Sosiale Skakels

Besoekers

We have 4 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Danie de Kock

Danie de Kock

Website URL: http://www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

 

SKRIFLESING: HAGGAI 1:1 – 15

TEKS: HAGGAI 1:14

TEMA: LUISTER!  DIE HERE WIL JOU AANVUUR

 

 

Inleiding

 

As die ouderling vir u vra:  Broer, suster kom help asb. saam met ons bou aan die Here se tempel.   Wat is u antwoord?

 

Sê u: Ja, graag! Sê net wat moet doen!   OF 

Het u dadelik  ʼn verskoning of twee gereed?

 

Toe die Here in die jaar 520 v.C. sy profeet Haggai na die volk Juda gestuur het, was dit om hulle vra om te kom help bou aan die Here se tempel.

 

Agtien jaar tevore het ongeveer 50 000 van hulle uit ballingskap in Babel teruggekeer. Dit was maar min, want die meeste het verkies om in Babel agter te bly.  Hulle het deel van die Babel geword.  Jerusalem was op daardie stadium nog een groot puinhoop nadat die Babiloniërs die stad destyds heeltemal afgebreek het.

 

Aanvanklik het die mense wat teruggekom het dadelik met die heropbou van die tempel begin. Die die tempel se fondamente is herstel en daar was alreeds  ʼn gedeelte van die mure gebou.  Die  mense het ook weer vir hulle huise gebou.  Hulle het landerye en wingerde aangelê.  Die lewe het vir diegene wat teruggekom het min of meer weer aan die gang gekom.

 

Maar daar is  ʼn probleem!

 

Nadat die mense aanvanklik ywerig was en met mening met die heropbou proses van die tempel begin het, het die werk na net 2 jaar heeltemal tot stilstand gekom....

 

Ja, reeds vir 14 jaar lê die tempel daar met sulke halwe stukke muur net daar.  Niemand wend enige poging aan om verder te bou nie. En as daar gevra word: Wat van die Here se tempel? Wie sal help?  Hoor jy

 

1. BAIE VERSKONINGS:

 

Die oeste is klein, daar is droogte.  Ons geld is niks werd nie. Ons het nie genoeg om van te lewe nie. Ons mense kry swaar..... Die mense is dit eens:  In die lig van die ekonomiese toestand waarin hulle is, kan dit nie die regte tyd wees om aan die tempel te bou nie.

 

En dan is daar  ʼn tweede probleem.  Die politieke situasie. Toe die Judeërs destyds in ballingskap na Babel weggevoer is, het daar  ʼn klomp mense agtergebly.  Hulle het met die goddelose Kanaäniete vermeng en die Samaritane geword.  Toe Judeërs aan die tempel begin werk het, het hulle beswaar gemaak.  Hulle het selfs  ʼn afvaardiging na Babel gestuur.  Op grond van politieke verskille is die heropbou van die tempel toe met geweld uit Babel stop gesit. Om dus op die stadium weer nou aan die tempel te begin bou, sou wat hulle betref, dom wees. Jy sou die ander mense in die land, met wie jy in vrede probeer saamwoon, aanstoot gee.

 

Nee, dit is nie nou die regte tyd om die tempel te herbou nie. Dit is die algemene gevoel onder die Judeërs...... 

 

2. LUISTER NA DIE HERE SE ANTWOORD

 

Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon, terwyl my huis in puin lê?   In die oorspronklike staan daar iets van huise wat met houtpaneelwerk versier is.

 

Die mense het baie moeite gedoen met hulle eie huise. Dit was met duur houtwerk versier. Hout was op daardie stadium in Jerusalem se omgewing baie skaars. Dit moes spesiaal ingevoer word!

 

En nou sê die Here: Dink goed na oor wat met julle gebeur:

·         Julle het baie gesaai, maar min geoes.

·         Julle eet, maar word nie versadig nie.

·         Julle drink, maar bly dors

·         Julle is soos  ʼn dagarbeider wat sy loon in  ʼn stukkende beursie steek.....

M.a.w. die mense werk hard, maar daar is nie vrug op hulle arbeid nie. Hulle moet insien dat iets verkeerd is.  Die dinge klop nie!

 

Luister wat sê die Here vir hulle: 

 

Julle het  ʼn groot oes verwag, maar min gekry, en wat julle nog huis toe gebring het, het Ek laat verdwyn.  Waarom? vra die Here, die Almagtige.  Omdat my huis in puin lê, terwyl elkeen van julle hard besig is om aan sy eie huis te bou. (vers 9)

 

In die Here sê was daar groot fout!   Hulle prioriteite was verkeerd...

Die Here wys hulle baie duidelik op die feit dat hulle die heel belangrikste saak in hulle lewe agterweë laat.  Die Here se tempel...  Dit lê daar.  Hulle doen niks om daaraan te werk nie.... Hulle is die heeltyd net met hulle eie dinge besig.

 

Hoor dan wat sê die Here:  Dit is oor julle dat die hemel sy reën teruggehou het.  Ek het droogte laat kom oor die land ....

 

Hierdie mense was in werklikheid self vir die toestande wat hulle beleef het, verantwoordelik.  Die Here was nie meer vir hulle belangrik genoeg nie.  Dink net wat sou  ʼn vreemdeling sien as hy in Jerusalem instap.  Mense se mooi huise en net sulke stukke fondament  en halfvoltooide mure waar die tempel van die Here moet wees. 

 

Broeder en suster.  Die besluite wat ons neem, die keuses wat ons elke dag maak....   Dit het noodwendig gevolge....   Die Here reageer op ons keuses.  As hy sien ons maak verkeerde keuses, dan laat hy dinge so gebeur dat ons moet agterkom iets is verkeerd

 

Die volk se leiers, die prins Serubbabel en die hoëpriester Jesua het met die volk gepraat en hulle het toe ter harte geneem wat die Here deur sy profeet aan hulle gesê het.

 

Dit is baie belangrik, broeders en susters, die Here praat met ons deur  ʼn mens wat Hy na ons toe stuur.  Daardie persoon sê vir ons:  So sê die Here.....    En dan hang dit af of ons luister.......

 

Hier staan die volk

 

3. NEEM DIE HERE SE WOORD TER HARTE

 

Om iets ter harte te neem is veel meer as om dit net te hoor.  As jy dit wat jy gehoor het ter harte neem, beteken dit dat dit nie maar net by die een oor in en weer by die ander een uit gaan nie.  Nee, as jy iets wat jy hoor ter harte neem, beteken dit dat jy jou hart daarop sit.  Jy maak dit deel van jou daaglikse lewe. Dit word vir jou prioriteit nommer een!

 

Hier staan:  Die volk was vervul met ontsag vir die Here.

 

En kyk nou na die Here se reaksie:  Hy stuur weer sy profeet om vir die volk te sê: 

Ek is by julle, sê die Here.

 

In Johannes 1: 1 lees ons dat die Here se Woord vlees geword het en toe onder ons kom woon het.  God het sy Woord ter wille van ons  ʼn mens laat word.  Hy, die Here Jesus Christus, het na die aarde toe gekom om vir ons  ewige verlossing te bewerk.  Hy is die lig, die waarheid en die lewe!

 

Hoe reageer u op die Here se woord?  Hoe reageer u op die Here Jesus?  Neem ons Hom ter harte?  Die apostel Paulus sê as jy innerlik sterk wil wees, moet die Here Jesus in jou hart woon!

 

Ja, ek en jy moet Hom ter harte neem.  Hy moet voluit deel van ons daaglikse lewe wees.  Hy moet prioriteit nommer een wees!

 

Want uiteindelik is ons saam met Hom die Here se tempel.  Hy is die hoeksteen, sê die apostel Petrus, en ons is elkeen  ʼn lewende steen wat saam met Hom in God se geestelike huis ingemessel word.  Daarom sê Petrus: Laat julle as lewende stene opbou tot  ʼn geestelike huis,  ʼn koninklike priesterdom

 

In en deur ons Here Jesus word ons saam God se tempel. 

 

Maar hoe lyk ons?

 

Wat sien die mense wat in ons lewensruimte kom instap?

Sien hulle ons mooi huise? Ons duur motors?  Ons deftige klere?   

 

En wat sien hulle van die Here se tempel?   Wat sien hulle van die Here Jesus in ons lewe?   Sien hulle nie dalk net  ʼn fondament en so  ʼn paar halfvoltooide mure nie?   Daar is iets, maar dit is meer  ʼn murasie wat halfgebou daar lê....  Daar is nie lewe nie en ook nie groei en vooruitgang nie.....

 

Maar onthou!  As jy,  soos die volk Juda destyds, sy Woord ter harte neem, ja, as die Here Jesus in jou hart woon, dan sal daar iets wonderlik met jou gebeur

 

4.  DIE HERE  SAL JOU AANVUUR

 

Kyk weer na ons teksvers:  Die Here het toe vir Serubbabel .... die goewerneur van Juda, en vir die hoëpriester Jesua, en vir almal wat van die volk oorgebly het, aangevuur ....

 

Om aangevuur te wees, beteken mos om entoesiasties te wees. Dit beteken om opgewonde en ywerig te wees.  Hierdie vuur kom van die Here af.  Hy bewerk dit deur sy Heilige Gees.   Onthou u?  Op Pinksterdag, toe die Heilige Gees uitgestort is, het daar iets soos tonge van vuur bo elkeen daar in die bovertrek se kop verskyn. 

 

Die Here het deur sy Gees die leiers sowel as die volk met sy Heilige Gees vervul en daarom was hulle entoesiasties en het hulle ywerig aan die Here se tempel begin bou!  Hoe bou ons vandag aan die Here se tempel? Ons vat mekaar se hande in die gemeente. Ons bid saam. Ons bestudeer God se Woord saam. Ons praat met mekaar oor ons verantwoordelikheid om te te bou. Nie aan hierdie kerkgebou nie, maar aan mekaar. Ons moet geestelik saam groei tot 'n geestelike huis van God.

 

Moontlik het jy ook verskonings.  Vir jou klink jou verskonings na geldige verskonings.  Jou omstandighede is dalk ook moeilik.  Jou finansiële posisie benard.  En kyk net hoe gaan dit deesdae in ons land.

 

Maar kyk wat het met die klomp Judeërs gebeur.  Toe hulle die Here se Woord ter harte neem, toe kon hulle aan die Here se tempel begin bou.  Nie met eie krag nie.... Nee!  Die Here het hulle aangevuur.  En toe het hulle ywerig begin bou.

 

 

SLOT

 

Broeder en suster, hoe lyk jou eie huis en hoe lyk die Here se tempel? 

Op watter manier is jy betrokke by die bouwerk aan die Here se tempel?   Is jy bereid om saam te werk?  Daar is baie werk wat wag!

 

 

Julle  jong gelowiges wat vanoggend julle geloof openlik gaan bely, is julle bereid om aan die Here se tempel te bou? Is julle bereid om  ʼn verskil te maak?  Onthou:  Uit jouself gaan jy niks regkry nie. As jy egter luister, en ter harte neem wat die Here vir jou in die Here Jesus Christus openbaar, sal Hy jou aanvuur.  En dan sal jy met ywer en vol entoesiasme aan sy tempel kan bou!

 

                                                                         Amen

Saturday, 09 February 2013 08:07

Fokustyd 2013 Weke 1 & 2 (4 - 17 Feb)

 

GEREFORMEERDE KERK KROKODILRIVIER                                              

 

     FOKUSTYD 2013

BLAAS DIE VUUR WEER AAN

 

 

 

Inleiding:

Sinode 2012

Sinode 2012 sal in die geskiedenis onthou word vir die baie belangrike besluit wat geneem is oor die sg “Omkeerstrategie.” Sedert hierdie Sinode die besluit geneem het, word daar binne die GKSA druk gesprek gevoer oor wat hierdie strategie dan nou prakties sou behels? Een ding het baie duidelik geword. Om maar net op meerdere vergaderings oor hierdie saak te praat gaan baie beslis niks laat verander nie. Iets sal prakties in elke plaaslike gemeente moet gebeur.

“From Embers to a Flame”

Dit is die titel van ‘n boek wat dr Harry Rheeder (Birmingham, Alabama, VSA) geskryf het. Die Here het dit so beskik dat in die jaar van die Sinode se besluit oor die “Omkeerstrategie” dr Harry Rheeder ‘n konferensie oor “Church Revitalization” in Suid Afrika aangebied het. ‘n Aantal predikante van die GKSA het die voorreg gehad om hierdie konferensie by te woon. Dit het vir ons baie duidelik geword dat die saak van “Church Revitalization” en die “Omkeerstrategie” in wese oor dieselfde saak handel. Dit gaan oor kerklike “gesondheid”. Terwyl die deputate wat deur die Sinode aangewys is om aan die “Omkeerstrategie” aandag te gee besig is om hulle werksaamhede te beplan en tot uitvoer te bring, gaan ‘n aantal gemeentes van die GKSA reeds begin om sekere Bybelse beginsels van “Church Revitalization” in hulle gemeentes te implimenteer.

Bedieningshandleiding

In hierdie handleiding word volgens weeklikse tema’s ‘n volledige huisgodsdiensrooster (vir huisgesinne en individue), asook ‘n weeklikse Bybelstudie (vir wyke en groepe) saamgestel.  Die tema is gekies om aan te sluit by die boek van Harry Rheeder (From Embers to a Flame). Die gemeente berei die huisgodsdiens en die Bybelstudie voor waarna die prediking van die volgende Sondag die betrokke tema verder belig en aktualiseer.

Op hierdie wyse word gepoog om die saad van God se Woord op “voorbereide grond” te laat val sodat dit veelvoudige vrug kan dra in die lewe van die lidmate.

Mag ELKE LIDMAAT die seën van die Here deur hierdie werkswyse ervaar.                Ons tema is ontleen aan 2 Tim 1:6 & 7.   

 

 

 

Program:

·         Week 1: Daar is ‘n probleem in die kerk

·         Bybelstudie: Wat is die probleem?

·         Week 2: Verstaan jy wat die probleem behels?

·         Bybelstudie: ‘n Krisis in Efese (Openbaring 2)

·         Week 3: Die Bybelse antwoord op hierdie probleem

·         Bybelstudie  Julle het die naam dat julle lewe.... 

·         Week 4: God se Evangelie van genade

·         Bybelstudie:  Gesonde gemeentes groei

·         Week 5: Persoonlike geestelike dissipline

·         Werkswinkel: Toerusting vir persoonlike geestelike groei

·         Week 6: Gebed het die hoogste prioriteit

·         Bybelstudie Hoe moet ek bid?

·         Week 7: Wat maak jy met God se Woord in jou lewe?

·         Bybelstudie: Woord en gebed

·         Week 8: Dit begin by die geestelike leiers in die gemeente

·         Die kuns om te lei en te volg

·         Week 9: Wat doen die geestelike leiers?

·         Bybelstudie:    Wat doen leiers?

·         Week 10: Die gemeenskap van die gelowiges

·         Bybelstudie  Wat is dissipelskap regtig?

·         Week 11:  Hoe lyk ’n gesonde gemeente?

·        bybelstudie   'n Gesonde gemeente groei

 

 

Erkenning word gegee aan gedeeltes in die Handleiding wat van die Gereformeerde Kerk Rietvallei  Pretoria se handleiding oorgeneem is.  DdK


 

 

 

Mag die Fokustyd elke lidmaat en die hele gemeente kragtig laat groei tot uitbreiding van God se koninkryk.                    

                                                                                           Danie de Kock

 

FOKUSTYD 2013   BLAAS DIE VUUR WEER AAN!!!

 

 

WEEK 1:                                Daar is ’n probleem!

Die aanslae op die kerk van die Here is geweldig.  Daarom moet die kerk van Jesus Christus altyd strydende kerk bly.    (Lees gerus Openbaring 12 en 13). Kyk hoe die kerk moet stry teen die aanslae (Vgl. Ook Ef 6 en kyk na die wapenrusting wat ons nodig het om op ons pos te kan bly!)

Om strydende kerk te bly, is glad nie so eenvoudig nie. Soms is die aanslae en die verleiding so erg dat dit ’n mens vreeslik uitput!  Jy ywer kan wegraak en jou toewyding verslap.

Lees 2 Tim 1:3 - 14.  Kyk wat sê Paulus vir Timoteus in verse 6 & 7

Dit is sekerlik nie net Timoteus wat geestelik moeg geword het nie.  Ons geestelike vuur kan maklik tot ’n paar kooltjies afkoel. Dan moet ons die genadegawes wat God ons gegee het weer soos ’n vuur aanblaas!

Dit is wat oins met hierdie fokustyd gaan doen --  Ons gaan die vuur weer aanblaas!

WEEK 1.   BYBELSTUDIE   (IN DIE WYK of KLEINGROEP)  

DAAR IS ‘N PROBEEM?

Lees 2 Timoteus 3 en 4:1 – 8

Dat daar swaar tye sal kom, daaroor het die apostel Paulus geen twyfel nie.  In hierdie twee hoofstukke wys die apostel op sommige van die probleme wat die kerk noodwendig mee te doen sal kry.  Hy wys die probleme uit, maar gee ook ’n duidelike oplossing.

1.  Soek die probleme wat Paulus aan Timoteus uitstippel en maak saam ’n lys.

2.  Met watter van bogenoemde probleme het ons al  in ons gemeente te doen gekry?  Maak ’n lys.

3.  Wat dink u is die oorsaak(-sake) van hierdie soort probleme?

4. Wat is die gevolg vir ’n gemeente as daar nie iets aan die probleme gedoen word nie?   

4.  Waarin het Timoteus vir Paulus nagevolg?

5. Wat is die noodwendige gevolge vir mense wat, soos Paulus. toegewy aan God wil lewe?

6. Watter raad gee Paulus aan Timoteus om op die regte koers te bly wanneer dit so moeilik in die kerklike lewe gaan?

7.  Wat is die toekomsverwagting van elkeen wat in volome toewyding voor God lewe?

 

WEEK 1.    PERSOONLIKE – EN HUISGODSDIENS:  

DAAR IS ’N PROBLEEM

Die kerk staan midde in die stryd teen die aanslae van die bose magte.  Dit is nodig dat gemeentes hierdie werklikheid in die oë sal kyk en sal luister wat die Here in Sy Woord hieroor leer. In hierdie week se stiltetyd / huisgodsdiens gaan ons by verskillende Nuwe Testament gemeentes leer van die probleme wat hulle ervaar het. In die lig van wat hulle beleef het gaan ons ons eie situasie ontleed. Ons gaan veral in Bybelstudie na die gemeente in Efese kyk.

 

Maandag             1 Korinthiërs 1                  Die gemeente in Korinthe het ook probleme

Die gemeente in Korinthe het baie probleme ervaar.  Daar is verskeie sake wat in hierdie brief aandag kry. Ons fokus maar net op die een saak wat sommer hier aan die begin aangespreek word. Op watter manier is dit ’n saak wat ook in ons eie gemeentes voorkom? 

1. Wat is daar wat ook positief oor hierdie gemeente gesê kan word? (vers 4 – 9)

2. Daar is tog ’n probleem wat aandag vereis? (vers 10 – 11)

3. Op watter manier kan hierdie probleem die gemeentebediening skade berokken? 

4. Wat was die oorsaak van hierdie probleem? (vgl 1 Kor 3: 1 – 4)

5. Hoe moet hierdie probleem aangespreek word? (vgl Hebreërs 5: 11 – 6: 12)

 

Dinsdag                Galasiërs 1: 1 – 10            ‘n “Ander” evangelie in Galasië?

Hierdie is moontlik een van die heel eerste briewe wat die apostel Paulus aan ’n gemeente geskrywe het. Die gemeentes in Galasië het ook ernstige probleme ervaar. Die aanspreek van hierdie probleem was so belangrik dat dit skynbaar aanleiding gegee het tot die eerste kerkvergadering (Sinode?) in Jerusalem (Handelinge 15). Die apostel Paulus moes self die apostel Petrus oor hierdie saak vermaan toe Petrus ook verkeerd opgetree het (vgl Galasiërs 2: 11 – 14). Ons moet vandag vir onsself uitmaak of hierdie “ander evangelie” nie ook op ’n manier besig is om ons te bedreig nie. 

1. Wat is die probleem wat in die gemeentes van Galasië kop uitgesteek het? (vers 6 – 10)

2. Wie het die probleem veroorsaak? (Lees ook Handelinge 15: 1 – 2)

3. Is dit ’n ernstige saak wat hier aangespreek word? Motiveer. (vers 7 – 9)

4. Hoe moet ons vandag teen hierdie bedreiging waak?

Woensdag          Filippense 3: 1 – 21         Ware (en valse) geregtigheid

Daar was ook ’n probleem wat die Filippense bedreig het. Miskien was dit maar dieselfde bedreiging wat ook in Galasië na vore gekom het. Die grootste vyande van die kerk van die Nuwe Testament was die “kerk van die Ou Testament” (Judaïsme / Fariseïsme / skrifgeleerdheid) – ’n valse geregtigheid. Die apostel Paulus het die implikasies hiervan duidelik besef want hy was self daarin vasgevang voordat hy tot bekering gekom het.

1. Waarvoor waarsku Paulus die Filippense? Wie en wat het hulle bedreig?

2. Hoe sou hierdie probleem vandag in ons eie tyd na vore kom?

3. Wat is “geestelike volwassenheid”? (vers 15)

4. Probeer om “geestelike onvolwassenheid” prakties te beskryf. Hoe sou dit lyk?

 

Donderdag         Handelinge 20: 17 – 32  Ouderlinge van Efese – pas op ...

In die lig van hierdie week se Bybelstudie lees ons wat die apostel Paulus vir die ouderlinge in Efese gesê het in Handelinge 20. Die krisis wat hulle bedreig het was nie heel eerste ’n bose bedreiging “van buite” nie, maar ’n slinkse bedreiging “van binne”. Die Satan en sy magte is dalk nie ons grootste vyand nie – die grootste vyand kom ... van binne!? Het ons dit al mooi verreken? Op watter manier is dit dalk ook waar van ons eie tyd?

1. Hoekom moet die ouderlinge hulleself eers oppas? (vers 28a) Wat het dit met goeie leierskap te make? Wat het in die lig van Openbaring 2 se brief verkeerd gegaan in Efese?

2. Waar sou hierdie bedreiging vandaan kom en hoe intens was dit?

3. Op watter manier moet hulle hierdie aanslag trotseer? (vers 32). Wat beteken dit prakties?

4. Hoe moet ’n gemeente vir ’n aanslag “van binne” gereedmaak?

 

 

Vrydag                  1 Timotheus 1                   Timotheus moet in Efese bly

Die apostel Paulus het by herhaling vir Timotheus gevra om in Efese aan te bly. Hy het dit juis gedoen omdat hy hierdie gemeente op sy hart gedra het en wou sorg dat die bedreiging wat voorgekom het, aangespreek moet word. Hierdie is ’n kosbare hoofstuk waarin Paulus sy geestelike “kind” aanmoedig om te midde van baie moeilike omstandighede getrou en gefokus te bly.   

1. Wat is die bedreiging wat Timotheus in Efese moet vermy? (vers 3 – 5)

2. Wat is die dinge wat wel aandag moet ontvang? (vers 5) Wat beteken dit prakties?

3. Word die kernsaak van die krisis in die gemeente van Efese (vgl Openbaring 2 se brief) nie dalk hier aangespreek nie? Wat is die probleem volgens vers 5 – 7?

4. Maak ’n opsomming van verse 12 – 20.

 

WEEK 2             

Verstaan jy die probleem?

Inleiding:

Waar die Here deur Sy Heilige Gees werksaam is, is daar sonder enige twyfel bruisende lewe en konstante groei. Dit kan nie anders nie. Die Heilige Gees wek lewe waar daar doodsheid was en dit bring groei en groei bring vrugte wat wys waar hierdie lewe vandaan kom. Aan die ander kant – waar die mens op homself aangewese is en vanuit sy eie krag en inisiatief (probeer) optree is daar noodwendig agteruitgang en sterwe. Geld dit ook vir die kerk? Dit is wat Jesus Christus in Openbaring 3 aan die gemeente van Sardis bekendmaak. Hulle het nog die naam dat hulle lewe, maar eintlik is hulle reeds dood (vers 1). Sardis was ’n vestingstad wat ietwat weggesteek tussen berge en kranse hulleself (afgesonder / eenkant) en veilig gevoel het. Maar dit was bloot ‘n rustigheid wat bo-oor ’n onderliggende doodsheid geheers het (soos in ’n begraafplaas). Dit was hierdie “doodse rustigheid” wat daartoe bygedra het dat hierdie stad twee keer in die geskiedenis onverwags oorval en ingeneem is. Presies dit waarvoor die Here hulle dan ook (weer) waarsku (Openbaring 3: 3). ’n Gelowige (en ’n gemeente) se lewe mag nie soos ’n opblaasbal wees wat stadig maar seker besig is om pap te word nie. Dit moet eerder soos ’n groot skildery wees wat onder die bekwame kwas van die Gees van God se werking al hoe voller / duideliker / helderder tot voltooiing gebring word.

Hierdie week gaan ons daarop fokus om die probleem wat verlede week uitgewys is, te verstaan.

BYBELSTUDIE    WEEK 2  (IN DIE WYK OF KLEINGROEP)

Die gemeente van Efese moet hulleself bekeer  (Lees Openbaring 2:1 - 7)

Die gemeente in Efese is die Nuwe Testament gemeente waarvan ons sekerlik die meeste in die Nuwe Testament lees. Hierdie gemeente is deur die apostel Paulus op sy tweede sendingreis gestig (Handelinge 18). Die bekende Apollos het in Efese gewerk (Handelinge 18). Paulus het op sy derde sendingreis teruggegaan na Efese (Handelinge 19) en vir twee jaar lank besprekings in die saal van Tirannus gehou. In hierdie tyd het daar wonderlike dinge in Efese en die hele provinsie Asië gebeur. Die gemeente van Efese het die gemeente geword waarvandaan die bediening verder uitgekring het. Op ’n terugreis na Jerusalem het Paulus weer die ouderlinge van Efese ontmoet en hulle gewaarsku oor die moeilike tye wat voorlê (Handelinge 20).  Paulus het dan ook sy brief aan die gemeente van Efese geskrywe. In hierdie brief gee hy baie aandag aan die kerk. Dit is ook duidelik dat Timotheus vir ’n lang tyd in Efese gearbei het. In 1 Timotheus 1: 3 dring Paulus (weer) by hom aan om in Efese te bly. Dit wil voorkom asof Johannes ook vir ’n lang tyd in Efese werksaam was voordat hy na die eiland Patmos verban is. Die laaste wat ons van die gemeente in Efese lees is wanneer Jesus Christus een van die sewe briewe in Openbaring aan hierdie gemeente deurstuur. Hierdie brief vertel van positiewe dinge, maar maak ook ’n baie ernstige waarskuwing bekend. Die gemeente staan in die gevaar om hulle lamp te verloor indien hulle nie tot bekering kom nie.

Indien so ’n kragtige en begenadigde gemeente tot bekering opgeroep moet word omdat dinge by hulle nie meer reg is nie moet elke gemeente in die laaste dae ook dringend aandag gee aan hulle eie situasie.

Bespreek en beantwoord die volgende vrae:

1.       Hoekom is dit belangrik dat ons aan hierdie sake dringende aandag gee? (Openbaring 1: 3)

2.       Wat beteken dit dat die brief eerste tot die leraar van die gemeente gerig word?

3.       Hoe maak die Here Homself bekend? Wat beteken dit? (vers 1)

4.       Maak ’n opsomming van vers 2. Wat is die dinge wat hulle positief en reg doen? Ontleed elkeen van die woorde wat gebruik word. Wat leer ons hieruit? Hoe vergelyk dit met ons eie dienswerk as kerk van Jesus Christus in die laaste dae?

5.       Het die ouderlinge van Efese aandag gegee aan Paulus se waarskuwing in Handelinge 20? Motiveer jou antwoord.

6.       Gee indringend aandag aan vers 4. Wat bedoel die Here hier? Wat het hulle verkeerd gedoen?

7.       Hoe ernstig is hierdie saak? Wat impliseer vers 5. Kan dit nie oorgesien word nie?

8.       Wat moet gedoen word om dit reg te stel? Is dit sommer ’n maklike saak? Motiveer. Wat moet hulle gaan doen? Onderskei drie verskillende dinge wat moet gebeur en omskryf elkeen as ’n proses wat gevolg moet word. Hoe sou dit prakties moet gebeur?

9.       Daar is nog iets positiefs in vers 6. Hoe sluit dit by die eerste gedeelte van die brief aan?

10.   Wat is die implikasie van vers 7 vir al die gemeentes – ook vir ons vandag? Wat beteken dit om regtig te luister? (vgl Openbaring 1: 3)

11.   Wat moet ons as kerke van die laaste dae uit hierdie skrywe van Jesus Christus aan die gemeente van Efese leer? Wat wil die Here hê moet ons WEET?

12.   Wat wil die Here hê moet ons nou gaan DOEN?

13.   Skryf die antwoorde van vraag 11 en 12 in die vorm van aanbevelings aan die kerkraad.

14.   Hoe gaan julle hierdie boodskap aan die hele gemeente deurgee? Wees prakties.    

 

HUISGODSDIENS  WEEK 2

Maandag             Efesiërs 2: 1 - 3

Ons is steeds besig om op die gemeente van Efese te fokus. Blaai gerus weer terug na verlede week se studie en doen hersiening. Hierdie is ’n gemeente wat besondere aandag in die NT ontvang het. ’n Mens sou verwag dat dit altyd sal goedgaan in hierdie gemeente. Tog is dit juis hierdie gemeente wat deur Jesus Christus in Openbaring 2 tot bekering opgeroep word. Maar – waar het alles begin? Waar kom hulle vandaan? Wat weet ons van hulle ontstaangeskiedenis?

  1. Met watter woord beskrywe die apostel die gelowiges se lewens voordat hulle gelowiges geword het? (vers 1). Verduidelik hoe so ’n woord gebruik kan word om ’n LEWENSWYSE  te beskryf.
  2. Hoe het hulle lewens vroeër gelyk en wat beteken dit prakties? (vers 2)
  3. Wat (wie) was die “dryfkrag” in hulle lewens en wat beteken dit? Waartoe lei so ’n lewe? (vers 3)

Dinsdag                Efesiërs 2: 3

  1. Hierdie toestand van “doodsheid” het nie net by die mense wat vroeër heidene was geheers nie. Waar het dit ook voorgekom volgens Paulus? (vers 3)
  2. Hoe lyk die “binnewerking” van so ’n lewe volgens vers 3? Wat gebeur prakties in so ’n lewe?
  3. Waartoe lei so ’n lewe? Wat moet aan die einde daarvan gebeur? (vers 3)

 

Woensdag          Efesiërs 2: 4-5

1.       Wat (WIE) het die groot verandering in ons lewens gebring en hoekom het dit gebeur? (vers 4 + Joh 3: 16)

2.       Hoe het God hierdie verandering bewerk? Verduidelik die woorde – dood en lewend (vers 5)

3.       Het ons enigiets uit onsself reggekry? (vers 5b). Wat beteken dit? Het die Here ons gehelp om self iets te doen of was dit 100% genade van Sy kant?

 

Donderdag         Efesiërs 2: 6-7

1.       Maak net weer seker dat jy die boodskap van vers 6 duidelik verstaan.

2.       Die woorde “saam met Hom” kom 2 keer voor. Wat wil die Here daarmee sê? Hoekom is dit belangrik om hierdie “saam met Hom” reg te verstaan?

3.       Vers 7 begin met die woord – “sodat.” Wat is dan die doel van alles ... ook vir die toekoms? Wat wil God nou “wys” (laat sien – vers 7) in die tye wat kom? Hoe raak dit ons lewens?

 

Vrydag                  Efesiërs 2: 8 – 10

  1. Hoe hou genade (van God) en die geloof van ‘n Christen met mekaar verband? (vers 8).
  2. Hierdie verse (8-10) moet uit die kop geleer word. Skryf dit op ’n stukkie papier en plak dit vir ’n week lank teen jou spieël. Leer dit elke dag totdat jy dit goed ken.
  3. Wat is ons nou en Wie het ons so gemaak? (vers 10) Wat beteken dit dat ons ‘n “nuwe skepping” is? Waaraan moet ons nou ons lewe wy? Wat beteken dit prakties?      

 

Samevatting:

Vir ’n kind van die Here is dit ’n saak van lewe en dood. Van nature en uit onsself het ons deel aan die doodsheid wat die sonde bewerk. Mense wat in hierdie doodsheid (bly) lewe word deur hulle eie begeertes en gedagtes beheers. Die uiteinde van so ’n lewe is die ewige dood (hel). In Sy liefde het God ons egter gered en in Jesus Christus lewend gemaak. Ons is nou ‘n “nuwe skepping” (herskepping) wat nou deur die krag van die Heilige Gees ons hele lewe daaraan wy om goeie dinge te doen – dit waarvoor God ons bestem het. Ons lewe wys nie meer “doodsheid” nie, maar is ‘n “herskepping” wat die lewe wys wat die Gees van God nou (elke dag) daarin werk. Ons noem dit heiligmaking.   

Sunday, 03 February 2013 13:25

Matt. 21:31a Kan jy jou woord hou?

 

SKRIFLESING:  MATTEUS 21:28 – 32

TEKS: MATTEUS 21:31a

 

KAN JY JOU WOORD HOU?

 

Broeder en suster,

 

Kan ons vanoggend maar  weer met so ʼn reguit, op-die-man-af-vraag begin?

 

Kan jy jou woord hou?   Doen jy altyd wat jy sê?

 

Die Here Jesus het  ʼn hele paar keer met die Jode se priesterhoofde en familie hoofde swaarde gekruis.  Hulle wou maar net nie aanvaar dat Hy die beloofde Messias kon wees nie. In hulle oë was hy  ʼn opperste moeilikheidmaker en opstoker.

 

Toe Hy hierdie gelykenis van die twee seuns vertel het, was, hy weer met die leiers van die Jode in  ʼn geskil. Hulle wou weet met wie se gesag Hy optree.

 

Die Here Jesus het met hierdie gelykenis toe aan hulle verduidelik dat dit nie in die eerste plek oor sy gesag gaan nie, maar oor hulle gehoorsaamheid!

 

Om na mense se posisie of hulle status te kyk, is  ʼn algemene probleem.  Regdeur die wêreld doen mense  graag dit wat die belangrike persone sê. Hulle mening weeg gewoonlik die swaarste.

 

Die priesterhoofde en familiehoofde het gedink hulle is die belangrike mense – hulle was immers die leiers van die volk......

 

Maar nou kom die Here Jesus met  ʼn vraag: 

 

Kan jy jou woord hou?  Doen jy wat jy belowe het om te doen?

 

1.  DIE HERE VERWAG GEHOORSAAMHEID

 

Toe die Here met Abraham en sy nagesag  ʼn verbond gesluit het,  het Hy belowe:  Ek sal vir jou  ʼn God wees. Maar toe het Hy ook aan Abraham gesê:  Jy moet aan My gehoorsaam wees.

 

Die Here belowe sy liefde, versorging en krag, maar Hy verwag gehoorsaamheid.  Dit is tog die verbond, die ooreenkoms wat Hy met sy volk aangegaan het.

 

Maar ons ken mos die geskiedenis soos dit in die Bybel opgeteken staan.  Die volk Israel was ongehoorsaam! Hulle was kort-kort op die verkeerde pad.  Die Here moes telkens profete stuur om hulle terug te roep. En dikwels was hulle stom verbaas omdat die profete hulle tot bekering geroep het.  Hulle het nie gedink hulle sondig nie.

 

Selfs hier waar hulle direk gekonfronteer word en persoonlik voor God, wat mens geword het, staan, kom hulle dit sowaar nie agter nie!

Hulle is so verwaand en blind dat hulle so ver gaan om sy gesag in twyfel te trek!

 

Die punt is: 

 

2.  DIT IS MAKLIK OM “JA” TE Sê

 

Die Israeliete het dit al vir eeue gedoen. Hulle het oor en oor gesê dat hulle aan die Here gehoorsaam sal wees en dat hulle volk is.  Hulle het tempel toe gegaan en daar gaan offer.  Hulle het gevas en hulle tiendes gegee.

 

Maar die vraag is:  Was hulle gehoorsaam?

 

In die gelykenis vertel die Here Jesus  ʼn Pa wat vir sy twee seun vra om in die wingerd te gaan werk.

 

Hierdie wingerd is God se eiendom. Dit is die plek waar  sy koninkryk  gebou en uitgebrei word.  In die Ou Testament word die volk Israel dikwels God se wingerd genoem.

 

Die volk Israel moes in almal in God se diens staan en daarom  die beeld dat hulle in sy wingerd moes werk. Hulle moes werk sodat die wingerd produksie kon lewer!

 

En nou sê die Here Jesus dat die twee seuns  verskillende antwoorde op die Pa se versoek gee.  Die eerste sê dadelik “nee” op sy Pa se versoek. Dit lyk baie ongeskik en ondankbaar....   Maar sê Jesus, hy het later spyt gekry en tog gegaan.

 

Die tweede seun sê dadelik “ja”.  Maar dan doen hy dit nie.  Hy gaan nie.  Hy sê hy sal, maar is uiteindelik ongehoorsaam.

 

Dan konfronteer die Here Jesus hierdie leiers van die volk:

 

Wie van dié twee het gedoen wat die pa wou hê?

 

Die leiers antwoord dan: Die eerste seun.   Die tweede een  het te maklik “ja” gesê. 

 

3. OM DIE HERE TE DIEN VRA BEKERING

 

 Die eerste seun het spyt gekry en tog gegaan. Al was hy aanvanklik ongeskik en ondankbaar. Al was hy aanvanklik op die verkeerde pad, het hy tot besinning gekom.  En dan gaan werk tog in die wingerd.

 

Die Here Jesus wys die Joodse leiers op die feit dat hulle soos die tweede seun is. Hulle is maak of hulle baie gehoorsaam en getrou is. Hulle sê baie maklik “ja”, maar tog doen hulle nie.

 

Daarteenoor reageer die sondaars, die prostitute en die tollenaars, wat as die uitgeworpenes van die samelewing beskou word, met bekering.  Hulle begin om gehoorsaam te wees.....

 

Wat doen ons broeders en susters?

 

Kan ons, ons woord hou?

Ons het al verskeie kere die geleentheid gehad om te antwoord op die vraag of ons vir ons hemelse Vader sal werk.

 

By die doop. By belydenis aflegging. Op ons troudag. Toe ons in  ʼn diens bevestig is.

                                  Ons sê maklik “ja”......

Maar wat doen ons?   Ons wat van ons geboorte af deel van God se verbondsvolk is.

 

Ons is deel van die gemeente, maar daar is tog soveel verskonings.  Ons is so besig. Ons kry net nie tyd nie. Ja, ons wil, maar intussen het daar weer iets voorgeval.  Ja, ek weet ek moet, maar ek kom net nie daarby uit nie.....

 

Is ons nie maar baie soos die seun wat “ja” sê, maar dan nie by die werk uitkom nie?

 

Die Here Jesus sê in die gelykenis dat die sondaars, die prostitute en die tollenaars die werk doen omdat hulle hulle bekeer het.  Hulle was ongehoorsaam en ondankbaar en ontrou, maar nou het hulle tot bekering gekom.

 

Die vraag vir ons vandag:

 

4. HOE KAN ONS GEHOORSAAM WORD?

 

Die antwoord is:  Gryp vas aan die Here Jesus Christus.  Dit is wat die prostitute en die tollenaars destyds gedoen het.  Hulle het die Here Jesus se vriende geword!

 

Natuurlik was die Joodse leiers daaroor baie verontwaardig en veroordelend, maar dit het gemaak dat hulle die Here Jesus uiteindelik gekruisig het....

 

Later lees  ʼn mens (Joh. 15) dat die Here Jesus sê:  Ek is die wingerdstok, julle die lote. Ja, hier is God se koninkryk!  Daarom sê Hy:  Wie in My bly dra baie vrugte. Sonder My kan julle niks doen nie.  Hy sê: Elke loot wat nie in my bly nie verdroog!

 

As jy deur  ʼn ware geloof aan die Here Jesus verbind is. Dan sal jy jou motivering en jou krag van Hom af kry. Dan sal jy saam met Hom die ware, nuwe lewe ervaar.

 

SLOT

 

Ons gemeente het met ons Fokustyd wat môre begin, ʼn geleentheid om saam oor ons dienswerk in God se wingerd te besin.  Kom ons gryp hierdie geleentheid met albei hande aan.  Dit is  ʼn geleentheid vir geloofsverdieping en vir geestelike groei.  As  ʼn mens geestelik groei, begin jy vrugte vol diensbaarheid dra.

 

Broeder en suster:

 

Die Here vra vir elkeen van ons:

 

My kind,  sal jy in die wingerd gaan werk?

 

Wat is jou antwoord?

                                                   AMEN

Sunday, 03 February 2013 13:21

Romeine 6:3 & 4 Gewaarborg om te lewe (Doop)

 

SKRIFLESING: ROMEINE 6:1 - 14                        

TEKS: ROMEINE 6:3 & 4

TEMA: GEWAARBORG OM TE LEWE .....

 

Hoe dink u? 

Wat is die mens se grootste probleem? Die sonde of die dood?  

                Dit is seker vir die dood wat die mens die bangste is....,

                maar tog is dit die sonde wat tot die dood lei.  

Inderwaarheid is sonde en dood so ineengestrengel dat die twee eerder saam as die mens se grootste probleem beskryf moet word.

 

Sonde en dood .... dít maak die mens se lewe op aarde sinloos. Die Prediker het mos al eeue gelede goed nagevors oor wat die sin van die lewe is. En Hy het gesê: Alles wat die mens op hierdie aarde aanpak, kom tot niks, dis net ʼn gejaag na wind....  Sonde......, ellende,...... die dood.

 

Maar God het in hierdie uitsiglose en verlore toestand kom ingryp!

 

Hier is die evangelie, die blye boodskap! God het Self, in die persoon van die Seun, na ons toe gekom om ons te kom verlos, ons te kom bevry,  uit die mag van die sonde en die dood.

 

In ons teksvers sê die apostel Paulus 

 

1. ONS IS DOOD VIR DIE SONDE

 

Maar ons moet goed verstaan:  Sonde is nie maar net  ʼn paar foutjies in  ʼn mens se lewe nie.  Sonde is  ʼn mag wat jou beetkry en jou in sy greep vasklem.  Dit neem jou gedagtes oor en rig jou optrede. 

 

Jakobus beskryf die greep wat die sonde op  ʼn mens kry baie treffend as hy sê:

......  ʼn mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.  Daarna as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood(Jak 1:14 en 15)

 

Jy sien dit elke dag rondom jou:  Mense wat in die greep van een of ander verslawing vasgevang sit: Drank, dwelms, dobbel, sedeloosheid en buite-egtelike verhoudings.....   Mense raak so aan die dinge van die wêreld verknog dat dit hulle hele bestaan opslurp en hulle lewe vernietig!

 

Maar hoor die blye boodskap in ons teksvers: 

                Ons is dood vir die sonde! 

                Die sonde het sy greep op ons verloor!

 

Ja, die sonde het nie meer mag oor ons nie, en hoor! Daar is nog meer

 

2. ONS LEWE, WANT ONS HET DIE DOOD OORWIN.

 

Die dood het sedert die sondeval ook  ʼn onbreekbare greep op die mensdom gekry.  Daarom kan geen mens op aarde sy of haar onafwendbare sterfdag vryspring  nie.

 

Maar toe kom God!  Die Here Jesus lê vir twee dae in die graf en op die derde dag breek Hy die graf oop en staan op uit die dood. Sodoende het Hy ook het die mag van die dood kom breek.

 

En nou sê die apostel onder leiding van die Heilige Gees:  Elkeen wat deur  ʼn ware geloof aan die Here Jesus verbind is, is saam met Hom  ʼn oorwinnaar en het saam met Hom uit die greep van die dood losgebreek!

 

Daarom kan ons met dankbaarheid sê: Die dood het, net soos die sonde, ook nou glad nie meer mag oor ons nie.

 

Dit is wonderlike nuus..........   Dit is voorwaar  ʼn blye boodskap!

 

Maar nou is die groot vraag:  Hoe weet ek dit? 

Ja, dit staan in die Bybel. Ons moet dit glo.....

 

Maar hoe kan ek daarvan seker wees dat ek ook bevry is?  Hoe kan ek weet, en ten volle daarvan oortuig wees, dat die sonde my nie meer beet het nie en dat ek ook glad nie meer vir die dood bang hoef te wees nie?

 

Die apostel Paulus antwoord hierdie vraag deur te sê:

 

3. ONS IS GEDOOP!

 

Nou kan  ʼn mens dadelik vra: Is die doop dan opsigself ʼn veilige hawe?  Vrywaar die doop  ʼn mens nou sondermeer van sonde? En sorg die doop dat jy vir ewig sal lewe?  Watter mag het die doop?

 

Sommige mense het wel hierdie verkeerde siening. Selfs in Paulus se tyd was dit al die geval.  Daarom begin hy hierdie gedeelte met die vraag:  Wat moet ons nou hiervan sê:  Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem?

 

Sommige mense dink dat die doop opsigself jou redding verseker.  Daarom meen hulle dat jy maar kan lewe net soos jy wil .... solank jy gedoop is, is jy veilig... Ja....  jy kan aanhou sonde doen, want dan word die genade net meer......    

 

Maar dit is allermins wat die doop beteken!

 

Die doop is wel ʼn waarborg. Ons belydenis leer dit baie duidelik in Sondag 27 HK as daar staan:  Verder wil Hy ons deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net so werklik geestelik van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met water gewas word.

 

Hier praat ons belydenis van  ʼn waarborg wat ons verseker.....

 

Wat presies is dan die waarborg wat die doop dan gee?

 

Kom ons dink aan ons alledaagse lewe.  Wanneer ek en jy  ʼn nuwe gebruiksartikel koop, ontvang ons gewoonlik  ʼn waarborg daarmee saam.  So  ʼn waarborg gee vir jou sekerheid en stel jou gerus – dit waarborg dat die motor, yskas of TV wat jy aangeskaf het vir jou goeie diens sal gee.  Met ander woorde die waarborg sê dat die gebruiksartikel vir jou sal doen waarvoor jy dit aangeskaf het.

 

Maar ons weet ook dat elke waarborg baie duidelike voorwaardes het. Dit word in elke waarborg ingeskryf:  Enige misbruik van die artikel bring dadelik die geldigheid van die waarborg in gedrang.  As jy die artikel vir iets anders gebruik as waarvoor dit gemaak is, verval die waarborg.

 

 

 

4. DIE DOOP IS ONS WAARBORG!  

 

En wat meer is!   Dié waarborg is  ʼn Goddelike waarborg! Dit maak die waarborg soveel beter!   Maar ook hierdie waarborg het duidelike voorwaardes.  Enige misbruik bring die waarborg in gedrang!

 

Die waarborg van die doop sê:  Ons en ons kinders word deur  ʼn ware geloof aan die Here Jesus verbind. Ons moet in Hom bly, saam met Hom lewe.  Dit beteken dat ons die pad saam met Hom moet loop.   As ons van Hom af wegdwaal en op  ʼn eiewillige en hardkoppige manier ons eie begeertes najaag, en ophou om Hom te dien en te gehoorsaam, verval die waarborg!

 

Daarom vra Paulus in ons teksverse die retoriese vraag: Hoe kan ons wat dood is vir die sonde nog daarin voortlewe?

 

As jy die dag gedoop word, kry jy ‘n teken waarop staan:

 

Hierdie mens  is  ʼn gebruiksartikel vir God se koninkryk.

 

En dan word die waarborg uitgereik: 

 

Hierdie mens sal altyd geskik wees vir en ewig diensbaar wees in God se koninkryk TENSY daar misbruik is ......  As daar misbruik voorkom, verval die waarborg!

 

Daarom belowe die ouers by die doop van hulle verbondskindjie:

 

·         Ons sal hierdie kind met die lig van God se Woord opvoed.

·         Ons sal hierdie kind leer dat hy op grond van God se genadewerk in Christus ʼn waarborg het.....

 

 

·         Ons sal hierdie kind leer om  ʼn gebruiksartikel in God se   koninkryk te wees.  

·         Ons sal hierdie kind onder leiding van die Heilige Gees leer om God bo alles lief te hê en ook sy naaste soos homself...

 

SLOT

 

Die sonde en die dood het geen mag oor ons en ons kinders nie.  Ons is deel van God se ewige koninkryk.  Dit word deur God gewaarborg!

 

En die doop is die bewys daarvan.

 

Maar lees ook die voorwaardes! 

 

Ons is dood vir die sonde. Ons sondes is saam met die Here Jesus die graf in!  Daarom kan ons nie meer in die sonde lewe nie.......

 

Ons het ook saam met Christus uit die graf in  ʼn nuwe lewe opgestaan. Ons is nou in ons Koning se diens!  Ons verantwoordelikheid is  ʼn nuwe lewe van gehoorsaamheid en diensbaarheid in sy koninkryk.

 

As jy nie aan die voorwaardes van die waarborg voldoen nie, verval die waarborg.

                                                                             

                                                                       AMEN

 

 

 

 

 

 

 

JAKOBUS 5:16b - 18

 

DIE KRAG VAN 'N GELOWIGE GEBED

 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus.

 

Volgens oorlewering het Jakobus wat hierdie brief geskryf het, 'n bynaam gehad.  Die mense het hom ou Kameelknieë genoem.  Sy knieë het sulke groot eelte op gehad sodat dit netsoos 'n kameel se knieë gelyk het.

 

Weet u waarom?

 

Omdat hy soveel tyd in gebed op sy knieë deurgebring het.

 

Of hierdie storie oor Jakobus waar is, weet ons nie. Die feit is egter dat Jakobus met reg 'n man van gebed genoem kan word. Uit sy brief is dit mos baie duidelik.

 

Reeds in Hfst 1:5 sê hy:

 

"As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid....."

 

En later wanneer hy met sy lesers praat oor gebede wat nie verhoor word nie, sê hy: "As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevre­dig" (4:3)

 

Hier in Hfst 5 praat hy weereens oor gebed en dan vestig hy sy lesers se aandag op die

 

KRAGTIGE UITWERKING VAN 'N GELOWIGE GEBED.

 

Om te verduidelik hoe kragtig  ʼn gelowige gebed is, wys Jakobus terug na Elia. Hy sê:  Kyk net wat Elia se gebed vermag het! In antwoord op Elia se gebed het God vir drie jaar lank geen druppel reën laat val nie. En toe Elia daarna weer bid, het die Here reën gestuur!

 

Moet nou net nie die fout maak om te dink dat  Elia iemand buitengewoon was nie...  Jakobus sê: Elia was maar 'n mens soos ons. Hy het ook maar as 'n gewone, swakke mens tot God gebid.

 

Die vraag wat  ons moet vra is:  Hoe kry Elia dit reg om so te bid dat sy gebed juis so 'n kragtige uitwerking het?

 

In die eerste plek

 

1. ELIA HET OP GROND VAN GOD SE VERBOND GEBID

 

Die Here het mos met die volk Israel 'n verbond gesluit. Hy het met Abraham en sy nages­lag 'n ooreenkoms aangegaan. Hy het belowe dat Hy hulle God sou wees, maar dan moes hulle Hom alleen dien en gehoorsaam.

 

In Elia se tyd het God se verbondsvolk onder leiding van die swak koning Agab en sy goddelose vrou Isébel hierdie verbond verbreek.  Hulle het afgode begin dien.....

 

Elia het met ontsteltenis gesien hoe die volk al hoe verder van die pad van die Here weggedwaal het.

 

Onder aanhitsing van sy vrou het Agab die diens aan die Here met diens aan Baäl vervang. Hy het selfs 'n tempel vir hierdie afgod van die Sidoniërs in Samaria laat bou. Hy laat bou ook 'n altaar. En die meeste mense in Israel aanvaar maar hierdie verandering gedweë. Voortaan was Baäl god.....

 

Elia was ontsteld en verontwaardig. Hy kon nie langer sien dat die enigste ware God so deur sy eie verbondsvolk vertrap word nie. Hy kon ook nie verstaan waarom die Here toelaat dat die volk so voortgaan nie. Elia het begin worstel. Hy het God se eer gesoek.

 

Elia het verstaan dat benewens die seën wat die verbond bring, daar ook iets soos 'n ver­bondsvloek of verbondswraak is. Die Here het dit jare gelede, by monde van Moses, aan die volk gesê:

    

"....die Here jou God eis onverdeelde trou aan Hom. Hy is by jou, en as jy ander gode aanhang, sal sy toorn teen jou ontvlam en Hy sal jou van die aarde af wegvee"(Deut 6:15)

 

Elia het toe om God se verbondswraak begin bid.

 

En hy het juis doelbewus vir droogte gebid het. Baäl was 'n sogenaamde natuurgod. Volgens sy aanhangers was hy verant­woordelik vir reën en vrugbaarheid. Die goeie oeste op die landerye en die sterk veekuddes was dan sogenaamd aan Baäl se goeie guns te danke!

 

Elia wou hê dat die volk uit ondervinding moes leer dat Baäl nie werklik god is nie. Daar moes droogte kom, sommer 'n lang droogte sodat die volk kan leer dat Baäl nie reën kan gee nie. Dit gaan dus hier om God se eer wat deur 'n ontroue volk in gedrang gebring word.

 

En dan begin Elia bid. Hy neem God op sy woord. Volgens Deuternomium 28 het die Here belowe dat Hy die volk Israel met matelose seëninge sou seën as hulle aan Hom gehoorsaam sou bly. Aan die ander kant waarsku die Here egter in dieselfde hoofstuk dat Hy die volk in sy toorn sal verdelg  en sy vloek oor hulle sou laat kom as hulle hom nie meer wil dien nie en nie aan Hom gehoorsaam sou wou wees nie.

 

In sy gebed vra Elia nou dat die Here sal doen wat Hyself gesê het.

 

2. KAN ONS OOK SO BID?

 

Sal ons ook soveel met ons gebede kan verrig?

Die antwoord is “Ja”, broeders en susters, as ons God se wil soek en daarvoor bid.....

 

Begryp u?   Dit hang af van HOE ons bid en WAT ons vra.

 

Hoe lyk ons gebede gewoonlik? Hoe bid ons en wat vra ons?

 

Is ons gebede nie baie keer niks meer as sulke standaard rympies wat ons opgesê nie?  Is ons gebede nie heeltemal te selfgesentreerd nie? Probeer ons nie, al is dit dalk nie so doelbewus nie, tog maar die Here met ons gebede manipuleer nie? Ons maak die fout om te dink dat ons gebede se doel is om die Grote en Almagtige God te kry om die lewe vir ons gemakliker te maak.......

 

Om sy lesers te lei na die regte gebedsbenadering vestig Jakobus sy lesers se aandag juis op Elia.  Elia was 'n mens net soos ons, maar sy gebed het juis verskil van die deursnee gebed.  Sy gebed het nie om homself en om sy wil en sy belange gedraai nie. 

 

Elia was oor God se eer en oor sy koninkryk be­gaan! Ja, selfs al moes hy ook saam met die res van die volk onder die Here se straffende hand ly! Toe hy bid vir droogte in die land het hy goed geweet die honger en die dors lê voor ......  ook vir hom!

 

Broeders en susters, Elia was eerder bereid om brand arm te wees en honger te ly, as om te aanskou hoe God se eer en sy regte vertrap word!  Is ons ook bereid om onsself so aan God te onderwerp?

 

Elia was 'n mens, soos ons, sê Jakobus. Hy het God se eer gesoek. Ons kan mos ook!

 

Kan ons ook soos Elia bid?

 

Ja, broeder en suster, ons kan, want dit is immers waaroor die gebed gaan - God se eer.

 

Wanneer die Heidelbergse Kategismus in Sondag 45 vra: Waarom is gebed vir die Christene nodig? kom die antwoord: Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis..." (Vr. en Antw. 116)

 

Ons gebede mag nie "versoeklysies" wees waarmee ons na God toe gaan nie. Nog minder is ons gebede aller­hande grepe wat ons op God  kan toepas om Hom oor te haal om ons wense uit te voer.

 

Hy is mos nie in ons diens nie!

 

3. WAT MOET ONS DAN BID?

 

Wat moet die inhoud van ons gebede dan wees om ook so 'n kragtige uitwerking soos Elia se gebed te hê?

 

Die gebed van 'n gelowige het wel 'n kragtige uitwerking as ons leer om nie selfsugtig te bid nie. Ja, ons gebede kan net sulke resultate hê as ons weet om God se wil en sy eer in ons gebede voorop te stel.

 

Wat moet ons dan vandag bid? Dat die Here ons rus en vrede in ons samelewing wil gee? Of moet ons bid dat die Here ons almal in hierdie land sal leer, al kos dit nog meer geweld en onrus, dat egte vrede nie daar is waar mense mekaar maar net sal verdra nie, maar waar daar liefde vir God in mense se harte kom?

 

Wat moet ons vandag bid?  Dat Die Here goeie oeste op die lande sal gee en sal sorg dat daar ekono­miese welvaart in die land sal kom?  Of moet ons liewer bid dat die Here sy afvallige kerkvolk in Suid-Afrika, selfs met behulp van  ʼn politieke of ekonomiese krisis wil leer dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar wel van elke woord wat uit die mond van die Here uitgaan?

 

Die vurige gebed van die gelowige het groot krag. Maar eers as ons nie selfsugtig bid nie, maar juis wanneer ons God op sy woord neem. As ons sy verbond die uitgangspunt van ons gebed maak.

 

Ons moet besef broeders en susters dat ons, soos Elia destyds, met ons gebede die toestande in ons land nog slegter kan maak. Ons gebede kan lei tot droogtes en misoeste en selfs 'n toename in geweld en misdaad!

 

Dit is waarvoor Elia gebid het!  Vir drie jaar lank terwyl dit bitter droog was, moes Elia uitgaan en God se Woord verkondig. Hy moes die afvallige volk terugroep na die Here.

 

SLOT

 

Ons taak, broeders en susters, is om in alles God se eer te soek. In ons gebede, maar ook in ons optrede. Die ander mense moet uit ons monde hoor en aan ons optrede bemerk dat ons aan God behoort en dat ons aan Hom alleen al die eer gee.

 

Ons land kort nie in die eerste plek voorspoed en vrede nie.  

 

Ons land se mense kort die HERE! 

 

Laat ons daarvoor bid en daaraan werk.

 

                               AMEN.

 

JAKOBUS 5:16b - 18

 

DIE KRAG VAN 'N GELOWIGE GEBED

 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus.

 

Volgens oorlewering het Jakobus wat hierdie brief geskryf het, 'n bynaam gehad.  Die mense het hom ou Kameelknieë genoem.  Sy knieë het sulke groot eelte op gehad sodat dit netsoos 'n kameel se knieë gelyk het.

 

Weet u waarom?

 

Omdat hy soveel tyd in gebed op sy knieë deurgebring het.

 

Of hierdie storie oor Jakobus waar is, weet ons nie. Die feit is egter dat Jakobus met reg 'n man van gebed genoem kan word. Uit sy brief is dit mos baie duidelik.

 

Reeds in Hfst 1:5 sê hy:

 

"As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid....."

 

En later wanneer hy met sy lesers praat oor gebede wat nie verhoor word nie, sê hy: "As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevre­dig" (4:3)

 

Hier in Hfst 5 praat hy weereens oor gebed en dan vestig hy sy lesers se aandag op die

 

KRAGTIGE UITWERKING VAN 'N GELOWIGE GEBED.

 

Om te verduidelik hoe kragtig  ʼn gelowige gebed is, wys Jakobus terug na Elia. Hy sê:  Kyk net wat Elia se gebed vermag het! In antwoord op Elia se gebed het God vir drie jaar lank geen druppel reën laat val nie. En toe Elia daarna weer bid, het die Here reën gestuur!

 

Moet nou net nie die fout maak om te dink dat  Elia iemand buitengewoon was nie...  Jakobus sê: Elia was maar 'n mens soos ons. Hy het ook maar as 'n gewone, swakke mens tot God gebid.

 

Die vraag wat  ons moet vra is:  Hoe kry Elia dit reg om so te bid dat sy gebed juis so 'n kragtige uitwerking het?

 

In die eerste plek

 

1. ELIA HET OP GROND VAN GOD SE VERBOND GEBID

 

Die Here het mos met die volk Israel 'n verbond gesluit. Hy het met Abraham en sy nages­lag 'n ooreenkoms aangegaan. Hy het belowe dat Hy hulle God sou wees, maar dan moes hulle Hom alleen dien en gehoorsaam.

 

In Elia se tyd het God se verbondsvolk onder leiding van die swak koning Agab en sy goddelose vrou Isébel hierdie verbond verbreek.  Hulle het afgode begin dien.....

 

Elia het met ontsteltenis gesien hoe die volk al hoe verder van die pad van die Here weggedwaal het.

 

Onder aanhitsing van sy vrou het Agab die diens aan die Here met diens aan Baäl vervang. Hy het selfs 'n tempel vir hierdie afgod van die Sidoniërs in Samaria laat bou. Hy laat bou ook 'n altaar. En die meeste mense in Israel aanvaar maar hierdie verandering gedweë. Voortaan was Baäl god.....

 

Elia was ontsteld en verontwaardig. Hy kon nie langer sien dat die enigste ware God so deur sy eie verbondsvolk vertrap word nie. Hy kon ook nie verstaan waarom die Here toelaat dat die volk so voortgaan nie. Elia het begin worstel. Hy het God se eer gesoek.

 

Elia het verstaan dat benewens die seën wat die verbond bring, daar ook iets soos 'n ver­bondsvloek of verbondswraak is. Die Here het dit jare gelede, by monde van Moses, aan die volk gesê:

    

"....die Here jou God eis onverdeelde trou aan Hom. Hy is by jou, en as jy ander gode aanhang, sal sy toorn teen jou ontvlam en Hy sal jou van die aarde af wegvee"(Deut 6:15)

 

Elia het toe om God se verbondswraak begin bid.

 

En hy het juis doelbewus vir droogte gebid het. Baäl was 'n sogenaamde natuurgod. Volgens sy aanhangers was hy verant­woordelik vir reën en vrugbaarheid. Die goeie oeste op die landerye en die sterk veekuddes was dan sogenaamd aan Baäl se goeie guns te danke!

 

Elia wou hê dat die volk uit ondervinding moes leer dat Baäl nie werklik god is nie. Daar moes droogte kom, sommer 'n lang droogte sodat die volk kan leer dat Baäl nie reën kan gee nie. Dit gaan dus hier om God se eer wat deur 'n ontroue volk in gedrang gebring word.

 

En dan begin Elia bid. Hy neem God op sy woord. Volgens Deuternomium 28 het die Here belowe dat Hy die volk Israel met matelose seëninge sou seën as hulle aan Hom gehoorsaam sou bly. Aan die ander kant waarsku die Here egter in dieselfde hoofstuk dat Hy die volk in sy toorn sal verdelg  en sy vloek oor hulle sou laat kom as hulle hom nie meer wil dien nie en nie aan Hom gehoorsaam sou wou wees nie.

 

In sy gebed vra Elia nou dat die Here sal doen wat Hyself gesê het.

 

2. KAN ONS OOK SO BID?

 

Sal ons ook soveel met ons gebede kan verrig?

Die antwoord is “Ja”, broeders en susters, as ons God se wil soek en daarvoor bid.....

 

Begryp u?   Dit hang af van HOE ons bid en WAT ons vra.

 

Hoe lyk ons gebede gewoonlik? Hoe bid ons en wat vra ons?

 

Is ons gebede nie baie keer niks meer as sulke standaard rympies wat ons opgesê nie?  Is ons gebede nie heeltemal te selfgesentreerd nie? Probeer ons nie, al is dit dalk nie so doelbewus nie, tog maar die Here met ons gebede manipuleer nie? Ons maak die fout om te dink dat ons gebede se doel is om die Grote en Almagtige God te kry om die lewe vir ons gemakliker te maak.......

 

Om sy lesers te lei na die regte gebedsbenadering vestig Jakobus sy lesers se aandag juis op Elia.  Elia was 'n mens net soos ons, maar sy gebed het juis verskil van die deursnee gebed.  Sy gebed het nie om homself en om sy wil en sy belange gedraai nie. 

 

Elia was oor God se eer en oor sy koninkryk be­gaan! Ja, selfs al moes hy ook saam met die res van die volk onder die Here se straffende hand ly! Toe hy bid vir droogte in die land het hy goed geweet die honger en die dors lê voor ......  ook vir hom!

 

Broeders en susters, Elia was eerder bereid om brand arm te wees en honger te ly, as om te aanskou hoe God se eer en sy regte vertrap word!  Is ons ook bereid om onsself so aan God te onderwerp?

 

Elia was 'n mens, soos ons, sê Jakobus. Hy het God se eer gesoek. Ons kan mos ook!

 

Kan ons ook soos Elia bid?

 

Ja, broeder en suster, ons kan, want dit is immers waaroor die gebed gaan - God se eer.

 

Wanneer die Heidelbergse Kategismus in Sondag 45 vra: Waarom is gebed vir die Christene nodig? kom die antwoord: Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis..." (Vr. en Antw. 116)

 

Ons gebede mag nie "versoeklysies" wees waarmee ons na God toe gaan nie. Nog minder is ons gebede aller­hande grepe wat ons op God  kan toepas om Hom oor te haal om ons wense uit te voer.

 

Hy is mos nie in ons diens nie!

 

3. WAT MOET ONS DAN BID?

 

Wat moet die inhoud van ons gebede dan wees om ook so 'n kragtige uitwerking soos Elia se gebed te hê?

 

Die gebed van 'n gelowige het wel 'n kragtige uitwerking as ons leer om nie selfsugtig te bid nie. Ja, ons gebede kan net sulke resultate hê as ons weet om God se wil en sy eer in ons gebede voorop te stel.

 

Wat moet ons dan vandag bid? Dat die Here ons rus en vrede in ons samelewing wil gee? Of moet ons bid dat die Here ons almal in hierdie land sal leer, al kos dit nog meer geweld en onrus, dat egte vrede nie daar is waar mense mekaar maar net sal verdra nie, maar waar daar liefde vir God in mense se harte kom?

 

Wat moet ons vandag bid?  Dat Die Here goeie oeste op die lande sal gee en sal sorg dat daar ekono­miese welvaart in die land sal kom?  Of moet ons liewer bid dat die Here sy afvallige kerkvolk in Suid-Afrika, selfs met behulp van  ʼn politieke of ekonomiese krisis wil leer dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar wel van elke woord wat uit die mond van die Here uitgaan?

 

Die vurige gebed van die gelowige het groot krag. Maar eers as ons nie selfsugtig bid nie, maar juis wanneer ons God op sy woord neem. As ons sy verbond die uitgangspunt van ons gebed maak.

 

Ons moet besef broeders en susters dat ons, soos Elia destyds, met ons gebede die toestande in ons land nog slegter kan maak. Ons gebede kan lei tot droogtes en misoeste en selfs 'n toename in geweld en misdaad!

 

Dit is waarvoor Elia gebid het!  Vir drie jaar lank terwyl dit bitter droog was, moes Elia uitgaan en God se Woord verkondig. Hy moes die afvallige volk terugroep na die Here.

 

SLOT

 

Ons taak, broeders en susters, is om in alles God se eer te soek. In ons gebede, maar ook in ons optrede. Die ander mense moet uit ons monde hoor en aan ons optrede bemerk dat ons aan God behoort en dat ons aan Hom alleen al die eer gee.

 

Ons land kort nie in die eerste plek voorspoed en vrede nie.  

 

Ons land se mense kort die HERE! 

 

Laat ons daarvoor bid en daaraan werk.

 

                               AMEN.

Sunday, 03 February 2013 13:16

Jakobus 4:3 Hoe benader jy die Here?

 

Skriflesing: Jakobus 4:1 – 12

Teks: Jakobus 4:3

 

HOE BENADER JY DIE HERE? 

 

Geliefdes in die Here

 

Hier aan die begin van  ʼn nuwe jaar het  ʼn mens mos altyd goeie voornemens.   So  ʼn nuwe begin is die ideale  ʼn geleentheid om  ʼn paar dinge reg te maak.

 

Gewoonlik is jou verhouding met die Here  een van hierdie dinge wat aandag kry.  Jy neem jou voor die Here met nuwe ywer en toewyding te dien

 

Aanvanklik gaan dit goed.  Jy doen meer moeite met jou Bybellees en jou erediensbywoning verbeter, maar na  ʼn maand of twee is daar feitlik niks meer al die goeie voornemens oor nie.

 

Die ywer en toewyding het gou weer verval in ’n sleurgang.  Jy ervaar nie die eredienste as  ʼn ware ontmoeting met die Here nie en jou eie Bybellees en gebed  is meer roetine as  besondere geleenthede om alleen en persoonlik met die Here besig te wees.  

 

Ons lees Bybel, ons bid en ons kom kerk toe, maar dit alles word maar net weer nog iets wat ons iewers in ons besige programme tyd voor moet maak.  En die ergste van alles is:  dit verander niks aan ons omstandighede nie.....

 

Waar lê die probleem?

Jakobus sê: Die groot probleem is:   Ons bid verkeerd.....

Ons maak van  ʼn gebede sulke versoeklysies.  Jakobus sê: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.

 

Broeder en suster. Om  ʼn volgehoue lewende verhouding met God te hê, is die absolute voorvereiste: Ware aanbidding!

 

1. WAT IS WARE AANBIDDING?

 

Om te bid en om God te aanbid is in werklikheid twee verskillende dinge.

 

Jy kan bid, sonder om God werklik te aanbid. 

 

In Engels is die onderskeid duideliker.  Hulle praat van pray en worshipPray is om te bid en worship is om te aanbid.

 

Om tot God te bid sonder dat jy Hom aanbid, is  ʼn hopelose saak.  Dit is wat Jakobus van praat. Jy bid, maar ontvang nie, want jy wil net jou selfsugtige begeertes bevredig.   Dit gaan net om jouself en nie in die eerste plek om God en om sy eer nie. 

 

As jy God aanbid, is jou hele wese op Hom en sy koninkryk gefokus.  Dit gaan dan vir jou in die eerste plek om sy wil en sy koninkryk.  Jy buig in diepe afhanklikheid voor Hom.  En daarmee saam wil jy graag saam met jou mede-aanbidders in die Here se diens staan.  Jy wil in geloof en in liefde groei ter wille van Hom en sy koninkryk.

 

Dit is so hartseer om te sien hoe goeie en getroue kerkmense dikwels hulle hoop op die tydelike dinge vestig.  In plaas daarvan om God te aanbid en Hom met oorgawe te dien, is besig met hulleself en hulle eie voorspoed en geluk. Hulle bid net vir hulle selfsugtige begeertes.

 

Sulke gebede is versoeklysies.

Wees met die.....

en gee tog  dat dit ...... 

en help ons om weer dat ......   

 

Koning Dawid het alles gehad.  Roem en rykdom en ’n vol lewe, maar hoor wat sê hy in Psalm 27: “Net een ding het ek van die Here gevra, en dit sal ek najaag: dat ek my lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel”.

 

Wat is aanbidding? 

 

Broeder en suster.  Dit is die vrug van ’n nuwe lewe in Christus.  Dit is om jouself in nederige kleinheid voor God se grootheid te stel. 

Dan word ’n Bybelstudie nie maar net nuwe kennis nie, maar dit word ’n ontdekkingsreis.   

Dan is jou gebed nie  ʼn versoeklysie nie, maar  ʼn liefdevolle gesprek waarin jou nederige afhanklikheid voor die groot en almagtige God en jou liefdevolle hemelse Vader bely en ervaar word.

 

En elke keer as jy meer oor die Here en sy koninkryk leer, loop dit uit op aanbidding!   ʼn Belewenis van afhanklikheid en liefde......

Ware aanbidding lei tot vreugde en dankbaarheid. Dit lei tot diensbaarheid.  Jy aanbid God wanneer jy nie meer vir jouself lewe nie, maar vir Christus en sy koninkryk.

 

Verstaan u waarom dit so belangrik is dat  ʼn mens moet

 

2. TERUGKEER NA WARE AANBIDDING

 

Ons moet God aanbid ter wille van Wie Hy is en nie ter wille van wat Hy vir ons kan doen nie.....

 

Maar waar begin ’n mens?

 

Ons moet tot ware bekering kom. As ek en jy  God nie meer in Gees en in waarheid aanbid nie, is dit nie maar net ’n verslapping in jou geloofslewe nie, dit is sonde! 

 

Om God bo alles, met jou hele hart en jou hele siel, jou hele verstand en al jou kragte lief te hê, is nie maar net ’n goeie voorstel wat aan ons gemaak word nie – dit is die grootste gebod van God!  Dit is sy allesoorheersende opdrag!

 

Jakobus sê: Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie..... Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê?

 

God wil alleen aanbid word. Hy deel nie die aanbidding, wat Hom toekom, met die dinge van die wêreld nie.  Hy het aan ons  ʼn nuwe gees, of te wel  ʼn nuwe hart, gegee. En Hy wil hê dat ons nuwe harte volkome op Hom alleen gefokus moet wees!

Eers dan......  en nét dan, kan ons

 

3. LEWE IN GOD SE TEENWOORDIGHEID

 

 ʼn Ware, toegewyde lewe in God se diens is net moontlik as ek en jy ware aanbidder is.

 

En jy kan net  ʼn ware aanbidder wees as jy van jouself ontslae geraak het. Jou eie wil. Jou eie-ek.

 

Jakobus sê:  God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.  (vers 6)

 

Hoe raak ek en jy van onsself ontslae?  Jakobus se raad is: 

Onderwerp julle dan aan God........

Staan die duiwel teë en sal van julle af wegvlug.

 

Jakobus sê: Nader tot God.   Maar hoe kan ek en jy dit waag om voor God te verskyn? Hy is so groot, so heilig......  En ons? Ek en jy sit met selfgesentreerdheid, met ongehoorsaamheid, met dubbelhartigheid......

 

Luister wat sê Jakobus: 

 

Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars”  Om jou hande te was, beteken jy moet jou dade skoon maak.  Dit wat jy doen, moet van ’n rein lewe getuig.  En jou hart? In die oorspronklike Grieks beteken die woord wat hier met huigelaars vertaal word,  om iemand met twee harte te wees.   ʼn Hart wat op God gerig is en  ʼn hart wat die wêreld gerig is.

As jy op die regte manier tot God wil nader, moet jy eers van jou dubbelhartigheid ontslae raak.

 

Hoe maak ek skoon? Hoe raak ek van my dubbelhartigheid ontslae?   Dit is mos waarvoor Jesus Christus gekom het.  Dit is waarvoor Hy sy bloed op Golgota gestort het. 

 

Gryp aan Hom vas. Bid dat die Heilige Gees jou met geloof en liefde sal vul. Bid dat die Heilige Gees jou kragtig sal lei om so te lewe dat die Here Jesus Christus meer en meer in jou lewe sigbaar sal word.

 

Om by die punt uit te kom is glad nie so eenvoudig nie. Daarom sê Jakobus:  Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid.  Onderwerp julle in nederigheidvoor die Here, en Hy sal julle verhoog.

 

Ons kan dit net regkry as die Heilige Gees ons daartoe dryf.   

 

SLOT

 

Ons godsdiens sal sinvol en met diensbaarheid gevul wees as ons leer om God te aanbid. Dan sal ons gebede ook nie meer net versoeklysies wees nie, maar persoonlike gesprekke met God. Dan sal ons weet wat dit beteken om in  ʼn lewende verhouding met God te staan.

 

                                            Amen.

 

SKRIFLESING: JESAJA  55

TEKS: JESAJA 55:3

TEMA:  ALMAL  IS HARTLIK WELKOM BY DIE NUWE LEWE

 

Kersfees kom nou vinnig nader.  Mens sien dit, hoor dit en ervaar dit op verkeie plekke en maniere.

Dit nogal merkwaardig dat Kersfees so wyd gevier word. Dit is sekerlik die mees universele fees op aarde. Selfs in lande waar mense van Christus feitlik niks weet nie, word ook Kersfees gevier.

Dit laat jou wonder:  Het Kersfees vir die Here en sy koninkryk enige waarde?  Is Kersfees nie al so gekommersialiseer dat die ware boodskap so tussen die liggies, Kersvaders, geskenke en liedjies verlore gaan nie?  Is die manier waarop Kersfees deesdae gevier word nie eintlik maar  ʼn manier om jou kosbare pêrels voor die varke te gooi nie?   

Ja, dit is sekerlik so dat Kersfees oral uitgebuit en misbruik word, maar tog dra dit  steeds ʼn boodskap - die belangrikste boodskap wat ooit op aarde gehoor is!  U onthou mos wat die engel vir die herders gesê het:

Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle  ʼn goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!  (Luk 2:10 en 11)

Hierdie boodskap is egter nie net  ʼn boodskap van verlossing nie, maar ook van oordeel....... oordeel vir diegene wat die Verlosser minag of verwerp....  

Maar kyk net na God se genade!

1.  ALMAL WORD GEROEP

Die feit van die saak is: Die boodskap van Kersfees is  ʼn boodskap van hoop -  hoop vir elke mens....  Boonop is dit  ʼn boodskap met  ʼn ope uitnodiging aan almal:  jonk of oud; ryk of arm;  goed of sleg; slim-geleerd of ongeletterd-eenvoudig.  In Christus is daar hoop vir almal.... Almal het in Christus die kans op  ʼn nuwe begin.....

Hierdie oproep tot almal, kom al  ʼn baie lang pad. Die profete het al die boodskap uitgestuur. Ons het in Jesaja 55 gelees:

Kom almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook die wat nie geld het nie, kom...(v. 1)

En dan ook:    

Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe.  Ek wil met julle  ʼn ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan julle betoon, soos aan Dawid. (v.3)

Die Jode in Jesaja se tyd het uiteraard probleme met hierdie boodskap gehad. Hulle was op daardie stadium nog in Babel in ballingskap. God se volk in ʼn goddelose stad. Baie van hulle het egter daar die spoor byster geraak.  Benewens sedelike verval, het baie van hulle selfs die afgode van Babel begin aanbid...

Omdat die Jode se godsdiens primêr om wetsonderhouding gedraai het, was dit vir hulle moeilik om Jesaja se boodskap te verstaan. Hoe kant ALMAL na God toe uitgenooi word?  Hulle kon nie begryp dat God hulle, wat getroue wetsonderhouers was, geroep het, maar in dieselfde asem ook die wat wetverbrekers was.  Hoe kan Hy tegelyk  goeies en slegtes roep?  Wat hulle betref, moes  Hy regverdig optree. Hy moes  ʼn onderskeid maak. Hy moes die goeies roep en die slegtes verwerp....

Wat hulle dalk nie  so mooi gehoor het nie, was dat hierdie oproep beslis nie onvoorwaardelik was nie.  Sy genade is ook nie goedkoop nie. Kyk die duidelike voorwaarde in vers 7:   Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan en die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees...

Hierdie oproep, geld natuurlik vandag nog. Die Here Jesus roep almal, sonder enige onderskeid: Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. (Matt 11:28).

Broeder en suster, hier is  ʼn

2.  TOETS VIR JOU GELOOF

Want die vraag kom na elkeen van ons:  Hoe voel jy oor hierdie oproep van die Here?   Mag Hy,  wat jou betref,  letterlik enige mens roep om sy kind te wees? 

Is jy rustig oor die feit dat Hy ALMAL roep? 

Die Jode het destyds hiermee gesukkel.  Hulle wou hê Hy moes net die mense roep wat aan hulle standaarde voldoen het.

Is u bereid om ook saam met ons Here Jesus en onder die leiding van sy Gees letterlik ALMAL in die samelewing, sonder enige onderskeid, te roep om, in die volle sin van die woord, saam met ons in Christus te kom leef?   Die apostel Paulus skryf in sy brief aan die Galasiërs:

Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één(Gal 3:28).

En aan die Kolossense skryf hy:

Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, anderstalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal. (Kol 3:11)

Broeder en suster, geloof beteken om God ten volle te vertrou. Hy weet die beste. Boonop gaan alles in hierdie skepping oor Hom en nie oor ons nie!

Die Hebreërskrywer sê:

Geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie(Heb. 11:1).

Kan ons geloof by hierdie onvoorwaardelike vertroue op God en sy Woord bykom? Is ons nie te geneig om ons geloof in God te beperk tot die "toevallige seëninge" en voorspoed wat ons van Hom ontvang nie? 

Ek is bevrees dat baie van ons glo en kerklik meeleef bloot net omdat die Here vir ons goed is. En nie omdat ons Hom regtig ten volle vertrou en met totale oorgawe dien nie....

 ʼn Mens kan jouself ook toets deur te vra:  Is ek bereid is om my weg en my idees te laat vaar en my dan volledig te verlaat op God se weg en op sy gedagte?  Is ek bereid om my lewe  te laat omkeer en om myself te verander ter wille van die Here Jesus en sy koninkryk?  Verstaan ek regtig wat dit beteken as die Here sê dat ek my moet bekeer?

Broeder en suster

3. OM GOD TE VERTROU IS ‘N WAAGSTUK

Maar  ʼn mens kan dit doen!  Jy kan dit waag om God te vertrou, want:

In die eerste plek:  God se Woord het krag. In vers 3 sê Jesaja dat God se Woord vir ons lewe gee – as ons dit net wil hoor!  God se Woord keer ook nooit leeg na Hom terug nie.   Dit skep, verander en vernuwe....  Dit vernuwe mense wat dood is in hulle sonde.  Dit bevry mense uit hulle goddeloosheid en dit maak selfs van vyande, vriende. Hierdie mense word dan kinders van God en sodoende ons broers en susters...

In die tweede plek kan ons dit waag om God te vertrou, want agter sy Woord staan Hyself.  God wat totaal anders is as wat ons dink.  En dit is juis die boodskap van Kersfees. Die boodskap wat na ALLE MENSE uitgaan: God kom na ons toe! 

Hy is nie daar ver weg in die hemel nie. Nee, Hy het in die Here Jesus na hierdie aarde gekom om ons uit die mag van die satan, die sonde en die dood te red. En deur sy Heilige Gees woon Hy nou in ons harte. Hy is in ons juis om ons voortdurend nuut te maak.

Omdat God so anders as ons is, kan ons Hom vertrou. Hy het meer geduld as ons. Hy het meer ontferming as ons. Sy genade is oneindig groot en sy liefde ken geen grense nie. Daarom gee Hy  nog elke dag geleentheid vir bekering....

Maar kyk wat staan in vers 6: Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is. Roep Hom aan terwyl Hy nog naby is... Dit kan net een ding beteken: daar kom  ʼn tyd wanneer jou kans om Hom te vind, verby gaan wees.  Genadetyd is iets wat opraak  -- vir  ʼn mens , vir  ʼn volk en ook vir  ʼn kerk....

SLOT

Geliefdes.

Die Here roep ons om in sy koninkryk en in sy liefde te kom lewe. Hy roep alle mense sonder enige onderskeid of beperking.  Aan sy liefde is daar geen einde nie. 

Die Here sê vandag weer vir ons elkeen:  Gee aandag en kom na My toe, luister en julle sal lewe.....

Wat maak ons met sy uitnodiging?

                                                                              AMEN.

 

SKRIFLESING: MALEAGI 3:13 – 4:3

TEKS:  MALEAGI 4:1a

TEMA:  DIE DAG VAN DIE HERE BRING OORDEEL EN REDDING

 

As  ʼn mens praat, gebeur daar gewoonlik iets. Ja, elkeen van ons se woorde het bepaalde gevolge ....

Benewens die feit dat die woorde wat ek sê, duidelik met my eie optrede verband hou, lei dit verder ook tot  ʼn reaksie by die persoon wat dit hoor.

As ek byvoorbeeld hard praat en  ʼn paar sterk woorde gebruik, doen ek dit waarskynlik omdat ek kwaad is.  My harde woorde lei dan verder tot   ʼn reaksie by diegene wat dit hoor. Hulle reageer dan daarop.  Hulle kan  skrik  en dadelik doen wat ek beveel of dalk net omdraai en loop. Die feit is:  Ons elkeen se woorde lok een of ander reaksie uit. Ons woorde kan mense ontstel of kalmeer.  Met jou woorde wat jy sê kan jy mense motiveer of dalk net sommer antagoniseer.

Ons elkeen se woorde laat iets gebeur.....

God se Woord, om dat Hy God is, laat nog veel meer gebeur! 

Hy het alles wat bestaan, geskep. En dit net deur te praat! 

 

In die gedeelte wat ons saam gelees het, hoor ons mense praat en ons hoor ook vir God praat.  Kom ons kyk wat gebeur!

 

1. DIE MENSE PRAAT

Luister wat sê hulle:  

Dit is nutteloos om God te dien. Watter nut het dit dat ons sy bevel uitgevoer het en in rouklere rondgeloop het voor Hom, die Here die Almagtige? Dit lyk vir ons of dié wat teen Hom in opstand is, die gelukkiges is en of dié wat verkeerd doen vooruitgaan. Hulle dag God uit en kom vry!

 

 

 Die dinge wat hierdie mense gepraat het, het  ʼn reaksie by God ontlok. Hy sê: Julle het vermetele dinge oor My kwytgeraak. 

 ʼn Mens wonder tog waarom het die mense destyds sulke dinge gesê. Dit was omdat dit glad nie goed gegaan het nie. Dit was in die tyd na die ballingskap.  ʼn Oorblyfsel van die volk het uit Babel teruggekom en moes hulle verwoeste land en die stad Jerusalem weer opbou. Maar dinge wou net nie regkom nie. Hulle het met groot ekonomiese en politieke probleme gesit. Boonop was daar droogtes en peste. Verder ook onreg en sedelike verval.

Die eintlike probleem was egter dat die volk moeg en moedeloos geword het omdat hulle in hulle verwagtings teleurgesteld was. Wat hulle onder gekry het, was leë beloftes en onvervulde profesieë uit die monde van hulle geestelike leiers.  ʼn Mens kan  ʼn tyd lank aan beloftes vashou en bly hoop, maar daar is perke....  Dan ontaard die hoop in skeptisisme en wanhoop...

Hulle probleem was nou nie meer al die teëspoed nie, maar God! Hy het skynbaar beloftes gemaak en dit nie nagekom nie. Dit het die mense laat praat...

Maar dan is daar tog  ʼn kleiner groep gelowiges binne die volk wat anders begin praat. In vers 16 lees ons dat die mense wat eerbied vir die Here het onder mekaar begin praat het. Hulle wou die saak met God regmaak.  Terwyl hulle met mekaar redeneer, gebeur daar iets. Die Here slaan ag op wat hulle sê.... Hy skryf hulle name op in  ʼn gedenkboek!

En dan sê die Here weer iets!   Hy sê:

2. DIE DAG KOM            

Maleagi wys by herhaling op die feit dat die dag van die Here gaan aanbreek.  Hy sê op daardie dag as Hy ingryp, sal die mense wie se name in sy gedenkboek geskryf is, vir Hom  ʼn kosbare besitting wees.

En wanneer die Here oor die dag praat, sê Hy:

Die dag kom en hy brand soos  ʼn oond.

Wat is hierdie dag? En wat gebeur op hierdie dag?

In die Ou Testament hoor  ʼn mens gereeld van die Dag van die Here.

Dit was  ʼn dag waarvan die profete gepraat het en wat die volk baie na uitgesien het. Hulle het dit as  ʼn dag van verlossing gesien. Maar die probleem was dat hulle  ʼn baie eng en eensydige siening van die dag gehad het. Hulle het aan die dag gedink, bloot net in terme van aardse verlossing en bevryding. Hulle het die dag waarop die Here gaan ingeryp gesien as  ʼn dag van politieke en finansiële bevryding. Hulle sou dan nie meer deur ander volke onderdruk word nie en hulle sou ook nie meer droogtes en misoeste hê nie.

Die volk het  ʼn totaal verkeerde verwagting gehad. Daarom was hulle mismoedig en wanhopig.  Hulle het gedurig uit die godsdienstige leiers se monde gehoor dat die Dag van die Here kom, maar niks het gebeur nie. Hulle situasie het eerder agteruit gegaan....

Sit ons nie deesdae met  ʼn soortgelyke probleem nie broeders en susters?  Ons hoor dat die wederkoms van Christus oppad is en dat ons dan verlos sal word van hierdie aarde met sy sonde en ellende. Dat ons daarna by die Here in sy heerlikheid opgeneem sal word.....

Maar niks gebeur nie!  Die apostel Petrus het al gesê: 

Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewe net deur hulle eie begeertes beheers word.  Hulle sal spot en sê: “En wat het nou geword van sy wederkoms?  Ons vaders is al dood, en tog bly alles nog net soos dit was van die begin van die skepping af.

Maar broeder en suster, as die Here praat dan gebeur daar iets!

In Maleagi se tyd het die Here gepraat!  Hy het gesê:

Die dag kom en hy brand soos  ʼn oond.

Dit is die dag van die Here.  Dit is die dag waarop Hy ingryp.  Maar dit is iets anders as wat die volk verwag het....

Waar hulle politieke en finansiële vryheid en voorspoed verwag het, sê die Here dag die dag  ʼn oond sal wees.  Die dag gaan brand.

Wegbrand en skoon brand.

Die dag gaan almal wat verkeerd doen voor die Here wegbrand, want hulle sal soos kaf wees wat verbrand word. En daar sal niks van hulle oorbly nie.

Maar daar is diegene wat eerbied vir die Here het en wie se name in sy gedenkboek staan. Hulle sal die dag wat brand ervaar soos die vroeë sonstrale op  ʼn helder dag. Die Here sê vir hierdie mense: Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers....

Wat is die dag van die Here?

Die dag van die Here het met die Here Jesus Christus se koms aangebreek!

Hy het as regter na hierdie aarde gekom. En Hy het op God se tyd gekom.  Nadat Maleagi hierdie profesie uitgepreek het, het daar nog  ʼn hele 400jaar verloop voordat Christus gekom het.  God se tyd is nie ons tyd nie.  Maar as Hy praat, gebeur daar iets!!!

Toe Christus na hierdie aarde gekom het, het Hy gekom om te verlos en te veroordeel.

En met Christus se kom het die Woord van God vlees kom word.

En ja, tot vandag toe kan ons hoor

3.  DIE HERE  PRAAT

Ons het die Bybel, die Woord van God.  Ons kan dit elkeen persoonlik lees.  In die erediens hoor ons hoe sy Woord verkondig word.

En die Here het mos self gesê dat sy Woord nooit leeg na Hom  toe terugkeer nie. Dit doen wat hy gedoen wil hê....

Sy Woord lok reaksie uit. Net soos ons elkeen se woorde reaksie uitlok.

Die vraag is net: Hoe reageer ek en jy op God se Woord?

 Dink net hoe kwaad word ons, as mense nie op ons woorde reageer nie.  Wat is jou reaksie as iemand jou ignoreer of bloot net maak of hulle jou glad nie gehoor het nie? Dit maak  ʼn mens mos briesend!!

Wat dink jy broeder en suster, is die Here se reaksie as ons nie na Hom luister nie? 

·         Veral as Hy ons teen die satan en die verleiding van die wêreld waarsku.....

·         As die Here vir ons opdragte gee en ons is ongehoorsaam..... Hoe dink u? Wat is sy reaksie? 

·         Dink Hy nie dat ons net so vermetel is soos die volk in Maleagi se tyd nie?

As die Here praat, verwag Hy dat ons met eerbied sal reageer.  Hy het immers sy Heilige Gees in ons harte laat woon om ons so te lei sodat ons gehoorsaam kan wees.  

Die vraag is net:

·         Luister ons na wat die Gees vir die gemeente sê?  

·         En laat ons toe dat die Heilige Gees ons lei? 

·         Bedroef ons nie dalk die Heilige Gees nie?

SLOT

Geliefdes, ons staan op die drumpel van hierdie jaar se feesgety. Ons herdenk die menswording van ons Here Jesus Christus.  Ja, ons moet ons  verlustig in die dag van die Here!

Hierdie dag brand soos  ʼn oond!  Maar daar is genesing in sy strale.

Dit is vir ons wat in Christus glo, ʼn dag van verlossing en reiniging! 

Dit is  ʼn dag wat ons laat bokspring soos vergemaakte kalwers!

                                                                       Amen.

 

SKRIFLESING: MALEAGI 2:10 - 16


TEKS:  MALEAGI 2:13 - 16

 

WAAROM BLY DIE HERE SE SEËN WEG?

 

Stel uself dit voor broeders en susters, u kyk na ʼn man wat vra om die profeet Maleagi te spreek. Ja, net soos lidmate maar van tyd tot tyd skakel en vra om die predikant te sien.

 

Wat sou hierdie man se probleem wees? Kom ons luister:  “Maleagi, my geestelike lewe is op ʼn laagtepunt. My gebedslewe is leeg en dit voel of God nie my gebede verhoor nie. Ek kom gereeld na die Here se tempel toe, maar ek kry niks hier nie”. Met trane in sy oë sê hierdie man: Maleagi, die Here neem nie my offers aan nie! Ek kan nie meer nie. Waarom? Waarom voel dit vir my of daar so ʼn ontsaglike verwydering tussen my en die Here is?

 

Sal Maleagi vir hierdie man kan raad gee? Kom ons luister verder na hierdie pastorale gesprek: Maleagi vra dan vir die man: “Sê vir my: Hoe gaan dit met jou huwelik?” Die man is dadelik so half geïrriteerd: “Ek kom vra jou hulp oor ʼn lewelose geestelike lewe en jy wil oor my huwelik praat!?”  Ja, sê Maleagi, en ek is dood ernstig: Hoe gaan dit met jou huwelik?

 


Geliefdes, in die profeet Maleagi se tyd was daar ʼn groot geestelike agteruitgang. Die volk van God  mense se geestelike lewe het oppervlakkig en baie formalisties geword. Hulle het nog al die regte dinge gedoen. Hulle het tempel toe gegaan en geoffer. Hulle het hulle gereinig en gevas volgens Moses se wette. Hulle het selfs hulle tiendes gegee soos wat die wet vereis het, maar hulle betrokkenheid by die tempel was eintlik maar bloot net  ʼn pligpleging. Hulle offers het bestaan uit afskeepgoed. Ja, in plaas van hulle beste diere het hulle lam, siek en blinde diere  as offers gebring. Die volk van God se harte was ver van die Here af.

 

En  op ʼn stadium kom hulle agter. Dit gaan nie goed nie. Daarom kom soek die mense raad by Maleagi: “Waarom neem die Here nie ons offers aan nie? Waarom ervaar ons nie die seën van die Here nie?”

 

Onder leiding van die Heilige Gees, gee Maleagi dan  ʼn duidelike antwoord:

 

Die Here het Homself van julle ontrek en Hy hou sy seëninge terug  want:

 

1. HY WEET WAT IN JULLE HARTE EN GEDAGTES AANGAAN:

 

Hy sien hulle godsdiens het verval tot  ʼn koue stuk formalisme.  Dit was al erg genoeg, maar daar is  ʼn nog dieperliggende probleem.  Maleagi  gaan verder en sê: 

Dit is omdat die Here weet wat gebeur het tussen jou en die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is: jy was ontrou aan haar, ontrou aan jou eie vrou, die vrou aan wie jy plegtig trou belowe het

 

Ja, geliefdes, die Here weet wat in ons huwelikslewe aangaan.  As dinge in ʼn gelowige se huwelik skeefloop, weet die Here daarvan. Ons mag dalk dink dat ons  ʼn probleem in ons huwelikslewe kan wegsteek, maar die Here sien dwarsdeur ons.  Boonop sien Hy nie net ons dade nie. Hy ken selfs ons gedagtes. Dawid bely dit mos duidelik in Ps. 139: “Here U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom”.          

 

En luister wat sê die Here Jesus oor ons huwelikslewe:Elkeen wat na ʼn vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Matt 5:28).

 

Ja, geliefdes, die Here is veral begaan oor ons gedagtes. Hoor wat staan in Gen. 6: (Dit was net voor die sondvloed) “Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge BEDINK, was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het”.

 

Ons moet verstaan: Ons gelowiges se huwelike is afbeeldings van God se verhouding met sy volk.  Wanneer die Here se verbondsvolk van Hom af wegdwaal en afgode begin dien, gebruik die Here telkens huwelikstaal. Hy beskuldig sy volk van  huweliksontrou.  In kras taal  beskuldig Hy hulle van hoerery!

 

Broeder en suster.  Ontrouheid in ons huwelike verbreek die beeld van God se verhouding met sy volk.  Jesus Christus  is die hemelse Bruidegom wat ons, die kerk,  as sy Bruid kom haal. Hy het sy lewe gegee om ons as sy Bruid te kry. Daarom verwag Hy dat ons rein en onberispelik voor Hom sal lewe.

 

Ons gelowiges se huwelike is vir God so uiters belangrik omdat Hy sy volk, sy kerk opbou deur middel van die huwelik.

 

Die Here sê in soveel woorde deur sy profeet

 

2. HY WIL ‘N NAGESLAG Hê:

 

Die huwelike en verbondsgesinne moet  sorg dat daar  ʼn gelowige volk van God is. En daar kan net  ʼn nageslag vir Hom wees as die huwelike van sy volk ware verbondsverhoudings is.   As man en vrou se verhouding in die huwelik reg is, word kinders gebore wat binne God se verbond opgevoed word. Kinders wat met oorgawe saam met hulle ouers die Here dien en eer.

 


Maar wat gebeur as ontrouheid insluip  en egskeiding kom?  Dan kom God se nagesag in gedrang. Hoe kan kinders in ʼn huwelik waar wantroue en ongelukkigheid en egskeiding plaasvind, nog behoorlik as God se verbondskinders opgevoed word?

 

Het u gehoor wat die Here deur sy profeet sê?  Hy ontrek Homself en Hy weerhou sy seëninge omdat Hy weet wat in sy volk Israel se huwelike gebeur. Die Here wys deur sy profeet aan die volk dat die kiem van hulle geestelike verval in hulle huwelike lê.  Hulle ontrou en  vormgodsdiens se wortel lê in die huwelik. As ons huwelike begin sneuwel, sneuwel die verbond, sneuwel die nageslag.....

 

Daarom sê die profeet Maleagi sonder om doekies om te draai:

 

3. DIE HERE HAAT EGSKEIDING:


 

Deesdae beland ten minste 50% van alle huwelike wat in ons land  gesluit word in die egskeidingshof. En nou moet ons ook nie die fout maak om te dink dat die  ander 50% noodwendig gelukkig en goed nie! Baie mense sit vasgevang in ongelukkige huwelike waar onmin en ontrouheid tot frustrasie en ongelukkigheid lei.  Selfs huwelike van getroue en toegewyde kerkmense.... Baie huwelik is dikwels nie veel meer as tydelike wapenstilstande nie. Mense leef bymekaar verby.  Elkeen gaan met sy of haar eie lewe aan hulle verdra mekaar maar net...... al is dit dan net ter wille van die kinders of ter wille van hulle beeld in die samelewing.

 

Sulke huwelike is natuurlik nie veel beter as egskeiding nie. In hulle harte het sulke mans of vrouens lankal reeds egbreuk gepleeg. Hulle is lankal nie meer een met mekaar soos hulle op hulle troudag beloof het om te wees nie....  Daarom haat God ook so ʼn huwelik wat in wese niks anders as egbreuk is nie!

 

Nou is die vraag:  Maar wat moet ons dan doen? Die man wat na Maleagi toe gekom het en raad kom vra het oor sy geestelike lewe, wou ook weet: “Maar wat moet ek dan doen?”

 

Maleagi gee God se antwoord: ”Beheers julle, moenie ontrou wees nie

 

Broeder en suster. Jou huwelik is nie net jou eie saak nie. Jou huweliksverhouding raak die hele volk van God!  Ons elkeen se huwelik raak die hele gemeente.  As jou huwelik nie reg is nie, onttrek die Here sy seën aan die gemeente...  Daarom moet ek en sorg dat ons huwelike voor God reg is!

 

Hoe maak  ʼn mens jou huwelik dan reg?  Kom ons kyk weer na die mense in Maleagi se tyd.

Die volk se huweliksontrou het geroep om verlossing. Die Israeliete het by die altaar gehuil en gekerm. Hulle het verlossing gesoek!

 

Iets radikaal moes gebeur. Die volk kon hulleself nie uit die toestand verlos nie.  God  moes nou Self ingryp. En dit het gebeur, Maleagi het dit voorspel:

 

“Die dag kom en hy brand soos ‘n oond. Dié wat teen God in opstand is, almal wat verkeerd doen, sal die kaf wees, en hulle sal verbrand word..... Daar sal van hulle nie ‘n wortel, nie ‘n tak oorbly nie......Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale.” (Hfst.4)

 


Broeder en suster.  God het ingegryp. Hy het uit die hemel neergedaal en radikaal in die mensdom kom ingryp. Hy het  Self  ʼn mens kom word.  En toe het Hy aan die kruis al sy volk se sondes, ook die van egbreuk en ontrouheid, met sy kosbare bloed kom afwas.  Hy het die dood, waarin ons sondes van egbreuk en skynheiligheid ons laat beland het, met sy opstanding oorwin.

 

Broeder en suster. Is Jesus Christus regtig jou persoonlike Verslosser en Saligmaker? Lewe jy onder leiding van die Heilige Gees?  Ons elkeen se huwelik en ons elkeen se verhoudingslewe kan slegs werklik op koers wees as ons agetr die Here Jesus Christus aanloop.

 

SLOT:

 

Broeder en suster, as dit vir jou voel asof jou verhouding met die Here nie meer op standaard is nie; as dit vir jou voel of jou gebede nutteloos is en die Here sy seëninge aan jou ontrek het, gaan kyk  ʼn slag goed na jou huwelik. Ja, ook die ongetroudes, gaan kyk na jou gesindheid teenoor en jou gedagtes oor die teenoorgestelde geslag.  

 

Ons huwelike is bepalend vir die Here se seën.

                                                                      AMEN.

<< Start < Prev 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 Next > End >>
Page 15 of 22