Sosiale Skakels

Besoekers

We have 5 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Danie de Kock

Danie de Kock

Website URL: http://www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

SKRIFLESING: EFESIëRS  3:14 - 21

TEKS:  EFESIëRS 3:18

TEMA:  MAG JY DIE OMVANG VAN DIE HERE SE LIEFDE KEN

 

 

Broeders en susters

 

Weet u hoe lief ons hemelse Vader ons het?  Ken u sy liefde?

 

As  ʼn mens die Here se liefde liefde ken, verstaan jy wat dit beteken om  ʼn gelowige te wees.

 

Maar pas op ...........   moenie te vinnig antwoord en sommer maklik  sê jy ken die Here se liefde nie.

 

Hoor wat bid Paulus vir die gemeente in Efese:

 

Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan.......

 

God se liefde is so verbysterend groot, so omvangryk, dat die apostel Johannes in sy brief so ver gaan om te sê:  God is liefde

 

En dan verduidelik hy verder:

 

"Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes"(1 Joh 4:10)

 

En die apostel Paulus skryf aan die Romeine:

 

"Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was"(Rom 5:8)

 

Al is God se liefde vir ons so groot dat dat dit, soos Paulus sê,  ons verstand te bowe gaan, beteken dit nie dat sy hierdie liefde buite ons bereik is nie.  Inteendeel, Paulus bid in ons teksvers dat ons juis die volle omvang van die Here se liefde sal begryp

 

 

Maar voor ons na die omvang, of kom ons sê die afmetings, van die Here se liefde kyk, is dit belangrik dat ons sal verstaan WAAR ond die liefde van die Here vind.

 

Paulus sê in ons teksvers:  Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp ....... hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus sterk.

 

Die Here se liefde is nie iets wat in die lug rondsweef en op een of ander misterieuse manier in jou beland nie. Jy kan net die Here se liefde beleef as jy deur die Heilige Gees deel is van sy liggaam...... Ek en kan die Here se liefde net SAAM MET ONS MEDEGELOWIGES ervaar. 

 

Die punt is, broeder en suster, God se liefde gaan oor dade.  So bewys God sy liefde deur sy seun te gee.  Ons ervaar sy liefde wanneer wanneer ons met dade van liefde teenoor mekaar optree.  ʼn Treurende vertroos;  ʼn honger mens kos gee;  ʼn siek mens versorg;  ʼn eensame mens besoek;  ʼn moedelose mens bemoedig.... En ja, selfs jou honger vyand kos gee...  Dit is  ʼn bewys van God se liefde.

 

Alhoewel God se liefde ons verstand te bowe gaan, kan ons wel iets daarvan begryp as ons na die afmetings daarvan kyk. Ja, dan sien ons iets van die oorweldigende grootheid en omvangrykheid daarvan.

 

In die eerste plek moet ons verstaan

 

1. DIE HERE SE LIEFDE IS WYD

 

Het u al probeer dink oor hoe wyd die Here se liefde is? Die Bybel praat op verskeie plekke daarvan:

 

In die boek Openbaring Hfst. 5 staan byvoorbeeld:  Dat Christus met sy bloed mense vir God losgekoop het uit "elke stam en taal en volk en nasie.... Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene" (Openb 5:9 & 11)

 

Net twee hoofstukke verder lees ons weer in Openbaring van die wydte van sy liefde:  "Hierna het ek 'n groot menigte gesien wat nie­mand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan." (Openb 7:9)

 

Kan u in u verbeelding sien hoe wyd  die skare verlostes voor God se troon staan? - 'n Menigte wat niemand kan tel nie!

 

As 'n mens rondom jou kyk, broeders en susters, sien 'n mens nie  deesdae meer baie ware Christene nie. Die kerke se getalle krimp.  Boonop ervaar jy dat baie van diegene wat nog lidmate van kerke is, se lewe glad nie meer van die Here se liefde getuig nie. Maar dit moet ons nie moedeloos maak nie. God se liefde is baie wyer as wat ons kan sien of dink!

 

Paulus self het dit ervaar. Sy volksgenote, die Jode het gedink dat God se volk net uit Jode bestaan, maar Paulus het met sy sendingwerk bewys dat God se liefde wyd loop.  Hy skryf aan die Kollosense:

 "Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, anderstalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal. (Kol 3:11)

 

Die Here se liefde is baie wyer as ons liefde.  Ons wil net ons eie liefhê. Ons eie familie, ons eie vriende, ons eie kerk en ons eie volk se mense.  God se liefde is wyd, dit breek deur alle grense van taal, kultuur, sosiale stand  en selfs ontwik­kelingspeil. God se liefde het nie allerhande voorwaardes nie. Sy liefde omvat alles en almal!  Die skares wat Johannes in sy visioene voor die troon sien staan het, is die resultaat van God se liefde vir die mensdom.

 

Maar kom ons kyk na die volgende afmeting van God se liefde

 

2. GOD SE LIEFDE IS VER

                             

Hier gaan dit oor die lengte, dws die afstand van God se liefe. As Paulus oor die lengte van God se liefde praat, wil Hy sy lesers iets van die EINDELOOSHEID van die Here se liefde laat verstaan. Het u al, broeders en susters nagedink oor die ewigheid. In Jer 31:3 sê die Here vir sy volk:  "Ek het jou liefgehad met 'n EWIGE LIEFDE..."

 

God se liefde strek van ewigheid tot ewigheid. Dit beteken daar is nie 'n begin of einde aan sy liefde nie! 

 

Hy ken ons reeds voordat Hy die wêreld geskep het! In Efes 1:4 sowel as in Openb 17 vers 8 lees ons dat ons name reeds voor die skepping van die wêreld  in die boek van die lewe opgeteken staan! Dit is een van die heel wonderlikste feite oor God se liefde. Hy het ons van ewigheid af lief!

 

En broeders en susters, sy liefde sal nooit verander nie, want God is onveranderlik. Hy is altyd dieselfde. Jesus het die gelykenis van die verlore Seun vertel om juis aan ons te wys dat God ons liefhet ten spyte van wie of wat ons is.  Al dwaal ons weg en al stel ons Hom terleur. Hy sal nie in sy liefde teenoor ons verander nie.

 

Luister na die versekering wat Jesus aan ons gee in Joh 6:39:  "En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie..."

 

Broeders en susters. Verstaan u?  Die Here se liefde hou nooit op nie!

 

Maar kyk na die volgende afmeting:

 

3. DIE HERE SE LIEFDE IS DIEP

                       

'n Mens kom in die versoeking om te sê dat hier­die die wonderlikste dimensie van die Here se liefde is, want kyk net wat het Hy GEDOEN!

 

Paulus beskryf dit so mooi as hy aan die Filippense skryf.  Hy sê dat Jesus Christus wat Self God is,  nie sy Godde­like bestaan beskou het as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie. Nee, Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem. Hy het Homself ook verder verneder, tot in die dood aan die kruis. 

 

Dit is hier waar dit werklik vir ons te veel word om te verstaan.

 

Kyk net wat het met Hom gebeur! Hoe afgryslik is Hy verneder nadat Hy gevange geneem is. Geslaan, gespoeg, verneder. Dink hoe Hy gespot en gemartel is en op die ou end tussen misdadigers gekruisig is. Hy wat van ewigheid af God is.....!

 

Dink daaraan dat Hy wat self ook saam met die Vader alles geskep het, ja, Hy wat die Weg en die Waarheid en die Lewe is.......... Hy lê dood in 'n graf.......... Verneder tot in die diepste ellende.  En dit alles net ter wille van ons............. ons verlossing!

 

 ʼn Mens se verwondering vir sy liefde word selfs nog groter as jy daaraan dink dat daar niks in ons is wat om sulke liefde kon roep nie. Ons verdien dit mos nie. Inteendeel...... ons is tot die dood toe skuldig.

 

Dit bring ons by die laaste dimensie of afmeting  van sy liefde:

 

4 DIE HERE SE LIEFDE IS HOOG

 

Met hierdie dimensie wys Paulus ons op God se uitendelike doel met ons.  Dit gaan hier oor die hoogtes waarheen God se verlossingswerk ons lei.

 

Ons dink meesal net aan God se liefde vir ons in terme van sy verlossingswerk aan die kruis. Ons sien dit as die belangrikste bewys van sy liefde vir ons.

 

As jy egter by die kruis stop, broeder en suster, het jy nog nie die HOOGTE van die Here se liefde leer ken nie.

 

Christus het nie net gesterf sodat ons vergiffenis van ons sonde sou ontvang nie, nee, Hy het ook gesterf om ons GOED te maak.  Daavoor moes Hy die dood oorwin.

 

Hy het uit die graf opgestaan sodat ons kan LEWE!  Elkeen wat in Jesus Christus as die opgestane Here glo, onvang die ewige lewe. Ja, Hy gee aan ons die NUWE LEWE deur  sy lewendmakende Gees wat die wedergeboorte in ons werk. 

 

Deur die Heilige Gees het Hy nou IN ONS KOM WOON!

 

Broeders en susters, sy liefde is so groot dat Hy ons in werklikheid met Hom verenig het. Hy het ons ledemate van sy Liggaam gemaak.  Die apostel Petrus gaan selfs so ver om te sê dat ons sodoende deel kry aan die Goddelike natuur!

 

In Joh 17:21 bid Jesus Self en vra:  "Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees..."

 

Broeder en suster, die Here het ons so lief dat Hy Homself met ons verenig.  Daarom sê Paulus op  ʼn ander plek:  Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my

 

Hoe dink u?  Wat skuld ons die Here vir sy liefde? 

 

Die Here Jesus het gesê die groot gebod is dat ons ook sal liefhê.

 

Ja, ons ken dit mos:   God bo alles en ons naaste soos onsself!

 

Hierdie liefde beleef ons SAAM MET ONS MEDEGELOWIGES.....

 

Paulus bid dat die lidmate van die gemeente in Efese in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Hulle moet veranker wees in liefde en hulle moet groei in liefde.  Hierdioe liefde word beleef en uitgeleef saam met jou medegelowiges. 

 

Dit is waarom jy deel van  ʼn gemeente is! 

 

SLOT

Geliefdes, die Here se liefde gaan oor dade. Ons moet dit aan mekaar en ook aan mense buite die gemeente bewys.  (Doop. Ouers moet kind in hierdie liefde voorgaan en leer)  Ons moet so lewe dat ander mense God se liefde by ons sien en deur ons optrede beleef. Ja, ek en jy is die draers en die uitdelers van God se liefde.

                                                                           

                                                                               AMEN.

Monday, 14 October 2013 08:13

1 Kor 2:12 & 13 So soek jy ware wysheid

SKRIFLESING:  1 KOR 2:6 – 16

TEKS:  1 KOR 2:12 EN 13             

TEMA:  SO SOEK JY WARE  WYSHEID

 

Wysheid en dwaasheid..........

Iemand met wysheid neem die regte besluite en maak goeie keuses. Die dwaas, daarteenoor, neem verkeerde besluite en maak slegte keuses.

Broeder en suster.  Hoe en waar kry ek en jy ware wysheid? Elkeen van ons wil immers die regte besluite neem en ook goeie keuses maak.

Toe die jong Salomo destyds sy pa Dawid as koning opgevolg het, het hy gebid en vir die Here gevra:

Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê.... (1 Kon 3:9)

En dan antwoord die Here hom:

Omdat dít jou versoek is en jy nie vir jou  ʼn lang lewe, of rykdom, of die dood van jou vyande gevra het nie, maar insig in wat reg is, sal Ek aan jou versoek voldoen.  Ek gee aan jou wysheid en insig soos niemand vóór  jou gehad het of ná jou sal hê nie. (1 Kon 3:11 en 12)

Dit is nogal  ʼn goeie vraag of die mens van ons tyd nog steeds soos Salomo  ernstig na wysheid soek.  

Die meeste mense dink mos nie meer behoorlik vir hulleself nie.  Heeltemal te veel mense loop soos  ʼn klomp skape agter die moderne media aan.  Dit wat op die TV verskyn en wat jy met behulp van jou rekenaar kan opspoor, of wat op Face Book vertel word,  word sommer so eenvoudig as die waarheid aanvaar. 

En wat ons kinders betref, is die onstellende feit is dat TV programme en die inligting op die rekenaar deesdae  ʼn veel groter invloed op hulle denkwyse het as wat die deursnee dalk ouer besef.

Hoe en waar kry   ʼn mens ware wysheid?  En hoe begelei ouers hulle kinders om ware wysheid te soek?

Ons kan maar weer na die wyse Salomo se raad luister.  In die boek Spreuke sê hy:

My seun, neem aan wat ek jou sê, maak wat ek jou voorskryf jou eie, hou jou ore oop vir wysheid , span jou in om te verstaan.  Roep insig by, vra na gesonde begrip.  Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos  ʼn verborge skat.      (Spr.2:1 – 4)

Een ding staan soos  ʼn paal bo water

1. SOMMIGE MENSE KRY WYSHEID EN ANDER NIE

Kom ons begin by die wat  nie die ware wysheid kry nie. Wie is hulle?  In ons teksgedeelte praat die apostel Paulus twee keer van die heersers van hierdie wêreld. Hy sê húlle ken nie die ware wysheid nie.

Waarskynlik het Paulus die Joodse en Romeinse heersers van destyds hier in gedagte. Hy sê:

Nie een van die heersers van hierdie wêreld het hierdie wysheid geken nie.  As hulle dit geken het, sou hulle nie die Here van die heerlikheid gekruisig het nie.

Omdat hulle nie die ware wysheid geken het nie, het hierdie heersers dom en verkeerde besluite geneem. Hulle het die Here Jesus verwerp..... Hulle het Hom gekruisig!  

Die probleem is dat mense wat in die oë van die wêreld die leiers is, gewoonlik volgens eie insig optree. Hulle maak staat op hulle kennis en ervaring.  Sulke mense leef dus nie in afhanklikheid van die Here nie.  Uiteindelik verwerp sulke mense die Here Jesus.   

En die hartseer is dat sulke mense selfs op  ʼn stadium die Here op  ʼn manier leer ken het – soos in die geval van die Joodse leiers. Hulle was deel van God se verbondsvolk – maar dan verwerp hulle vir Christus!    

Aan die anderkant is daar weer die mense wat die ware wysheid soek en dit kry. Wie is hulle?

In vers 6 sê Paulus:

Tog is wat ons verkondig wysheid, maar net vir die wat daarvoor ryp is(mens kan dit ook vertaal:  net vir die wat geestelik volwasse is). 

Mense wat geestelik volwasse is,  is uiteraard diegene wat hulle deur die Heilige Gees laat lei.  In sy brief aan die Galasiërs skryf Paulus die volgende: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nie swig voor die begeertes van julle sondige natuur nie. (Gal 5:16)

Dit is die mense wat die vrug van die Gees dra (Gal 5:22).  Elke mens  wat so onder leiding van die Heilige Gees lewe se optrede staan in skerp kontras met diegene wat agter die begeertes van hulle sondige natuuraanloop.

Ware wysheid, broeder en suster, is nie afhanklik van   ʼn hoë intellek of  ʼn klomp akademiese kennis nie. Die ware wysheid waarvan die apostel Paulus hier praat, het volledig te doen met die kragtige leiding van die Heilige Gees. 

Jakobus verduidelik dit so:

Is daar  ʼn wyse en verstandige mens onder julle?  Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van nederigheid en wysheid getuig. Terwyl daar bittere naywer en selfsug in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie, want dan praat julle nie die waarheid nie.  Dié soort wysheid kom nie van Bo nie, maar is aards, sinlik, demonies, want waar daar naywer en selfsug is, kom wanorde en allerhande gemene dade.  Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelyde en goeie vrugte, onpartydig, opreg. (Jak 3:13 – 17)

Nou  die belangrike vraag:

2. HOE KRY MENS DEEL AAN HIERDIE  WARE WYSHEID?

In die eerste plek moet ons verstaan dat hierdie wysheid nie van menslike oorsprong is nie.

Paulus sê hierdie wysheid is iets: 

Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van  ʼn mens nie opgekom het nie.....  God het dit gereedgemaak vir die wat Hom liefhet.(Vers 9)

Maw, broeder en suster, hierdie wysheid het nie ʼn menslike oorsprong nie.   Daarom noem Jakobus dit wysheid wat van Bo kom.

En Paulus sê in vers 10:

Aan ons dan het God dit deur sy Gees bekend gemaak.    

Hierdie ware wysheid kan nie uit  ʼn mens voortkom nie. En in vers 7 noem Paulus dit die verborge waarheid wat bedek was....  en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid.

Paulus sê verder hierdie openbaarmaking van die ware wysheid is  ʼn proses.  In verse 10 – 13 verduidelik hy. Sodat ons uiteindelik die wysheid van God kan ontvang, het Hy dit eers deur sy Gees aan sy apostel bekend gemaak en hulle het dit weer aan ander oorgedra wat dit onder leiding van dieselfde Gees ontvang het. So ontvang ons dit vandag nog ook deur die Gees as ons die Bybel lees. 

3. WAT IS WARE WYSHEID DAN?

Volgens verse 7 en 9 is dit  ʼn verborgenheid wat bedek was, maar wat van ewigheid af vir ons gereed gemaak is tot ons ewige heerlikheid.  Dit het alles te doen met God se ewige verlossingsplan. Hy het nog voordat Hy die wêreld geskep het vir ons  ʼn heerlikheid in Christus voorberei.

In Ef. 1 skryf Paulus:

So het Hy , nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.  In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking toe ook al daarvoor bestem om sy kinders te wees.  

Ware wysheid het alles te doen met ons nuwe lewe in Christus. As jy in Hom lewe, is jy  ʼn nuwe mens vol wysheid wat van Bo kom.  Daarom kan die apostel Johannes so met oortuiging sê: 

Wie die Seun het, het die lewe(1 Joh 5:12). 

In vers 16 sê Paulus: 

Wie ken die gedagtes van die Here?  Wie sal Hom raad gee? Maar ons, ons het die Gees van Christus

En nou gaan dit dikwels met ons soos dit met Christus gegaan het.  Hy was nederig en sagmoedig. Hy was soos  ʼn skaap wat stil is voor sy skeerders. Hy was soos  ʼn lam wat ter slagting gelei is. Maar Hy is die Here van die heerlikheid!  Ons as Christene mag deur die regeerders van hierdie wêreld verwerp en verag word, maar ons is kinders van die heerlikheid.  Daarom sê Paulus:

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. (Rom. 8:18)

SLOT

Kom ons vra weer:  Hoe kry ek ware wysheid?  Ons kry dit alleen in Christus.  Hy is die wysheid wat van Bo kom.  In die Ou Testament was sy heerlikheid nog bedek, maar God het Hom na hierdie aarde gestuur. Sodat elkeen wat in Hom glo, die ware lewe kan ontvang. En deur die Gees het God sy apostels gestuur om sy heerlikheid te openbaar. Wees  ʼn navolger van Christus, en leer jou kinders om navolgers van Christus te wees,  dan tree jy met wysheid op. Dan deel jy en jou kinders in die ewige heerlikheid wat God vir ons gereedgemaak het.

                                                                        Amen.

Skriflesing: Spreuke 3:13 – 18

Teks: Spreuke 3:17 & 18

 

DIE BEVREDIGING VAN  ’N GODVRUGTIGE LEWE

 

In ons teksvers praat die wyse Salomo van  ʼn ryk en vol lewe. ......

 

Probeer nou,  sommer daar waar u sit, so  ʼn ryk en vol lewe in  ʼn paar woorde vir uself  beskryf? ..................

 

Wat het in u gedagtes opgekom?  

 

Aardse rykdom ..............  of hemelse rykdom?

 ʼn Lewe vol wêreldse plesier ............. of  ʼn lewe vol van God se vrede?

 

As ’n mens vandag na die wêreld rondom jou kyk, lyk dit nie of daar perke aan rykdom en plesier is nie...  Alles is beskikbaar.  Dit hang net af of jy genoeg geld het om te koop en te betaal......

 

Daar is so baie beskikbaar, maar tog is dit  so ironies

 

1. DIE GODDELOSE KRY NOOIT GENOEG NIE

 

Hy wil altyd nog meer hê, nog vinniger beweeg, nog hoër hoogtes bereik.  Die Prediker het al gesê: “Die oog kyk, maar kry nie klaar met kyk nie, die oor hoor, maar kry nie klaar met hoor nie” en verder “Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie” (Prediker 1:8 en 5:9)

 

Omdat die sondige mens nooit tevrede is met wat hy het nie en so ’n onversadigbare honger na nog meer en nog beter het, oorskry hy in sy soektog en strewe die grense wat God stel.  Ja, die mens met sy sondige begeertes vergryp hom aan verbode vrugte en bring oor homself die dood.

 

Dit is die mens se oeroue probleem.   Alles wat hulle nodig gehad het, was tot Adam en Eva se beskikking.  Hulle was in die paradys en kon van al die bome in die tuin eet, ook van die boom van die lewe......... Maar hulle is nie tevrede nie.  Hulle meen hulle het nie genoeg nie.  Hulle wil méér hê.  Hulle wil hoër en beter. Hulle wil soos God wees.....  Daarom eet hulle van die boom van die kennis van goed en kwaad.  En hulle bestaan op aarde verander in ’n doodloopstraat .......

 

Die goddelose mens is nooit tevrede met wat hy het nie.  Omdat dit net oor homself en oor sy eie-ek gaan, is hy bereid om op ander te trap. Hy is selfs bereid om bedrog te pleeg en te steel. 

 

Dit alles, sê die Prediker, is egter net ’n gejaag na wind.  Hy vra: “Wat kry die mens vir sy geswoeg, sy geswoeg in hierdie wêreld?”  Sy gevolgtrekking is: Dit is alles tevergeefs..... Dit kom neer op ’n doodsbestaan!

 

Waar kry  ʼn mens dan die lewe?  Die ware lewe?

 

Die wyse Salomo sê:

 

2. DIE HERE GEE DIE BOOM VAN DIE LEWE

 

Kom ons lees weer ons  teksvers:

Die wysheid bring ’n ryk en ’n vol lewe.  Dit ’n bron van lewe vir wie dit aangryp.

In die oorspronklike Hebreeuse teks staan hier: 

Wysheid is ’n LEWENSBOOM vir wie dit aangryp.

 

Die lewensboom was alreeds in die paradys vir die mens beskikbaar .......... God het mos aan hulle verduidelik dat hulle van al die bome in die tuin, d.w.s. ook die boom van die lewe, kon eet.  Hulle het m.a.w. die volle lewe saam met God tot hulle beskikking gehad........   Maar hulle is nie tevrede nie.  Satan kon hulle maklik verlei.

 

Die mens kies van nature verkeerd.  Ook vandag nog, is ons keuses meesal selfgesentreerd en wil ons net ons eie begeertes bevredig. U onthou mos wat Jakobus sê:

As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid. Julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.

 

Wat is dan die oplossing?

 

Ons moet leer om die regte keuses te maak!  Onder leiding van die Heilige Gees het Salomo geskryf:

 

Dit gaan goed met die mens wat wysheid gevind het, wat insig as sy deel ontvang het, want dit bring meer winste in as silwer en lewer ’n groter opbrengs as goud

 

Maar hoe gryp  ʼn mens aan die lewensboom vas?

 

Broeder en suster.  Daar is uiteindelik net  een ware bron van die lewe en dit is God Self!    As jy sonder die ware God is, is jy goddeloos en daarom noodwendig met ’n nuttelose lewe, met  ʼn gejaag na wind besig.

 

Maar hoe kom  ʼn mens by God uit?

 

Hier is die genade!  Die mens vlug van God af weg. Die mens kies sy eie koers.........  Maar kyk wat doen God!  Hy  kom na ons verwarde en verdwaalde mense toe!  Hy het in die Persoon van die Seun na hierdie aarde toe gekom.  En hoor wat sê Jesus Christus van Homself: 

Ek is die ware wingerdstok en julle die lote...(Joh. 15)

 

Hy sê:  Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.  As iemand nie in My nie bly nie, word hy weggegooi soos ’n loot en hy verdroog.

 

Die apostel Paulus noem ons Here Jesus Christus in Rom. 11:24 ook ’n boom - ’n olyfboom.  Hy sê ons is soos takke wat van  ʼn  wilde olyfboom afgesny is en op die mak olyfboom ingeënt is.

 

Broeder en suster omdat ons soos lote deel het aan die ware wingerdstok  en ons elkeen soos ’n tak op die mak olyfboom ingeënt is, het ons die ware lewe.  Dan vloei die lewensap van die Heilige Gees deur ons are en ons het deel aan Christus. 

Daarom sê die apostel Paulus: Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my!

 

’n Wyse mens, is die mens wat onder leiding van die Heilige Gees in Jesus Christus leef. 

 

Verstaan u waarom Salomo sê

 

3. DIE GELOWIGE HET ’N RYK EN VOL LEWE

 

Die nuwe lewe in  Christus, maak jou daaglikse lewe sinvol en vreugdevol.  Paulus het gesê: Om Christus Jesus my Here te ken oortref alles in waarde.....

 

Maar daar is tog iets wat so  ʼn bietjie pla.....  Dit is die vraag:  Gaan dit altyd met die gelowige net goed?

                                 

Die antwoord is  ʼn ondubbelsinnige: Nee. Soms is  ʼn gelowige kind van God se lewe alles behalwe maanskyn en rose.  Dit gebeur selfs dat die gelowige verskriklike ellende beleef. Die verskriklikste lyding as gevolg van siekte, pyn, vervolging, honger, haat en onreg word die gelowige nie gespaar nie.  Inteendeel, dit lyk soms asof die gelowige nog veel meer ly as mense wat glad nie in God glo nie!

Daarom die geldige vraag:  Waar is die vrede en vreugde van die Christen dan?

Dit lê in die lewende verbintenis met Jesus Christus ons Lewensboom.  In Rom. 8:31 – 39 sing die apostel Paulus sy oorwinningslied. Hy sê dat niks van die ellende in hierdie lewe ons van die liefde van God kan skei nie.  Die gelowige is in en deur ons Here Jesus Christus ’n oorwinnaar!   Daarom kan ons saam met die profeet Habakuk sing:

Al sou die vyeboom nie bot nie, al sou die wingerd sonder druiwe staan; die graan verdor, die vrugteboorde wegkwyn, die beeste kleinvee, alles hier vergaan – nóg sal ek juig en bly wees in my God.  Hy is my hulp. Hy gee my krag”.

 

Ons het in Christus nou reeds deel aan die boom van die lewe wat in die nuwe Jerusalem langs die rivier met die water van die lewe geplant is. Dit is  ʼn ryk en  ʼn vol lewe – die lewe in Christus.

 

SLOT

As jy in Christus lewe het jy altyd genoeg.  Ons is soos goeie bome wat goeie vrugte dra.  Ja, ons dra die vrug van die Gees: Liefde, vreugde vrede geduld, vriendelikheid, goedhartigheid nederigheid, getrouheid en selfbeheersing.

Ons lewe in God se teenwoordigheid.  Ons het, in Christus, deel aan die boom van die lewe........ En dit is vir ons genoeg.

 

                                                          Amen.

Wednesday, 25 September 2013 14:33

Jakobus 4:8 Kom nader aan God

SKRIFLESING:  JAKOBUS 4:1 – 12

TEKS: JAKOBUS 4:8

TEMA:  KOM NADER AAN GOD

 

 

Ons het vanoggend weer saam bely dat ons die enigste ware God aanbid.  Ja, ons sê dat ons God AANBID......

 

Presies wat beteken dit as ons sê dat ons Hom aanbid? Hoe aanbid jy vir God?  Wat doen jy?

 

In Matt 28 lees  ʼn mens dat die Here Jesus se dissipels Hom na sy opstanding in Galilea ontmoet het. En dan staan daar:

Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid...(Matt 28:17). 

 

Hoe dink u? Wat het die dissipels op daardie oomblik prakties gedoen?

 

  • Het hulle gesing?
  • Het hulle gebid?
  • Het hulle voor Hom gebuig? -  Op Hulle knieë neergesak?

 

Hoe het hulle Hom aanbid?

 

Die vraag is:

                                                                                            

1. WAT IS WARE AANBIDDING?

 

Aanbidding, broeders en susters, het alles te doen met jou ingesteldheid teenoor God  - Dit gaan oor jou houding en oor jou gesindheid.

 

In hierdie gedeelte wat ons saam gelees het praat Jakobus juis oor  sy lesers se ingesteldheid. Hulle is gelowiges, maar hulle ingesteldheid was verkeerd. Hulle fokus was nie op God nie. Hulle was op die dinge van die wêreld ingestel. Daarom spreek Jakobus hulle baie ernstig aan. Hy wys hulle daarop dat hulle selfsugtig en hulle gierig is.  Hulle is afgunstig op mekaar en veg met mekaar omdat hulle so materialisties ingestel is. Ja, sê Jakobus, selfs hulle gebede is deurspek met selfgesentreerde begeertes. En dit is juis die rede waarom hulle gebede nie verhoor word nie.

 

Hierdie gelowiges aan wie Jakobus geskryf het, het op daardie stadium nie meer die Here bo alles liefgehad nie. Hulle het Hom nie aanbid nie.  Hulle het wel nog gebid, maar hulle harte was in werklikheid ver van die Here af.  Gehoorsaamheid aan Hom was nie meer hulle prioriteit nie. Hulle eie voordeel het voorop gestaan.

 

Kan u verstaan waarom Jakobus in die paar verse wat ons saam gelees het  twee keer sê dat hulle hulleself moet onderwerp:

 

Vers 7:  Onderwerp julle dan aan God.

En weer in vers 10: Onderwerp julle in nederigheid voor die Here.

 

As  ʼn mens vir God aanbid,  wys jy jou kleinheid , jou afhanklikheid, jou nederigheid  en respek.  Daarom buig jy voor Hom? Jy staan op jou knieë.   Jou hele liggaamshouding wys dat jy klein en Hy groot is. En nog belangriker is jou hartsgesindheid. Die Here kyk tot diep binne -in jou hart.  Hy kan baie goed sien as jou liggaamshouding net vertoon is.  Daarom het Hy op  ʼn stadium vir die Israeliete gesê:  Skeur julle harte en nie net julle klere nie....   Ware aanbidding gaan oor jou hart. Die Here Jesus sê: Moenie vir julle skatte op aarde bymekaar maak nie.... Maak vir hulle skatte in die hemel bymekaar. Waar jou skat is daar sal jou hart ook wees

 

Jakobus se lesers se skatte was skynbaar nie in die hemel nie. Hulle was daarvoor te selfsugtig en materialisties ingestel. Daarom waarsku hy ernstig:

 

 

2. KEER TERUG NA WARE AANBIDDING

 

Maar waar begin ’n mens?   Broeder en suster jy begin by persoonlike bekering.  Jakobus sê:  Nader tot God en Hy sal tot julle nader.  Verstaan u? Jakobus se lesers was ver van God af. Hulle moes na Hom toe terugkom.

Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte huigelaars.

Was julle hande, sondaars?  Hulle hande was vuil van hulle sondige dade. Dit wat hulle gedoen het, was in stryd met die Here se wet.  Hulle moet die Here se opdragte uitvoer.

Reinig julle harte, huigelaars? In die oorspronklike staan; Reinig julle harte, dubbelhartiges. Hulle harte was nie net op die Here ingestel nie. Hulle wou die Here dien, maar het terselfdertyd agter die dinge van die wêreld aangeloop. Hulle kan nie God en Mammon dien nie!

 

Hoe gaan dit met ons lewe, broeders en susters? Is ons hande skoon van sonde?  En is ons volkome vry van dubbelhartigheid?

 

Om net te sê jy het jou bekeer help nie veel nie.  Jou bekering moet in jou ingesteldheid en in jou dade sigbaar wees. Ander mense met wie jy elke dag te doen kry,  moet jou skoon hande kan sien en hulle moet jou nuwe lewensbenadering kan ervaar.

 

Mense moet kan sien jy aanbid die enigste ware God!

 

Dit moet vir almal wat met jou te doen kry baie duidelik wees dat jy deur die Here Jesus verlos is van jou sonde. Hulle moet baie duidelik kan sien dat jy onder leiding van die Heilige Gees  in God se koninkryk diensbaar is.

 

Jou respek en jou bewondering vir die Here moet selfs in jou liggaamshouding na vore kom. Dinge soos  ʼn geboë hoof en knieë wat buig en in gebed kniel asook lofprysing en  ʼn gesig wat van blydskap straal, is alles duidelike bewyse dat jy God aanbid.

 

Maar hoe kry  ʼn mens dit reg om God in die ware sin van die woord te aanbid? 

 

Jakobus sê aan sy lesers:

 

3. LEWE IN GOD SE TEENWOORDIGHEID

 

Hoe kan ons dit doen?  Veral as  ʼn mens sit vuil hande en  ʼn  dubbelhartigheid......   Ons is dit nie waardig nie.....  Ons kan nie soos ons is, in sy teenwoordigheid kom nie. Ons is eenvoudig net te sondig! 

 

Die goeie raad wat Jakobus onder leiding van die Heilige Gees gee is:

 ...... bekla julle ellende, treur en huil!   Laat julle vrolikheid in rou verander enjulle blydskap in droefheid.  Ja, dit gaan oor bekering, broeder en suster.  Dit gaan daaroor dat jy jou sonde en ellende in diepe afhanklikheid voor die Here bely.

 

Die apostel Paulus het mos, toe hy in Romeine 7 so met sy eie sondigheid geworstel het gesê:  Die goeie, wat ek wil, dit doen ek nie, en die slegte, wat ek nie wil nie, dit doen ek..... 

Later roep hy uit:  Ek, ellendige mens, wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?

 

Elkeen van ons kan maar saam met Paulus uitroep: Ek ellendige mens.!

Nie een van ons is in staat om self, uit eie krag, tot God te nader nie.

 

Ons is volkome van God se genade afhanklik. Juis daarom kom Hy na ons toe......... In die Persoon van die Seun het Hy uit die hemel na hierdie aarde gekom en  ʼn mens kom word.  Ja, Hy het in ons bedremmelde lewens kom instap!

 

Hy het ons sonde op Hom geneem en met sy eie bloed vir ons voor God versoening gaan doen.

 

In Hebreërs 10 staan:

Broers, ons het nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, en dit op  ʼn weg wat nuut is en na die lewe lei. .  Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam  ..... laat ons tot God nader......  Ons harte is immers gereinig van  ʼn slegte gewete en ons liggame is gewas met skoon water.

 

Hy reinig ons. Hy maak ons waardig om voor God te verskyn. 

 

Ja, ons kan tot God nader. In die Naam van ons Here Jesus Christus kan ons God in gees en waarheid aanbid. Kan ons sy heilige Naam op ons lippe neem en kan ons as sy kinders lewe.

 

SLOT

 

Broeder en suster, eers wanneer ek en jy ons totale afhanklikheid van God se verlossingswerk verstaan, en met  ʼn ware geloof aan ons Here Jesus Christus vasgryp, kan ons van ware aanbidding praat.

 

Ware aanbidding het te doen met ons totale afhanklikheid van God. Dit gaan oor ʼn nederige oorgawe en absolute onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan sy wil.  Dan sal Hy ook tot ons nader.

 

Om die Here te aanbid beteken dat jy jou hele lewe in sy hande plaas en Hom een honderd persent vertrou.  En jy wys dit met jou houding teenoor die Here tuis saam met jou geliefde en ook saam met jou medegelowiges as jy in die erediens aanbid. Jy wys dit met jou gesindheid en in positiewe ingesteldheid. Dan kom Hy ook nader......

                                                                         AMEN

SKRIFLESING:  PSALM 32

TEKS: PSALM 32:5

TEMA:  EK BELY MY OORTREDINGE VOOR DIE HERE

 

Hoe dink u, broeder en suster?  Wanneer gaan dit met  ʼn mens goed? 

·         Gaan dit goed as jy kan doen wat jy wil en kan gaan waar jy wil en wanneer jy wil?

·         Gaan dit goed as jy baie geld het sodat jy kan koop wat jy wil?

·         Gaan dit goed as jy gesond is en jou kinders is gesond? 

·         Gaan dit goed as jy suksesvol is?

Toe iemand op  ʼn stadium die vraag aan Dawid gevra het, het hy  ʼn antwoord gegee –  ʼn antwoord wat waarskynlik nie vanoggend by een van ons opgekom het nie.....    

Dawid se antwoord op die vraag:  Wanneer gaan dit met  ʼn mens goed? vang  ʼn mens so effens onkant.  Hoor wat sê hy:

Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word. (Vers 1)

Dawid het ook op  ʼn stadium in sy lewe gedink hy kan doen wat hy wil. En hy het gemeen dit gaan met hom goed.  Maar toe is dit glad nie so nie!   Dit was presies op hierdie punt waar hy gedoen het wat hyself as reg en goed beskou het, waar hy juis ernstig begin sondig het.

In ons land gaan dit op die stadium glad nie goed nie, juis omdat daar so baie mense is wat net doen wat hulle wil.....   ʼn Mens sien dit in die regering.  Daar is verskeie hooggeplaastes wat dink hulle is bo die wet verhewe.  ʼn Mens sien dit in ons kerke en in ons gemeenskappe waar mense hulle eie reëls maak en volgens hulle eie gevoel optree.  En jy sien dit ook in ons elkeen se persoonlike lewe.  Ons doen net wat ons wil.... Soos die mense in die tyd van die Rigters toe elkeen gedoen het wat goed is in sy eie oë.

Sodra  die mens begin doen wat hy wil, breek wetteloosheid, sedeloosheid en korrupsie uit.  Sodra mense hulle nie meer aan God en sy Woord steur nie, loop hulle hulleself in die sonde vas.

Die feit van die saak is:

1.  AS JY IN SONDE LEEF,  GAAN DIT NIE GOED NIE

Verskeie Skrifverklaarders is dit eens dat Dawid Psalm 32 geskryf het nadat die Profeet Natan hom oor sy sonde met Batseba aangespreek het.  In Psalm 51 lees mens hoe Dawid sy sonde bely.  En dit het vir hom bevryding gebring.  Hy het hierdie Psalm daarna geskryf.  Daarom kan hy hier sê:  Dit gaan goed met die mens wie se sonde vergewe is.

Dawid se lewe het begin uitrafel die dag toe hy so half verveeld op sy paleis se dak rondgedrentel het.  Sy leërmag was op daardie stadium besig met  ʼn veldslag teen die Ammoniete.  Hy as koning was veronderstel om op die slagveld te wees, maar hy dink dit is nie nodig nie.  Sy leërmag, onder bevel van sy veggeneraal Joab, was na sy mening  goed opgewasse vir die taak. Hy was rustig.

Nadat hy  ʼn middagslapie geneem het, gaan stap hy op die paleis se dak.  Daarvandaan sien hy  ʼn mooi vrou wat besig is om te bad. Die res is geskiedenis.

Sien u waar lê die probleem?  Dawid het gedoen net wat hy wil.  Sy aandag was op alles, behalwe die Here, gevestig.   Daarom gaan trap hy mooi netjies in die satan se strik.  Sy sondige begeertes laat hom owerspel pleeg. En dit loop uit op moord!

En toe het Dawid  ʼn probleem.  Hy weet hy het swaar gesondig.  Maar hy doen niks aan die saak nie.  Hy leef in ontkenning.

Broeder en suster. Gebeur dit nie ook tot  ʼn sekere mate ook in jou en my lewe nie?  Die apostel Paulus beskryf so  ʼn sondige leefstyl treffend  in sy brief aan die Efesiërs: 

So het ons trouens vroeër ook almal gelewe.  Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het.....                        (Ef. 2:3)

Hierdie beskrywing van Paulus is so tipies van die sondige mens:  Ek doen wat ek wil ......  Dit waarvoor ek lus is.  Ek bevredig my eie begeertes en dit het niks met iemand anders te doen nie.   

So  ʼn houding is bitter gevaarlik.  Dit bring jou onder God se oordeel.  En wat meer is: In  ʼn sekere sin besef  ʼn mens dit, maar  die hartseer is:  Jy doen niks aan die saak nie!  Jy gaan maar aan asof daar geen fout is nie.......  Jy maak asof alles reg is.......  Ja, al kos dit ook  ʼn hele klomp leuens.......  En al moet jy selfs, vol valsheid en skynheiligheid,  ʼn stewige front voorgehou..........  Jy byt vas – alles is reg....

Maar  broeder en suster, kyk gebeur:

2. AS JY OOR JOU SONDE SWYG, GAAN DIT NOG SLEGTER

Hoor wat sê Dawid:

Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer  ..... U hand het swaar op my gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte.(verse 3 & 4) 

Dawid se gewete het hom gepla. Sy sondelas het hom plat gedruk. Hy het sy sondeskuld probeer vergeet. Hy het dit probeer wegpraat en ook probeer om nie daaraan te dink nie.  Hy het na die Here geroep om hulp, maar die Here het hom nie geantwoord nie. Sy sonde het  ʼn skeidsmuur tussen hom en God geword.

Ons elkeen se sondes word sulke skeidsmure.  As  ʼn mens aanhou om met sonde saam te leef, druk dit jou vas.  Dit laat jou liggaam uitteer.....  Dit maak jou gedaan.......  Jy voel naderhand soos  ʼn gevangene in jou eie lewe.  En dit alles net omdat jy nie bereid is om openlik teenoor die Here te erken dat jy sonde gedoen het nie.

Ons is nogal meesters op die hierdie gebied  - waar mens jou sonde probeer ontken.  Hoe doen ons dit?  Eintlik kry ons dit baie maklik reg.

·         Die een manier waarmee ons oor ons sonde swyg is om vir iemand anders die skuld te gee.  Dan hoor  ʼn mens iets soos: Ja, ek het  ʼn verhouding met  ʼn derde party aangeknoop, maar ek het dit gedoen omdat my huweliksmaat my so afskeep.

·          ʼn Ander manier om jou sonde te ontken is om jouself  te verontskuldig.  Dan sê jy iets soos: Ja, ek weet ek het verkeerd opgetree, maar dit is omdat hy my nie ʼn kans wou gee om te verduidelik nie.

·         Verder gaan ons ook baie oppervlakkig om met ons skuld. Die bewys daarvan  is die manier hoe ons ons skuld bely.  Ons noem nie ons sonde op die naam nie. Ons bely maar so ter afsluiting van ons gebede:  ..........  en vergewe ons al ons sonde... Amen)

Die punt is, broeder en suster:  Ons steek ons eie sonde weg vir die Here en ons verontskuldig onsself.  Op die manier leef ons in gewaande selftevredenheid.  

Maar in die proses ontneem jy jouself van vrede en vreugde in jou lewe.

Kyk wat het Dawid na  ʼn lang worsteling gedoen. In ons teksvers sê hy: Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid”en U het my skuld vergewe.  

Geliefdes, dit moet ons weet:

3.  AS JYJOU SONDE BELY, GAAN DIT GOED

Opregte skuldbelydenis bring bevryding. Daarom sê Dawid:

Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word.

As ek en jy ons met opregte berou voor God verootmoedig....... en ons noem ons sonde by die naam.  Ja, as ons eerlik  ons sonde voor God bely, dan kry jy bevryding.

Hoe gebeur dit?

Dit gebeur omdat jy dan jou verlossing buit jouself soek. Jy soek God se genade.  En Hy bewys dit mos aan jou in en deur ons Here Jesus Christus.

Geen sonde is te groot vir Jesus se offer aan die kruis nie. Geen sonde te hardnekkig om deur sy bloed weggewas te word nie. As  ʼn mens jou sonde bely en onder leiding van die Heilige Gees aan Jesus Christus vasgryp, word jy bevry....... En dan gaan dit goed!

Die apostel Paulus bely mos in sy brief aan die Filippense:

....... ek beskou alles as waardeloos, want om  Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. (Fil. 3:8 & 9)

Is ek en jy bereid om alles prys te gee?  Is ons bereid om ons sondige gewoontes prys te gee? Is ons bereid om met ons sonde optrede te breek en ons eiewilligheid  te staak? 

Ons klou vas aan dinge wat glad nie ewigheidswaarde het nie en ook nimmer as te nooit vir ons vrede kan gee nie.   Wat die Here soek is  ʼn hartlike berou oor ons sonde.  Ja, dat ons die sonde sal haat.

Eers dan kan ons onder leiding van die Heilige Gees die vreugde smaak van  ʼn nuwe lewe in Christus.

SLOT

Geliefdes, kom ons bid dat die Heilige Gees ons elkeen sal oortuig van ons sonde en dat Hy ons met  ʼn ware geloof in Christus sal laat groei. Dan sal ons eerlik kan sê: Dit gaan goed.

                                                                             AMEN.

Monday, 09 September 2013 18:51

1 Pet 4:8 So bewys ons liefde aan mekaar

SKRIFLESING:  1 PET. 4:1 – 11

TEKS: 1 PET 4:8

TEMA: SO BEWYS ONS LIEFDE AAN MEKAAR

Die woord liefde is waarskynlik die woord wat die meeste in hierdie kerkgebou gebruik word.  Ons almal ken ook die groot gebod :  Ons moet die Here bo alles met ons hele hart en siel en verstand en al ons kragte liefhê en ook ons naaste soos onsself.

Ja, ons weet van liefde en ons praat baie oor liefde, maar   ............ weet ons hoe om liefde te bewys?

Hoor  wat sê die apostel Petrus: 

Bo dit alles moet julle mekaar hartlik  liefhê.........

Hoe doen  ʼn mens dit? 

Wat moet ek en jy prakties in die gemeente doen om, soos Petrus hier sê, mekaar hartlik lief  te hê?

Die eerste belangrike punt wat ons moet verstaan as ons oor liefde vir mekaar praat is:

1. LIEFHÊ VRA DAT ONS  SAL AFLÊ

In Joh. 15:12 en 13 sê die Here Jesus:

Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.  Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê

As ek en jy liefde wil bewys, moet ons ook, soos die Here Jesus ons eie lewe in die proses aflê.  Ja,  as ek en jy liefde  wil betoon, moet ons weet:  Dit verg opoffering! 

Die apostel Johannes sê:

Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.  Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. (1 Joh 3:16)

En dan gaan hy verder en hy verduidelik wat dit in die praktyk  beteken om jou lewe vir jou broer af te lê.  Hy sê:

Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?(1 Joh. 3:17)

Verstaan u?  Ons elkeen moet bereid wees om  ʼn deel van ons tyd en krag en ook   ʼn deel van ons geld aan iemand anders,  wat nood het,  af te staan --  Dit is liefde!

Kyk wat die Here gedoen het:  Hy het sy liefde prakties aan ons betoon deur sy lewe vir ons af te lê.  En dit is presies die manier hoe ek en jy ook moet liefhê.  Ons moet bereid wees om  opofferings te maak om ander  mense rondom ons  op dié manier  te  bevoordeel.

Hoe kry ek en jy dit reg?  Dit kan net gedoen word  onder leiding van die Heilige Gees.  Liefde en geduld en vriendelikheid en goedhartigheid is mos vrug van die Gees. 

Maar kom ons kyk wat sê ons teksvers, wat doen liefde nog verder.   Die apostel Petrus sê

 

2. LIEFHÊ BEDEK  BAIE SONDES

Dit was mos juis wat God gedoen het, toe Hy in die Persoon van die Seun na hierdie aarde toe gekom het.  Hy het ons sondes kom bedek.  Ja,  Hy het dit met sy bloed aan die kruis kom doen.  In die baie bekende  Joh. 3:16 lees ons:

God het die wêreld so liefgehaddat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat  dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

En nou is dit presies om hierdie rede wat die Here sê dat ons mekaar hartlik moet liefhê.  Hier staan:

Bo dit alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes.

Broeder en suster.  Ons liefde  vir mekaar word deur vergiffenis gedra en deur verdraagsaamheid gekenmerk.

In 1 Kor 13 word liefde in die praktyk  beskryf:

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand  nie.  Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraaknie, hou nie boek van die kwaad nie.  Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.  Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. ( 1 Kor. 13:4-7)

Dit is net hierdie liefde wat God deur sy Gees in jou hart werk wat jou in staat stel om jou broer 70 X 7 keer te vergewe en om selfs jou vyande met respek en ontferming te behandel.    Onthou:  Hierdie liefde wat van God af kom is nie een of ander spesiale gevoel nie.  Hierdie soort liefde  is niks anders  as dade van gehoorsaamheid nie.

Uiteindelik, sê Petrus, sal  hierdie ware liefde, wat van God af kom, noodwendig baie  duidelik in ons elkeen se lewe sigbaar word , want

 

3. LIEFHÊ VERGESTALT IN GASVRYHEID EN DIENSBAARHEID

Liefde wat  so  selfopofferend werk en wat in die proses baie sondes bedek, is liefde wat deurgaans net tot voordeel van jou naaste sal wees.

Daarom sê Petrus:

            Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla.

Om gasvry te wees, beteken om mense op  ʼn vriendelike manier in jou huis te ontvang.  Juis op so  ʼn manier dat hulle spesiaal voel.   Dit beteken selfs om mense wat jy  voorheen nie geken het nie na jou huis toe te nooi.

In Heb. 13:2 lees ons:

Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees het sommige mense, sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.

Maar geliefdes, liefde doen nog meer.  Liefde dring  en dryf  ʼn mens tot diensbaarheid.  As ons God bo alles liefhet en ons naaste soos onsself, dan wil  ʼn mens diensbaar wees. En dan is dit boonop vir jou lekker om diensbaar te wees!  Dit maak jou lewe sinvol.

Ja, broeder en suster hierdie liefde wat deur die Heilige Gees in ons elkeen gewek word motiveer en inspireer   ʼn mens  om met die gawes wat die Here aan jou gegee het  voluit diensbaar te wees.  Petrus sê:

As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom;  as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen.

SLOT

In  ʼn wêreld waar die moderne mens totaal indiwidualisties en materialisties geword het, moet ons as gelowiges soos sout en lig uitbeweeg en die Here se liefde sigbaar maak.  Dit is die groot opdrag wat ons Koning aan ons elkeen gee.   Hoe gaan ek en jy dit in die week uitvoer?

                                                                      AMEN.

SKRIFLESING:  1 TIM 6:17 – 21

TEKS: 1 TIM 6:18 & 19

TEMA: MY VRYGEWIGHEID WAARBORG   ʼn GOEIE BELEGGING IN DIE HEMEL

Dit is algemene kennis dat  ʼn mens vir jou oudag voorsiening moet maak.  Jy moet ter wyl jy jonk is en  ʼn goeie werk het genoeg spaar sodat jy geld kan hê die dag as jy aftree.  Almal stem saam: Daarvoor is  ʼn goeie belegging onontbeerlik. 

Maar, broeder en suster, wat van die lewe na jou oudag? Het jy al daarvoor begin spaar? Ons bely mos elke Sondag:  Ek glo aan die opstanding van die liggaam en  ʼn ewige lewe

Wat van daardie lewe?   Die Here leer ons om ook vir daardie lewe  ʼn belegging te maak.  Op verskillende plekke in die NT lees  ʼn mens van jou skat in die hemel.  In Matt 5:11 en 12 lees  ʼn mens die volgende:

Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en valslik al wat sleg is van julle sê.  Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel ....

In Mark 10:21 sê die Here Jesus aan die ryk jong man:

..... Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir die armes, en jy sal  ʼn skat in die hemel hê.  Kom dan terug en volg My!

Broeder en suster

1.  DIE TYD OM TE BELê IS NOU

Enige goeie ekonoom sal vir jou sê hoe vroeër jy begin om vir jou oudag te spaar hoe beter.  Presies dieselfde beginsel geld op geestelike vlak.  Hoe gouer jy met jou geestelike belegging begin hoe beter.

Maar wat behels so  ʼn  geestelike belegging?

Paulus sê in ons teksvers dat  ʼn mens vir jouself  ʼn skat as  ʼn goeie belegging vir die toekoms kan vergader.

Die dag wanneer ek en jy sterf,  verloor die beste en grootste belegging hier op aarde vir ons al sy waarde. Ons kan mos niks van ons aardse rykdom saamneem nie.

Juis daarom het Paulus vir Timoteus gesê dat hy die rykes in hierdie wêreld moet waarsku om nie hulle hoop op die onsekerheid van hulle materiële rykdom te vestig nie. Nee, sê hy, hulle moet hulle hoop op God vestig!  Hulle moet by God in die hemel  ʼn belegging maak!

Aardse rykdom is net tydelik en boonop verganklik.......   

Paulus verduidelik dan dat God aan ons  ʼn ander, en boonop veel beter beleggingsmoontlikheid bied.   ʼn Belegging met ewigheidswaarde!  Ons moet nou begin om daar te belê.

 2.  WAT MOET ONS BELê?

Met enige finansiële belegging moet jy bereid wees om  ʼn aansienlike bedrag van jou swaarverdiende geld aan een of ander instansie soos  ʼn bank of beleggingsmaatskappy toe te vertrou.   So ‘n belegging kan vir jou finansieel in jou oudag van groot waarde wees.    Maar.....  soos ons al gesê het, selfs die heel beste belegging of dit nou aandele, kontant of eiendom is, het nie ewigheidswaarde nie.

Wat ons nodig het, is iets meer. Die Here Jesus het tydens sy bergrede gesê:

Moenie vir julle skatte hier op aarde bymekaarmaak waar mot en roes verniel en diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar .....  Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees(Matt 6:19 ev.)

Ons  het ʼn belegging nodig wat sy  waarde behou, selfs al is ons nie meer op hierdie aarde nie. 

In ons teksvers praat Paulus van so  ʼn belegging: 

So vergader hulle vir hulle  ʼn skat as  ʼn goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.

Hoe maak  ʼn mens so  ʼn belegging in die hemel? 

Paulus spel dit in vers 18 vir ons uit.   Hy sê vir Timoteus:

Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam.......  So vergader hulle vir hulle  ʼn skat as goeie belegging...

Hoor u broeder en suster?  As jy  ʼn belegging in die hemel wil maak, het jy nou die geleentheid.  Jy sal eendag daardie opbrengs ontvang. In Openb. 14 sê  ʼn stem uit die hemel aan Johannes:

“Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe”. Ja, sê die Gees, “hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle”.

Hier moet ons goed verstaan. Verlossing is net genade en jy verkry dit net deur Jesus Christus.  Maar daar is tog ook baie duidelik ‘n beloning in die hemel.   Net die wat werklik in Christus lewe kan so  ʼn belegging maak.  En dit word gegee op grond van wat ons hier op aarde gedoen het. In vers 18 verduidelik hy:

Dit is    “om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam”.

Vir hierdie belegging moet ek en jy bereid wees om opofferings te maak.  Paulus sê op  ʼn ander plek: Dink daaraan: Wie karig saai, sal karig oes.(2 Kor. 9:6)

Maar kom ons

3.   KYK NA DIE WAARDE VAN JOU BELEGGING

Paulus noem dit  “  ʼn skat as  ʼn goeie belegging vir die toekoms”.  Jy ontvang jou rente en dividende die dag as jy sterf. 

Ja die dag wanneer jou pensioenfonds nie meer werk nie en jy niks meer met jou eiendomme of geldmarkfonds of jou aandeleportefeulje kan doen nie, dan betaal hierdie belegging uit. Jy het dan  ʼn groot loon by jou hemelse Vader in die hemel!

Kom ons kyk wat beteken hierdie belegging. 

Dit bewerk gemeenskap, want ons as gelowiges doen hierdie goeie dade aan mekaar en aan ander mense. Dit wys ons gee om.

Dit bestry materialisme, want ons leer dat goeddoen en vrygewig wees belangriker is as geld en goed.

Dit is  ʼn bewys van my geloof. Ander mense sien dat ek  ʼn burger van God se koninkryk is. 

Dit bring vir my seëninge, want ander mense reageer positief op my optrede van mededeelsaamheid en liefde.  Ek ontvang weer liefde.

Dit bring vir my geluk.  Paulus sê in Hand 20:35:  Om te gee maak  ʼn mens gelukkiger as om te ontvang.

Dit maak my  ʼn getuie van die Here.Dit is mos wat die Here Jesus vir ons kom doen het. Hy het Homself kom gee.

SLOT

Kom, broeders en susters, kom ons maak ook  ʼn belegging in die hemel. Kom ons gee onsself.  Kom wees vrygewig en mededeelsaam. Dan sal ons loon groot wees in die hemel.

                                                                           AMEN

NAGMAAL

Skriflesing: Joh. 17

Teks: Joh. 17:21

EENHEID IN CHRISTUS -  DIT IS DIE LEWE!

 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus

 

Elkeen van ons ervaar innerlike versterking en  ʼn diepe gerusstelling as ons weet dat iemand vir ons in gebed by ons hemelse Vader intree.

 

Die aand pas nadat Jesus die Nagmaal ingestel het, begin Hy om daar in die bovertrek vir sy dissipels te bid.  Hy tree vir hulle in by sy hemelse Vader. Die gebed staan bekend as die Here Jesus se hoëpriesterlike gebed.

 

Luister wat vra Hy:

 

Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het (Joh. 17:21)

 

In hierdie woorde van ons Here Jesus Christus lees, sien  ʼn mens die Here se doel met sy kerk naamlik:  SODAT DIE WêRELD KAN GLO....

 

Die kerk, moet die Here Jesus as enigste Verlosser en Saligmaker aan die wêreld openbaar.

 

Maar kyk hoe lyk die kerk!

 

Vir eeue lank word daar nie van die kerk (enkelvoud) gepraat nie, maar wel van kerke. In die Bybel lees  ʼn mens nooit van kerke in die sin van verskillende denominasies nie.  Die Bybel praat net van EEN volk van God en van EEN liggaam van ons Here Jesus Christus. Daar is volgens die Bybel net EEN kudde met EEN Herder. Net EEN geestelike huis van God waarin ons lewende stene is.

 

Die feit dat daar vandag soveel kerke of te wel denominasies bestaan, is die gevolg van die sondige mens se selfgesentreerdheid en eiewilligheid.  Die sondige mens wil mos sedert die sondeval soos God wees. Die mens wil self besluit hoe die kerk moet lyk. En omdat mense  verskillend dink en optree kom daar verkille. Daarom die verskeurdheid.

 

Omdat Jesus Christus, die Seun van God, volledig mens kom word het, het Hy die mens se sonde op die stadium toe Hy hierdie gebed gebid het, deeglik geken. Dit is immers vir hierdie sonde wat Hy kom sterf het.

 

En luister nou waarvoor bid Hy: Ek bid dat hulle almal EEN mag wees.

 

Ons is verskillend. Ons lyk verskillend. Ons dink verskillend. Ons het verskillende smake en voorkeure.

 

Maar ten spyte daarvan kan ons en moet ons die EEN LIGGAAM van ons Here Jesus Christus vorm.

 

Broeders en susters. Wat Jesus in sy hoëpriesterlike gebed voor gebid het is

 

1. EENHEID IN VERSKEIDENHEID

 

Ons lewe in tye waar die indiwidu se vryheid verafgod word.  In ons humanistiese wêreld het elke mens sy menseregte. Elkeen wil dink en doen soos dit hom of haar pas  – solank jy nie ’n landswet oortree nie.

 

Voor die Here is dit egter verkeerd so om selfgesentreerd en eiewillig te leef.

 

Die Here het van meet af aan gesê dat dit nie vir die mens goed is om alleen te wees nie.  Hy het ons geskep om met Hom en met mekaar in  verhoudings te lewe.  Al is ons verskillende mense met verskillende persoonlikhede en gawes wil die Here hê dat ons ‘n eenheid moet vorm.

 

Broeders en susters dit is presies waarvoor Jesus Christus in sy hoëpriesterlike gebed gebid het.  Die sonde bring verdeeldheid en skeuring.  Die sonde versteur verhoudings. Die sonde ruk huwelike uit mekaar. Dit skeur verhoudings in twee. Dit dryf ’n wig in tussen ouers en kinders en tussen broers en susters.

 

Die Here Jesus het gekom om hierdie verdeeldheid, weg te neem. Daarom fokus sy hoëpriesterlike gebed, sy laaste gebed voor sy kruisiging juis op eenheid.

 

Verstaan u?  Ware eenheid tussen mense is

 

2. SLEGS IN CHRISTUS MOONTLIK

 

Die sondeval het die mens selfgesentreerd, eiewillig en indiwidualisties gemaak.  En daar is regtig geen manier waarop die mens uit homself eenheid met mekaar kan bereik nie.  Dit kan net in en deur ons Here Jesus Christus bewerk word.  

 

Die enigste volmaakte eenheid is in God Self. Daarom bid Jesus: Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U…

 

Ons bely dat God Drie-Enig is. Drie Persone, maar EEN Wese.  By Hom is volmaakte eenheid in die verskeidenheid. En dit is presies waarvoor Jesus ook bid as dit by die kerk kom:  Volmaakte eenheid in die verskeidenheid.

 

Ons persoonlike verskillende mag glad nie in die pad van ons eenheid in Christus staan nie.  As ons sondige natuur die oorhand kry,  word verskille baie gou allerhande geskille ........ en verskeidenheid word dan al hoe meer verskeurdheid.

 

Jesus Christus het egter gekom om ons van ons sondes te reinig. Hy het gekom om ons in ’n hegte eenheid saam te voeg.

 

En dit is presies wat ons vanoggend hier saam aan die Nagmaalstafel kom bely.  Soos daar uit die baie graankorrels een meel gemaal en een brood gebak word en daar uit die baie druiwekorrels wat saam gepars word een wyn vloei, so moet ons almal saam gemaal en gepars word om in Christus ’n eenheid te vorm.

 

Verstaan u?  Die indiwiduele graankorrel word gemaal en met die ander saam gemeng. Elke druiwekorrel moet stukkend. Dit moet saamvloei sodat daar wyn gemaak kan word.  Ons elkeen se eie-ek moet gebreek word. Ons indiwidualiteit moet opgeoffer word ter wille van  ʼn nuwe lewe in Christus.

 

Is dit te veel gevra?  Nee, glad nie.  Dit is wat die Here Jesus vir ons kom doen het.  Dit is wat dit van Hom gevra het om ons te verlos. Sy liggaam is gebreek.  Hy is gepars tot sy bloed gevloei het ......

 

As ons later aan die tafel sit gaan ons saam die Here se gebreekte (of gemaalde) liggaam eet en sy geparsde bloed gedrink. Sodoende sal  ons die eenheid met Hom en met mekaar te demonstreer.

 

Maar wat gebeur as ons hier opstaan? 

 

Dit is mos nie die nagmaal of selfs die gebruik van die nagmaal wat die eenheid bewerk nie.  As ons hier opstaan het ons elkeen  ʼn taak en opdrag:  Ons moet onder leiding van die Heilige Gees die eenheid soek!

 

Deur middel van ’n ware geloof word ons in Christus ingelyf. Ons word deel van Hom.  Maar om deel van Hom te word, moet onsself eers sterf. Ons moet ons eie-ek afsterf. Ons moet ons eiewilligheid, selfgenoegsaamheid en selftevredenheid afsterf. Ons leiding van die Heilige Gees, moet ons verlossing en saligheid buite onsself soek.

 

As ek en jy se eie-ek stukkend gebreek is en ons selfgenoegsaamheid pap gedruk is, gebeur daar iets radikaal in ons lewe.  Ons word die Here Jesus Christus se getuies in die wêreld!

 

Dit is mos juis waarvoor Hy daardie aand in die bovertrek gebid het: …

 

3. SODAT DIE WêRELD KAN WEET

 

Die nagmaal is wel  ʼn kosbare teken van die eenheid wat ons met die Here en met mekaar het, maar om maar net aan die ritueel van die nagmaal deel te hê, maak ons egter nog nie werklik  ʼn eenheid nie!

 

Die wêreld sien eers die eenheid as ons dit prakties begin uitleef. Wanneer ons mekaar met die liefde van Christus bedien. Wanneer ons werklik vir mekaar omgee en mekaar se belange op die hart dra. Verskeurdheid binne die liggaam van Christus is God onterend en staan duidelik in die pad van God se openbaring aan die wêreld.

 

Die sondige verskeurdheid tussen Christene tas God se openbaring van die Heilige Drie-Eenheid aan die wêreld aan. Verskeurdheid in die kerk sê God is verskeurd!

 

Paulus skryf aan die Galasiërs dat rusie, twis en tweedrag die produkte van ons sondige natuur is.  Daarteenoor is die vrug van die Gees  liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid en goedhartigheid.

 

SLOT

 

Geliefdes, dit is goed om, soos vanoggend, hier saam aan die tafel van die Here te sit.  Saam die brood te eet en saam die wyn die beker te drink, maar wat sien ander mense as ons hier uitstap?

 

Sien die wêreld ons as gemeente se eenheid in Christus?

Hoor hulle by ons, ook as ons van mekaar praat, woorde van liefde en vrede en vreugde?  Hoe bewys u die Here se liefde aan u medelidmate?

Wat doen u prakties in die gemeente om die gemeenskap van die gelowiges te bevorder?  Die Here verwag van u om die eenheid van Christus se liggaam elke dag uit te leef deur liefde en omgee.

 

Onthou: Ons Here Jesus Christus bid vir sy dissipels. Hy bid ook vir ons.  Hy bid dat ons een sal wees met Hom en ook een met mekaar.

 

Ons elkeen moet besef:  As  ek eenheid bely, maar ek lewe in voortdurende rusie en twis in my huis of met familie of selfs met ander mense in my lewe...... dan gaan ek vanoggend ’n oordeel oor myself  eet en drink.

 

Die apostel Johannes sê in sy brief: As iemand sê: Ek het God lief en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar… (1 Joh. 20)

 

Hierdie selfde apostel Johannes sê egter ook

 

Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.  Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê.(1Joh 4:10 & 11)

 

                                                             AMEN

Thursday, 08 August 2013 05:19

Matt. 22:11 & 12 Is jy reg aangetrek?

SKRIFLESING: MATTEUS 22:1 - 14

TEKS:  MATTEUS 22:11 & 12.

 

IS JY REG AANGETREK?

 

Wat ‘n mens aantrek, het baie met jou persoonlike smaak te doen.  Jy trek aan waarvan jy hou. 

 

Soms kan iemand se keuse van klere nogal rusies veroorsaak.  Wie ken nie die onaangenaamheid wanneer kleiner kinders juis klere klere wil aantrek waarmee die ouers nie saamstem nie? 

 

En dan is die saak van kerkklere, soos die hoed vir vrouens en die baadjie vir mans  iets wat nog vars in ons ouer lidmate se geheue lê.  Die regte kleredrag vir ‘n bepaalde geleetheid kan nogal ‘n ernstige problem word.

 

In die gelykenis wat ons Here Jesus vertel het, word ‘n man wat die verkeerde klere by ‘n bruilofsfees aangehad het summier verwyder.  Die koning se opdrag is:  Bind sy hande en voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daar buite ….

 

Die vraag wat nou by ‘n mens opkom, is:  Waarom was die man dan nie reg aangetrek nie?   En dan nog ‘n vraag:  Wat het dit met ons vandag te doen?

 

Om te verstaan wat hier gebeur, moet ons dit in gedagte hou dat hierdie gelykenis een van die Here Jesus se sogenaamde koninkryksgelykenisse is.

 

Dit gaan oor die voorwaardes waarop ‘n mens se toegang verkry en die teme waarvolgens jy deel kan wees van die Here se koninkryk. 

 

En dan is die eerste en belangrikste voorwaarde dat ‘n mens van jou eie wil ontslae moet raak, want broeder en suster

 

 

 

 

1. JOU EIE WIL IS VYANDSKAP TEEN GOD

 

Jesus vertel in die gelykenis van 'n koning wat vir sy seun 'n bruilofsfees gereël het.  Die gaste is betyds, eintlik lank voor die tyd, van hulle uitnodiging in kennis gestel.  Soos die gebruik egter destyds was, is die mense met die aanvang van die fees weer genooi.  Hulle moes nou kom, want die fees gaan begin!

 

Op hierdie tweede uitnodiging reageer hulle egter glad nie.  Hulle het ander dinge gehad wat, so het hulle gedink, belangriker as hierdie bruilofsfees was.  Hulle het selfs so ver gegaan dat hulle die koning se diensknegte wat hulle kom roep het, te lyf gegaan het.  Die koning het kwaad geword, die eerste genooides vir hulle wandade gestraf,  en toe sy diensknegte na die strate gestuur om te nooi soveel hulle kon kry om te kom.  En so het die saal waar die bruilofsfees gehou is vol gaste geword, gaste van die strate en kruispaaie af.

 

Maar dan is daar hierdie man sonder bruilofsklere.  Die logiese vraag is egter:  Hoe kan die koning verwag dat iemand wat sommer so van die straat af genooi is, nou skielik spesiale bruilofsklere sal aanhê?  Dis mos onregverdig!

 

Dit is belangrik om die gebruik van destyds verstaan. Die gebruik was dat die koning vir so 'n groot bruilofsfees, nie net die gaste uitgenooi het nie, maar selfs die gaste se bruilofsklere by die deur voorsien het.  Daarom vra die koning die man vriendelik:"Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?"  Maar die man kon niks antwoord nie.

 

Ons het reeds gehoor dat hierdie ‘n koninkryksgelykenis is. Dit gaan oor hoe ‘n mens toegang tot die koninkryk van die Here verkry.  

 

Die volk Israel is die eerste genooides. Omdat die Here met hulle ‘n verbond gesluit het, was juis hulle aanvanklik geroep om aan God se koninkryk deel te hê, maar hulle steur hulle nie  hierdie verbintenis nie. Dit is hulle wat die koning se boodskappers, die profete doodgemaak het. En uiteindelik is dit hulle wat vir Jesus, die seun van die Koning, wie se bruilofsfees gereël is, verwerp het. Israel het God se se liefde en genade van God vertrap!

 

Wat gebeur dan? Nou moes die dienskengte uitgaan na die strate en almal wat hulle teëkom uitnooi.  God laat sy evangelie aan die res van die wêreld verkondig.  Ander tale, volke en nasies word nou geroep  - Van die strate af genooi na die fees van die koninkryk!

 

Maar nou kom die probleem.  Die vraag is:  Wie is die belangrikste?

 

Gaan dit oor die gaste?     OF  Gaan dit oor die Koning?

 

Die man sonder die bruilofsklere het net aan homself gedink.  Die klere wat hy aanhet, is vir hom gemaklik.  In sy eie oë was hy goed genoeg aangetrek. Hy het niks van die koning nodig gehad nie.  Hy wild eel hê aan die fees, maar dan op sy eie voorwaardes.

 

Sien u hoe die eie-ek, die eie wil, hier voorop staan?   

 

‘n Mens se eie wil is vyandskap teen God.

                     Maar dit is nie al nie....

 

2. JOU EIE WIL IS ONDANKBAARHEID

 

Ons moet onthou, broeders en susters, hierdie man het geen reg gehad om die bruilofsfees by te woon nie.  Hy is van die straat af genooi!  Dit was bloot net die koning se  genade wat hom toegang gegee het. Dit kon net sowel iemand anders gewees het.

 

Dink u nie ook dat sy optrede juis dan van dankbaarheid moes spreek nie?  Maar nou het hy 'n arrogante houding. Hy beskou dit as sy reg om daar te wees en dan boonop nog op sy eie voorwaardes!

 

Net so is ons elkeen bloot uit genade deel van God se verbondsvolk.  Ons is uitverkies sonder dat ons 'n vinger verroer het.  Ons het die teken van die verbond, naamlik die doop, ontvang.  Ons het dit  boonop ontvang toe ons nog klein babatjies was.  Ons het NIKS gedoen om hierdie voorreg te hê nie. Om deel aan God se koninkryksfees te hê is alles net genade!

 

 

 

Maar nou is die vraag aan elkeen van ons: Het jy bruilofsklere aan?

 

Hoe lyk hierdie bruilofsklere?  Wat is hierdie bruilofsklere?

 

Dit die bruilofskleed het te doen ons elkeen se wil.  Dit het te doen met

 

3. JOU EIE WIL WAT DEUR GOD SE WIL VERVANG WORD

                       

Jou eie wil is vol sonde!  ‘n Goeie voorbeeld is die apostel Paulus. In Rom 7 vertel hy van sy stryd. Hy sê: Die goeie wat ek wil, dit doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil nie, dit doen ek

En dan roep uit:

           

            "Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?"  

 

En dadelik gee hy die antwoord:

           

            "Ek dank God" sê hy, "Want Hy doen dit deur Jesus Christus".

 

Christus maak die verskil!

 

Luister wat sê Paulus in Rom 13:14:

 

            "Beklee julle met Jesus Christus."

 

Net die Here Jesus Christus gee jou toegang tot die bruilofsfees van die koninkryk.  Jy kan op geen ander manier toegang verkry as net deur Jesus Christus as die gekruisigde nie.

 

Verstaan U?    Hy is die bruilfskleed wat jy moet aantrek!!

 

As ek en jy ons lewe buite onsself in Christus soek, dan neem Hy beheer oor.  Hy bestuur jou lewe deur sy Gees.  Dan is dit nie meer jou wil nie, maar God se wil wat seëvier.  

 

'n Lewe onder leiding van die Heilige Gees, is egter nie iets wat sommer vanself gebeur nie!  Om in Christus onder leiding van die Heilige Gees te lewe, vra van selfverloëning.  Jy moet van jou eie-ek en jou eie wil ontslae raak -  byna soos wat ‘n mens vuil klere uitrek.

 

In die gelykenis gaan juis oor hierdie punt.  Die koning het bruilofsklere vir die gaste voorgeskryf.  Maw SY WIL is voorgeskryf.  Tog gaan hierdie man na die fees sonder die voorgeskrewe klere -  Maw sy eie wil, wat in stryd is met die koning se wil, was vir hom belangrik. Hy wild deel van die fees wees, maar dan op sy voorwaardes!

 

Verstaan u?  As  ek en jy deel wil wees van God se koninkryk, moet ons van onsself afstand doen. Ons moet die eie-ek uittrek en die Here Jesus aantrek.  Sonder geloof in Hom en sy verlossingswerk is ons nie welkom in die koninkryk van die Here nie. 

 

Kyk weer na die man in die gelykenis.  Hy wou nie die koning se bruilofskere aantrek nie.  Daarom word hy uitgegooi - in die buitenste duisternis.  Die koning se fees is nie vir Hom nie, al het hy hy so gedink. 

 

SLOT

Geliefdes,

 

As jou eie wil  en jou eie-ek nog vir jou die belangrikste is, het jy 'n problem met God se koninkryk.  Dan is jy nie geskik nie, want dan is jy beslis nie reg aangetrek nie

 

Die Here nooi ons bloot uit genade om deel van sy koninkryk te wees.  Ons verdien niks van die nuwe feestelike lewe.  God maak ons deel, maar die voorwaarde is: Ons ons met Christus beklee.  Hy moet ons lewe oorneem.  Ons moet onder leiding van die Heilige Gees lewe. 

 

 

                                                                            AMEN. 

SKRIFLESING:  1 KOR 12:12 – 27)

TEKS:  1 KOR 12:12, HK Son 21 vr. 55

TEMA:  WAAR PAS JY IN CHRISTUS SE LIGGAAM?

 

Is u tevrede met die manier waarop u liggaam funksioneer? 

Die jonger mense sal dadelik “ja” sê terwyl die ouer mense heel waarskynlik “nee” sal sê. 

Die geordende en gesinkroniseerde funksionering van  jou liggaam is vir  elkeen van ons belangrik. Beserings of siekte asook ouderdom kan hierdie funksionering erg benadeel. As  ʼn gedeelte van jou liggaam nie met die res van jou liggaam saamwerk nie, beïnvloed dit uiteraard jou hele liggaam.

As  ʼn mens mooi oor die funksionering van jou liggaam nadink, besef jy elke ledemaat is belangrik, want elkeen het  ʼn spesiale funksie. Letterlik nie een van ons ledemate of organe is daar net ter wille van homself nie.  Elke deel is daar ter wille van res – die geheel.

Kom ons lees nou weer ons teksvers:

Net soos die liggaam 'n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.

 Wie of wat is die liggaam van Christus?  

Paulus antwoord die vraag in vers 27 in soveel woorde. Hy sê aan die gemeente van Korinte: 

Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen 'n lid daarvan.

Hoor u broeders en susters?

1. ONS IS CHRISTUS SE LIGGAAM

Ons is deur ons geloof in Christus ingelyf.  Ons is geestelik met Hom een.  Hier voel dit of  ʼn mens, soos Moses by die brandende bos, jou skoene moet uitrek.  Hier staan ons op heilige grond.   Hoor net hoe praat die apostel Petrus. Hy sê deur ons geloof in Christus kry ons deel aan die Goddelike natuur (2 Pet 1:4)

Hoor u? Verstaan u wat dit beteken?  Elkeen van ons wat met  ʼn ware geloof aan ons Here Jesus Christus verbind is, het iets Goddeliks in hom- of haarself.  Daarom is ons beeld van God en verteenwoordigers van God.  Met ons lewe in Christus vertoon ons God se eienskappe. Daarom noem die apostel Petrus die kerk  ʼn koninklike priesterdom    (1 Pet 2:9).

Omdat ons Christus se liggaam is, is ons alles behalwe ʼn klomp indiwidue wat by die kerk aangesluit het.  Die kerk is nie  ʼn klub waarby jy kan aansluit en wanneer jy so voel en sommeer weer bedank wanneer jy weer anders voel nie. Paulus sê:  .... God het die lede, elkeen afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê.

Ek en jy, broeder en suster, is deur God Self in Christus se liggaam, dws in hierdie gemeente, ingeplant. Hy het ons uitverkies en ons deur sy Gees uit ons sondedood gewek en ons toe in Christus ingelyf.  Hoor u?  Alles net genade....

En dit beteken prakties, so sê ons belydenis 

2.  ONS HET ALMAL DEEL AAN SY SKATTE EN GAWES

Ja, om so deel van Christus se liggaam te wees, plaas ons in  ʼn spesiale kategorie en in  ʼn super liga.  

Ons het, omdat ons in die Here Jesus Christus se liggaam ingelyf is, het deel aan sy rykdom.  Dit is  ʼn rykdom wat met geen geld ter wêreld gekoop kan word nie. Daarom noem ons belydenis dit skatte wat ons ontvang sonder dat ons dit verdien:

·         Ons is verlos uit die mag van die sonde

·         Ons is bevry uit die greep van die satan.

·         Ons is oorwinnaars oor die dood.

Dit maak elkeen van ons buitengewoon spesiaal!

Boonop het God aan ons sy Gees gegee. Die Heilige Gees het in ons kom woon.  Daarom bely ons dat ons elkeen nou  ʼn tempel van God is. Hy het in ons kom woon.

Ons is in Christus se liggaam ingelyf en God het deur sy Gees in ons kom woon.  Hy in ons en ons in Hom.  Kan daar iets groter en heerliker en ryker wees as dit?

Daarom sien en ervaar die mense rondom ons elke dag iets van God se liefde, genade, barmhartigheid en ontferming wanneer hulle met ons te doen kry.  Mense in die gemeente en mense buite die gemeente.

Maar geliefdes, om so aktief en toegewyd met ons godgegewe opdrag besig te wees, is nie so maklik nie. Ons kan dit nie uit eie krag doen nie en is ook nie in staat om dit alleen reg te kry nie.

Hierdie liefde, genade en barmhartigheid kan net deur Christus bewys word.  Die Here Jesus Christus se liggaam moet as  ʼn eenheid werk – net soos ons liggame.

Daarom sê ons belydenis:

3. ONS IS VIR MEKAAR VERANTWOORDELIK

 Net soos die ledemate in my liggaam interafhanklik is en op  ʼn gekoördineerde wyse saamwerk, is dit ook met Christus se liggaam. Elkeen van ons het  ʼn taak en  ʼn verantwoordelikheid.

Ons belydenis praat direk en op die man af: Hier staan:  .... elkeen (is) VERPLIG om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.  Dit is glad nie  ʼn vrywillige saak nie!

Boonop het elkeen van ons, wat belydende lidmate van hierdie gemeente is, die dag toe ons belydenis van ons geloof gedoen het, presies dit belowe ...  dat ons elkeen ons gawes tot voordeel van ons medegelowiges sal aanwend.

Omdat ons deel is van Christus se liggaam leef ons nie vir onsself nie.  Ons leef vir die liggaam!   Ons moet daarom na mekaar omsien. Mekaar versorg.

In vers 18 sê die apostel Paulus:  Maar nou het God die lede, elkeen van hulle afsonderlik, in die liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê.

Dink mooi, die ledemate aan ons liggame leef nooit vir hulleself nie. My been, hand, oor of oog werk altyd saam met die res van my liggaam en altyd tot voordeel van my hele liggaam. Hoe versorg u die ander ledemaat van hierdie liggaam?  Hoe is u by  ʼn medegelowige in die gemeente betrokke?

Kyk na die mense rondom jou. Hulle is nie sommer maar net ander mense nie. Hulle is deel van jou soos  ʼn hand en  ʼn arm deel is van mekaar. Soos  ʼn oog en  ʼn voet deel is van mekaar en saam moet werk tot voordeel van die hele liggaam. Die kerk, hierdie gemeente is liggaam van Christus. Ons bedien en versorg  mekaar met God se liefde sodat  elkeen van ons opgebou en sterk gemaak word sodat Christus se liggaam in die daaglikse lewe sigbaar word. Ons bou mekaar op om uit te gaan en sout vir die aarde en lig vir die wêreld te wees.

Maar nou kom ons by  ʼn baie belangrike vraag aan elkeen van ons persoonlik:

Broeder, suster, kind van God waar pas jy in Christus se liggaam?

Is jy  ʼn hand? Is jy  ʼn oog, of  ʼn vinger?  ʼn Voet of  ʼn oor?

In vers 21 sê Paulus: 

Die oog kan nie vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie”. Die kop kan weer nie vir die voete sê: “Ek het julle nie nodig nie”. Inteendeel, die lede van die liggaam wat die swakste voorkom, is juis noodsaaklik...

Watter liggaamsdeel is jy?  Of kom ons stel dit anders: Wat is jou funksie in die gemeente?  Wat doen jy in die gemeente?

Verstaan u?  Nie een van ons kan sê: Ek is in die gemeente, maar ek doen niks nie...  As jy dit sê, diskwalifiseer jy jouself.  Dan sluit jy jouself uit.   ʼn Ledemaat kan tog nie deel van  ʼn liggaam wees en dan niks doen nie.  Dit gebeur net as  ʼn ledemaat dood is.  So  ʼn dooie ledemaat benadeel die res van die liggaam en moet geamputeer word!

So..... Wat doen jy?  Wat is jou werk? 

Daar is verskillende take:  Bejaardes moet versorg word.  Evangelisasie moet gedoen word. Die jeug moet bedien word. Die kerk se administrasie moet vlot loop. Arm mense moet met die Here se liefde bedien word. Siekes en treurendes moet in hulle nood bygestaan word.  Mense wat wegdwaal moet met liefde teruggeroep word. Nuwe mense moet met liefde ingeskakel word. So kan  ʼn mens voortgaan. Daar is soveel werk wat gedoen moet word.  Waar pas jy in?

In lyn met die sinode se besluit oor  ʼn omkeerstrategie is ons hard aan die werk om ook in hierdie gemeente om te keer.  Ons wil lewende liggaam van ons Here Jesus Christus wees. Ons wil so leef dat die Here se koninkryk gebou word. 

Ons taak en opdrag is om nog mense dissipels van ons Here Jesus Christus maak.  Dit is wat elkeen van ons moet gaan doen as ons vandag by hierdie deur uitstap. Ons moet mense na Christus toe aanlok.  Dit is nie net party se werk nie .... dit is elkeen se werk.

Ja, wanneer mense daar buite in die samelewing met my en jou te doen kry,  moet hulle Christus leer ken, want ons is mos sy beeld.

Ons elkeen is volledig deel van Christus en ons versprei die lieflike geur van God se liefde, sy teenwoordigheid en krag so ver ons gaan.

SLOT

Geliefdes, God het ons uit genade die liggaam van Christus gemaak. Hy het ons in Christus ingelyf sodat ons voluit aan die skatte en gawes van Christus deel het. Ons is daarom verplig om die skatte en gawes wat ons ontvang het tot nut en saligheid van ons medegelowiges aan te wend, want Christus se liggaam moet sout vir die aarde en lig vir die wêreld wees.  Ek en jy is saam ledemate in hierdie liggaam. Waar pas jy in?  Wat is jou funksie? 

                                                                         AMEN

<< Start < Prev 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 Next > End >>
Page 11 of 22