SKRIFLESING: 1 TIMOTEUS 3:1 – 13
TEKSVERSE: 1 TIMOTEUS 3:1 & 13
OUDERLING EN DIAKEN – VERWERF ‘N EERVOLLE PLEK DEUR VOORTREFLIKE DIENS
Ons teksverse vanoggend beskryf die reaksie op die dienswerk van ouderlinge en diakens.
Die apostel Paulus sê: Ouderlingdiens is ‘n voortreflike werk
En
Goeie Diakenswerk besorg aan die persoon ‘n eervolle plek in die gemeente.
Beide die Ouderling en Diaken se werk word met woorde beskryf wat met eer, aansien te doen het.
Net weet hoofstukke verder in hierdie brief aan Timoteus sê Paulus:
Die ouderlinge wat goeie leiding gee, behoort dubbele erkenning te kry, veral dié wat hard werk deur te preek en onderrig te gee. (1 Tim 5:17)
Die apostel Paulus verduidelik onder leiding van die Heilige Gees hoe belangrik Ouderlinge en Diakens se dienswerk in die gemeente is en dat dit daarom ook hoog geag word.
Broeders en susters, vanoggend wil die Here ons in die eerste plek laat verstaan:
- OUDERLINGE EN DIAKENS DOEN DIENSWERK TOT WELSYN VAN AL DIE LIDMATE
Die Here roep bepaalde mense om sy gemeente te versorg en toe te rus sodat die gemeente as liggaam van Christus kan funksioneer. Elke Christelike gemeente moet so lewe en so optree dat die lidmate self sowel as ander mense in die samelewing die Here Jesus Christus kan ervaar. Sy verlossingswerk moet in mense gesien word en die helder lig van sy woord moet uitgestraal word sodat mense wat in die duisternis van die sonde vasgevang sit die lig kan sien. Die Here se liefde is natuurlik die grondslag van hierdie nuwe lewe en dit moet sowel binne as buite die gemeente gestalte kry.
Paulus noem die gemeente graag die LIGGAAM VAN CHRISTUS. Luister hoe praat hy in sy brief aan die gemeente in Efese:
.... ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas bymekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde. (Ef. 4:15 & 16)
Om so as liggaam van Christus te kan funksioneer en groei, moet die lewe in die gemeente op ‘n volgehoue basis onderhou en geaktiveer word.
Die Ouderlinge is die opsieners, toesighouers of te wel bestuurders in die gemeente. Hulle moet as die kerkraad die leiding in die gemeente gee.
Om by die liggaamsbeeld van Paulus aan te sluit kan ‘n mens die ouderlinge met die senuweestelsel vergelyk. Die senuweestelsel verbind die hoof (die brein) met die res van die liggaam. Al die bevele wat die brein gee, word deur die senuweestelsel na die res van die liggaam deurgegee.
As daar as gevolg van ‘n besering of siekte een of ander probleem met die senuweestelsel ontstaan, kan dele van die liggaam nie meer funksioneer nie. So kan ‘n spinale- of te wel rugsenuwee besering die hele onderlyf verlam. ‘n Senuwee besering kan ook liggaamsbeweging belemmer sodat ‘n persoon spasties kan raak.
Wat die diakens betref. Die dienswerk van die diakens kan weer met die bloedvatstelsel in die liggaam vergelyk word. Die bloedvatstelsel sorg dat die lewegewende bloed met die nodige voedingstowwe by die verskillende ledemate van die liggaam uitkom. As mens deesdae met byna enige mediese ondersoek te doen kry, is bloedtoetse van die eerste dinge wat gedoen word. Die diakens in die gemeente sorg dat die liggaam gesond bly. In die formulier vir die bevestiging kry word hulle die opdrag om te sorg dat niemand in die gemeente deur armoede, eensaamheid, ouderdom, siekte of om ander redes van die geloofsgemeenskap vervreem raak nie.
Maar kom ons kyk na die Ouderling en Diaken se werk in die praktyk.
- OUDERLINGE EN DIAKENS RUS DIE LIDMATE TOE TOT DIENS
In Ef. 4:11 & 12 staan:
En dit is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was OM DIE GELOWIGES TOE TE RUS VIR HULLE DIENS en vir die opbou van die liggaam van Christus.
Christus se liggaam moet lewe. Daarvoor is daar ‘n ouderlinge wat die senuweestelsel vorm en diakens wat die bloedvatstelsel is. So word vir elke liggaamsdeel se funksionering gewaarborg en so word elke liggaamsdeel in ooreenstemming met sy bepaalde funksie versorg.
Die liggaam van Christus moet lewe en die liggaam van Christus moet werk. Christus moet in hierdie omgewing waar ek en jy elke dag beweeg bekend gestel word. Sy liefde moet sigbaar word en sy waarheid moet soos ‘n helder lig in die donker van die sondige wêreld skyn. Om so as liggaam van Christus te kan funksioneer , is die veronderstelling tog dat elke liggaamsdeel sal funksioneer.
Daarom moet elke lidmaat spesifiek toerus en begelei word om sy of haar bepaalde funksie te verrig. En dit is juis die Ouderlinge en Diakens se werk.
Kan u nou verstaan waarom die apostel Paulus so ernstig raak as hy oor die Ouderlinge en Diaken in die gemeente praat. Hy wys daarop dat nie sommer enige persoon geskik is om in die diens te werk nie.
Hy sê Ouderlinge onberispelik moet wees, getrou, gasvry en bekwaam om te onderrig. Hy moenie aan drank verslaaf of ‘n rusiemaker wees nie. Hy moet sy eie huis goed regeer en selfs onder mense buite die gemeente as ‘n goeie man bekendstaan.
Ook wat die Diakens betref is daar duidelike vereistes wat gestel word. Hulle moet van goeie karakter wees, nie op oneerlike winsbejag uit wees nie, maar in alles betroubaar en nugter. Hulle moet aan die geopenbaarde waarheid, die woord van God, vashou.
Sowel Ouderlinge as die Diakens is mense wat deur God self geroep en aangestel word om die liggaam van Christus hier op aarde toe te rus en te versorg. Daarom moet hulle ook met die nodige agting en respek behandel word. Hulle word deur die Here na jou en my gestuur om ons geestelik te versorg en ons toe te rus vir ons dienswerk.
Nou kan ons verstaan waarom Paulus sê
- OUDERLINGE EN DIAKENS LEWER ‘N VOORTREFLIKE DIENS
Ouderling- en Diakenswerk is nie werk waarmee geld gemaak kan word nie. Dit besorg ook nie aan jou een of ander posisie in die samelewing nie.
Hierdie werk is eerbare dienswerk, liefdeswerk wat in die gemeente hoog geag word. Dit gaan nie oor die persoon nie, maar oor die werk wat hy of sy doen – Sowel die Ouderlinge as Diakens is maar net mense. Mense met hulle eie tekortkominge en worstelinge, maar mense wat in diens van die Here is en besig is met koninkrykswerk.
Luister wat staan in Heb. 13:17
Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee ....
Omdat Ouderlinge en Diakens in die Here se diens staan, moet hulle aan Hom verantwoording doen vir hulle werk. Hy het elkeen van hulle persoonlik geroep en Hy het hulle aangestel. Daarom kan Hy ook van hulle rekenskap vra. By al die verskillende selle in die liggaam uit. As die bloedtoevoer gebrekkig is kan weefsel afsterf. Dit kan jou as diaken se
Broeder ouderling is jy as senuweestelsel in liggaam van Christus besig om die impulse van ons Here Jesus Christus deur te gee. As dele van die liggaam sonder lam geword het. Kan dit die ouderlinge wees wat nie hulle werk doen nie.
U as diaken. Aan u is die vraag: Kom die bloed by elke ledemaat uit? Dele van die liggaam kan weens ‘n bloed tekort afsterf. U mag nie toelaat dat enige lidmaat as gevolg van eensaamheid, ouderdom, armoede siekte of ander redes van die geloofsgemeenskap vervreem raak nie.
Paulus sê dienaars wat hulle werk met oorgawe en in getrouheid doen, verwerf vir hulle groot vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus. Dit beteken dat daar saam met elke Ouderling en Diaken se dienswerk die groot voordeel van persoonlike geloofsgroei kom. Daarom ontwikkel hulle ook al hoe meer die vrymoedigheid om oor die dinge van God se koninkryk en die uitbreiding daarvan te praat.
Maar nou moet ons verstaan dat hierdie dienswerk ‘n groot verantwoordelikheid inhou. Daarom moet ons vra:
Broeder Ouderling wat is u reaksie op die rekenskap wat God van oor u dienswerk vra? Is u ‘n getroue toesighouer en toegewyde bestuurder in die gemeente, die gemeente wat God met die kosbare bloed van sy Seun gekoop het?
En as Diakens, broeders en susters, wat sê u vir die Here oor u dienswerk? Is u regtig voluit besig om die ledemate van Christus se liggaam wat aan u toevertrou is, met toewyding en liefde te versorg en toe te rus? Begelei u hulle elkeen om ook ‘n aktiewe, toegewyde en liefdevolle ledemaat in die liggaam te wees?
Of die gemeente as liggaam van Christus groei en geestelik volwasse word, hang tot ‘n baie groot mate van die Ouderlinge en Diakens se dienswerk af, maar die gemeente, die lidmate het beslis ook ‘n verantwoordelikheid. Luister wat sê die apostel Petrus as hy met lidmate van ‘n gemeente praat:
Kom na Hom (Christus) toe, die lewende steen wat deur die mense afgekeur is, maar deur God uitverkies is . LAAT JULLE AS LEWENDE STENE OPBOU tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. (1 Pet 2:4 & 5)
Broeder en suster. Met watter houding en gesindheid ontvang jy die Ouderling of Diaken wat die Here na jou toe stuur? Is jy bereid om in jou besige program tyd te maak en die persoon hartlik te ontvang as ‘n dienskneg van die Here? Is jy bereid om saam te werk en jou deel te doen? Of het jy meestal een of ander verskoning waarom jy nie voluit deel kan wees van die gemeenskap van die heiliges nie?
SLOT
Ons het vanoggend geleer: Ouderling- en Diakenswerk is voortreflike werk. Met hierdie toegewyde dienswerk verwerf jy vir jou ‘n eervolle plek in die gemeente asook groot vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus.
Die groot vraag aan elke Ouderling en Diaken is: Hoe verantwoordelik is jy jou diens?
En aan die gemeente:
Hoe reageer ek en jy op die Ouderling en Diaken wat as dienskneg van die Here na ons gestuur word? Is ons altyd bereid om hulle te respekteer as die gestuurdes van die Here? Is ons bereid om saam te werk aan die opbou van hierdie gemeente as die liggaam van Christus om sodoende diensbaar in sy koninkryk te wees?
AMEN