Sosiale Skakels

Besoekers

We have 13 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 29 October 2018 06:49

Matteus 5:48 HERVORM TOT VOLMAAKTHEID

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: MATT 5:17 - 48

TEKS: MATT 5:48

HERVORM TOT VOLMAAKTHEID

 

Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

 

Broers en susters, kinders van God:

 

            Wat is jou onmiddellike reaksie as jy hierdie opdrag hoor?

 

Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

 

Ons sê mos gewoonlik:       Niemand is volmaak nie

 

Hierdie opdrag van ons Here Jesus Christus lei uiteindelik tot een van twee reaksies:

 

Enersyds hoor jy dit en besluit: Dit kan nie op my van toepassing wees nie, ek kan nooit volmaak wees nie.

 

Andersyds, hoor jy dit en dan pla dit jou geweldig, want jy wil so graag volmaak wees.

 

Dit is presies wat met die Groot Hervormer Martin Luther gebeur het. Hy het hierdie opdrag verskeie plekke in die Bybel gelees en hy wou so graag aan die Here gehoorsaam wees. Hoe harder hy egter probeer het om sy lewe volmaak in te rig, hoe minder het hy dit reggekry. Hy het op ‘n stadium selfkastyding toegepas deur dae sonder kos te bly en yskoue winternagte sonder klere op die klipvloer van die klooster te lê. Hy wou aan die Here wys hoe ernstig hy in sy berou oor sy sondes is.

 

Steeds kon nie vrede vind nie, want die opdrag staan lewensgroot geskryf:

 

  1. DIE HERE EIS VOLMAAKTHEID

Ek en jy, broeder en suster, kan hierdie duidelike, direkte en ondubbelsinnige opdrag van die Here op geen manier weg wens, weg praat of sommer net weg lewe nie!

So ‘n paar minute gelede het ons in die wet, soos dit in Levitikus 19 gegee word, gelees: 

           

            Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig. (Vers 2)

 

Heilig wees ........?    Volmaak wees ...........?  

 

Broeder en suster.  Worstel u ook met die probleem?:

 

Ek en jy is maar net gewone mense, ʼn sondaars, vol tekortkominge. Hoe kan ons heilig wees?  Dit is onmoontlik .......

 

Soms probeer mens op jou eie, beskeie manier om reg te lewe en aan die Here gehoorsaam te wees .......  Maar heilig en volmaak? ......  Dit is net te hoë eis........  Mens kan nie bykom nie.

Die vraag is:  Verwag die Here regtig dat ek en jy perfek sal wees?  Volmaak en sonder sonde?

Die Griekse woord wat in ons Afrikaanse Bybels met “volmaak” vertaal word, beteken:

            volledig; onverdeeld;  sonder voorbehoud; konsekwent.

 

Om aan die skare mense, wat daar teen die berghang in Galilea na Hom luister, te verduidelik wat  dit beteken om volmaak te wees gee die Here Jesus verskeie voorbeelde:

 

            Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank  ..... en wie hom uitskel vir idioot, is strafbaar met die helse vuur.    (Matt 5:21 – 22)

 

            Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie’. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.   (Matt 5:27 en 28)

 

            Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle   moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                           (Matt 5:43 – 45)

Die Here Jesus sê vir die skare:

 

            Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat  kry. (Matt 5:17)

En dan verder:

            Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.   (Matt 5:20)

 

Broeder en suster.  Hier is geen uitkom kans nie......    Die Here veroordeel nie net die sondedaad nie. Hy veroordeel ook die sonde selfs as dit nog net maar ‘n gedagte is! 

 

Dit was presies wat Martin Luther ook verstaan het. God eis volmaakte gehoorsaamheid en volledige toewyding. 

 

Op ‘n stadium toe die Here Jesus se twaalf dissipels ook hierdie geweldige opdrag goed verstaan het, nadat die Here Jesus met die ryk jongman gepraat het, was hulle logiese vraag:

 

                        Wie kan dan gered word? (Matt 19:22 – 26).

 

Hoe kan die Here van ons, wat vol sonde is en wat soveel tekortkominge het, verwag om volmaak te wees?

 

Hy antwoord ons in ons teksvers:

Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

 

 2.  DIE HERE SELF IS VOLMAAK

Hy is die enigste, ware, ewige God.  Daar is niks en niemand soos Hy nie.

 

Hy is volmaak in sy Skeppingswerk. Alles wat Hy geskep het is goed, volkome en volledig. Hoe meer ‘n mens sy skeppingswerk bestudeer, hoe groter word jou verwondering en bewondering vir sy wysheid en almag.

 

Hy is volmaak in sy verlossingswerk.  In die Persoon van die Seun word Hy volledig mens kom betree die mens leefwêreld en gee Homself sonder voorbehoud as offer vir die mens se sonde. Hy kom bewys sy volmaakte liefde en genade.  Hy het nie net halfpad gekom nie. Hy het ook nie met  ʼn verdeelde hart gekom nie.  Hy het sy liefde volledig kom bewys.

Die apostel Paulus sê die Here Jesus het vir sy vyande kom sterf!

 

Kyk wat sê die Here Jesus Self in ons teksvers oor God se volmaaktheid:

            God laat sy son  opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor die wat reg doen en oor die wat verkeerd doen   (Matteus 5:45).

 

Sien jy broeder en suster? God trek nie grense vir sy goedheid nie. Hy steek ook nie halfpad vas met sy liefde nie. Hy tree altyd volledig, konsekwent en sonder voorbehoud op.  Daarin lê sy volmaaktheid. 

 

Om kinders van ons hemelse Vader te wees, moet ek en jy soos Hy wees. Ons moet altyd konsekwent en volledig en sonder voorbehoud optree.  Daar is nie wegkomkans nie. As ek en jy deel wil hê aan die koninkryk van die hemel, moet ons volmaak wees .....  Dit is die vereiste wat God stel.

                                   Maar hoe kry ‘n mens dit reg?

Ons stem almal saam:

Nie een van ons kan dit uit onsself doen nie. Ons is te geneig om kwaad met kwaad te vergeld. Ons wil graag wraak neem. Boonop  het ons allerhande voorwaardes vir ons vergifnis of ontferming. Ons trek grense en stel beperkings vir ons genade bewyse. Ons sukkel om die kwaad met die goeie te oorwin. Ons het allerhande voorbehoude.  As ek byvoorbeeld dink iemand is nie my tyd en my geld en my opoffering werd nie, dan hou ek dit baie maklik terug ..... 

Maar dit is nie die soort optrede wat God by ons as sy kinders wil sien nie, want Hy is volmaak.  As ons sy kinders wil wees, moet ons soos Hy wees ...... volmaak in ons optrede.

 

Die groot vraag bly:  Hoe kan ons dan volmaak wees?

  1. SLEGS IN CHRISTUS IS ONS OOK VOLMAAK

Hy is immers ons Verlosser!

As mens rondom jou kyk, sien jy nogal dikwels goeie mense. Selfs ongelowiges is soms goeie mense. Ek en jy ken mos sulke gawe goeie mense wat nie ‘n vlieg sal skade aandoen nie en altyd bereid is om te help. Hulle word nooit kwaad nie en is gewoonlik vriendelik en opgewek ...........  Maar weet jy? ........... Hulle is ook nie volmaak nie.

Die feit van die saak is:   Die Here verwag van ons meer as dit wat goeie mense doen..

Kyk wat staan in verse 46 en 47: 

As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle dan meer as ander?  Maak die heidene nie ook maar net so nie?

Die punt is:  Ons moet totaal anders wees!

                                    Ons moet spesiaal wees.

                                                Ons moet heilig wees.........

Ek en jy moet volmaak wees, anders kan ons nie in die koninkryk van die hemel kom nie. ....... 

Broeder en suster.......  Die enigste manier hoe ek en jy volmaak kan wees, is wanneer ons deur ‘n ware geloof in die Here Jesus ingelyf is!

Ons moet as lewende lote aan Hom, die ware wingerdstok, groei. Ons moet lewende stene in die geestelike huis van God wees. Daar waar die Here Jesus die hoeksteen van die gebou is. Ons moet deel wees van sy kudde wat agter Hom, die Goeie Herder, aanloop.  Ons moet ledemate in sy liggaam wees.

Die apostel Petrus sê ons moet deur die werking van die Heilige Gees in Christus ingelyf wees, want alleen dan kry ek en jy deel aan die goddelike natuur (vgl. 2 Pet 1:3 -.9)

 

Uit eie krag kan ek en jy nooit volmaak wees nie.

Maar ons kan volmaak wees as die Heilige Gees ons in Christus inlyf.  Hy is volmaak, want Hy is God.

Ek en jy moet daagliks bid dat die Heilige Gees ons sal vervul en ons al hoe meer in Christus sal inlyf sodat ons meer aan sy weldade deel kan hê.

As ek en jy so met ‘n vaste geloof in Christus lewe, sal ons noodwendig die vrug van die Gees dra. Dan sal mense rondom ons in ons optrede liefde, vreugde, vrede geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, nederigheid en selfbeheersing ervaar.  

 

Ja, in Christus, onder leiding van die Heilige Gees, sal ek en jy volmaak wees...... Toe Martin Luther hierdie waarheid soos dit in 1:17 beskryf word verstaan, het die lig vir die hervorming deurgebreek.

 

Ons is regverdig voor God, enkel en alleen op grond van ons geloof in ons Here Jesus Christus. Die Here Jesus Christus hervorm ons deur sy Gees tot volmaakte kinders van God.

SLOT

Ons moet in ons anders-wees uitstaan. Soos ons hemelse Vader ons in Christus vergewe en ons so liefhet dat Hy sy Seun se lewe vir ons gegee het, moet ons ook in Christus lewe. Ons moet sy navolgers wees .... doen wat Hy doen en sê wat Hy sê.

Selgs onder die kragtige leiding van die Heilige Gees kan ons volmaak optree.  Ja, ons kan selfs ons vyande liefhê en bid vir diegene wat ons vervolg. Ons kan die kwaad met die goeie oorwin!

                                                                                                                                                                                                                                                                                              Amen  

Read 2011 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek