Preke (201)
SKRIFLESING: 1 PET. 4:1 – 11
TEKS: 1 PET 4:8
TEMA: SO BEWYS ONS LIEFDE AAN MEKAAR
Die woord liefde is waarskynlik die woord wat die meeste in hierdie kerkgebou gebruik word. Ons almal ken ook die groot gebod : Ons moet die Here bo alles met ons hele hart en siel en verstand en al ons kragte liefhê en ook ons naaste soos onsself.
Ja, ons weet van liefde en ons praat baie oor liefde, maar ............ weet ons hoe om liefde te bewys?
Hoor wat sê die apostel Petrus:
Bo dit alles moet julle mekaar hartlik liefhê.........
Hoe doen ʼn mens dit?
Wat moet ek en jy prakties in die gemeente doen om, soos Petrus hier sê, mekaar hartlik lief te hê?
Die eerste belangrike punt wat ons moet verstaan as ons oor liefde vir mekaar praat is:
1. LIEFHÊ VRA DAT ONS SAL AFLÊ
In Joh. 15:12 en 13 sê die Here Jesus:
Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.
As ek en jy liefde wil bewys, moet ons ook, soos die Here Jesus ons eie lewe in die proses aflê. Ja, as ek en jy liefde wil betoon, moet ons weet: Dit verg opoffering!
Die apostel Johannes sê:
Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. (1 Joh 3:16)
En dan gaan hy verder en hy verduidelik wat dit in die praktyk beteken om jou lewe vir jou broer af te lê. Hy sê:
Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?(1 Joh. 3:17)
Verstaan u? Ons elkeen moet bereid wees om ʼn deel van ons tyd en krag en ook ʼn deel van ons geld aan iemand anders, wat nood het, af te staan -- Dit is liefde!
Kyk wat die Here gedoen het: Hy het sy liefde prakties aan ons betoon deur sy lewe vir ons af te lê. En dit is presies die manier hoe ek en jy ook moet liefhê. Ons moet bereid wees om opofferings te maak om ander mense rondom ons op dié manier te bevoordeel.
Hoe kry ek en jy dit reg? Dit kan net gedoen word onder leiding van die Heilige Gees. Liefde en geduld en vriendelikheid en goedhartigheid is mos vrug van die Gees.
Maar kom ons kyk wat sê ons teksvers, wat doen liefde nog verder. Die apostel Petrus sê
2. LIEFHÊ BEDEK BAIE SONDES
Dit was mos juis wat God gedoen het, toe Hy in die Persoon van die Seun na hierdie aarde toe gekom het. Hy het ons sondes kom bedek. Ja, Hy het dit met sy bloed aan die kruis kom doen. In die baie bekende Joh. 3:16 lees ons:
God het die wêreld so liefgehaddat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
En nou is dit presies om hierdie rede wat die Here sê dat ons mekaar hartlik moet liefhê. Hier staan:
Bo dit alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes.
Broeder en suster. Ons liefde vir mekaar word deur vergiffenis gedra en deur verdraagsaamheid gekenmerk.
In 1 Kor 13 word liefde in die praktyk beskryf:
Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraaknie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. ( 1 Kor. 13:4-7)
Dit is net hierdie liefde wat God deur sy Gees in jou hart werk wat jou in staat stel om jou broer 70 X 7 keer te vergewe en om selfs jou vyande met respek en ontferming te behandel. Onthou: Hierdie liefde wat van God af kom is nie een of ander spesiale gevoel nie. Hierdie soort liefde is niks anders as dade van gehoorsaamheid nie.
Uiteindelik, sê Petrus, sal hierdie ware liefde, wat van God af kom, noodwendig baie duidelik in ons elkeen se lewe sigbaar word , want
3. LIEFHÊ VERGESTALT IN GASVRYHEID EN DIENSBAARHEID
Liefde wat so selfopofferend werk en wat in die proses baie sondes bedek, is liefde wat deurgaans net tot voordeel van jou naaste sal wees.
Daarom sê Petrus:
Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.
Om gasvry te wees, beteken om mense op ʼn vriendelike manier in jou huis te ontvang. Juis op so ʼn manier dat hulle spesiaal voel. Dit beteken selfs om mense wat jy voorheen nie geken het nie na jou huis toe te nooi.
In Heb. 13:2 lees ons:
Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees het sommige mense, sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.
Maar geliefdes, liefde doen nog meer. Liefde dring en dryf ʼn mens tot diensbaarheid. As ons God bo alles liefhet en ons naaste soos onsself, dan wil ʼn mens diensbaar wees. En dan is dit boonop vir jou lekker om diensbaar te wees! Dit maak jou lewe sinvol.
Ja, broeder en suster hierdie liefde wat deur die Heilige Gees in ons elkeen gewek word motiveer en inspireer ʼn mens om met die gawes wat die Here aan jou gegee het voluit diensbaar te wees. Petrus sê:
As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen.
SLOT
In ʼn wêreld waar die moderne mens totaal indiwidualisties en materialisties geword het, moet ons as gelowiges soos sout en lig uitbeweeg en die Here se liefde sigbaar maak. Dit is die groot opdrag wat ons Koning aan ons elkeen gee. Hoe gaan ek en jy dit in die week uitvoer?
AMEN.