  • Hoe lyk ons bereidwilligheid om in die gemeente diensbaar te wees?  Wat van al die verskonings? Is ander dinge nie meesal belangriker as dienswerk vir die Here nie?

 

Hoe lyk ons liefde teenoor ons naaste? Wat sien buitestaanders as hulle na jou en my kyk?

 

  • Sien hulle hoe ons mekaar ywerig besoek, bemoedig en vermaan of sien hulle hoe elkeen maar sy eie ding doen?
  • Sien buitestaanders dat ek en jy persoonlik by armes en eensames betrokke is?
  • Het jy nie maar gewoonlik ‘n verskoning as daar gevra word dat jy moet help om liefde binne of buite die gemeente te betoon nie?

 

Broeder en suster, die feit van die saak is:

 

3. AS MENS SONDER LIEFDE IS, IS JY SONDER GOD

 

Kyk wat staan in vers 8:

 

            Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie,        want God is liefde.

 

Ja, liefde is die allesoorheersende kenmerk van die kerk van Christus.    .........     Maar hoe lyk ware liefde?

 

Liefde is nie maar een of ander gevoel hier binne-in jouself nie.  Liefde is dade!!!

 

In 1 Kor. 13 beskryf die apostel Paulus die liefde vir ons juis in terme van dade:

            “Die liefde is geduldig,

            die liefde is vriendelik;

                        dit is nie afgunstig nie,

                        is nie grootpraterig nie,

                        is nie verwaand nie.

            Dit handel nie onwelvoeglik nie,

            Soek nie sy eie belang nie,

            Is nie liggeraak nie,            

                        Hou nie boek van die kwaad nie

            Dit verbly hom nie oor onreg nie,            

maar verheug hom

oor die waarheid

            Dit bedek alles

            glo alles

            hoop alles

            verdra alles”......

 

Broeder en suster. Sien ek en jy hierdie liefde in ons eie lewe?  Sien ons hierdie liefde in mekaar se optrede?

 

In vers 20 staan:

As iemand sê: ‘Ek het God lief’ en hy haat sy broer, is hy  ʼn leuenaar, want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie.

 

Verstaan u wat die Here hier in sy woord vir ons sê?  As  ek en jy sonder liefde teenoor ons medegelowiges is, is ons ook nie lief vir die Here nie!

 

Kom ons maak dit baie prakties: 

 

Al kry ons elke Sondag die wonderlikste en suiwerste prediking, en al het ons die mooiste gebruike en seremonies in ons eredienste, en al besoek die predikant, ouderling en diaken die lidmate op ‘n gereelde, basis beteken dit nog nie dat ons ‘n gemeente is soos die Here van ons verwag nie....

 

Ons kan ‘n vol program hê en allerhande dinge doen wat ons baie besig hou, maar sê die Here, as ons nie die liefde het nie, is ons niks nie ...  Niks meer as ‘n klomp leë blikke wat baie geraas kan maak nie....... 

 

Dan kan die Here seker ook vra:  Is daar nie iemand wat tog die deure wil sluit nie.

 

Ons kan slegs ‘n lewende gemeente wees as ons die Here regtig bo alles liefhet. As ons onder leiding van die Heilige Gees graag die Here in die erediens ontmoet en Hom graag op ‘n praktiese manier deur die week ook dien en aanbid.

 

Die Here verwag dat ons onder leiding van die Heilige Gees Hom werklik eerste sal stel en ook ywerig in ons liede vir ons naaste sal wees. 

 

SLOT

 

Kom ons gaan vandag hier uit en dan gaan dink ons ernstig oor ons liefde?

 

Daar is ‘n hele klomp lidmate wat wél so hulle liefde vir God en liefde vir hulle naaste uitleef, maar daar is tog ook so baie wat dit nie doen nie.

 

Daarom weer die vraag:  

 

            Hoe is my en jou liefde teenoor die Here sigbaar         en waaraan sal buitestaanders my en jou liefde vir ons naaste kan sien?

 

                                                                 Amen.

Read 1193 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Latest from Danie de Kock

Login to post comments