Sosiale Skakels

Besoekers

We have 18 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Thursday, 01 November 2012 07:24

Romeine 1:16 & 17 Vrygespreek om te lewe (Hervormingsdiens 28 Okt 2012)

Written by 
Rate this item
(0 votes)

 

Skriflesing: Rom 1:8 – 17

Teks: Rom 1:16 & 17

 

VRYGESPREEK OM TE LEWE!

 

Protestantse Kerke vier vandag oor die hele wêreld die groot Hervorming.  Dit het amptelik begin toe Martin Luther op 31 Oktober 1517 sy 95 stelings teen die leer van die  Rooms Katolieke Kerk teen die kerkdeur in Wittenberg Duitsland vasgespyker het.

 

 Hoewel Luther  ʼn Roomse priester was en uiteindelik  ʼn Professor in Teologie aan die Universiteit in Wittenberg, het hy  ʼn hewige worsteling in sy eie gemoed gehad.

 

Martin Luther het al die wette en reëls van die geloof, soos die Rooms Katolieke Kerk dit geleer het baie getrou nagekom, maar hy kon net nooit ware vrede vir sy siel kry nie.   Hy het vir maande en jare lank geworstel omdat hy  gevoel het dat hy nooit aan die hoë eise wat in die Bybel gestel word, kon voldoen nie. 

 

Hy kon, volgens dit wat hy ervaar het, net nie van sy sonde ontslae raak nie.  Sy gewete het hom gedaan gemaak.  Hy het gevas en gebid en sy liggaam gekasty deur onder andere nagte lank sonder klere in die koue winter op die klipvloer te lê, maar hy kon nie vrede vind nie.  Sy vraag was:  Waar kry ek  ʼn genadige God?

 

Op 'n dag lees Luther toe weer Paulus se brief aan die Romeine.  Toe Hy Romeine 1:16 en 17 lees, gaan daar vir hom 'n lig op. Ja, hier staan dit:  God spreek mense van hulle sonde vry enkel en alleen omdat hulle glo!!

 

Hoor u dit?  Dit is hierdie verse wat die vlam van die hervorming aan die brand gesteek het.  Luther het besef dat dit nie die kerk se reëls of bepaalde godsdienstige pligte is wat jy getrou moet nakom, wat jou vry maak nie.  Dit gaan oor geloof! 

 

1.  ONS LOOP ONS VAS MET ONS EIE POGINGS

 

Broeder en suster.  Om te sê jy is 'n gelowige is een ding, maar om regtig in die geloof te lewe,  is 'n perd van 'n ander kleur. 

 

Dit is natuurlik baie maklik om op jou eie manier en volgens jou eie reëls 'n gelowige te wees.  Dan besluit jyself hoe gereeld sal Bybellees en bid en ook hoe gereeld jy by die byeenkomste van die gemeente teenwoordig wil wees. Jy besluit met wie jy sal saamleef. Ja, jy kies jou vriende en ook jou kerkvriende...  Jy besluit wat jy vir die kerk kan gee as jou bydrae.  Jou omstandighede bepaal jou toewyding.  Ja, die algemene siening is mos: My geloofslewe is my eie privaat-aangeleentheid.  

 

Broeders en susters as 'n mens oor geloof praat, gaan dit egter nie in die eerste plek oor myself nie.  Dit gaan oor God --  oor wie Hy is!  Oor wat Hy van ons verwag.

 

Hy verwag dat ons vir Hom en vir sy koninkryk sal lewe.  Hy verwag dat ons met ons optrede sy verteenwoordigers sal wees. Hy verwag dat ons Hom bo alles sal liefhê en ons naaste soos onsself.

 

Maar kry ons dit reg?   Luther het begryp dat hy dit nie uit sy eie kan regkry nie. Hoe harder hy probeer het, hoe minder sukses het hy behaal. Hy het van God verwyderd gevoel.....

 

Tot op die dag wat hy Rom. 1:16 & 17 weer met aandag gelees het. Toe het hy begryp wat daar staan!

 

2.  GOD SPREEK ONS VRY AS ONS GLO

 

Hy is ons genadige Vader en nie die onverbiddelike Heerser nie. Luther het begryp dat ons as mense self niks kan doen om ons van ons sondeskuld te bevry nie.  God bevry ons bloot uit genade van die greep wat die sonde op ons het. 

 

Dit is ons eie sonde en ook ander mense rondom ons se sondige optrede wat ons vasgedruk en ingehok en benoud laat voel.  Dit is as gevolg van die mens se sonde wat die wêreld lyk soos hy lyk!

 

En hoe meer ons met ons eie kragte probeer om uit hierdie greep van die sonde los te kom, hoe meer raak ons in ons eie pogings verstrik.  As ons probeer om met reëls en seremonies God tevrede te stel, word ons probleem net groter en groter.  So sal ons nooit vrede kry nie!

 

Geloof, broeders en susters, beteken om jou verlossing BUITE JOUSELF IN CHRISTUS TE SOEK.  

 

Dit beteken Hy moet meer word. Ja, Hy moet in ons elkeen se lewe sigbaar word.  Sy liefde, sy vergewensgesindheid, sy ontferming, sy krag...

God se genade, broeders en susters, is 'n Persoon.  En dié Persoon is Jesus Christus.   God is regverdig in sy oordeel en sy straf.  Hy sien nie een van ons sondes oor nie.  Onthou, sy genade beteken nie dat Hy jou sonde sien en dan maar sê: Ag toemaar Ek vergewe jou nie.

 

Hy straf letterlik elke sonde, al is daardie sondetjie ook hoe klein in ons oë. Dit verdien die dood. Dit is presies wat Luther so ontstel het. Elke leuen, elke skewe woord, elke skinderstorie, elke negatiewe gedagte of slegte begeerte, elke stukkie liefdelose optrede laat jou skuldig voor God staan!

 

Dit is waarvoor Christus gekom het. Sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal ontvang.  Martin Luther het vryheid gekry en kon dit beleef, toe Hy begryp het dat God ons vryspreek sonder dat ons dit verdien.  Ons moet net in Christus glo!

 

En kyk nou net, broeders en susters na

 

3.  ONS VRYHEIDSLEWE IN CHRISTUS

 

As jy met  ʼn ware geloof reageer op Jesus Christus se uitnodiging:  Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is, sal jy rus kry!  Hy belowe dit.

 

Ja, geliefdes, as jy deur 'n ware geloof aan Jesus Christus vasgryp, bevry Hy jou van hierdie greep wat die sonde op jou het!   Hy bevry jou van 'n moedelose en gefrustreerde bestaan waar jy jou eie probleme probeer oplos.  Hy bevry jou van daardie sonde wat jou beet het en wat jy dink jy nooit van sal loskom nie.  Hy bevry jou van negatiwiteit en opstandigheid.  Hy maak jou 'n oorwinnaar wat onder leiding van die Heilige Gees in die vreugde van Christenskap met vrede en dankbaarheid kan lewe. 

 

En dan verander jou lewensbenadering. Dan soek jy nie meer foute en wys gedurig probleme uit nie, nee, dan begin jy werk. Jy raak dan op 'n positiewe manier diensbaar in die uitbreiding van God se koninkryk!

 

Dit is die lewe wat Martin Luther gekry het toe hy besef het dat geloof iets totaal anders is as reëls en pligte.

 

Reëls en pligte maak 'n mens moeg.  Dikwels het 'n mens nie genoeg tyd om sekere pligte na te kom en sommige reëls is net te moeilik om konsekwent uit te voer. Geloof het net mooi niks met reëls en wette te doen nie. Geloof het met  ʼn verhouding te doen.  ʼn Verhouding met die Here Jesus Christus en sodoende ook  ʼn verhouding met jou medegelowiges.

 

Geloof gaan oor 'n nuwe lewe in Christus onder leiding van die Heilige Gees.    En hierdie nuwe lewe in geloof word sigbaar in die heel nuwe gesindheid waarmee  ʼn mens die lewe aanpak. 

 

Dan is jou geloof nie beperk tot 'n paar moets en moenies nie.  Nee, dan word jou geloof sigbaar in jou liefde en jou goeie dade. 

 

En jy verander.  Jy verander 

  • Van 'n mens met 'n kort humeur na 'n vriendelike en geduldige persoon
  • Van 'n selfgesentreerde mens na 'n mens wat die ander se belange eerste stel
  • Van 'n suinige en inhalige mens na 'n vrygewige mens wat weet jy bestuur net die Here se bates.
  • Van 'n negatiewe kritiese mens na 'n positiewe mens wat graag die goeie in iemand anders soek.
  • Van iemand wat vloek en skel na 'n mens wat net praat wat goed en opbouend is.
  • Van iemand wat hom met die dinge van die duister besig hou na 'n mens van die lig.
  • Van 'n mens wat met 'n wrok van onvergewensgesindheid rondloop na 'n mens wat vergewe en vergeet
  • Van  ʼn negatiewe gefrustreerde mens na  ʼn liefdevolle mens vol vreugde en dankbaarheid

 

Broeder en suster die boodskap van Jesus Christus aan die kruis, is die evangelie, die Blye Boodskap.  Dit is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo!

 

SLOT

Die Hervorming het die pad na die vryheid in Christus weer oopgemaak.  Die Hervorming het ons teruggelei na die lig van die Woord. Ons mag nie ons geloof weer in bepaalde wette en reëls en seremonies laat vasval nie.

 

Geniet jou vryheid in  ʼn lewende verhouding met die Here Jesus Christus!

 

                                                              Amen.

Read 4232 times
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek