Sosiale Skakels

Besoekers

We have 2 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Danie de Kock

Danie de Kock

Website URL: http://www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

NAGMAAL

SKRIFLESING: Joh. 15:1 – 8

TEKS: JOH 15:5

BLY IN CHRISTUS EN DRA BAIE VRUGTE

 

Die Here Jesus het, toe hy reeds oppad na die kruis was, dieselfde nag wat Hy verraai is en gevange geneem is, vir sy dissipels gesê:  Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. En net  ʼn paar verse verder: Ek is die wingerdstok, julle die lote.

Met hierdie beeld van die wingerdstok met sy lote, wat deur die boer versorg word, het die Here Jesus  ʼn volmaakte illustrasie gegee van ons elkeen se verhouding met God. Verder ook wat ons plek en ons doel in hierdie verhouding is.

Ons weet mos dat die uitsluitlike doel van  ʼn wingerdstok met sy lote is om vrugte te produseer. Daarom sê die Here Jesus in vers 8: My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra...

Die wingerdstok het natuurlik deur ou Israel se geskiedenis  ʼn baie prominente rol gespeel.  ʼn Mens lees die eerste keer van  ʼn wingerd in die Bybel toe Noag uit die ark gekom het. Hy het toe ʼn wingerdstok geplant.  Dit was simbolies vir God se nuwe begin met die mensdom. Maar Noag vergryp hom aan die vrug van die wingerd.  Jesaja beskryf op sy beurt in Hfst. 5 die volk Israel as die Here se wingerd.  Hy sê die Here verwag  ʼn goeie oes, maar die wingerd bring suur druiwe voort.  Daarom beland die volk in ballingskap.

Die tragiese lyn deur die Ou Testament was die feit dat die Here se wingerd as gevolg van die sonde, nie  ʼn goeie oes kon lewer nie.  Daarom gryp God persoonlik in. Hy kom maak Self, in die Persoon van die Seun,  ʼn heel nuwe begin.   Verstaan u waarom ons Here Jesus kom en sê:  Ek is die ware wingerdstok....

En luister nou sy opdrag aan ons elkeen wat  ʼn loot aan daardie wingerdstok is:  

SKRIFLESING: JOH 15:1 – 8 EN HEB 12:4 – 12

TEKS:  JOH 15:1 & 2

TEMA: ONS VADER VOED ONS OP TOT DIENSBAARHEID

 

 ʼn Mens voel mos partykeer dat jou geloof nie op standaard is nie. Dan voel dit of jy nie behoorlik by die Here uitkom nie. Jy is Sondag in die erediens en tuis lees jy jou Bybel, maar daar kort iets.  Jy bid, maar dit voel nie of dit regtig help nie.  Jou lewe wil maar net nie lekker koers kry nie. Dinge loop eenvoudig net skeef.  En dan wonder jy: Wat gaan aan?

Die gedeelte wat ons sopas saam gelees het, vertel hoe die Here Jesus met sy dissipels praat net enkele ure voordat hy verraai is en gevange geneem is.  Vir Hom en sy dissipels sou die nag wat voorlê, verder baie traumaties verloop. 

Jesus en sy dissipels het pas die bovertrek waar Hy die nagmaal ingestel het verlaat en so oppad uit het Hy  gesê dat hulle almal Hom dieselfde nag nog in die steek sou laat. Dit het hulle hewig ontstel.  As hulle maar geweet het wat nog voorlê!

Buite die stad het hulle deur die Kedronvallei na Getsemane gestap. Teen die hange van die Kedronvallei was daar ou wingerde. Waarskynlik was dit daar tussen die druiwe waar die Here Jesus gaan staan en gesê het:

Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer

Hierdie was heel waarskynlik die laaste gesprek wat die Here Jesus met sy dissipels voor sy kruisiging gehad het.  En waaroor praat Hy?  Oor hulle verhouding met Hom.

Hier tussen die druiwe, heel moontlik met  ʼn druiwerank in sy hande, verduidelik Hy aan hulle hoe  ʼn mens se verhouding met God werk.  ʼn Mens word deur geloof aan Jesus verbind. Hierdie verbintenis is so heg en innig soos lote aan ʼn wingerdstok.  Hierdie wingerdstok is God se eiendom.  Jesus sê: Ons hemelse vader is die boer.  Hy versorg sy wingerd, elke rank kry persoonlike aandag,  want Hy wil hê dat sy wingerd  ʼn oes sal lewer. 

Kom ons kyk  na ons hemelse Vader se werk in sy wingerd.  Die eerste lote waarna Hy kyk, is die lote wat afgesak het.  Veral nuwe lote groei vinnig, maar sak dan af.  Naderhand lê hulle sommer op die grond. Kyk wat doen Hy met die lote:

SKRIFLESING:  OPENBARING 1:9 - 20

TEKS: OPENBARING 1:17 & 18.

TEMA: MOENIE BANG WEES NIE - LEWE IN CHRISTUS!

 

Maak die wêreld waarin ons deesdae leef u ook soms bang?

·         As  ʼn mens hoor van aanvalle en rooftogte op onskuldige mense?

·          As jy sien hoeveel mense deesdae aan kanker ly.

·         As jy hoor van wêreldwye ekonomiese onstabiliteit?

·         As jy sien hoe die huidige regering met korrupsie en selfverryking besig is om die land na chaos toe te lei.

·         As jy sien hoe mense van die Here afvallig raak.

·         As jy sien hoe mense hulle eie koppe volg en agter mensgemaakte godsdienste aanloop.

Ja, dan begin jy wonder: Waar gaan alles heen?  Wat gaan van ons word?  Wat gaan van ons kinders of ons kleinkinders word? Sommige mense vra:  Moet  ʼn mens nie maar liewer probeer om hier weg te kom nie?

In hierdie deurmekaar wêreld waarin ons leef, moet ons weer 'n slag opnuut kyk na die Here se bedoeling met alles.  Het God vir ons  ʼn doel? Het ons  ʼn taak in hierdie land?

Met die boek Openbaring wil die Here ons help om perspektief te kry. 

 

 Nagmaal   Skriflesing:  Johannes 2:13 – 22                                                                              Teks:  Joh.  2:19 en 20 en  Matt 27:40                                                                            Tema:   TEMPEL  vs  TEMPEL

 

 

Ons elkeen het, toe ons hierdie naweek na die Gereformeerde Kerk Krokodilrivier se eeufeesvierings gekom het, mos met  ʼn bepaalde  verwagting gekom.   Ons het gekom met  ʼn verwagting om iets te sien en ervaar.   Wat wou u sien?  Wat het u verwag?

 

·         Het u met  ʼn gevoel van nostalgie kom kyk of u nog iets van die verlede, iets uit die geskiedenis kan herleef?

·         Het u kom kyk hoe die kerkgebou en gemeente vandag lyk teen die agtergrond van hoe u dit kan onthou?

 

Ja,  ʼn mens dink met heimwee en verlange terug na dit wat ons voorheen beleef het.  Daar is bepaalde dinge uit  ʼn mens se verlede wat soos bakens uitstaan en jy wil dit graag onthou.  Dit is vir jou belangrik. Dit is kosbare kleinode wat  ʼn mens in jou gedagtes wil koester.

 

Maar wat is dit wat ons hier in die gemeente wil vashou en koester?

Wat is vir ons belangrik en kosbaar? 

 

Toe die Here Jesus vir die Paasfees na die tempel in Jerusalem gegaan het, het hy ook met  ʼn bepaalde verwagting gegaan. Dit wat hy toe daar by die tempel gesien en beleef het, het hom hewig ontstel. Die tempel wat Hy gesien en beleef het, het heeltemal verskil van die tempel wat Hy verwag het.

 

In die gedeelte wat ons saam gelees het is daar sprake van twee tempels.  Die tempel wat die mense van destyds ingerig het en die tempel waarvan ons Here Jesus gepraat het toe Hy gesê het dat Hy die tempel wat afgebreek is, in drie dae sal oprig..

            

Dit gaan dus hier oor TEMPEL vs TEMPEL  

SKRIFLESING:  HANDELINGE 2:32 - 42

TEKS:  HANDELINGE  2:39  

TEMA:  GESLAGTE GEBORGE  IN CHRISTUS

 

Ons almal wat vanaand hier saam is, het op een of ander manier  ʼn verbintenis met die Gereformeerde Kerk Krokodilrivier en daarom ook  ʼn verbintenis met mekaar.  Ons is lidmate en oudlidmate en ook familie en vriende. Dit alles bind ons saam, maar die vernaamste van alles is: Ons is een in Christus! 

Die Gereformeerde Kerk Krokodilrivier kan in  ʼn sekere sin as  ʼn familiekerk beskryf word, want die gemeente bestaan byna uit een groot familie  -  of dalk twee families.  (Ja, as  ʼn mens die Du Plessis en die Van der Walts sou uithaal, bly hier regtig nie veel oor nie.)

Hierdie families is boonop meer as een geslag, dikwels drie geslagte, wat almal tegelyk lidmate is.  Hier is families wat vir 5 geslagte op dieselfde plaas woon.  En tans is hier families waarvan 4 geslagte tegelyk lidmate van die gemeente is.

Om dus van  Geslagte geborge in Christus te praat, is heel toepaslik en aktueel.  Ons sien dit prakties en ervaar daagliks hoe die Here hier in ons midde van geslag tot geslag werk.  Meer nog, hoe Hy al  ʼn eeu lank hier werk...

Ons het op die steen by die kloktoring  ʼn inskripsie aangebring: 

Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.   (Hand 2:39)

 

SKRIFLESING:  KOLOSSENSE 2:1 – 5 en 16 – 19

TEKS:  KOLOSSENSE 2:18 & 19       

TEMA:  WAARSKUWING TEEN MISTISISME

 

Die meeste van ons het mos al met mense te doen gekry wat jou op  ʼn manier laat voel of jou geloof nie op standaard is nie. Gewoonlik vertel hulle jou van  ʼn  besonder droom wat hulle gehad het en hoe die Here toe iets buitengewoon aan hulle openbaar het. Hulle vertel jou van buitengewone ervarings wat hulle gehad het nadat hulle tot bekering gekom het en hulle groot laat doop het. As jy so luister, na alles wat hulle ervaar, voel jy dat jou geloof nie op standaard is nie. Jy voel dat daar iets in jou lewe kort!

Wat moet ons reaksie op hierdie soort benadering wees?

Broeders en susters. As iemand sy verhouding met die Here op so  ʼn misterieuse of bonatuurlike en geheimsinnige manier bedryf, word dit mistisisme genoem.

U ken mos die woord misterieus. Dit het iets te doen met geheimsinnigheid en raaiselagtigheid. Met iets soos onbegryplikheid.  As iets vir ons menslike verstand onverklaarbaar is, beskryf ons dit as misterieus.

Mistici soek in hulle geloof dié soort dinge wat gewoonlik as misterieus en bonatuurlik daarom as onverklaarbaar beskryf word.  Hulle maak daarop aanspraak dat hulle, anders as ons gewone gelowiges, buitengewone gawes besit.  Hulle probeer jou beïndruk met spesiale profetiese openbarings wat hulle in drome of visioene ontvang het.  Sommige sê dat hulle met die Heilige Gees gedoop is en daarom so spesiaal is.

Hierdie mistieke manier van doen, is egter glad nie iets nuut nie!

In die eerste twee hoofstukke van sy brief aan die Kolossense het die apostel Paulus destyds al die gelowiges teen die misleiding van die mistici gewaarsku.

In Hfst. 2:2 sê Paulus wat sy doel is met die brief wat hy skryf: Dat die gelowiges:  God se geheimenis kan ken.   Die Griekse woord wat hier gebruik word is misterion.   Paulus praat hier van God se misterie of te wel sy geheimenis.   En dan sê hy verder:  Die geheimenis is Christus.  En luister dan: ...  in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind.  Paulus stel dat God se geheimenis teenoor die menslike geheimenis van die mistici.

Dit gaan vir Paulus om Christus en Christus alleen!

Maar kom ons begin by  ʼn punt.

Paulus sê in ons teksvers:  Moenie dat iemand ..... julle ... mislei nie.

Hierdie woord mislei is al op verskeie maniere vertaal:

·         Moenie dat iemand julle verlei nie.

·         Moenie dat iemand julle verkul nie.

Die beste vertaling is egter: Moenie dat iemand julle diskwalifiseernie. 

Dan beteken:  Moenie toelaat dat iemand soos ʼn skeidsregter optree en julle dan diskwalifiseer nie.

Paulus noem die mistici  mense wat soos skeidsregters optree en jou diskwalifiseer

Hoe doen hulle dit?  Hulle maak asof hulle  ʼn beter of meer intieme verhouding, as die gewone lidmate van die gemeente, met die Here het.

Kom ons kyk wat sê Hy oor die mistici.  Hy gee drie feite:

1.  Mistisisme word gemotiveer deur misplaaste nederigheid

2. Mistisisme word gebou op buite Bybelse gesag

3. Mistisisme openbaar  ʼn onverskilligheid oor Christus.

 

1.  MISTISISME WORD GEMOTIVEER DEUR MISPLAASTE NEDERIGHEID

In vers 18 praat Paulus van:  iemand wat behae skep in danige nederigheid.   ʼn Mens sou dit ook kon vertaal met:  iemand wat behae skep in selfopgelegde nederigheid.

Hierdie mistici is mense wat voorgee dat hulle in  ʼn besonder nederige verhouding met die Here staan. Maar die probleem is dat hulle op hulle nederigheid roem,  en daarom is dit nie ware nederigheid nie!

Verder, sê Paulus, is hulle ook besig om engele te aanbid. Hulle is so nederig dat hulle nie direk met God praat nie, hulle werk deur die engele. Die engele kom skynbaar na hulle om vir hulle boodskappe van God te gee en hulle praat weer met die engele as hulle vir God iets wil sê. Daar was in Kolosse selfs ʼn standbeeld van die aartsengel Migael. 

Hierdie mense roem dan op die sogenaamde spesiale kennis en buitengewone verhouding wat hulle met die Here het, maar Paulus sê:  Hierdie soort kennis ontstaan bloot uit  ʼn subjektiewe gevoel.  Kyk wat staan in die laaste deel van vers 18:  So iemand verhef  hom oor wat hy in eiewaan van homself dink.   

Sulke mense begin dink dat net hulle eersteklas Christene is en dat ander mense nog nie daar is waar hulle in hulle verhouding met die Here staan nie. Dit maak dan dat hulle oor ander gelowiges begin oordeel.

Die verdere probleem met die mistisisme is:                                            

2. MISTISISME WORD GEBOU OP BUITE BYBELSE GESAG

Paulus sê hierdie mense gee voor dat hulle allerhande visioene sien.

Hulle sê byvoorbeeld:

·         Ek het so en so  ʼn visioen gesien

·         Ek wéét ek het die visioen gesien

·         Ek weet dat ek in die droom wat ek gehad het, God se stem gehoor het.

·         Ek weet in my gees dat God my gestuur het om dit of dat vir jou te kom sê.

As jy dan vir die mistikus vra:  Maar hoe weet jy dat die droom van God af kom?  OF  Hoe weet jy God het met jou gepraat? Dan antwoord hy of sy:  Ek weet dit net!   

Hulle vertrou op die spesiale kennis wat hulle het, maar uiteindelik is dit alles subjektief! Net hulle eie gevoel!

En in die proses is hulle besig om jou te intimideer.  Jy luister na hulle stories en vra jouself af:  Hoekom het ek nie so  ʼn spesiale verhouding met die Here nie?  Hoekom openbaar die Here Hom nie in  ʼn droom aan my nie?  Hulle laat jou voel of jy iets mis en  dat jou verhouding met die Here nie op standaard is nie.  Onthou wat Paulus sê:  Moenie toelaat dat hulle soos skeidsregters optree en jou diskwalifiseer nie!

Die derde probleem wat Paulus in ons teksgedeelte uitlig is:

3. MISTISISME OPENBAAR  ʼn ONVERSKILLIGHEID OOR CHRISTUS

Paulus sê hierdie mense hou nie aan die hoof, aan Christus vas nie. Omdat hulle so op hulle eie gevoel en ook op allerhande geheimsinnige ervarings fokus, verloor hulle die Here Jesus Christus uit die oog.

Paulus sê BLY BY CHRISTUS                         

·         Uit Hom, CHRISTUS, as die Hoof,  groei die hele liggaam. In Joh. 15 sê die Here Jesus: Ek is die ware wingerdstok en julle die lote. Hy sê : Sonder My kan julle niks doen nie.

·         Net Hy voed die kerk met sy Woord en Gees. In Ef. 4:16 staan: Die verskillende liggaamsdele pas bymekaar en vorm saam  ʼn eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie en so bou die liggaam homself op in liefde.

·         As liggaam van Christus word ons, sê Paulus in ons teksvers: ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere.

·         En God laat die liggaam, die gemeente, groei.  God self bou sy kerk, nie  ʼn mens nie.  Die nuwe Jerusalem is besig om vanuit die hemel neer te daal.

 

Mistisisme is  ʼn dubbele tragedie. Indiwidueel sowel as  gemeenskaplik.   Dit verhef die mens met sy persoonlike ervaring en gevoel bo Christus wat die Alfa en die Omega is.  Dit  verskeur mense in hulle verhouding met hulle familie asook hulle gemeenskaplike geloof in die gemeente wat liggaam van Christus is.

 

SLOT
 

Broeders en susters moenie toelaat dat hierdie mistici jou intimideer nie.  Moenie toelaat dat hulle met hulle sogenaamde meerdere kennis wat op subjektiewe ervarings en persoonlike gevoel gebaseer is,  jou diskwalifiseer nie! 

Mistisisme is  ʼn dwaling wat  ʼn mens wegsleep van die objektiewe inhoud van die heilige Skrif.  Dit verhef gevoel en ervaring bo helder objektiewe denke oor Jesus Christus wat in en deur die Heilige Gees gevorm word.  

Ons het die Here Jesus Christus. Hy is genoeg. As jy  met  ʼn ware geloof aan Hom persoonlik vasgryp, het jy alles wat nodig is.  Hy alleen is die weg, die waarheid en die lewe.

Ons het, benewens Hom, niks meer nodig nie!

                                                                                 AMEN.

Monday, 10 October 2011 07:43

OORVLOEDIGE BLYDSKAP GEWAARBORG - PSALM 16

SKRIFLESING: PSALM 16

TEKS: PSALM 16:11           

TEMA: OORVLOEDIGE BLYDSKAP GEWAARBORG!

 

 

Oktober is depressiebewustheidsmaand. Skynbaar is dit die maand in die jaar wat depressie sy hoogtepunt bereik. Om een of ander rede is daar  ʼn radikale teenstelling  of kontras tussen “Oktober die mooiste, mooiste maand” en “Oktober die neerdrukkendste maand”.

                                                                             

Dit is juis nou in die mooiste, mooiste maand wat daardie mense wat neerslagtig of depressief is, besig is ommoed te verloor. 

 

Ons samelewing dra ook nie juis veel by om ons mense bly en opgewonde te maak nie, inteendeel al die misdaad en ekonomiese onsekerheid dra by tot  ʼn gees van neerslagtigheid en selfs negatiwiteit.

 

Hoe kan ons mekaar bemoedig? 

·         Is daar iets wat ons vir mekaar kan sê? 

·         Is daar vreugde wat ons met mekaar kan deel?

 

Of is die besef van al die negatiewe dinge net té neerdrukkend?  Die spreekwoord sê: Die gees is gewillig, maar die vlees is swak. Soms voel selfs  vir  ʼn mens asof die gees ook kragteloos is!

 

Wat kan ons aan hierdie moedelose toestand doen? Wat is die koers wat  ʼn mens moet kies om uit die doolhof van moedeloosheid en neerslagtigheid te ontsnap?

 

In sulke tye moet jy doelbewus op die waarheid fokus.Die waarheid staan immers sterker as ons eie persepsies van dinge. Die waarheid is groter as die skynbaar onoorkombare struikelblokke.

GENESIS 28:15 en 20-22

                                      

GOD SE BELOFTES OF MY VOORWAARDES?

 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus.

 

As daar nou een mens was wat sy slegte naam gestand gedoen het, was dit seker Jakob. Sy naam beteken mos bedrieër.  En hoe goed kon Jakob nie bedrieg nie! Hy het sy broer omgekoop en selfs sy eie pa bedrieg!

 

Daar is sekerlik geen fout met idealisme nie.  ʼn Mens moet  ideale hê en vir jouself doelwitte stel. Maar hoe ver moet jy gaan om jou ideale te bereik?  Jakob was bereid om te lieg en te bedrieg solank dit tot sy eie voordeel kon wees!

 

Iets wat Jakob nie mooi begryp het nie en dit is iets wat ons ook nie altyd goed verstaan nie, broeders en susters, is die Here se rol in ons elkeen se lewe.

 

Jakob se probleem was dat hy gedink het alles hang van homself af.

Monday, 26 September 2011 07:05

DIE HERE SE VERLOSSING EN OORDEEL - OBADJA

SKRIFLESING: OBADJA

TEKS: OBADJA VERS 21

DIE HERE SE VERLOSSING EN OORDEEL

 

Het  dit u ook al opgeval dat die boek Obadja  in werklikheid net bestaan uit 'n oordeelsaankondig­ing oor die volk Edom.

 

Wat  sê hierdie oordeelsaankondiging  van  Obadja vir  ons vandag? Ja, met reg kan u vra:  Maar wat het ons  vandag  met  Juda en sy buurvolke se onderlinge rusies uit  te waai?

 

Kom  ons gaan kyk weer mooi. Wie is hierdie  volk Edom?  In vers 12 lees ons dat die Here  Juda  as Edom se BROER beskryf.  Tussen broers  moet  daar mos liefde en vrede heers!

 

1. GOD VERWAG EENHEID IN LIEFDE

 

Edom  en  Juda was BROERS omdat  hulle  dieselfde stamvader het. Hierdie twee volke is die  direkte afstammelinge van Isak en Rebekka se  tweelingse­uns Esau en Jakob.

 

Juda en Israel  is Jakob se nageslag terwyl Edom weer  Esau  se nageslag is. Die twee volke het boonop  langs mekaar  gewoon.

 

Edom het aan die suid-ooste  kant aan  Juda gegrens. Juda se handelsroetes het  tot 'n groot mate deur Edom gegaan. Ekonomies was die twee volke dus ook interafhanklik.

 

Edom  was  ook nie soos die ander  buurvolke  van Israel afgodsdienaars nie! Hulle het die enigste ware God aanbid. In Deuteronomium  23:7 gee die Here byvoorbeeld opdrag oor  die toegang  tot die vergadering van die Here en  dan staan daar:

 

Die Edomiet moet jy nie as 'n gruwel beskou nie, want hy is jou broer......"

 

Edom  en Juda was bloedbroers sowel  as  geloofs­broers!  'n Hegter band kan 'n mens jouself nou­liks voorstel

 

Die vraag is egter: Waarom word Edom, die  bloedbroer  en  geloofsbroer  van Juda  dan  so  skerp veroordeel?

SKRIFLESING:  ESEGIËL 37:1 – 14

TEKS: ESEGIËL 37:14 en 1 KOR 1:18 

TEMA: GOD WEK LEWE UIT DIE DOOD

 

Geliefdes in ons Here Jesus Christus

 

U het seker ook al gesien hoe hopelose saak dit is om iets wat dood is aan die lewe te probeer kry.  Dink maar net byvoorbeeld aan iets soos  ʼn potplant wat as gevolg van te min water dood is. Die blare hang pap en lyk dof en uitgedroog.  Jy gee water en probeer alles om die plant weer aan die gang te kry, maar alles is tevergeefs.  Jy kan maar los. Die enigste raad is:  Haal die plant uit en plant  ʼn nuwe lewende een in sy plek.

 

Toe die Here sy profeet, Esegiël, hierdie gesig van die droë beendere laat sien het, was hy in Babel saam met  ʼn klomp Israeliete  wat as ballinge daarheen weggevoer is.  Die mense was verslae en moedeloos.  In die jaar 586 vC het Koning Nebukadnesar van Babel se leërmag Jerusalem finaal verwoes.  Die tempel is afgebreek, die mure is stukkend.  Net 'n murasie het oorgebly van die stad met sy paleise en toringtranse waarvan Ps. 48 sing.

 

Vir die ballinge was daar skynbaar nie 'n toekoms nie.  Die volk Israel was vir alle praktiese doeleindes dood. 

 

Maar God stuur sy profeet na hulle toe.  Hy moes vir die volk gaan preek.

 

Esegiël was natuurlik diep onder die indruk van sy eintlik bomenslike taak.  Hy het met sy eie vrae geworstel:  Wat moes hy vir hierdie mense sê?  Watter hoop kon hy hulle gee?

 

Die Here wys dan in ʼn gesig aan hom ʼn vallei vol doodsbeendere.  En dan gee die Here aan hom 'n vreemde  opdrag: “Tree op as profeet vir hierdie beendere.....”  Hy moes vir dooie en baie droë beendere preek!   Maar dan wanneer hy begin preek, gebeur die skynbaar onmoontlike. Die beendere word ʼn groot skare mense!

 

En kyk wat sê die Here in vers 11:“Mens al hierdie beendere stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons’  ”

 

Byna soos dit met Israel se ballingskap die geval was, lyk die toekoms vir ons hier aan die Suidpunt van Afrika deesdae ook maar vaal en onseker.  Die ekonomie wil maar net nie weer behoorlik op koers kom nie. Boonop maak al die onverantwoordelike politieke uitsprake  ons mense moedeloos en onseker.  Die toekoms lyk donker.

 

Maar kom ons keer terug na Esegiël. Luister na die Here se opdrag:

 

1. PREEK VIR DIE DROË BEENDERE:

 

Kom ons lees weer vers 4: “Toe sê die Here vir my: Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here droë bene!”

 

Die Here verwag van sy profeet om ʼn skynbaar dom en sinnelose ding te doen. Hy moet vir droë, dooie bene preek.  Bene wat nie kan hoor nie en nie kan voel nie.  Ons weet mos dat jy iets wat dood is moet uitlos. Jy kan niks doen nie! 

 

Nou verwag die Here van sy profeet om 'n baie onlogiese ding te doen.  Esegiël moet, as ons mooi daaroor dink,  inderwaarheid van homself ʼn gek maak. As iemand na hom sou kyk, sou hulle dink sy kop werk nie lekker nie. Hy preek vir ʼn vallei vol doodsbeendere.

 

Die wêreld waarin ons lewe, broeders en susters, is 'n wêreld vol doodsbeendere. Rondom ons is duidende mense wat geestelik dood is.  Daarom is daar soveel haat, geweld, misdaad en korrupsie.  Die mense is geestelik dood in hulle sonde.  En net ons kan onder leiding van die Here iets daaraan doen. 

 

Ons as kerk is mos die Here se profete.  Ons moet vir die geestelik dooies gaan preek.  Vir mense wat skynbaar nie kan of wil hoor nie.  Ja, dit lyk na 'n sinlose optrede wat geen resultaat kan lewer nie.

 

Maar geliefdes, dit is die Here se opdrag. Dit mag vir ons na ʼn onsinnige opdrag lyk, maar dit is hoe die Here werk.  In 1 Kor. 1:21 skryf die apostel Paulus: “Dit was die bedoeling van God in sy wysheid  dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking WAT VIR DIE WÊRELD ONSIN IS, dié te red wat glo”

 

En kyk wat gebeur geliefdes.  Wanneer Esegiël vir die dooie beendere preek, kom die bene bymekaar en word geraamtes en daarna word die geraamtes met vleis bedek.  En dan staan daar  ʼn duisende mense!

 

Maar Esegiël sien in die gesig dat daar nog iets kort. Daar was nog nie gees in hulle nie.  Hulle was nog net soos poppe.

 

Die prediking, broeders en susters, bring orde en struktuur. Ja, die prediking kan mense selfs na ʼn goeie lewenswyse laat verander. Op die oog af kan alles in orde lyk.

 

Ja, dit kan gebeur dat van mense uit die wêreld deur middel van die prediking na die kerk en na die eredienste toe gelei word, maar dit beteken nie noodwendig dat daardie mense al werklik die nuwe lewe ontvang het nie.  Daar kom  wel net orde en struktuur, maar daar is nog nie werklik lewe nie.

 

Esegiël besef daar moet nog iets gebeur.  Die Here gee vir hom die opdrag: “Praat nou as profeet met die gees......”   Esegiël se opdrag is:

 

2. BID VIR DIE LEWENDMAKENDE GEES:

 

Broeder en suster.  Die kragtige en suiwer prediking van God se Woord alleen is nie genoeg nie.  Dit kan orde en struktuur bring, maar as die Heilige Gees nie daar is  nie, is daar nog nie lewe nie.

 

Die Gees moet lewe bring!  Daarom is volhardende gebed om die kragtige werking van die Heilige Gees ʼn baie belangrike deel van ons as die Here se profete se werk.

 

Die Heilige Gees skep lewe.  Hy het dit aanvanklik by die skepping gedoen.  Die eerste mens het ook eers begin lewe nadat God die asem van die lewe in sy neus geblaas het.  En onthou Jesus Christus is deur die kragtige werking van die Heilige Gees uit die dood opgewek.  Dit is dieselfde Gees wat in elke mens die ware geestelike lewe moet wek.

 

Geliefdes dit is belangrik dat ons elkeen na ons eie lewe sal kyk.  Is daar nie in ons lewe bloot net goeie orde en struktuur nie?  Is daar werklik lewe – geestelike lewe?

 

Alles kan so van buite reg en ordelik lyk.  'n Mens kom kerk toe, jy lees jou Bybel, jy gee jou dankoffer.  Die vraag is egter: Maar is daar lewe en groei?  Die klomp mense wat Esegiël in die vallei gesien het was mense, maar hulle kon niks doen nie.  Hulle was soos poppe!

 

Die kerk word dikwels van louheid en liefdeloosheid beskuldig, want alles lyk uiterlik reg, maar daar is nie lewe in nie.   Dink maar hoe die Here self in Openbaring sy kerk, die sewe gemeentes in Klein- Asië vermaan omdat hulle liefdeloos en lou geword het.  Hy sê selfs dat van daardie gemeentes die naam het dat hulle lewe, maar intussen heers daar doodsheid en  ʼn koudheid.

 

ʼn Vol gemeenteprogram en allerhande kerklike bedrywighede soos eredienste,  vergaderings asook gemeentefunksies   

en fondsinsamelingsprojekte waarborg nie lewe nie. Dit is alles nog net die uiterlike vorm.  Die lidmate  van so  ʼn gemeente kan op geloofsvlak met  ʼn klomp poppe vergelyk word.  Die strukture is daar en die vorm lyk mooi, maar geestelik heers daar  ʼn doodsheid.  Ja, dit lyk van buite baie indrukwekkend, maar op geestelike gebied is dit dood en koud.

 

Broeders en susters die Here soek, lewende harte! Hy soek geloofsdade.  En dit kan net kom as die Heilige Gees aan jou as mens die wedergeboorte skenk.

 

Sonder die nuwe lewe in Christus, wat deur die kragtige werking van die Heilige Gees bewerk word, bly die toekoms duister en ervaar jy ʼn gevoel van hopeloosheid.  Dan oorweldig die ellende van hierdie sondige wêreld jou.  Dan sien jy net doodsbeendere.

 

Maar wanneer jy deur God se Gees lewend gemaak word,  begin jy geestelik lewe. Dan eers hoor jy die duidelike opdrag:

 

3. WERK VIR GOD SE KONINKRYK:

 

God se belofte wat die volk uit die mond van Esegiël moes hoor, was dat hulle sou terugkeer na hulle beloofde land en na Jerusalem.  Kom ons lees vers 14: “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en EK SAL JULLE IN JULLE LAND LAAT WOON”

 

Vir elkeen wat geestelik begin lewe, skep die Here 'n toekoms.  Israel het destyds terug gekeer na hulle land. Hulle kon Jerusalem weer opbou.  Israel word weer 'n leërmag in God se koninkryk.

 

Ons beloofde land is die ewige Vaderhuis met sy baie woonplek.  Ons wat wedergebore is om in die Here Jesus Christus te glo, is God se leërmag wat Hy uit die sondedood gewek het.  Hy het ons met sy Gees gevul.  Hy wil hê dat ons teen die sonde en ellende in hierdie wêreld moet stry en oorwin.  Hy wil hê dat ons die vrug van die Gees sal dra en in ons omgewing waar ons woon en werk  ʼn verskil sal maak.

 

Boonop kry ons die belofte van ewige rus en vrede in ons hemelse erfenis. 

 

Omdat ons lewend gemaak is, en omdat ons weet watter krag God in sy almag het, moet ons aanhou om te profeteer en te bid.  Ons moet die evangelie van Jesus Christus uitdra en bid dat die Heilige Gees lewe in dooie, sondaarharte sal bring.  Ja, net God kan ware lewe skenk. Net Hy maak van 'n klomp dooie bene  ʼn geestelik lewende leërmag in sy diens!

   

SLOT:

 

Geliefdes.  Eers moet ons na onsself kyk.  Ons as gemeente kan net werklik geestelik lewe, as ons God se Woord hoor en ons volhardend bid om die kragtige werking van die Heilige Gees. 

 

Kom ons maak erns met God se Woord tydens eredienste, maar dan ook met wyksgroepbyeenkomste waar ons geestelik kan groei.  Kom ons bid daagliks om die lewewekkende krag van die Heilige Gees in ons lidmate se lewe.

 

En dan gaan ons uit met die Woord.  Kom ons vertel die mense wie se lewe geestelik dood is van die verlossingswerk van ons Here Jesus Christus.  En kom ons bid dat die Here geestelik dooie mense sal lewend maak en met sy Gees sal vervul sodat  hulle saam met ons 'n leërmag in sy diens sal word.      Amen.

              

                                          

<< Start < Prev 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 Next > End >>
Page 20 of 22