Danie de Kock
1 Kor 15:12 & 19 HK Son 17 LEWE VANUIT DIE OPSTANDING VAN CHRISTUS
SKRIFLESING: 1 Kor. 15:1 – 19
TEKS: 1 Kor. 15:12 en 19 HK Son 17
LEWE VANUIT DIE OPSTANDING VAN CHRISTUS
Ons belydenis vra vandag ’n diep ontledende vraag:
Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Dit is ‘n baie relevante vraag in ons moderne lewe. Ons is op die resultaat ingestel. Jy doen nie sommer iets as dit nie vir jou waarde het of voordeel inhou nie.
Nou is die vraag: Wat beteken Christus se opstanding vir ‘n mens? Ja, watter waarde het dit vir jou in jou daaglikse bestaan?
Om vanuit die opstanding van Christus te lewe beteken:
ONS LEWE MET ‘N VRAAG
ONS LEWE MET ‘N SEEN
ONS LEWE MET ‘N BELOFTE
- LEWE MET ‘N VRAAG.
Die stelling of belydenis: “Jesus Christus het opgestaan uit die dood” is vir sommige mense die duidelike bewys dat Hy die Seun van God is, terwyl dit vir ander mense die bewys is dat Christene in sprokies glo. Vir die een is hierdie belydenis die kragbron van die kerk en vir die ander is dit veel eerder ‘n bewys van die wêreldvreemdheid van die kerk. Die een sê: “Ek vind die verhale van die opstanding van Christus baie onbetroubaar”, die ander een sê: “Ek bou my hele toekoms op die feit dat Hy uit die dood opgestaan het”.
Dat ‘n mens wél uit die dood kan opstaan, is uiteraard vir die moderne mens totaal onaanvaarbaar. Die heersende geagte is: “Dood is dood en lewe, is lewe”. Mense wat nie in Christus glo nie meen sy opstanding uit die dood is onmoontlik. Hulle voel dat ’n mens tog seker nie in ons moderne tyd so ’n eienaardige sprokie meer kan glo nie. Mense sê dit vandag en hulle het dit in Paulus se tyd ook gesê. Toe hy in Athene op die stadsplein met die Griekse wysgere oor die Here Jesus Christus gepraat het, het hulle alles aanvaar tot hy by die opstanding gekom het. Ons lees in Handelinge 17:32:
Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: Ons sal jou weer hieroor wil hoor.
Nou is daar natuurlik ‘n ander geldige vraag:
Waarom het die Here Jesus na sy opstanding net aan sy volgelinge verskyn? Sou dit nie meer impak kon hê as hy aan die lede van die Joodse raad of aan iemand soos die Romeinse regter Pontius Pilatus verskyn het nie?
Die mense wat vir sy kruisdood verantwoordelik was, het juis allerhande planne gemaak om die feit van die leë graf te verdoesel. Hulle het die wagte ‘n som geld betaal om ‘n leuen te versprei dat sy dissipels sy liggaam gesteel het.
Die ongelowige mens sal nooit aanvaar dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het nie. Daar sal altyd ander verklarings of leuens gebruik word om dit te ontken. Die Heidelbergse Kategismus gaan daarom nie in op die bewyse van die opstanding nie, maar konsentreer liewer op die nut of waarde van die opstanding. Bowendien, al sou van die Jode of Romeine destyds daar in Jerusalem wel van sy opstanding oortuig word, beteken die oortuiging van die feit van die opstanding nog nie geloof in die hart nie.
Die feit dat Hy vir jou en my sonde aan die kruis gehang het en in ons plek die straf gedra het, sou niks beteken het as Hy daarna net in die graf dood sou bly nie. ....... ‘n Dooie verlosser is geen verlosser!
Hy het opgestaan. Dit het Hy wel met sy verskynings bevestig, maar het jy opgemerk? Diegene wat Hom so na sy opstanding teëgekom het, het Hom nie sommer dadelik herken nie. Die Emmausgangers het hom eers herken nadat Hy hulle uit die Skrif onderrig het. Hulle moes eers die vervulling van die profesieë in sy sterwe sien voordat hulle in die opstanding die evangelie kon hoor.
Die punt is, broeders en suster, elkeen wat vanuit Christus wil lewe, moet aanhou om die Skrif te lees en bestudeer. Hou aan om na die evangelie te luister. Doen dit soveel moontlik saam met jou mede-gelowiges.
Om as Christen te lewe, beteken om met ‘n vraag te lewe. Die vraag is:
Glo ek in Jesus Christus wat die dood oorwin het?
As ek dit van harte glo, sal ek iets besonders ervaar, naamlik
2. LEWE MET ’N SEËN
Ons belydenis sê:
Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot ’n nuwe lewe opgewek.
’n Mens hoor hier twee woorde wat ’n geweldige verskil in jou lewe maak, naamlik KRAG en NUWE LEWE.
Ons wat glo dat ons Here jesus Christus uit die doop opgestaan het, ervaar daagliks sy lewenskrag en energie. Met hierdie kragtige werking van die Gees word ons lewe ’n nuwe ervaring.
Daar is mense wat beweer dat jou lewenskwaliteit tot ’n groot mate deur drie dinge bepaal word naamlik jou afstamming, jou omgewing en jou opvoeding. Volgens die gedagte sal iemand met ’n ongelukkige jeug altyd swaar kry. Iemand wat in vroeer misbruik is, sal altyd die gevolge daarvan dra en iemand wat in sy jeug verkeerde vriende het sal aanhou om op die slegte pad te loop. Die pessimiste sê: Alles wat ’n mens doen word bepaal deur jou verlede.
Die evangelie van Jesus Christus breek egter hierdie negatiewe en pessimistiese lewensbenadering. Die nuwe lewe in Christus stel jou in staat om met jou verlede en jou negatiewe omstandighede te breek. Ja, mens het ’n verlede en daar is dinge waaraan jyself niks kan verander nie. Onder die kragtige vernuwende werking van die Heilige Gees kry ’n mens ook nuwe perspektief.
- Die apostel Paulus was ’n vervolger van die kerk, deur die krag van die opgestane Christus word hy ’n kerkplanter.
- Maria Magdalena was van sewe duiwels besete. Onde leiding van die Heilige Gees word sy ’n kragtige getuie van die Here.
- Matteus was ‘n tollenaar. Die Heilige Gees maak hom ‘n evangelieskrywer.
Elkeen wat deur middel van ‘n ware geloof saam met Christus in ‘n nuwe lewe opstaan, beleef nuwe lewensmoontlikhede. Natuurlik nie op grond van eie krag nie, maar wel op grond van die krag van Christus wat deur die werking van die Heilige Gees aan jou nuwe energie gee.
Natuurlik is hierdie lewe nooit volmaak nie. Daar sal altyd nog teëslae kom en spanning sal oplaai. Daar sal altyd laste wees wat ek en jy saamdra, want ons lewe in ‘n gebroke wêreld. Ons verlede, of ons omstandighede het egter nie die laaste s nie.
Omdat ek en jy onder die kragtige leiding van die Heilige Gees met ‘n ware geloof aan die opgestane Here Jesus Christus vashou, is ons oorwinnaars. Saam met Hom skeur jy jou los van alles wat jou terughou en vaskeer. Onder leiding van die Heilige Gees verstaan jy dat dit nie jou verlede of jou huidige omstandighede is wat jou toekoms bepaal nie, maar wel die Here Jesus wat die dood oorwin het. Hy het die vloek van die sonde en die dood verbreek. Hy is ons lewende Verlosser. Hy stel jou en my deur sy Gees in staat om meer as ‘n oorwinnaar te wees!
Ons wat in Jesus Christus glo wat uit die dood opgestaan het, ervaar nou daagliks sy lewenskrag en energie.
Broeder en suster. Hier is die verskil tussen die ou- en die nuwe lewe. In en deur ons Here Jesus Christus kry ons lewe sin en betekenis. Sy krag en nuwe lewe dring en dryf ons tot liefde en diensbaarheid in sy koninkryk.
Maar daar is nog meer. Ons lewe nie net vir hier en nou nie. Ons lewe met die oog op die toekoms. Die lewe saam met die opgestande Here jesus Christus is ‘n
3. LEWE MET ’N BELOFTE
Stel jouself net vir ’n oomblik voor watter opspraakwekkende berig dit sou wees as daar vanoggend op die koerante se voorblaaie ’n berig was wat swas wat sê: DIE DOOD IS OORWIN. En dan lees jy hoe wetenskaplikes in ’n laboratorium ’n muis wat twee ure lank dood was, weer lewend gemaak het. Daar het nog nooit so ’n berig verskyn nie, maar u stem saam dat dit opspraakwekkend sou wees, want mense probeer alles om lewe te verleng en die dood teë te werk.
Die dood is oorwin! Die berig word elke Sondag hier in die kerkgebou uitgesaai. Dit word egter nie as opspraakwekkend ervaar nie. Ongelowiges spot selfs daarmee.
Maar broeder en suster. Dink mooi ......
Ons elkeen wat in die Here Jesus glo, het voluit deel aan hierdie oorwinning oor die dood. Ek en jy het die lewe. ..... Die ewige lewe.
Toe die Here Jesus op aarde was, het Hy ’n paar keer gewys dat Hy mag oor die dood het. Hy het sowel die dogtertjie van Jairus as sy vriend Lasarus uit die dood opgewek. Hulle het egter later weer gesterf.
Ons moet verstaan: Die Here Jesus se verlossingswerk is groter as net ons lewe hier op aarde. Die lewe hier is net tydelik. Die lewe hier is onvolmaak.
Daarom sê die apostel Paulus:
As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.
Dit is die probleem met die sogenaamde voorspoedsteologie wat van Amerika af hierheen oorwaai. Hierdie mense verkondig dat Jesus alles wat hier en nou in jou lewe verkeerd is, sal regmaak. Hulle sê: As jy siek is, bid net en Hy maak jou gesond. As jy nie geld het nie, bid net en Hy gee vir jou geld. As jy jou werk verloor, bid net en jy het werk. Hulle verkondig ’n selfgemaakte afgod wat soos die “genie”in die storie van Alladin alles reg toor.
Toe die Here Jesus Self aan die kruis gesterf het en begrawe is, het Hy op die derde dag uit die dood opgestaan. Toe het Hy die dood finaal oorwin.
En Hy het belowe:
Ek gaan om vir julle plek gereed te maak. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. (Joh 14:3)
Ons is saam met die Here Jesus Christus op pad na ons ewige bestemming.Daarom is ons op hierdie aarde, in die woorde van die apostel Petrus, net vreemdelinge en bywoners. Ons is reisigers na ons ewige bestemming.
Ons is reisigers met ’n opdrag:
Op ons reis het ons ’n baie belangrike taak. Ons moet die lig van die evangelie uitstraal. Ons moet die waarheid van die evangelie verkondig en ons moet die liefde van die Here prakties toepas.
SLOT
Die nut van die Here Jesus Christus se opstandig vir ons is ’n nuwe lewe onder leiding van die Heilige Gees. Dit verseker ons van ’n sinvolle lewe en waarborg vir ons ’n wonderlike toekoms in die ewige vaderhuis.
AMEN.
Matteus 5:48 HERVORM TOT VOLMAAKTHEID
SKRIFLESING: MATT 5:17 - 48
TEKS: MATT 5:48
HERVORM TOT VOLMAAKTHEID
“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”
Broers en susters, kinders van God:
Wat is jou onmiddellike reaksie as jy hierdie opdrag hoor?
“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”
Ons sê mos gewoonlik: Niemand is volmaak nie!
Hierdie opdrag van ons Here Jesus Christus lei uiteindelik tot een van twee reaksies:
Enersyds hoor jy dit en besluit: Dit kan nie op my van toepassing wees nie, ek kan nooit volmaak wees nie.
Andersyds, hoor jy dit en dan pla dit jou geweldig, want jy wil so graag volmaak wees.
Dit is presies wat met die Groot Hervormer Martin Luther gebeur het. Hy het hierdie opdrag verskeie plekke in die Bybel gelees en hy wou so graag aan die Here gehoorsaam wees. Hoe harder hy egter probeer het om sy lewe volmaak in te rig, hoe minder het hy dit reggekry. Hy het op ‘n stadium selfkastyding toegepas deur dae sonder kos te bly en yskoue winternagte sonder klere op die klipvloer van die klooster te lê. Hy wou aan die Here wys hoe ernstig hy in sy berou oor sy sondes is.
Steeds kon nie vrede vind nie, want die opdrag staan lewensgroot geskryf:
- DIE HERE EIS VOLMAAKTHEID
Ek en jy, broeder en suster, kan hierdie duidelike, direkte en ondubbelsinnige opdrag van die Here op geen manier weg wens, weg praat of sommer net weg lewe nie!
So ‘n paar minute gelede het ons in die wet, soos dit in Levitikus 19 gegee word, gelees:
Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig. (Vers 2)
Heilig wees ........? Volmaak wees ...........?
Broeder en suster. Worstel u ook met die probleem?:
Ek en jy is maar net gewone mense, ʼn sondaars, vol tekortkominge. Hoe kan ons heilig wees? Dit is onmoontlik .......
Soms probeer mens op jou eie, beskeie manier om reg te lewe en aan die Here gehoorsaam te wees ....... Maar heilig en volmaak? ...... Dit is net te hoë eis........ Mens kan nie bykom nie.
Die vraag is: Verwag die Here regtig dat ek en jy perfek sal wees? Volmaak en sonder sonde?
Die Griekse woord wat in ons Afrikaanse Bybels met “volmaak” vertaal word, beteken:
volledig; onverdeeld; sonder voorbehoud; konsekwent.
Om aan die skare mense, wat daar teen die berghang in Galilea na Hom luister, te verduidelik wat dit beteken om volmaak te wees gee die Here Jesus verskeie voorbeelde:
Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank ..... en wie hom uitskel vir idioot, is strafbaar met die helse vuur. (Matt 5:21 – 22)
Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie’. Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. (Matt 5:27 en 28)
Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. (Matt 5:43 – 45)
Die Here Jesus sê vir die skare:
Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. (Matt 5:17)
En dan verder:
Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie. (Matt 5:20)
Broeder en suster. Hier is geen uitkom kans nie...... Die Here veroordeel nie net die sondedaad nie. Hy veroordeel ook die sonde selfs as dit nog net maar ‘n gedagte is!
Dit was presies wat Martin Luther ook verstaan het. God eis volmaakte gehoorsaamheid en volledige toewyding.
Op ‘n stadium toe die Here Jesus se twaalf dissipels ook hierdie geweldige opdrag goed verstaan het, nadat die Here Jesus met die ryk jongman gepraat het, was hulle logiese vraag:
Wie kan dan gered word? (Matt 19:22 – 26).
Hoe kan die Here van ons, wat vol sonde is en wat soveel tekortkominge het, verwag om volmaak te wees?
Hy antwoord ons in ons teksvers:
“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”
2. DIE HERE SELF IS VOLMAAK
Hy is die enigste, ware, ewige God. Daar is niks en niemand soos Hy nie.
Hy is volmaak in sy Skeppingswerk. Alles wat Hy geskep het is goed, volkome en volledig. Hoe meer ‘n mens sy skeppingswerk bestudeer, hoe groter word jou verwondering en bewondering vir sy wysheid en almag.
Hy is volmaak in sy verlossingswerk. In die Persoon van die Seun word Hy volledig mens kom betree die mens leefwêreld en gee Homself sonder voorbehoud as offer vir die mens se sonde. Hy kom bewys sy volmaakte liefde en genade. Hy het nie net halfpad gekom nie. Hy het ook nie met ʼn verdeelde hart gekom nie. Hy het sy liefde volledig kom bewys.
Die apostel Paulus sê die Here Jesus het vir sy vyande kom sterf!
Kyk wat sê die Here Jesus Self in ons teksvers oor God se volmaaktheid:
God laat sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor die wat reg doen en oor die wat verkeerd doen (Matteus 5:45).
Sien jy broeder en suster? God trek nie grense vir sy goedheid nie. Hy steek ook nie halfpad vas met sy liefde nie. Hy tree altyd volledig, konsekwent en sonder voorbehoud op. Daarin lê sy volmaaktheid.
Om kinders van ons hemelse Vader te wees, moet ek en jy soos Hy wees. Ons moet altyd konsekwent en volledig en sonder voorbehoud optree. Daar is nie wegkomkans nie. As ek en jy deel wil hê aan die koninkryk van die hemel, moet ons volmaak wees ..... Dit is die vereiste wat God stel.
Maar hoe kry ‘n mens dit reg?
Ons stem almal saam:
Nie een van ons kan dit uit onsself doen nie. Ons is te geneig om kwaad met kwaad te vergeld. Ons wil graag wraak neem. Boonop het ons allerhande voorwaardes vir ons vergifnis of ontferming. Ons trek grense en stel beperkings vir ons genade bewyse. Ons sukkel om die kwaad met die goeie te oorwin. Ons het allerhande voorbehoude. As ek byvoorbeeld dink iemand is nie my tyd en my geld en my opoffering werd nie, dan hou ek dit baie maklik terug .....
Maar dit is nie die soort optrede wat God by ons as sy kinders wil sien nie, want Hy is volmaak. As ons sy kinders wil wees, moet ons soos Hy wees ...... volmaak in ons optrede.
Die groot vraag bly: Hoe kan ons dan volmaak wees?
- SLEGS IN CHRISTUS IS ONS OOK VOLMAAK
Hy is immers ons Verlosser!
As mens rondom jou kyk, sien jy nogal dikwels goeie mense. Selfs ongelowiges is soms goeie mense. Ek en jy ken mos sulke gawe goeie mense wat nie ‘n vlieg sal skade aandoen nie en altyd bereid is om te help. Hulle word nooit kwaad nie en is gewoonlik vriendelik en opgewek ........... Maar weet jy? ........... Hulle is ook nie volmaak nie.
Die feit van die saak is: Die Here verwag van ons meer as dit wat goeie mense doen..
Kyk wat staan in verse 46 en 47:
As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle dan meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?
Die punt is: Ons moet totaal anders wees!
Ons moet spesiaal wees.
Ons moet heilig wees.........
Ek en jy moet volmaak wees, anders kan ons nie in die koninkryk van die hemel kom nie. .......
Broeder en suster....... Die enigste manier hoe ek en jy volmaak kan wees, is wanneer ons deur ‘n ware geloof in die Here Jesus ingelyf is!
Ons moet as lewende lote aan Hom, die ware wingerdstok, groei. Ons moet lewende stene in die geestelike huis van God wees. Daar waar die Here Jesus die hoeksteen van die gebou is. Ons moet deel wees van sy kudde wat agter Hom, die Goeie Herder, aanloop. Ons moet ledemate in sy liggaam wees.
Die apostel Petrus sê ons moet deur die werking van die Heilige Gees in Christus ingelyf wees, want alleen dan kry ek en jy deel aan die goddelike natuur (vgl. 2 Pet 1:3 -.9)
Uit eie krag kan ek en jy nooit volmaak wees nie.
Maar ons kan volmaak wees as die Heilige Gees ons in Christus inlyf. Hy is volmaak, want Hy is God.
Ek en jy moet daagliks bid dat die Heilige Gees ons sal vervul en ons al hoe meer in Christus sal inlyf sodat ons meer aan sy weldade deel kan hê.
As ek en jy so met ‘n vaste geloof in Christus lewe, sal ons noodwendig die vrug van die Gees dra. Dan sal mense rondom ons in ons optrede liefde, vreugde, vrede geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, nederigheid en selfbeheersing ervaar.
Ja, in Christus, onder leiding van die Heilige Gees, sal ek en jy volmaak wees...... Toe Martin Luther hierdie waarheid soos dit in 1:17 beskryf word verstaan, het die lig vir die hervorming deurgebreek.
Ons is regverdig voor God, enkel en alleen op grond van ons geloof in ons Here Jesus Christus. Die Here Jesus Christus hervorm ons deur sy Gees tot volmaakte kinders van God.
SLOT
Ons moet in ons anders-wees uitstaan. Soos ons hemelse Vader ons in Christus vergewe en ons so liefhet dat Hy sy Seun se lewe vir ons gegee het, moet ons ook in Christus lewe. Ons moet sy navolgers wees .... doen wat Hy doen en sê wat Hy sê.
Selgs onder die kragtige leiding van die Heilige Gees kan ons volmaak optree. Ja, ons kan selfs ons vyande liefhê en bid vir diegene wat ons vervolg. Ons kan die kwaad met die goeie oorwin!
Amen
Hebreërs 4:12 & 13 BELEEF DIE KRAG VAN DIE WOORD
SKRIFLESING: HEB. 4:1 – 13
TEKS: HEB. 4:12 & 13
BELEEF DIE KRAG VAN DIE WOORD
As God praat, begin dinge gebeur.....
Jy sien dit sommer op die eerste bladsy van die Bybel en boonop binne die eerste 3 verse waar daar staan:
Toe het God GESÊ: "Laat daar lig wees!" EN DAAR WAS LIG... (Gen1:3)
In Jes. 55 sê die Here:
So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: Dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar DIT SAL DOEN WAT EK GEDOEN WIL HÊ en tot stand bring waarvoor ek dit gestuur het. (Jes. 55:11)
In ons teksvers het ons gelees:
Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en DRING DEUR TOT DIE SKEIDING VAN SIEL EN GEES en van gewrigte en murg. DIT BEOORDEEL die bedoelings van die hart.
Wat deur ons teksvers op die tafel geplaas word, is die feit dat die Bybel beslis nie sommer maar net nog 'n boek op die rak nie.
Sodra ek en jy die Bybel oopmaak en daarin lees, kry ons met God persoonlik te doen. Ons word met sy kragtige woord gekonfronteer, daardie woord wat dinge laat gebeur. Die woord wat nie onverrigter sake na Hom toe terugkeer nie.
In ons teksgedeelte waarsku die Hebreërskrywer sy lesers teen die groot fout om die krag van God se woord te onderskat.
Die woord van God is ‘n saak van lewe of dood .... ewige lewe of ewige dood.
As ‘n mens die boek Hebreërs met aandag lees, kom jy agter dat die skrywer van die boek, wat terloops onbekend is, ‘n bepaalde skema gebruik. Gewoonlik praat ons van die brief aan die Hebreërs, maar dit is nie ‘n brief nie, dit is eerder ‘n lang preek. En in die preek gebruik die skrywer deurgaans ‘n skema of struktuur van verlede, hede en toekoms. Hy praat met sy lesers oor hulle huidige situasie, d.w.s in die hede. Hy is dus baie aktueel. Dit wat hy oor die hede sê, gryp hy egter nie sommer uit die lug nie. Hy begrond dit in die verlede. En dan laat hy ook nie dit wat hy sê sommer in die lug hang nie. Hy sê dit met die oog op die toekoms.
Kom ons kyk wat het die Hebreërskrywer destyds vir sy lesers in hulle bepaalde omstandighede gesê:
1. BEYWER JULLE OM IN DIE RUS IN TE GAAN
Hy praat oor die hede. Kyk na vers 1:
Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog van krag is, moet ons oppas dat dit nie miskien later blyk dat een van julle agtergebly het nie.
Wat is hierdie RUS waarvan ons lees?
Vir die volk Israel het dit die verlossing uit die slawerny van Egipte beteken. As slawe is hulle verneder en onderdruk. Hulle is onder die slawedrywers van alle vryheid en regte beroof. Hulle het geen rus geken nie – net lyding en nood. Die Here het hulle deur Moses uit die slawerny bevry en hulle na hulle beloofde land Kanaän gelei. Daar sou hulle nie soos slawe werk nie, want dit is ‘n land van vryheid en ook oorvloed.
Vir die mense in die Nuwe Testamentiese tyd, en ook ons vandag, beteken hierdie RUS om van die slawebande van die sonde bevry te wees. Onder leiding ons Verlosser Jesus Christus wat God, soos Moses destyds na die Israeliete, ook na ons gestuur het, is ons op pad na ons beloofde land – die ewige lewe!
Om die RUS wat God belowe in te gaan, moet jy aan Hom gehoorsaam wees. Jy moet die woord van God in geloof aanneem.
Kyk wat staan in vers 2:
Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle, maar hoewel hulle die prediking gehoor het, het dit hulle niks gebaat nie, omdat hulle nie geglo het wat hulle gehoor het nie.
Verstaan u wat die Hebreërskrywer doen?
Hy waarsku sy lesers, wat waarskynlik Joodse Christene in Rome was, om nie soos hulle voorouers, die Here se woord te minag nie.
Hy het hulle verlos uit Egipte en aan hulle sekere beloftes gegee, maar hulle die woord van God geminag en daarom het die meeste van hulle in die woestyn gesterf!
Dit gaan dus oor reaksie op die woord......
Wat doen die woord aan jou en my?
Ons teksverse beskryf die woord:
Die eerste eienskap van die woord is: Dit is lewend.
Die woord van God is nie maar ‘n klomp dooie letters op papier nie. Dit lewe. Dit is soos saad wat in die grond val en begin groei en dan vrugte dra. Dit is soos ‘n helder lig wat die donker verdryf. Dit is soos water – sonder water kan daar nie lewe wees nie.
In die tweede plek is God se woord kragtig. Die oorspronklike woord wat hier in Grieks gebruik word, is “energes”. Hier hoor jy ons woord“energie”. Dit beteken dus God se woord is vol energie.
En dan is dit verder skerper as enige swaard met twee snykante. Dit skei dinge wat normaalweg nie geskei kan word nie: Siel en gees en gewrigte en murg. Dit lê selfs die bedoelings en gedagtes van jou hart bloot!
Daarom, broeder en suster. Gee ag op God se Woord!
Kyk wat staan in vers 13:
“Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë........
En aan Hom moet ons rekenskap gee. “
Ek en jy hoor Sondag vir Sondag God se woord. Ons het sy beloftes gehoor die dag toe ons kinders gedoop is. Ook met elke Nagmaal hoor en sien ons wat Hy aan ons belowe.
Ja broeder en suster, wat doen die woord aan ons? Israel het die woord gehoor, maar nie geglo nie!
Die Hebreërskrywer waarsku sy lesers: Julle loop op dun ys.
2. LEER UIT DIE FOUTE VAN DIE VERLEDE
Israel het die Here se woord gehoor, sy wonderdade gesien en nog steeds in opstand gekom. Kom ons lees weer vers 6:
Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie in sy rus ingegaan nie....
Die Israeliete was almal op pad na die rus van hulle beloofde land. Maar toe hulle aan God se beloftes moes vashou, verlang hulle terug na die vleispotte van Egipte! Hulle kla oor hulle lewe in die woestyn.
Selfs toe hulle al op die drumpel van die beloofde land staan, is hulle te bang om in te trek. Hulle sien nie kans om God met hulle lewe en hulle toekoms te vertrou nie. Hulle staar hulle blind teen mense en omstandighede. En wat is die gevolg? Op die ou end sterf hulle almal in die woestyn!
Nou sê die Hebreërskrywer aan sy lesers en ook aan ons vandag:
Leer uit die foute van die verlede.
Wat maak ek en jy vandag met God se opdrag om sy rus in te gaan? Is ons bereid om ons hele lewe vandag in Suid Afrika in sy hand te plaas en saam met ons Here Jesus Christus as oorwinnaars te lewe?
Gryp ek en jy met ‘n ware geloof aan die nuwe lewe in ons Here Jesus vas? Leef ons onder die kragtige leiding van die Heilige Gees? Ons hoor mos ons Sondag vir Sondag dat ons in Christus meer as oorwinnaars is. Keer op keer verseker die Here ons dat niks ons van die liefde van Christus kan skei nie........
Glo ons dit? ............ Of kla ons?
Kla ons oor die Here ons laat woon in die haglike toestande in ons land? Kla ons oor ons nie genoeg geld het nie? Kla ons oor die Here toelaat dat ons gesondheid agteruitgaan? Kla ons oor mense wat die Here op ons pad bring? Kla ons oor dinge nie volgens ons wil en vereistes loop nie?
Die Here lei ons op die spreekwoordelike woestynpad, maar Hy is met ons op pad na ons beloofde land - die ewige lewe in die Vaderhuis.... Glo ons dat Hy ons elke dag lei en bewaar?
Die Here sien so 'n selfsugtige gekla as opstandigheid!
Die meeste Israeliete het nie die rus van hulle beloofde land gesien nie. Hulle het in die woestyn gesterf!
Wat moet ons dan doen?
Wat moet ek en jy vandag hier leer?
3. GEHOORSAAM DIE WOORD, DIT WAARBORG EWIGE RUS
Die Here gee ons die versekering: Sy woord keer nooit leeg na hom terug nie.
Die Here praat voortdurend met ons. En daar is nie wegkruipplek nie. Die helder lig van sy woord skyn tot in die donkerste hoekies van ons elkeen se lewe. Dis soos 'n vlymskerp swaard wat oopkloof en ontbloot. Dit beoordeel die bedoelings en oorwegings van die hart.
Kom ons dink so ‘n bietjie mooi: Solank 'n mens buite bereik van die Woord beweeg, is jy gewoonlik heel tevrede met jouself. Jy meet jouself dan net aan ander mense met wie jy te doen kry. En jou ideale en drome word bepaal deur dit wat die wêreld rondom jou aan jou voorhou as sukses en voorspoed.
As die woord met sy helder strale en skerp snykante egter jou lewe binnedring, verander dit jou wese. Dit lê jou sondige begeertes en denkwyse bloot. Dit meet jou ongehoorsaamheid en belig jou klagtes. Dit sny dwarsdeur jou selfgesentreerdheid en ontbloot jou totale verlorenheid.
Die woord doen egter nog baie meer!
Dit vertel jou van God se liefde en genade. Dit wys aan jou die weg na die ware rus van ‘n lewe saam met jou hemelse Vader. Jy sien in die geloof die ware verlossing in en deur ons Here Jesus wat na ons toe gekom het juis om ons uit die slawebande van die sonde en die dood te kom verlos. Jy ervaar die bruising van 'n nuwe lewe onder leiding van die Heilige Gees.
En dan ervaar jy die vernuwing en die toewyding en die bereidheid tot opoffering in jou eie lewe. Ander mense merk dit ook op en dit spreek tot hulle. Hulle kan sien dat jy 'n pad saam met die Here loop. Jou gesindheid en jou optrede is die bewys daarvan.
Luister wat staan in vers 14
Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons styf vashou aan die geloof wat ons bely.
Die vraag is nou:
- Hou ons styf vas aan die geloof wat ons bely?
- Hoe sien ons dit in ons eie en in mekaar se lewens?
- Hoe lyk ons erediensbywoning? Is ons nog so ywerig soos dit hoort of is Sondae al hoe meer 'n ontspanningsdag en uitstappiedag soos die Engelse spreuk dit stel: "Sunday is fun day"?
- Hoe lyk ons dankoffers? Kan mense aan ons dankoffers sien dat ons dankbaar is vir die Here Here se verlossingswerk en die nuwe lewe onder leiding van die Heilige Gees?
- Hoe lyk ons bereidwilligheid om in die Here se diens te werk? Om byvoorbeeld ywerig by 'n diensgroepe in die gemeente in te skakel?
- Wat is ons regtig bereid om op te offer vir die saak van die Here? Kom die dinge van die Here eerste of het ons ander prioriteite.
As ek en jy regtig erns maak met die Here se woord, waarborg hy ‘n nuwe lewe van rus en vrede. Dinge in ons lewe sal verander.
- Ons sal hierdie rus sekerlik ervaar as ons as huisgesinne weer elke dag rondom die woord saamkom en behoorlik huisgodsdiens hou.
- Ons sal die rus ervaar as ons die gulde geleentheid gebruik om saam met ons medegelowiges in Omgeegroepe saam te kom en saam te besin oor die lig van die woord in ons lewens. Dis die ware gemeenskap van die heiliges.
- Ons sal die rus ervaar as ons met ons medegelowiges eendragtig saam bid om die kragtige werking van die Heilige Gees. Dan sal daar groei in ons geloof kom. Ons sal vrugte dra tot die uitbreiding van God se koninkryk.
- Ons sal die rus ervaar as ons weer getrou is en erns maak met ons gereelde ontmoeting met die Here op Sondae.
- Ons as gemeente sal die rus ervaar in die feit dat ons ‘n helder lig in ons samelewing sal wees wat in liefde by die waarheid bly en in alle opsigte groei na Christus toe.
SLOT
Die Here se woord is lewend, kragtig en skerp.
As ek en jy dit ernstig opneem, maak die woord ‘n ware geloofslewe vol bruisende energie in jou los. Dit is ware rus ....
OF
As mens die woord minag, gebeur wat met Israel in die woestyn gebeur het: Hulle het in ‘n doodloopstraat beland. Hulle het geen rus gekry nie ....
Onthou wat staan in vers 6:
Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie sy rus ingegaan nie....
As jy God se Woord minag, speel jy met jou toekoms!
AMEN.
Johannes 17:6a. AGTING VIR GOD SE NAAM - VEREISTE NOMMER EEN VIR WARE AANBIDDING
SKRIFLESING: JOHANNES 17:1 – 12 TEKSVERS: JOHANNES 17:6a
AGTING VIR GOD SE NAAM – VEREISTE NOMMER EEN VIR WARE AANBIDDING
Eerbied, respek, ontsag ....
Dit is die soort reaksie wat ek en jy in die Bybel teëkom wanneer God Homself aan mense openbaar.
Kom ons kyk na enkele voorbeelde:
- Toe die Here Homself in ’n vlam binne-in ’n doringbos aan Moses openbaar het, moes hy sy skoene uitrek, want luister wat sê die Here:
“Moenie nog nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond” (Eks 3:5)
- Toe die profeet Jesaja ’n openbaring van die Here ontvang het, roep Hy uit:
Dit is klaar met my! Ek is verlore! (Jes. 6:5)
- Toe Esegiël as profeet geroep is en die heerlikheid van die Here aanskou, het hy plat op die grond geval. (Eseg. 1:28)
- Dieselfde het met die apostel Johannes gebeur toe die verheerlikte Here Jesus op die eiland Patmos aan hom verskyn het. Hy skryf:
Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval soos een wat dood is. (Openb. 1:17)
Telkens, wanneer ’n nietige mens met die ewige, almagtige en onbegryplike God te doen kry, kan so ‘n persoon nie anders as met eerbied, respek en ontsag reageer nie: ......... d.w.s nederig, klein en plat op die grond.
En broeder en suster. Dit is ware aanbidding ....... Wanneer ek en jy klein en nederig word voor die almagtige God.
Nou is die belangrike vraag: Hoe kan ’n nietige mensie, soos ek en jy, dit waag om voor die ewige en almagtige God te verskyn? Ja, hoe kan ons dit enigsins oorweeg om sy heilige Naam op ons lippe te neem?
Sy Naam is heilig net soos Hy heilig is. Luister net wat sê Jesaja:
Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder 'n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.” (Jes. 6:50
1. GOD SE NAAM IS DIE OPENBARING VAN SY WESE
In ons moderne samelewing is ons name nie meer soos vroeër werklik ’n beskrywing van wie en wat ons is nie. In die Bybelse tye het ‘n naam iets van die betrokke persoon se persoonlikheid en karakter weergegee.
- Adam beteken: Mens
- Jakob beteken: Bedrieër
- Moses beteken: Uit die water gehaal.
- Jesus beteken: Hy verlos.
Netso is God se Name ook beskrywend vir sy wese.
Toe die Here aan Moses in die brandende bos verskyn het en hom geroep het om die volk Israel uit Egipte uit te lei, het Moses gevra:
“Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur, ‘ en hulle vra my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?” (Eks 3:13)
Luister nou na die Here se antwoord:
Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” (Eks 3:14)
God se Naam sê wie Hy is en wat Hy doen. Hy bestaan werklik. Hy is die ewige God. Hy alleen is in beheer van sy skepping. En Hy is die God van sy volk. Hy is die troue God wat met Abraham die verbond gesluit het.
Kyk mens na die verskillende Name van God in die Bybel, sien jy onder andere:
- Die naam God. Dit is die naam wat sê dat Hy die almagtige Skepper van die heelal is.
- Die naam Hereis weer die naam wat sê dat Hy die Eienaar van alles en almal is – Hy is Koning!
- Dan is daar ook die naam Jahwe wat in die OAV 1933/53 weergegee word met HERE, en in die NAV 1983 op baie plekke met my God. Dit is die naam wat sê dat Hy is wat Hy is. Dit beteken ook dat Hy nooit verander nie, en dat ’n mens daarom altyd op Hom kan vertrou.
In sy Name sien ons sy grootheid, almag, heerlikheid en majesteit.
Geen mens kan egter die ware God leer ken, tensy die Here Jesus hom of haar uit die sondedood kom red nie. Hy het op hierdie aarde ’n mens kom word om God se liefde en genade te kom uitleef sodat ek en jy vandag in staaT is om die ware God te aanbid.
2. GOD SE NAAM WORD DEUR JESUS BEKEND GEMAAK
Kom ons lees weer ons teksvers:
Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U my uit die wêreld gegee het.
Die Here Jesus is in die gedeelte wat ons saamgelees het besig om te bid. Sy lewe op aarde nader die einde. Kort hierna sou hulle kom om Hom gevange te neem. In hierdie baie belangrike gebed praat Hy met sy Vader oor die opdrag wat Hy op aarde kom uitvoer het.
Een van die dinge wat Hy moes kom doen, was juis om God se Naam aan bepaalde mense, die wat die Vader aan Hom gegee het, bekend te maak.
As Hy dan sê dat Hy God se Naam bekend gemaak het, beteken dit nie dat Hy die letters en klanke van God se naam bekend gemaak het nie. Die mense destyds het mos die Ou Testamentiese Name van God geken.
Nee Hy bedoel dat Hy die persoonlikheid en karakter, die wese van
God aan die mense bekend gestel het. Hy het mense kom leer en kom wys wie en wat God is. Daarom het hy op ‘n ander plek gesê:
As julle My gesien het, het julle die Vader gesien (Joh. 14:9 – 11).
- Die mense het wel die naam God geken wat sê dat God almagtige is. Hulle moes egter verstaan wat almagtig beteken. Hy is die God wat blindes kan laat sien, verlamdes kan laat loop, dooies opwek, storms stilmaak en bose geeste uitdryf.
- Dieselfde geld vir die naam Here, wat Besitter en Heerser beteken.
Hulle moes verstaan wat dit beteken dat God die Een is wat op jou hart, op jou hele lewe beslag kom lê, omdat dit aan Hom behoort.
- Die Here Jesus het mense kom leer dat jy God met jou hele hart, jou hele siel en al jou kragte moet liefhê. (Dink aan die ryk jongman wat nie ter wille van die Here Jesus van sy besittings afstand wou doen nie)
- Toe Hy Sy lewe aan die kruis afgelê het om ons los te koop van al die skuld en straf wat ons met ons sondes oor ons gebring het, het Hy dit duidelik geopenbaar dat God tot die uiterste gaan om ons Here, ons Eienaar, te wees.
Die volk van die Here het sy Naam baie goed geken. Tog moes die Here Jesus aan hulle bekendmaak dat die Naam Here beteken dat God Sy verbond met Sy uitverkorenes sal hou.... Ja, selfs al breek hulle elke keer weer hulle woord.
Ons Here Jesus het gekom om God se Naam bekend te maak sodat ek en jy saam met Dawid in verwondering sal sê:
Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde (Ps. 8:2 & 10)
As ons sy Naam op ons lippe neem, kom ek en jy op ‘n besondere manier in sy heilige teenwoordigheid. Hy en sy Naam is mos dieselfde. Sy Naam sê Wie Hy is en wat Hy doen.
Maar nou is daar ‘n probleem: Die sondige mens is geneig om God se Naam te misbruik. En weet u wat is verskriklik ontstellend?
3. DIE MISBRUIK VAN SY NAAM IS OM HOM TE BELEDIG
As ek en jy begin verstaan dat God se naam sy wese openbaar en Hom in sy almag, heerlikheid en heerskappy bekendstel, kan ons ook begryp waarom die misbruik van Sy naam so ’n gruwelike sonde is. Daar is geen ander sonde wat God so kwaad soos juis hierdie sonde nie.
Dan kan ons ook verstaan waarom Hy hierdie sonde onverbiddelik gaan straf as daar nie hieroor opregte berou en bekering is nie. Hy het immers vir Moses beveel het om dit met die dood te straf! (Lev. 24:10 – 16).
Die feit is: die mens wat God se Naam misbruik, is besig om Hom te beledig. As ‘n mens sy Naam misbruik is jy aktief besig om sy grootheid, almag en heerlikheid blatant te minag.
Die oorspronklike Hebreeuse woord wat in Afrikaans met misbruik of ydelik gebruik vertaal word, beteken om iets waardeloos, leeg, niksseggend of sonder inhoud te maak.
Wie God se naam misbruik, maak God se naam leeg en niksseggend. So iemand beroof God van sy eer! Hy is besig om die lewende God te minag!
Diegene wat God werklik God bo alles liefhet, is uiters sensitief oor hoe Sy naam gebruik word.
- Sulke mense sal dit net nie regkry om Sy naam as ’n stopwoord of as ’n kragwoord of as ’n uitroep te gebruik nie.
- Hulle sal uiteraard ook glad nie daarmee kan vrede maak as ander mense dit aanhou doen nie.
- Sulke mense is ook fyn gevoelig vir die slegte gewoonte wat party mense het om God se naam te misbruik in uitdrukkings soos:
- “die liewe Here help my!”, of
- “die Vader alleen weet…”
- Sulke mense se ore kry seer selfs by die half gekamoefleerde misbruik van die Here se Naam, wanneer mense woorde gebruik soos:
- “Hene” [HAT: Verbloeming van Here]
- “Herre”
- “Jissie”
- “Heeremia…”
- Ja, diegene wat die Here bo alles liefhet se ore kry selfs seer as iemand in ’n gebed in elke sin die naam van die Here gebruik - so asof Sy naam ’n komma of ’n voegwoord is.
Dit is in werklikheid onmoontlik om God te aanbid en dan ook gereeld sy Naam te misbruik. Dit is 'n absolute teenstrydigheid..... Of jy aanbid die ware ewige God in sy almag, majesteit en heerlikheid OF jy beledig en minag Hom as jy sy Naam misbruik.
SLOT
Broeder en suster. Hoe kan mense wat verstaan dat God se name die uitdrukking is van sy majesteit, almag, grootheid en heerlikheid ooit Sy naam misbruik of ooit ophou protesteer teen mense wat dit doen?
Ek en jy moet Sy naam gebruik – natuurlik.... Ons moet Hom alleen aanbid!
Sy naam moet in hierdie wêreld gehoor word..... Dit moet verkondig word en besing word en geëer word!
Ons is baie versigtig as ons sy Naam op ons lippe neem. Ons gebruik sy Naam so dat elkeen wat dit uit ons monde hoor, sal verstaan dat dit die naam is van ons hemelse Vader vir Wie ons respek en ontsag het en vir Wie van harte lief is.
Hulle sal ook hoor dat ons aan Hom alleen respek en eerbied betoon.
Hulle sal verstaan dat ons met eerbied en ontsag praat van die enigste ware God wat ons met ons hele wese aanbid.
Amen.
Lukas 18:18 HOE ONTVANG JY DIE SAAD VAN DIE WOORD?
SKRIFLESING: LUKAS 8:4 - 18
TEKSVERS: LUKAS 8:18
HOE ONTVANG JY DIE SAAD VAN DIE WOORD?
Dink jy, broeder en suster, dit is vir ‘n mens nodig om jouself vir Sondag se preek voor te berei?
En dan ‘n verdere vraag:
Hoe reageer jy op ‘n preek? Met ander woorde, doen jy iets met die preek nadat jy dit Sondag in die erediens gehoor het?
In Matt 7:13 &14 maak ons Here Jesus ‘n baie duidelike uitspraak oor ons verantwoordelikheid as gelowiges:
Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.
Daarom sê hy ook in Lukas 13:24
Span al julle kragte in om by die smal deur in te gaan. Baie, verseker Ek julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie.
Ons gaan vandag fokus op hierdie ingaan deur die nou poort wat na die lewe lei. Hoe doen jy dit?
Die probleem is dat ‘n mens soms dink jy hoor en is selfs seker dat jy sien en is oortuig dat jy verstaan, maar dan gebeur daar niks nie!
Die ontstellende feit, broeder en suster, is dat juis dit so maklik met jou kan gebeur wanneer jy na ‘n preek luister. Jy luister, maar dan verander niks in jou lewe nie. Jy gaan maar voort op die pad wat jy loop en doen maar wat jy gewoond is om te doen.
Ons het ‘n gelykenis saam gelees wat die Here Jesus vertel het wat spesifiek handel oor die prediking en mense se reaksie daarop.
1. DIE HERE WYS OP VIER VERSKILLENDE REAKSIES
Hy verduidelik in die gelykenis dat daar vier soorte grond is waarop die saad van die Woord val. Elkeen van hierdie grondsoorte ontvang die saad op ‘n bepaalde manier. Volgens die Here het dit alles te doen met die manier waarop ‘n mens na die prediking luister.
Kom ons begin by vers 5. Hier sê die Here dat ‘n deel van die saad in die saaiproses op die pad geval het. Dit is vertrap en die voëls het dit opgepik. In vers 12 gee Hy die verduideliking:
Dié wat op die pad val dui op mense wat die woord hoor, maar dan kom die duiwel en neem dit uit hulle harte weg sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie.
Dit is een manier van luister.
In vers 6 verduidelik Hy dat ‘n ander deel van die saad op ‘n klipbank val en nadat dit opgekom het, het dit verdroog omdat dit geen vogtigheid gehad het nie.
Dan gaan Hy voort om dit in vers 13 te verduidelik:
Dié wat op die klipbank val, dui op hulle wat die Woord met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor, maar dit skiet nie wortel nie. Hulle geloof hou net ‘n tydjie. Die oomblik dat dit op die proef gestel word, gee hulle moed op.
Dit is die tweede manier van luister.
Die Here Jesus sê in vers 7 dat ‘n volgende deel van die saad tussen die onkruid val, en die onkruid groei daarmee saam laat dit verstik.
In vers 14 verduidelik Hy:
Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie.
Dit is die derde manier van luister.
En dan in die laaste plek sê hy in vers 8: Daar was ook ‘n deel wat in goeie grond geval het, en dit het opgekom en ‘n honderdvoudige oes gelewer.
In vers 15 kom dan die verduideliking:
Dié deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met ‘n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.
Dit is die vierde manier van luister.
Sien u broeder en suster, die vraag wat die Here Jesus aan die orde stel, is
2. HOE GOED LUISTER ONS?
As mens weer vers 8 lees, sien jy dat Hy wil seker maak dat elkeen goed verstaan waaroor die gelykenis gaan. Daarom roep Hy uit:
Wie ore het en kan hoor, moet luister!
Dit help nie net om ore langs jou kop te hê nie. Almal het dit. Hier gaan dit oor meer. Dit het te doen met spesiale ore. Net sommige mense het hierdie spesiale soort ore wat God se woord kan hoor.
Dit is ore wat deur die werking van die Heilige Gees fyn ingestel word om God se stem te hoor. Sy stem wat lewewekkend is en wat geloofsgroei tot stand bring.
Om die erns van die saak van werklik hoor verder te beklemtoon wys die Here Jesus in verse 9 en 10 op die doel van gelykenisse. Toe sy dissipels Hom vra wat die betekenis van gelykenis is, antwoord Hy:
Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van God te ken, maar vir die ander bly dit gelykenisse sodat hulle kyk sonder om te sien en hoor sonder om te verstaan.
Hierdie uitspraak van die Here maak ‘n mens onrustig en jy voel selfs so ‘n bietjie ongemaklik.
Aan diegene wat die Here uitverkies het word die geheime van die koninkryk geopenbaar en hulle kry, deur die werking van die Heilige Gees, die gawe om dit te verstaan. Hulle hoor en hulle groei in geloof en in diensbaarheid in die Here se koninkryk.
Maar dan sê die Here iets wat ‘n mens sommer regop laat sit. Hy sê dat Hy ook die gelykenisse gebruik sodat ander mense, diegene wat nie uitverkies is nie, weer glad nie sal kan sien of verstaan nie......
Die woord van die Here kom tot verlossing en oordeel.
Luister na hierdie harde woord as ‘n aanhaling van die profeet Jesaja:
Toe het die Here gesê: “Gaan sê vir hierdie volk: Julle sal hoor en hoor en tog sal julle niks verstaan nie, en kyk en kyk en tog niks sien nie”. Verder het Hy vir my gesê: “Maak hierdie volk traag van begrip en maak hulle ore doof en hulle oë blind sodat hulle nie met hulle oë sien, met hulle ore hoor, en met hulle verstand begryp en hulle hulle bekeer en genees word nie”.
Met ander woorde, die tyd het vir hierdie mense uitgeloop..... Israel, die volk van God, kry nou, juis deur die woord wat die profeet Jesaja aan hulle verkondig, met God se oordeel te doen!
Die woord van God was nie meer daar vir hulle redding nie, maar vir eerder tot oordeel en verdoemenis.........
Broeder en suster.
Hier leer ons nou iets wat baie belangrik is om God se doel met die prediking van sy woord te verstaan.
Luister mooi: As die prediking van die woord nie harte versag en red en genees nie, beteken dit nie dat die prediking nou oneffektief is en niks doen nie ..... Inteendeel .......... Die prediking van die woord moet ook God se verskriklike oordeel bewerk! Die prediking se doel is ook om mense se harte te verhard en hulle ore doof maak sodat hulle nooit weer sal hoor nie! God se woord is immers ‘n tweesnydende swaard!
Verstaan jy broeder en suster? Ek en jy mag nooit ongeërg of onnadenkend na God se woord luister nie. As dit nie versag en genees en red nie, kan dit wel verhard, verblind en verduister...... In 2 Kor. 2:16 verduidelik dat die apostel Paulus die werking van die woord wat hy en sy mede-apostels verkondig:
“Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word , sowel as die wat verlore gaan. Vir die verlore gaan is dit ‘n doodsreuk wat dood bring; vir dié wat gered word, is dit ‘n lewensgeur wat lewe wek.....”.
Daarom is die groot vraag nou:
3. HOE LYK DIE OES?
Dit hang natuurlik af van hoe ‘n mens luister!
Ja, broeder en suster, wat hoor ek en jy regtig?
Kom ons lees weer ons teksvers:
Pas dus op hoe julle luister, want wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word, maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy dink hy het, weggeneem word.
Dit is die punt! Dit is waaroor dit vanoggend gaan .... oor hoe ‘n mens luister!
Die prediking van die woord is wesenlik belangrik. Maar .... Hoe jy na die preek luister is net so belangrik. ...... Dit is van die uiterste belang!!
Kyk mooi. Daar is in hierdie gelykenis niks oor die effektiwiteit van die preek nie. Dit gaan nie nou oor die saad nie. Dit gaan oor die plek waar die saad val. E hoe daardie saad ontvang word. Dit gaan oor die hoe effektief ons luister!
In ons teksvers leer ons dat die woord ‘n positiewe en negatiewe oes lewer.
Kom ons neem eers die positiewe:
... wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word ....
Die woorde verwys terug na vers 8 waar die Here Jesus uitroep:
Wie ore het, en kan hoor, moet luister!
As jy deur die werking van die Heilige Gees geestelike ore gekry het om die woord te kan hoor, moet jy luister. Die gevolg is dan dit wat die Here Jesus in vers 15 sê:
Die deel wat in goeie grond val, dui op die wat die woord met ‘n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrugte dra.
Hierdie uitverkore kinders van God HET REEDS ‘N GOEIE EN OPREGTE HART.
Hulle sal nou meer ontvang:
Hulle bewaar die woord en DEUR VOLHARDING DRA HULLE NOU VRUGTE.
Maar kyk nou na die negatiewe:
.....maar wie nie het nie, VAN HOM SAL OOK WAT HY DINK HY HET, WEGGEVAT WORD.
Hierdie woorde van die Here verwys terug na die ander drie oppervlaktes waar die saad geval het asook die gebrek aan ‘n goeie harte en geestelike ore. Dit wat hierdie mense dink hulle het, as die saad gesaai word, dit word ook van hulle weggeneem.
In die eerste geval kom gryp die duiwel dit uit hulle harte weg.
In die tweede geval, is hulle geloof maar oppervlakkig en so ‘n soort geloof wat net die goeie tye kan staan. Sodra die beproewing kom, gee hulle moed op.
In vers 14 lees ons wat met die geloof gebeur wat tussen die onkruid opkom. Die mense dink hulle het die woord gehoor en hulle dink dat hulle glo, maar dan is hulle so besig met hulle eie lewe alles tussen rykdom en bekommernis en die genietinge van die lewe,........ dat daar in hulle lewe geen plek vir geloofsvrugte is nie...... Dit is ontnugterend! ..... Dit wat hulle gedink het hulle het, ook dit word weggeneem ..... Daar bly niks oor nie. Geen geloof..... Geen vrugte.
Die Here Jesus verduidelik in ons teksvers dat dit baie keer gebeur – drie uit die vier keer - dat mense dink hulle het geloof, maar dan word dit van hulle weggeneem.......
Net een keer, in die vierde geval, gebeur die teenoorgestelde:
..... dié wat die woord met ‘n goeie en opregte hart hoor, en dit bewaar ....... sal deur volharding vrug dra .... en ‘n honderdvoudige oes lewer!
SLOT
Kom ons sluit af.
Hoe ek en jy na die Here se woord luister, is wesenlik belangrik.
Dit het alles te doen met die feit of ons deur die smal poort in die koninkryk van God ingaan.
Wie met ‘n goeie en opregte hart luister en met geestelike ore hoor, sal in die geloof groei en ‘n uitstekende oes lewer.
Die wie se lewe egter vol van eie dinge is en wat toelaat dat persoonlike omstandighede in die pad kom, sal sien hoe dit wat hy of sy gedink het hulle het, ook weggeneem word....... Dan bly daar niks oor nie ..... net die breë weg wat na die verderf lei.
Daarom:
Pas op hoe julle luister!
AMEN
1 Timoteus 3:1 & 13 Ouderling en Diaken - verwerf 'n eervolle plek deur voortreflike diens
SKRIFLESING: 1 TIMOTEUS 3:1 – 13
TEKSVERSE: 1 TIMOTEUS 3:1 & 13
OUDERLING EN DIAKEN – VERWERF ‘N EERVOLLE PLEK DEUR VOORTREFLIKE DIENS
Ons teksverse vanoggend beskryf die reaksie op die dienswerk van ouderlinge en diakens.
Die apostel Paulus sê: Ouderlingdiens is ‘n voortreflike werk
En
Goeie Diakenswerk besorg aan die persoon ‘n eervolle plek in die gemeente.
Beide die Ouderling en Diaken se werk word met woorde beskryf wat met eer, aansien te doen het.
Net weet hoofstukke verder in hierdie brief aan Timoteus sê Paulus:
Die ouderlinge wat goeie leiding gee, behoort dubbele erkenning te kry, veral dié wat hard werk deur te preek en onderrig te gee. (1 Tim 5:17)
Die apostel Paulus verduidelik onder leiding van die Heilige Gees hoe belangrik Ouderlinge en Diakens se dienswerk in die gemeente is en dat dit daarom ook hoog geag word.
Broeders en susters, vanoggend wil die Here ons in die eerste plek laat verstaan:
- OUDERLINGE EN DIAKENS DOEN DIENSWERK TOT WELSYN VAN AL DIE LIDMATE
Die Here roep bepaalde mense om sy gemeente te versorg en toe te rus sodat die gemeente as liggaam van Christus kan funksioneer. Elke Christelike gemeente moet so lewe en so optree dat die lidmate self sowel as ander mense in die samelewing die Here Jesus Christus kan ervaar. Sy verlossingswerk moet in mense gesien word en die helder lig van sy woord moet uitgestraal word sodat mense wat in die duisternis van die sonde vasgevang sit die lig kan sien. Die Here se liefde is natuurlik die grondslag van hierdie nuwe lewe en dit moet sowel binne as buite die gemeente gestalte kry.
Paulus noem die gemeente graag die LIGGAAM VAN CHRISTUS. Luister hoe praat hy in sy brief aan die gemeente in Efese:
.... ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas bymekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde. (Ef. 4:15 & 16)
Om so as liggaam van Christus te kan funksioneer en groei, moet die lewe in die gemeente op ‘n volgehoue basis onderhou en geaktiveer word.
Die Ouderlinge is die opsieners, toesighouers of te wel bestuurders in die gemeente. Hulle moet as die kerkraad die leiding in die gemeente gee.
Om by die liggaamsbeeld van Paulus aan te sluit kan ‘n mens die ouderlinge met die senuweestelsel vergelyk. Die senuweestelsel verbind die hoof (die brein) met die res van die liggaam. Al die bevele wat die brein gee, word deur die senuweestelsel na die res van die liggaam deurgegee.
As daar as gevolg van ‘n besering of siekte een of ander probleem met die senuweestelsel ontstaan, kan dele van die liggaam nie meer funksioneer nie. So kan ‘n spinale- of te wel rugsenuwee besering die hele onderlyf verlam. ‘n Senuwee besering kan ook liggaamsbeweging belemmer sodat ‘n persoon spasties kan raak.
Wat die diakens betref. Die dienswerk van die diakens kan weer met die bloedvatstelsel in die liggaam vergelyk word. Die bloedvatstelsel sorg dat die lewegewende bloed met die nodige voedingstowwe by die verskillende ledemate van die liggaam uitkom. As mens deesdae met byna enige mediese ondersoek te doen kry, is bloedtoetse van die eerste dinge wat gedoen word. Die diakens in die gemeente sorg dat die liggaam gesond bly. In die formulier vir die bevestiging kry word hulle die opdrag om te sorg dat niemand in die gemeente deur armoede, eensaamheid, ouderdom, siekte of om ander redes van die geloofsgemeenskap vervreem raak nie.
Maar kom ons kyk na die Ouderling en Diaken se werk in die praktyk.
- OUDERLINGE EN DIAKENS RUS DIE LIDMATE TOE TOT DIENS
In Ef. 4:11 & 12 staan:
En dit is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was OM DIE GELOWIGES TOE TE RUS VIR HULLE DIENS en vir die opbou van die liggaam van Christus.
Christus se liggaam moet lewe. Daarvoor is daar ‘n ouderlinge wat die senuweestelsel vorm en diakens wat die bloedvatstelsel is. So word vir elke liggaamsdeel se funksionering gewaarborg en so word elke liggaamsdeel in ooreenstemming met sy bepaalde funksie versorg.
Die liggaam van Christus moet lewe en die liggaam van Christus moet werk. Christus moet in hierdie omgewing waar ek en jy elke dag beweeg bekend gestel word. Sy liefde moet sigbaar word en sy waarheid moet soos ‘n helder lig in die donker van die sondige wêreld skyn. Om so as liggaam van Christus te kan funksioneer , is die veronderstelling tog dat elke liggaamsdeel sal funksioneer.
Daarom moet elke lidmaat spesifiek toerus en begelei word om sy of haar bepaalde funksie te verrig. En dit is juis die Ouderlinge en Diakens se werk.
Kan u nou verstaan waarom die apostel Paulus so ernstig raak as hy oor die Ouderlinge en Diaken in die gemeente praat. Hy wys daarop dat nie sommer enige persoon geskik is om in die diens te werk nie.
Hy sê Ouderlinge onberispelik moet wees, getrou, gasvry en bekwaam om te onderrig. Hy moenie aan drank verslaaf of ‘n rusiemaker wees nie. Hy moet sy eie huis goed regeer en selfs onder mense buite die gemeente as ‘n goeie man bekendstaan.
Ook wat die Diakens betref is daar duidelike vereistes wat gestel word. Hulle moet van goeie karakter wees, nie op oneerlike winsbejag uit wees nie, maar in alles betroubaar en nugter. Hulle moet aan die geopenbaarde waarheid, die woord van God, vashou.
Sowel Ouderlinge as die Diakens is mense wat deur God self geroep en aangestel word om die liggaam van Christus hier op aarde toe te rus en te versorg. Daarom moet hulle ook met die nodige agting en respek behandel word. Hulle word deur die Here na jou en my gestuur om ons geestelik te versorg en ons toe te rus vir ons dienswerk.
Nou kan ons verstaan waarom Paulus sê
- OUDERLINGE EN DIAKENS LEWER ‘N VOORTREFLIKE DIENS
Ouderling- en Diakenswerk is nie werk waarmee geld gemaak kan word nie. Dit besorg ook nie aan jou een of ander posisie in die samelewing nie.
Hierdie werk is eerbare dienswerk, liefdeswerk wat in die gemeente hoog geag word. Dit gaan nie oor die persoon nie, maar oor die werk wat hy of sy doen – Sowel die Ouderlinge as Diakens is maar net mense. Mense met hulle eie tekortkominge en worstelinge, maar mense wat in diens van die Here is en besig is met koninkrykswerk.
Luister wat staan in Heb. 13:17
Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee ....
Omdat Ouderlinge en Diakens in die Here se diens staan, moet hulle aan Hom verantwoording doen vir hulle werk. Hy het elkeen van hulle persoonlik geroep en Hy het hulle aangestel. Daarom kan Hy ook van hulle rekenskap vra. By al die verskillende selle in die liggaam uit. As die bloedtoevoer gebrekkig is kan weefsel afsterf. Dit kan jou as diaken se
Broeder ouderling is jy as senuweestelsel in liggaam van Christus besig om die impulse van ons Here Jesus Christus deur te gee. As dele van die liggaam sonder lam geword het. Kan dit die ouderlinge wees wat nie hulle werk doen nie.
U as diaken. Aan u is die vraag: Kom die bloed by elke ledemaat uit? Dele van die liggaam kan weens ‘n bloed tekort afsterf. U mag nie toelaat dat enige lidmaat as gevolg van eensaamheid, ouderdom, armoede siekte of ander redes van die geloofsgemeenskap vervreem raak nie.
Paulus sê dienaars wat hulle werk met oorgawe en in getrouheid doen, verwerf vir hulle groot vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus. Dit beteken dat daar saam met elke Ouderling en Diaken se dienswerk die groot voordeel van persoonlike geloofsgroei kom. Daarom ontwikkel hulle ook al hoe meer die vrymoedigheid om oor die dinge van God se koninkryk en die uitbreiding daarvan te praat.
Maar nou moet ons verstaan dat hierdie dienswerk ‘n groot verantwoordelikheid inhou. Daarom moet ons vra:
Broeder Ouderling wat is u reaksie op die rekenskap wat God van oor u dienswerk vra? Is u ‘n getroue toesighouer en toegewyde bestuurder in die gemeente, die gemeente wat God met die kosbare bloed van sy Seun gekoop het?
En as Diakens, broeders en susters, wat sê u vir die Here oor u dienswerk? Is u regtig voluit besig om die ledemate van Christus se liggaam wat aan u toevertrou is, met toewyding en liefde te versorg en toe te rus? Begelei u hulle elkeen om ook ‘n aktiewe, toegewyde en liefdevolle ledemaat in die liggaam te wees?
Of die gemeente as liggaam van Christus groei en geestelik volwasse word, hang tot ‘n baie groot mate van die Ouderlinge en Diakens se dienswerk af, maar die gemeente, die lidmate het beslis ook ‘n verantwoordelikheid. Luister wat sê die apostel Petrus as hy met lidmate van ‘n gemeente praat:
Kom na Hom (Christus) toe, die lewende steen wat deur die mense afgekeur is, maar deur God uitverkies is . LAAT JULLE AS LEWENDE STENE OPBOU tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. (1 Pet 2:4 & 5)
Broeder en suster. Met watter houding en gesindheid ontvang jy die Ouderling of Diaken wat die Here na jou toe stuur? Is jy bereid om in jou besige program tyd te maak en die persoon hartlik te ontvang as ‘n dienskneg van die Here? Is jy bereid om saam te werk en jou deel te doen? Of het jy meestal een of ander verskoning waarom jy nie voluit deel kan wees van die gemeenskap van die heiliges nie?
SLOT
Ons het vanoggend geleer: Ouderling- en Diakenswerk is voortreflike werk. Met hierdie toegewyde dienswerk verwerf jy vir jou ‘n eervolle plek in die gemeente asook groot vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus.
Die groot vraag aan elke Ouderling en Diaken is: Hoe verantwoordelik is jy jou diens?
En aan die gemeente:
Hoe reageer ek en jy op die Ouderling en Diaken wat as dienskneg van die Here na ons gestuur word? Is ons altyd bereid om hulle te respekteer as die gestuurdes van die Here? Is ons bereid om saam te werk aan die opbou van hierdie gemeente as die liggaam van Christus om sodoende diensbaar in sy koninkryk te wees?
AMEN
1 Joh 4:7 & 8 DIE HERE SE GEMEENTE IS VOL LIEFDE
SKRIFLESING: 1 Joh. 4:7 – 21
TEKS: 1 Joh. 4:7 & 8
TEMA: DIE HERE SE GEMEENTE IS VOL LIEFDE
As ʼn vreemdeling vanoggend hier buite net voor u by hierdie erediens ingestap het, aan u sou vra:
Ek wil vandag hierdie erediens bywoon, maar sê my eers:
“Wat is die uitstaande kenmerk van die hierdie gemeente?”
Broeder en suster. Wat sou jy die vreemdeling antwoord?
Verskillende lidmate sal seker verskillende antwoorde kon gee. Kom ons formuleer dan die vraag so ‘n bietjie anders:
Wat wil ons Here Jesus Christus hê moet die uitstaande kenmerk van hierdie gemeente wees?
Ons Here Jesus Christus is die Hoof van die kerk. Dit wat Hy van sy kerk verwag, is sekerlik die belangrikste.
En wat Hy in sy kerk wil sien, is LIEFDE!
Toe die Fariseërs en Skrifgeleerdes Hom destyds met die wet gekonfronteer het en Hom gevra het: Wat is die grootste gebod? Wat was sy antwoord? LIEFDE!
En so was dit nog altyd, selfs in die Ou Testamentiese tye, die Here wil hê dat ons bo alles sal LIEFHÊ.
In 1 Kor. 13 lees ons dat die grootste en allerbeste gawe wat God aan sy kerk gegee het, juis die LIEFDE is. En in ons teksgedeelte in vers 16 lees ons selfs:
GOD IS LIEFDE....
En Hy verwag dat ons optrede ook deur absolute liefde gekenmerk sal wees ..... Maar nou is die vraag:
Is daar genoeg liefde in die gemeente?
Of anders gestel:
Is liefde die uitstaande kenmerk van die kerk?
Die kerk, seker ook hierdie gemeente, word al te dikwels van liefdeloosheid beskuldig, want
1. ONTROUES VERANDER GOD SE OPDRAG
God se doel met die liefdesopdrag is juis dat sy volk hulleself duidelik van alle ander mense moes onderskei.
Sedert die Ou Testamentiese tyd moes God se verbondsvolk anders wees, uniek wees, heilig wees......
Maar Israel het ontrou geword. Hulle het nie hulle lewenswyse op die vaste grond van liefde gebaseer nie. Hulle God se liefdeswet in hulle eie koue, en meestal harde klomp reëls en gebruike gaan inforseer.
Sien u? Die leiers binne die verbondsvolk verander God se wet wat met LIEFDE gespel word, na een of ander mensgemaakte godsdiens met ‘n klomp reëls en gebruike wat hulleself uitgedink het. Hulle dien die Here op hulle eie manier ...... reëls en gebruike in plaas van liefde!
Daarom verbaas dit mens nie as die Here in Maleagi 1:10 sê:
Was daar maar iemand onder julle wat die tempel se deure wou toesluit, sodat julle nie my altaar tevergeefs aan die brand hou nie! Ek hou nie van julle nie, sê die Here die Almagtige, en Ek wil nie ʼn offer van julle hê nie .....
En dan bly die Here vir 400 jaar lank stil. Hy stuur nie ʼn profeet nie. Hy wil nie met sy volk praat nie .....
Maar dan na eeue se stilte, stuur die Here weer ‘n profeet. Hy stuur Johannes die Doper om te sê die Here se Koninkryk het naby gekom. Die Here hou sy beloftes en Hy bly nie vir altyd kwaad nie. Hy ontferm Hom altyd weer oor sy verbondsvolk.
2. GOD SE SEUN HET SY LIEFDE NA ONS GEBRING
Ons almal weet mos wat in Joh. 3:16 staan:
God het die wêreld so LIEFGEHAD dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
Maar kyk nou na die verbondsvolk, die Jode, se reaksie. Die leiers van die volk, die Joodse raad en die Skrifgeleerdes verwerp die Here Jesus! Hulle sweep die volk op en lewer hom oor om gekruisig te word.
Waar God bloot uit genade en ontferming in die Persoon van die Seun na hulle kom om verhouding van liefde te vestig, gaan maak hulle Hom dood! ....... Hulle soek ‘n godsdiens vol wette en reëls.
Is dit nie ironies nie, broeder en suster? Die Jode het die Verlosser wat God vir hulle stuur, letterlik doodgemaak.
Maar laat ons nie te vinnig oordeel nie........ Wat doen ek en jy met ons Verlosser?
Hy is immers vandag steeds die verpersoonliking van God se liefde. Daarom sê die Here vandag hier vir ons deur die apostel Johannes:
Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ʼn kind van God en ken God.
Die Here verwag dat vernaamste kenmerk van ons as gemeente LIEFDE sal wees! ...... Liefde wat, net soos God gedoen het, met die daad bewys word.
Daarom is die wesenlike vraag vanoggend aan ons:
Hoe lyk die liefde in hierdie gemeente? Nie watter spesiale reëls en gebruike en gewoontes het ons nie....
Hoe lyk ons liefde vir die Here? Waaraan kan buitestaanders dit meet?
- Kan ander dit sien aan ons gemeente se erediensbywoning? Is daar nie te veel lidmate wat sommer maklik ‘n erediens of drie oorslaan nie?
- Ons toewyding om as gelowiges saam te kom om te bid en mekaar op te skerp? Is daar nie te veel lidmate wat maar tevrede is met net ‘n erediens nou en dan en dan niks meer nie. Geen kleingroep, gebedsgroep of diensgroep nie.
- En wat van ons dankoffers? Meer as die helfte van die gemeente se dankoffers aan die Here is regtig ver onder die merk.
- Hoe lyk ons bereidwilligheid om in die gemeente diensbaar te wees? Wat van al die verskonings? Is ander dinge nie meesal belangriker as dienswerk vir die Here nie?
Hoe lyk ons liefde teenoor ons naaste? Wat sien buitestaanders as hulle na jou en my kyk?
- Sien hulle hoe ons mekaar ywerig besoek, bemoedig en vermaan of sien hulle hoe elkeen maar sy eie ding doen?
- Sien buitestaanders dat ek en jy persoonlik by armes en eensames betrokke is?
- Het jy nie maar gewoonlik ‘n verskoning as daar gevra word dat jy moet help om liefde binne of buite die gemeente te betoon nie?
Broeder en suster, die feit van die saak is:
3. AS MENS SONDER LIEFDE IS, IS JY SONDER GOD
Kyk wat staan in vers 8:
Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.
Ja, liefde is die allesoorheersende kenmerk van die kerk van Christus. ......... Maar hoe lyk ware liefde?
Liefde is nie maar een of ander gevoel hier binne-in jouself nie. Liefde is dade!!!
In 1 Kor. 13 beskryf die apostel Paulus die liefde vir ons juis in terme van dade:
“Die liefde is geduldig,
die liefde is vriendelik;
dit is nie afgunstig nie,
is nie grootpraterig nie,
is nie verwaand nie.
Dit handel nie onwelvoeglik nie,
Soek nie sy eie belang nie,
Is nie liggeraak nie,
Hou nie boek van die kwaad nie
Dit verbly hom nie oor onreg nie,
maar verheug hom
oor die waarheid
Dit bedek alles
glo alles
hoop alles
verdra alles”......
Broeder en suster. Sien ek en jy hierdie liefde in ons eie lewe? Sien ons hierdie liefde in mekaar se optrede?
In vers 20 staan:
As iemand sê: ‘Ek het God lief’ en hy haat sy broer, is hy ʼn leuenaar, want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie.
Verstaan u wat die Here hier in sy woord vir ons sê? As ek en jy sonder liefde teenoor ons medegelowiges is, is ons ook nie lief vir die Here nie!
Kom ons maak dit baie prakties:
Al kry ons elke Sondag die wonderlikste en suiwerste prediking, en al het ons die mooiste gebruike en seremonies in ons eredienste, en al besoek die predikant, ouderling en diaken die lidmate op ‘n gereelde, basis beteken dit nog nie dat ons ‘n gemeente is soos die Here van ons verwag nie....
Ons kan ‘n vol program hê en allerhande dinge doen wat ons baie besig hou, maar sê die Here, as ons nie die liefde het nie, is ons niks nie ... Niks meer as ‘n klomp leë blikke wat baie geraas kan maak nie.......
Dan kan die Here seker ook vra: Is daar nie iemand wat tog die deure wil sluit nie.
Ons kan slegs ‘n lewende gemeente wees as ons die Here regtig bo alles liefhet. As ons onder leiding van die Heilige Gees graag die Here in die erediens ontmoet en Hom graag op ‘n praktiese manier deur die week ook dien en aanbid.
Die Here verwag dat ons onder leiding van die Heilige Gees Hom werklik eerste sal stel en ook ywerig in ons liede vir ons naaste sal wees.
SLOT
Kom ons gaan vandag hier uit en dan gaan dink ons ernstig oor ons liefde?
Daar is ‘n hele klomp lidmate wat wél so hulle liefde vir God en liefde vir hulle naaste uitleef, maar daar is tog ook so baie wat dit nie doen nie.
Daarom weer die vraag:
Hoe is my en jou liefde teenoor die Here sigbaar en waaraan sal buitestaanders my en jou liefde vir ons naaste kan sien?
Amen.
KOLOSSENSE 2:11 & 12 DIE DOOP LYF JOU IN BY DIE NUWE LEWE IN CHRISTUS
SKRIFLESING: KOLOSSENSE 2:1 – 15
TEKS: KOLOSSENSE 2:11 & 12
TEMA: DIE DOOP LYF JOU IN BY DIE NUWE LEWE IN CHRISTUS
Elkeen van ons wat vanoggend hier saam is, van die oudste tot die jongste, is mos gedoop.
Ons is gedoop op grond die baie duidelike opdrag wat ons Here Jesus Christus, voordat Hy na die hemel opgevaar het, aan sy dissipels gegee het:
Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matt 28:19 en 20)
Die vraag wat vanoggend in die prediking aan die orde kom is:
- WAT BETEKEN MY DOOP?
Broeders en suster. Dit is ‘n baie belangrike vraag, want daar is regtig ‘n hele klomp verwarring en misverstand oor die betekenis van die doop.
Die misverstande kan ‘n mens in twee hoofgroepe verdeel.
Die een standpunt wat veral by die Rooms Katolieke Kerk duidelik word, is dat die doop op sigself jou salig maak. Op die manier kry die doop een of ander magiese betekenis. As ‘n baba byvoorbeeld baie siek word en dalk kan sterf voordat daar geleentheid vir doop was, word die priester groep om gou die baba te doop voor die te laat is. En as daar nie ‘n priester beskikbaar is nie, moet selfs die verpleegsuster aan so ‘n baba die doop bedien.
Dan is daar die ander standpunt wat ‘n mens by die Charismatiese en Pentekostalistiese groepekry, wat die doop sien as ‘n bewys of bevestiging van jou bekering. Die gedagte wat hulle handhaaf, is dat alles by jou persoonlik begin. Jy moet eers jouself bekeer. En dan, as bewys van jou besluit en jou bekering, laat jy jou dan doop. En dan gebeur die wonder. Dan sal jy, volgens hulle, die Heilige Gees ontvang. Op grond van hierdie siening kan babas uiteraard nie gedoop word nie, want babas kan volgens die siening nie sondig nie en kan hulle ook nie bekeer nie. Jy moet persoonlik, self die besluit neem dat jy op een of ander stadium gedoop wil word.
Waar die Roomse- sowel as die Charismatiese siening is dat die doop op sigself een of ander besondere krag het, is as Gereformeerdes se standpuntis dat die doop ‘n opdrag van God is om ons in sy verbond in te lyf. Dit is ‘n teken en ‘n waarborg wat God gee om te bewys en te bevestig dat Hy ons en ons kinders in sy verbond insluit. Die doop is ‘n bevestiging dat jy in ‘n bepaalde verhouding met die Here staan.
Toe die Here met Abraham die verbond gesluit het, het Hy gesê:
Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ‘n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. (Gen.17:7)
Toe Petrus op Pinksterdag na die uitstorting van die Heilige Gees gepreek het, het hy gesê:
Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, ........... Wat God belowe het, is vir julle en vir julle inders en vir almal wat daar ver is ..... (Hand 2:38 en 39)
Nou moet ons mooi verstaan: Daar is een van twee maniere waarop ‘n mens deel van God se verbondsvolk word.
- Iemand wat ‘n heiden en ongelowige is, hoor vir die eerste keer die Woord van die Here. Hy kom tot bekering, word gedoop en is dan deel van God se verbondsvolk (Dit is die kerk)
- Iemand wie se ouers gelowiges is, word binne die verbondsvolk van God gebore. So ‘n persoon is op grond van geboorte en verwantskap deel van God se verbondsvolk.
Kom ons kyk nou mooi wat sê die apostel Paulus in ons teksverse.
2. BESNYDENIS EN DOOP IS DIE GRONDSLAG VAN ONS NUWE LEWE
Dit gaan hier oor die gemeente se lewende verhouding met die Here. Paulus begin hierdie gedeelte met die woorde:
Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe. (vers 6)
En wanneer hy oor hulle verbondenheid, of te wel verhouding, met die Here praat, sê hy in ons teksverse:
Deur julle verbondenheid met Hom is julle besny ..... Dit het by die doop gebeur.......
Hier noem Paulus besnydenis en doop in dieselfde asem. En hy sê sowel die besnydenis as die doop gaan oor presies dieselfde saak naamlik die gemeente se VERBONDENHEID MET DIE HERE JESUS CHRISTUS!
Maar nou is dit opvallend die lidmate van die kerk in Kolosse was nie besny nie .... Beslis nie op die manier waarop die volk Israel in die Ou Testament die besnydenis gedoen het nie. Paulus was in elk geval geen voorstander van die besnydenis nie.
Hy skryf dan aan die Galasiërs:
Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie (Gal 5:2)
En aan die Filippense sê hy:
Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis. (Hy noem die besnydenis hier in die Grieks: ‘n Verminking!) (Fil. 3:2)
Maar kyk nou mooi: Hy gaan dan onmiddellik verder en sê:
Ons het die ware besnydenis, ons wat God deur sy Gees dien, ons wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie. (Fil. 3:3)
Paulus praat hier in verse 2 en 3 van Filippense 3 van
‘n BETEKENISLOSE BESNYDENIS en van ‘n WARE BESNYDENIS.
Die probleem was dat mense, Paulus noem hulle dwaalleraars aan die besnydenis op sigself vasgehou het. Hulle het gemeen dat die fisiese besnydenis van jou ‘n ware lid van God se verbondsvolk maak.
Paulus is ernstig as hy sê dat die fisiese besnydenis betekenisloos is. Hy gaan selfs so ver om dit ‘n verminking te noem!
Die ware besnydenis is ‘n geestelike besnydenis. Let op. Hy sê:
Ons het die ware besnydenis, ONS WAT GOD DEUR SY GEES DIEN.
Die besnydenis aan die liggaam was nog altyd, selfs in die Ou Testament, net ‘n uiterlike teken van iets wat innerlik, geestelik, in die mens se hart moes gebeur.
In Deut. 10:16 (53 vert.) sê Moses vir die volk Israel:
Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie ....
En in Deut. 30:6 (53 Vert.) staan:
En die Here jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die Here jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel dat jy kan lewe.
In Jeremia 4:5 (53 vert.) lees ons:
Besny julle vir die Here en verwyder die onbesnedenheid van julle hart, manne van Juda en inwoners van Jerusalem ...
Die besnydenis het twee betekenisse:
Een is die uiterlike teken aan die liggaam
En die ander is
Dit wat innerlik, geestelik, met ‘n mens se hart gebeur.
Die uiterlike is ‘n teken en ‘n bevestiging van dit wat God deur sy Gees innerlik aan ‘n mens verander.
Belangrik om te verstaan, is dat die uiterlike teken aan volwassenes sowel as kinders gegee is. Abraham het as volwassene eers geglo en is toe besny. Sy seun Isak is as baba op 8 dae oud besny. Hy is dus eers besny en het later eers geglo.
Net so, broeders en susters, is die doop ‘n uiterlike teken van dit wat innerlik, geestelik, met jou en my hart moet gebeur. Die teken kan ook aan volwassenes gegee word wat eers moet glo en hulle bekeer. Dit kan egter ook aan kinders van gelowiges gegee word wat dan eers die teken ontvang en later deur hulle ouers tot geloof begelei word.
Die apostel Paulus verduidelik juis in ons teksgedeelte dat daar ‘n duidelike verband tussen die besnydenis en doop bestaan. Beide is tekens van dit wat innerlik met ‘n mens gebeur. Kom ons lees weer ons teksverse:
Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek ...
Paulus verduidelik aan die gemeente dat hulle is aan Christus verbind is deur die besnydenis van die hart. En sê hy, dit het by die doop gebeur deurdat julle saam met Christus begrawe is en ook opgewek is.
Sowel die besnydenis in die Ou Testament as die doop in die Nuwe Testament bring jou in ‘n nuwe verhouding tot die Here: Jy word in die verbond met God opgeneem. En kyk:
3.DIE HERE GEE OP GROND VAN DIE VERBOND BEPAALDE SEËNINGE
Die feit dat ons gedoop word plaas ons binne die dampkring, die omgewing, die milieu waarbinne ons in God se seëninge deel:
- Hy lyf ons in die verbond in.
- Hy gee ons deel aan die sterwe en opstanding van Christus
- Hy gee die vergifnis van sonde
- Hy gee ‘n nuwe lewe onder leiding van die Heilige Gees
- Hy gee aan ons die wedergeboorte
Al hierdie dinge word tot die beskikking van die gedoopte mens gestel. Of dit ‘n volwassene of ‘n kind is, maak gee verskil nie.
Maar nou moet ons onthou: Die opdrag tot doop kom saam met die vereiste van geloof.
As iemand as volwassene vir die eerste keer die evangelie hoor, moet so ‘n persoon tot bekering kom en dan gedoop word waarna hy of sy verder onderrig word in die wonders van die evangelie. (Hier is dit eers geloof en dan doop)
Of
As iemand uit gelowige ouers gebore word, word die persoon reeds as baba gedoop en dan word so ‘n kind tot geloof gelei deur die ouers se opvoedingswerk. (Nou is dit eers doop en dan geloof).
Uiteindelik het die doop een doel en dit is om iemand in die verbond in te lyf sodat die persoon in verbondenheid met Christus kan lewe.
Maar nou moet ons goed verstaan, broeders en susters:
As iemand in God se verbond ingelyf is (deur die besnydenis in die OU Testament of deur die Doop in die Nuwe Testament), gaan dit om ‘n nuwe lewe. Dit gaan om die besnydenis van die hart en om die reiniging van die hart.
Enersyds kry jy deel aan God se Verbondseën, maar, en dit moet ons goed hoor, jy kan ook net soveel deel kry aan God se verbondswraak. ......
Daarom lees ons in die Bybel dat God se oordeel juis by sy huis begin! As ek en jy wat in al hierdie seëninge van die doop deel, nie in verbondenheid met Christus lewe nie, tree God se verbondswraak in! En daarom lees ons: Dit is verskriklik om te val in die hande van die lewende God!
God gee sy seën, maar Hy laat nie met Hom mors nie!!
Die Here Jesus het gesê: Laat die kindertjies na My toe kom .....
Maar Hy het ook gesê:
Die een wat eenvan hierdie kleintjies van my afvallig maak, laat ‘n meulsteen om sy nek gehang en hy dan in die diepste see gegooi word.....
SLOT
Vandag sien ons hoe die Here ‘n klein kindjie in sy verbond inlyf sodat sy in verbondenheid met ons Here Jesus Christus kan lewe. Sy word gedoop en dan gaan haar ouers belowe dat hulle haar sal leer om in verbondenheid met Christus te lewe.
Hierdie ouers gaan met hulle opvoeding tot ‘n groot mate bepaal of sy uiteindelik God se Verbondseën of sy Verbondswraak gaan belewe.
AMEN.
Esegiël 13:10 VALSE GERUSTHEID IS GEVAARLIK
SKRIFLESING. ESEG. 13:1 – 16
TEKS: ESEG. 13:10
VALSE GERUSTHEID IS GEVAARLIK
Voor ons vanoggend by die dieper betekenis van hierdie Skrifgedeelte kom, wil ek eers net so ‘n bietjie met u gesels. Ek gaan ‘n paar vrae stel:
Wat wil jy hê moet ‘n preek aan jou doen?
- Moet die preek jou vertroos en bemoedig?
- Kan die preek jou maar ongemaklik maak of skuldig laat voel?
- En kan die preek jou maar kwaad maak?
- Of wil jy hê die preek moet jou net goed laat voel?
In die Ou Testamentiese tyd het die Here profete in sy diens gehad. Hy het hulle na die mense gestuur om sy woord te verkondig. Kyk wat sê Esegiël in verse 1 en 2:
Die woord van die Here het tot my gekom: Mens, tree jy as profeet op ..... Sê vir die mense .....: Hoor die woord van die Here!
Vandag stuur die Here nog steeds mense om sy woord te verkondig. Vandag moet predikante ook duidelik sê:
Hoor die woord van die Here!
Maar kyk nou mooi wat gebeur!
In Esegiël se tyd was daar mense wat hulleself as profete van Israel voorgedoen het. Hierdie mense was nie deur die Here gestuur nie en het ook nie die Here se woord gebring nie. Hulle het hulle deur hulle eie gedagtes laat lei.....
Eeue later waarsku die apostel Paulus, self ‘n gestuurde van die Here, met presies dieselfde probleem. Hy skryf aan Timoteus:
….daar sal ‘n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.(2 Tim. 4:3)
Hierdie profete in Esegiël se tyd en die leermeesters in Paulus se tyd het almal graag gesê:
So spreek die Here!
Maar dan is dit glad nie die Here se woord nie! Hulle kom met hulle eie gedagtes en sê die dinge wat die mense graag wil hoor.
In ons teksgedeelte waarsku Esegiël die volk Israel:
JOU PROFETE is soos jakkalse tussen die puinhope.
Het u dit opgemerk? Die Here praat van JOU profete Israel ..... Met ander woorde, dit is nie die Here se profete nie!
En nou is die probleem:
1. DIE VALS PROFETE ONDERMYN DIE VOLK
Die Here sê hulle is soos jakkalse ..... ‘n Jakkals is mos maar ‘n skelm ding. ‘n Agterbakse en lafhartige soort aasdier.
Die Here sê hierdie selfaangestelde profete is soos jakkalse tussen die puinhope.
Op die stadium was die volk Israel mos in ballingskap. Hulle is as krygsgevangenes weggevoer na Babel. Hulle eie land het verlate gelê en die stad Jerusalem was verwoes.
Jerusalem wat in puin gelê het, was inderwaarheid simbolies van die volk se geestestoestand – vervalle, deurmekaar en hopeloos.
En nou het hierdie selfaangestelde profete hulle in die puin van die volk se vervalle geestelike toestand tuisgemaak. Soos jakkalse is hulle tuis in die puin. Daar waar ellende is, sak hulle toe om te aas.
Kyk waaroor verwyt die Here hulle. Hy sê in vers 5:
Hulle het nie gegaan na waar die muur omgeval het en weer ‘n muur om Israel gebou sodat hy staande kan bly in die oorlog wanneer die oordeelsdag van die Here kom nie.
Die selfaangestelde profete, sê die Here in vers 10, het die volk verlei.... hulle het gesê:
Dit sal goed gaan toe nie sou goed gaan nie....
Sit ons nie ook deesdae grootliks in ‘n soortgelyke toestand nie?
- Die kerk of te wel die volk van die Here se geestelike toestand laat veel te wense oor.
- ‘n Groot klomp Christene is deur die wêreld in ballingskap weggesleep. Baie Christene se lewenstyl en die van die wêreld lyk presies dieselfde.
- Mense wil graag nog bekendstaan as Christene, maar hulle dien die Here net op hulle eie voorwaardes. Jy sien dit sommer maklik aan swak erediensbywoning en die willekeurige dankoffers.
- En dan, soos Paulus sê, soek hulle leermeesters wat net sê wat hulle graag wil hoor.
- Die mense wil graag hoor: Dit sal met jou as Christen goed gaan .... Die Here is aan jou kant.... Tipies van die hedendaagse voorspoedsgodsdiens ....
- En dan is daar mos deesdae ook baie van hierdie sogenaamde geestelike leiers wat met die evangelie geld maak. Hulle lewe in absolute weelde omdat hulle soos jakkalse tussen die puinhope aas. Mens dink hier onder andere aan Amerikaanse evangeliste soos Kenneth Copeland, Benny Hinn, Joel Olsteen en Joyce Meyer. Hierdie mense kom met dwaalleer. Met hierdie dwaalleer sê hulle juis dit wat die mense graag wil hoor.
En dit bring ons by die groot probleem naamlik:
2. VAN NATURE SOEK DIE MENS SY EIE VERLOSSING
Om dit te verduidelik gebruik Esegiël ‘n volgende beeld wat by die vorige beeld aansluit.
Die Here sê die volk het vir hulleself tussen die puinhope van die verwoeste stad ‘n eie skermmuur gaan bou.
In vers 5 het die Here die selfaangestelde profete verwyt omdat hulle nie gaan werk het waar die stadsmuur omgeval het om dit te herstel nie... En nou gaan Hy verder en sê in vers 10:
Hulle (die vals profete) het my volk verlei, hulle het gesê: Dit sal goed gaan toe dit nie sou goed gaan nie, EN TOE DIE VOLK ‘N EIE MUUR BOU, het daardie profete dit netjies afgewit.
Die Here verwyt hierdie selfaangestelde profete dat hulle die volk sterk in hulle kwaad. In plaas daarvan dat die profete die volk teruglei om die stad van God en die tempel van God te herbou, help hulle die volk om hulle eie selfgeboude skermmuur tussen die puinhope te verf.
Verstaan u broeder en suster? Die profete leer nie die volk om hulle verhouding met die Here te herstel nie, nee, hulle praat die volk na die mond. En daarom is hulle baie gewild!
‘n Mens hou mos nie daarvan om op jou foute en tekortkominge gewys te word nie. Nee, jy verkies dit as jy opgehemel en aangemoedig word. Die mens wil sy eie lewe reël en niemand mag vir jou voorskryf wat jy moet doen nie. Die sondige mens wil doen soos hy wil en soos hy voel. Elkeen het mos sy menseregte!
Broeder en suster. Kom ons vra:
Wat verwag ek en jy vandag van die profete, die leermeesters, die predikante?
- Moet hy so preek dat jy goed voel?
- Wil jy van ‘n erediens af wegstap en sê: Dit sal met my goed gaan?
- Wil ek en jy hoor wat ons graag wil hoor of wil ons hoor wat die Here regtig sê?
- Is ons bereid om opofferings te maak deur uit ons gemaksone te beweeg sodat ons kan help opbou waar die geestelike muur omgeval het?
- Of verwag ons dat die leermeester of predikant ons moet help om ons eie skermmuurtjies wat ons vir onsself gebou het mooi te verf?
Broeder en suster. Mag die Here se profeet of te wel leermeester jou en my aanspreek oor betrokkenheid en diensbaarheid by omgeegroepe, erediensbywoning, dankoffers en gebedsbyeenkomste?
Luister wat het die Here deur sy profeet Esegiël vir die volk gesê:
Sê vir dié wat die muur afgewit het wat gaan val: Daar kom stortreëns, Ek laat haelstene val, stormwinde losbreek. Die muur gaan val, en die mense sal vir julle vra: Waar is die witsel waarmee julle dit afgewit het?(vers 11)
Broeder en suster, ‘n selfgeboude geestelike muur kan nie teen die storms van die lewe bly staan nie. U ken mos die gelykenis wat die Here Jesus vertel het van die twee huise. Een wat sonder fondasie en op die sand gebou is het geval toe die storm kom. Die ander huis met ‘n goeie fondasie en wat op die rots gebou is, het bly staan.
3. NET BY DIE HERE IS DAAR WARE REDDING
Eers wanneer die Here die skanse, die skermmure wat ons vir onsself gebou het afbreek, sien mens jou eie sondeverlorenheid raak.
Ja, as Hy die lewensstorms oor jou en my laat losbreek, sit daar inderwaarheid 'n groot stuk genade in......
As ons eie skermmuur omgestoot word, staan ons daar op ons eie. Gestroop van alles wat ons vir onsself bymekaar gemaak het. Dan soek ons skuiling. Dan soek ons hulp.
En dan hoor ons eers werklik, ons Verlosser se stem:
Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee".
Broeder en suster, solank ek en jy nog agter ons eie skermmuur sit, is ons baie tevrede met onsself. Dan luister ons lekker na die profete wat ons muurtjie kom verf met boodskappies wat ons graag na luister ....... Maar onthou, die Here noem sulke profete, wat jou en my in ons gehoor wil streel, jakkalse!
Die boodskap van hoop, is die boodskap wat jou en my roep om agter ons eie skermmure uit te kom en om te help werk aan die herstel van God se kerk. Dit beteken ons moet ons eie voorkeure eenkant toe skuif en buite ons gemaksone kom. Dit vra opoffering en moeite. Dit vra dat ek en jy ons eie dinge eenkant toe sal skuif ter wille van God se stad. Die nuwe Jerusalem. Ons ware, ewige hemelse erfenis.
Broeder en ster. Die Here verwag van sy profete om sy volk terug te lei na die vervalle mure en die puinhope van 'n gebroke verhouding sodat hulle kan begin met herstelwerk. Ja, ware bekering is nodig!
God het sy Seun gestuur om hierdie herstelwerk te doen.
Daarom het Hy by geleentheid gesê:
Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig
Hy het toe mos sy eie liggaam bedoel wat aan die kruis sou sterf en na drie dae uit die graf sou opstaan!
Die enigste manier wat ons die ware ewige lewe het, is wanneer ons deel het aan sy liggaam. Die kerk is die Here Jesus se liggaam. Dit is hier waar ons ledemate van sy liggaam is en dit is hier waar ons saamwerk aan die opbou van God se geestelike huis, sy ewige tempel! Deur ‘n ware, lewende geloof is ek en jy lewende stene in hierdie geestelike huis van God.
Daarom kom die opdrag aan elkeen van ons:
Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis, om 'n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. (1 Pet 2:5)
SLOT
Geliefdes, wat verwag u van u profete, u leermeesters?
Moet jou profeet, die een wat die Here se woord bring, jou help om die muur wat jy vir jouself gebou het netjies te verf?
Of verwag jy van hom om jou op te roep tot bekering sodat jy saam kan werk om die vervalle mure en puinhope van ‘n kerk wat deur die storms van die lewe stukkend geslaan is, te herstel sodat dit die ware geestelike huis van God kan wees?
AMEN.
1 Timoteus 6:17 - 19 KOM ONS TOETS ONS RYKDOM
SKRIFLESING: 1 TIM 6:2c – 21 TEKS: 1 TIM 6:17 – 19 KOM ONS TOETS ONS RYKDOM
Wat is die beste belegging wat u al in u lewe gemaak het?
Sommige mense sê dat ‘n belegging in eiendom die beste is. Ander meen weer dat jy in aandele moet belê terwyl nog iemand sou sê dat jy liewer vir jouself ‘n goeie spaarplan moet kry. Wat ek en jy as die beste belegging of spaarplan beskou, maak nie regtig soveel saak nie...... Wat wél saak maak is ons elkeen se persoonlike ingesteldheid ten opsigte van ons rykdom.....
Ja, broeder en suster, die vraag is:
Watter rol speel aardse besittings in jou lewe?
Ons lewe in ‘n tyd en in ‘n samelewing waarin daar aan materiële dinge ‘n baie hoë waarde gegee word. Mense met baie geld en ‘n klomp besittings word byna altyd as suksesvolle mense beskou. Sulke rykes geniet meesal hoë aansien. Daarom wil mense baie graag soos hulle lyk en boonop streef die meeste mense daarna om die rykes se soort lewenstyl te kan geniet. Alhoewel ons in die Bybel van gelowiges soos Abraham, Job en Salomo lees wat besonder ryk was. Rykdom op sigself is nie verkeerd of sonde nie. Tog is daar wel ook verskeie waarskuwings in die Bybel dat ‘n mens nie op baie geld en ‘n klomp aardse besittings moet vertrou nie. Ons Here Jesus het tydens sy bergrede in soveel woorde gesê dat jy nie op God en op Mammon (die geldgod) kan vertrou nie. Kom ons kyk van watter raad die apostel Paulus hier aan Timoteus en sodoende ook aan sy medegelowiges oor ‘n goeie belegging gee. Die raad wat Paulus gee, gaan juis oor rykdom en in ons teksverse kom daar duidelik 3 punte na vore:
'N WAARSKUWING TEEN 'N SWAK BELEGGING
‘N AANSPORING TOT ‘N GOEIE BELEGGING
DIE BESTE BELEGGING VIR ‘N EWIGE TOEKOMS
Kom ons kyk in die eerste plek hoe gee Paulus
- ‘N WAARSKUWING TEEN ‘N SWAK BELEGGING
Kom ons lees weer vers 17
Dié wat in hierdie wêreld ryk is, MOET JY WAARSKU om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie...
Hier praat Paulus in soveel woorde van ryk mense. Hy sê Timoteus moet hulle teen hoogmoed waarsku.
ʼn Hooghartige mens dink gewoonlik hy het niemand anders nodig nie. So ‘n persoon het ‘n oordrewe gevoel van selftevredenheid en sien maklik op ander mense neer. ‘n Ryk mens kan maklik dink dat hy beter as ander mense is.
Broeder en suster. Nou moet ek en jy goed nadink en mooi verstaan. Ten minste 98% van ons wat vanoggend hier bymekaar is, kan in terme van die wêreld se standaarde as ryk geklassifiseer word. Ons het byvoorbeeld almal motors asook verskeie stelle klere. Ons eet goed en slaap warm. Verreweg die meeste mense in die wêreld het nie eers meer as een paar skoene nie.
Luister nou mooi na die apostel Paulus se waarskuwing: Hy sê die mense wat ryk is moenie hulle vertroue op die onsekerheid van rykdom bou nie.
Die probleem met aardse rykdom is dat dit jou ‘n skyn van sukses en voorspoed kan gee. Besittings en geld is egter tydelike dinge. Mot en roes verniel dit en diewe breek in en steel dit.
Paulus sê as ek en jy ons vertroue op wêreldse rykdom plaas, kan ons maklik dink ons is beter as die arm mens wat met stukkende skoene en verslonsde klere langs die pad loop of by die verkeerslig staan en bedel.
Die probleem is dan dat ons geld en besittings as maatstaf gebruik. Ons dink omdat ons geld het, mooi klere dra en in ‘n motor rondry, is ons beter as die arm en verslonsde bedelaar.....
Rykdom maak ‘n mens maklik hoogmoedig .....
Maar luister na wat staan hier in die Here se Woord:
Moenie jou hoop op die ONSEKERHEID VAN RYKDOM vestig nie .....
MAAR
Vestig jou hoop op God WAT ALLES RYKLIK AAN ONS GEE......
Die besittings wat ek en jy het, is alles dinge wat God aan ons gee!
Ons moenie hooghartig wees en dink dat dit ons is wat so goed is nie! Onthou die gelykenis van die ryk dwaas! Hy het gedink dis hy wat so goed is om al die besittings te hê en toe vat die Here sy lewe in een nag weg .....
Hier is die toets:
- Is ek en jy besig om op die ONSEKERHEID VAN RYKDOM te vertrou?
OF
- Vertrou ons DIE HERE wat ALLES RYKLIK aan ons gee?
Broeder en suster jy stem sekerlik saam:
Om jou vertroue in die onsekerheid van rykdom te stel is ‘n baie swak belegging!
Kom ons kyk nou na die volgende vers. Hier kom Paulus met
2. ‘N AANSPORING TOT ‘N GOEIE BELEGGING
Kom ons lees weer vers 18:
Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam.
Paulus gee aan Timoteus die raad om die mense aan wie hy die woord verkondig aan te spoor om goed te doen. Hulle moet ryk wees in goeie dade. Dit gaan dus oor my en jou optrede. Dit moet vol van liefde, ontferming, barmhartigheid, vriendelikheid en goedhartigheid getuig.
Dit is die dinge wat my en jou werklik ryk maak. Dit is die beste belegging! Het u opgelet, broeder en suster? In ons teksvers staan:
As jy vrygewig, en mededeelsaam is, noem God jou ryk!
Hier kan ek en jy onsself baie maklik toets.
Dit gaan eenvoudig oor die verskil wat ons elkeen in ‘n ander mens se lewe kan maak. En daar is mos sommer baie geleentheid daarvoor.
Rondom ons is siek mense, hartseer mense, moedelose mense, eensame mense en arm mense. Hoe maak en jy ‘n verskil in die mense se lewens?
Is ons bereid om geld te gee. Dit is redelik maklik as jy ryk is......
Maar die vraag is: Met watter gesindheid gee jy die geld?
Gee jy van jou geld en dan voel jy dat jy het jou plig gedoen het?
En dan verwyt jy die treurige en versukkelde mens wat te sleg is om te werk en dalk nog die geld wat jy gegee het op drank of dwelms gaan uitmors?
Sien u waar lê die GROOT TOETS?
- Is ek en jy bereid om op die regte plek en op die regte manier te belê?
- Is ons ryk in goeie dade?
- Is ons vrygewig?
- Is ons mededeelsaam?
Is ek en jy bereid om dit wat die Here aan ons gegee het, soveel dat ons in wêreldse terme as ryk geklassifiseer kan word, met ander mense rondom ons te deel?
Dit is in die Here se oë ‘n goeie belegging!
Dink maar net aan die arm weduwee en haar seun by wie die profeet Elia aangekom het. Sy was so arm dat sy die laaste olie en meel wou gebruik om vir oulaas vir haar en haar seun kos te maak. Sy is egter mededeelsaam. Sy gee ook vir Elia en dan sorg die Here. Haar meel en olie raak nie op nie!
Om die Here te vertrou is
3. DIE BESTE BELEGGING VIR ‘N EWIGE TOEKOMS
Ons is hard besig om geld te belê en aan ons pensioen te werk sodat ons eendag sorgeloos sal kan aftree. Daar is baie kundige makelaars en ons kry goeie beleggingsadvies. Ons wil seker maak dat ons nie in ‘n finansiële noute sal kom nadat ons afgetree het nie. Dit is goed om verantwoordelik met jou geld en besittings te werk en ook goeie beleggings te maak, maar ons mag nie ons vertroue op sulke dinge vestig nie
Kom ons dink net ‘n bietjie verder......
Wat van die tyd na ons aftrede? ........... Iewers kom ʼn mens se aftreetyd ook op ʼn einde. ...... En waar is jy dan?
As ons ons vertroue op die onsekerheid van aardse rykdom stel en ywerig daaraan werk om vir ons skatte hier op aarde te versamel, het ons nog net hier ʼn belegging. Maar dit is ʼn tydelike belegging boonop met ʼn risiko. Dit kan oornag verdwyn as diewe dit beetkry of mot en roes kan dit vernietig.
Die apostel Paulus wys ons in vers 19 op ʼn goeie belegging vir ons toekoms.
Paulus sê hierdierykdom van goeie dade wat gestalte vind in vrygewigheid en mededeelsaamheid is
‘N GOEIE BELEGGING VIR DIE TOEKOMS .....
SODAT HULLE DIE EWIGE LEWE SAL VERKRY.
Ons is so gefokus op hierdie lewe en ons geld en ons besittings dat ons perspektief verloor.
Die Here het al in die tyd van die profeet Jesaja vir sy volk gevra:
Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is. Gee aandag en kom na My toe, luister en julle sal lewe.... (Jes. 55:2 & 3)
Broeder en suster. Omdat ons burgers van God se ewige koninkryk is, gaan ons lewe oor baie meer as geld en goed. Dit gaan oor verhoudings. In die eerste plek oor ons verhouding met die Here en oor die mate van vertroue wat ons in Hom stel.
Ek en jy sal tog nie ons pensioen by ‘n skelm makelaar, een wat ons glad nie kan vertrou nie, gaan belê nie.
Toe die duiwel die Here Jesus in die woestyn versoek het, lees ons:
Toe neem die duiwel Hom na ‘n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid” (Matt 4:8)
Die duiwel het probeer om die Here Jesus so ver te kry om ‘n swak belegging te maak. Ja, hy wou die Here Jesus oorhaal om vir aardse besittings en rykdom te gaan ...........
Maar luister na die antwoord wat Hy die duiwel gee:
Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Matt 4:10)
Dit is juis hierdie oorwinning wat ons Here Jesus Christus oor die duiwel behaal het, wat vir jou en my in staat stel om ook oorwinnaars te wees. As ons opregte en toegewyde navolgers van ons Here Jesus Christus is, sal ons onder die kragtige leiding van die Heilige Gees graag doen wat die Here Jesus sê naamlik:
Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar mot en roes dit nie verniel nie en diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. (Matt 6:19 – 21)
Die beste belegging is ‘n belegging in God se koninkryk, want dit alleen is ‘n onaantasbare en onverganklike belegging.
SLOT
Die finale toets wanneer ek en jy ‘n belegging moet maak, is ‘n toets in VERTROUE.
Vertrou ons ‘n aardse belegger met ons aardse geld en besittings wat onsself in terme Rand en sent meet?
OF
Vertrou ons die Here met ons ewige hemelse belegging? ‘n Belegging waarvan Hy die waarde bepaal in terme van ons vrygewigheid en mededeelsaamheid ten opsigte van ALLES WAT HY VIR ONS GEE?
Waar jou skat is ..... Daar sal jou hart ook wees!!
Amen