Sosiale Skakels

Besoekers

We have 3 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Thursday, 01 December 2011 05:32

LIEFDE GEGROND OP DIE WAARHEID - 2 JOHANNES

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:  2 JOHANNES

TEKS: 2 JOHANNES: 4 & 5

TEMA: LIEFDE GEGROND OP DIE WAARHEID

 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus.

 

Om in jou optrede gebalanseerd te wees, is uiters noodsaaklik. As  ʼn motor se wiele uit balans is, gaan die stuurwiel aan die ruk en maak dan die rit baie onaangenaam en selfs gevaarlik.  ʼn Akrobaat wat op  ʼn tou loop se balans moet perfek wees, so nie kan hy homself lelik beseer.   As die balans in die riviere deur besoedeling versteur word, benadeel dit die waterkwaliteit en dan word dit gevaarlik om die water te gebruik.

 

Die probleem is dat die mens met sy sondige natuur voortdurend besig is om die gesonde balans in God se skepping te versteur. Nie net in die natuur nie, maar veral in verhoudings.  Die Here het die mens geskep om in liefde by die waarheid te bly.

 

God stel waarheid en liefde in 'n gebalanseerde verhouding tot mekaar.  Die mens beland egter gereeld op die rotse van verwarring omdat ons sukkel om die balans tussen die twee te vind.

 

Toe die ou gryse apostel Johannes  hierdie brief geskryf het, was hy waarskynlik die enigste van die apostels wat nog geleef het.

 

Hy rig sy brief aan "die uitverkore vrou en haar kinders " en sluit sy brief af met die woorde: "Die kinders van jou uitverkore suster stuur vir jou groete".  Hy praat van ’n uitverkore vrou en haar suster.  Die gereformeerde Skrifverklaardes is min of meer eenstemmig dat Johannes hier van twee gemeentes praat. Die Skrif leer ons mos dat die kerk die bruid van Christus is. En die lidmate is die nageslag, dws die kinders.

 

Johannes skryf dus aan 'n gemeente en sê dat hy bly is dat hy kon agterkom dat die lidmate in ooreenstemming met die waarheid lewe. Maar dan gaan hy verder en sê dat hulle mekaar moet liefhê.  In die betrokke gemeente was daar skynbaar ʼn probleem met die balans tussen WAARHEID en LIEFDE.   

 

Wat gebeur as die belangrike balans versteur word?

 

1. WAARHEID SONDER LIEFDE IS HARD

 

Hierdie gemeente het, soos dit hoort,  met groot erns en toewyding aan die waarheid vasgehou, maar die liefde  het ontbreek.....

 

Om aan die waarheid vas te hou verg groot inspanning en voortdurende opoffering. Dit verg volgehoue studie om jou kennis van die Skrif uit te brei. Hoe meer jy jouself in die Skrif verdiep hoe beter sal jy weet wat die Here se wil is. Ja, hoe beter sal jy die WAARHEID ken en dit ook in jou daaglikse lewe kan toepas.

 

Sonder die waarheid, raak die kerk sommer gou die spoor byster, want dan word mense se idees en sienings of selfs bepaalde gewoontes die maatstaf.

 

Ons moet egter goed verstaan dat blote kennis van die Woord maklik in 'n klomp koue feite  kan ontaard.

 

Daar is mense wat die Skrif jare lank bestudeer en vir wie dit niks anders as 'n koue harde akademiese kennis is nie. Sogenaamde moderne teoloë is ook met die Bybel besig, maar hulle lees dit vanuit hulle humanistiese oogpunt en vergelyk dit met allerhande buite-Bybelse geskrifte. So kom hulle by allerhande standpunte uit wat in stryd met die boodskap van die Bybel is.  Die beste voorbeeld is seker vandag die sogenaamde nuwe hervormers wat nie meer die letterlike maagdelike geboorte of opstanding van Jesus Christus wil aanvaar nie.  

 

Om die Bybel te ken, beteken nog glad nie dat jy 'n goeie gelowige is nie!  Dit is mos Jakobus wat in sy brief geskryf het:

"Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg, die bose geeste glo dit ook - en hulle sidder van angs"

 

Om van die HERE te weet, maw om kennis van Hom te hê soos wat dit in die Bybel staan, beteken nog glad nie dat jy werklik as gelowige lewe nie.  Geloof nie net ’n gewisse kennis nie, maar ook ’n vaste vertroue.  Dit gaan dus oor meer as die waarheid. Dit gaan oor hoe die waarheid in jou hart lê.... en dan gaan dit mos oor liefde.

 

Waarheid sonder liefde is hard en genadeloos. Hierdie soort waarheid sukkel om te vergewe. Dit sukkel om barmhartigheid te bewys.

 

As  ʼn mens met nougesette ywer  en toewyding by die waarheid bly, maar nie die liefde daarmee saam het nie, verys jou godsdiens in ’n yskoue formalisme. Dan sukkel jy met verhoudings. Jy kry dit dan nie behoorlik reg om God bo alles lief te hê en jou naaste soos jouself.  Die apostel Paulus sê:

 

"Al het ek die gawe om God se boodskap te verkondig en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks". (1 Kor. 13:2)

 

 Die teendeel is egter netso waar. Liefde sonder die waarheid werk ook glad nie, want

 

 

 

2. LIEFDE SONDER DIE WAARHEID IS SENTIMENTEEL

 

 

Hoe lyk liefde.  Ons het dit mos in 1 Kor. 13 gelees.  Liefde glo alles, hoop alles en verdra alles. Liefde gaan bo-oor die grense wat ons mense stel.

 

Liefde opsigself word egter deur die mens skeefgetrek.  Daarom sê die spreekwoord: Liefde is blind.  Ouers is byvoorbeeld dalk so lief vir hulle kinders dat hulle soms blind is vir die kinders se foute.  Jong verliefde paartjies trap ook maklik in die slaggat om verby mekaar se foute te kyk.

 

Liefde sonder waarheid is sentimenteel. Dit is  ʼn blote gevoel wat mettertyd verdwyn. Ongelukkig probeer sommige mense hulle geloof net op liefde wat so  ʼn gevoel is, bou.  Dan soek hulle gedurig na  ʼn nuwe gevoel of ervaring

 

Wanneer God sy liefde aan ons bewys, gaan dit nie oor een of ander gevoel nie.  God se liefde is  ʼn daad!  Hy stuur sy enigste Seun om hier op aarde vir ons, sy vyande, aan die kruis te kom sterf!

 

In Christus vind waarheid en liefde die perfekte balans.

 

Die gryse ou Johannes het dit goed geweet en daarom waarsku hy die gemeente aan wie hy skryf. In vers 8 en 9 sê hy: "Julle moet toesien dat julle nie verloor wat ons voor gewerk het nie, maar dat julle die volle loon ontvang. Elkeen wat nie by die LEER oor Christus bly nie, maar daaraan verander, erken God nie"

 

Sonder die Here Jesus Christus is daar nie waarheid of liefde nie.

 

 

Johannes sê in vers 10: "As iemand na julle toe kom en 'n ander leer  bring, moet julle hom nie eers in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen"

 


Waarom is Johannes so streng en so hard op die mense wat 'n ander leer bring? Is hy dan nie juis liefdeloos nie?

 

Broeders en susters, Johannes is juis bedag op mense se metodes. Die dwaalleraars oorlaai jou met vriendelikheid en hartlikheid. Hulle betoon wonderlike liefde, maar juis op hierdie manier vang hulle jou!  Jy word so deur hulle liefde en vriendelikheid oorweldig dat jy nie die angel van hulle dwaalleer raak sien nie.  Hulle bly nie by die waarheid nie.

 

Daarom sê Johannes:  Bly van hulle af weg. Daardie liefde sonder die waarheid is  sentimenteel en VALS!

 

Wat moet ons dan doen?

                                                                           

3. BLY IN LIEFDE BY DIE WAARHEID

 

Daar is net een manier om in liefde by die waarheid te bly.

 

As jy in Christus bly, kry jy die perfekte balans tussen waarheid en liefde.

 

Hy is immers die verpersoonliking van God se liefde.  En Hy noem Homself die weg en die waarheid!

 

In Christus kom God se barmhartigheid en regverdigheid by mekaar.

 

God is regverdig, hy straf die sonde.  Hy sien nie een enkele sonde oor nie.  Sy genade beteken ook nie dat Hy Hom blind hou vir sy kinders se foute nie.  Nee, Hy straf ons sonde aan sy eie Seun en daarom kan Hy aan ons liefde betoon. Ons staan vlekloos skoon voor Hom.

 

SLOT

Geliefdes, hierdie twee, waarheid en liefde, vind onder leiding van die Heilige Gees 'n gesonde balans in elke kind van God se lewe.  Ons kan ook soos ons hemelse Vader liefde betoon terwyl ons by die waarheid bly.

 

Daarom moet ons almal daagliks bid dat die Heilige Gees ons in Christus sal laat bly.                                                               AMEN.

Read 4445 times Last modified on Thursday, 08 March 2012 11:05
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek