1. ONS SONDIGE NATUUR LAAT ONS SLEG SIEN
Ons oë word met die tyd, soos ons ouer word, swakker. Dit word as bysiendheid of swaksiendheid beskryf en is maar soos alle siekte en ouderdom deel van die aftakelingsproses van ons liggame.
Daar is egter nog ʼn ander probleem as ons oor ons manier van kyk en sien praat. Ons is dikwels besig om na die werklikheid rondom ons te kyk, maar dan sien ons nog nie die volle werklikheid nie.
Kyk byvoorbeeld wat het met Elisa en sy slaaf gebeur. Toe die slaaf die oggend opstaan en by die huis uitstap, sien hy die magdom soldate wat die stad omsingel. Hy skrik hom boeglam en vlug weer die huis in. Ag Meneer! kerm hy. Wat gaan ons nou maak? Maar Elisa bly rustig. En hoor nou wat sê hy: Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is. Eers verstaan die slaaf glad nie wat Elisa bedoel nie. Wie is die meer wat by hulle is? Hy sien net hulle twee wat in die huis vasgekeer is!
Die vraag is: Waarom kan die slaaf nie sien wat Elisa sien nie? Die slaaf sien net die bedreiging. Hy staar homself blind teen die probleem en dit oorweldig hom. Hy raak ontsteld en verbouereerd. Dit wat hy sien, is egter net die helfte van die werklikheid, want hy kyk net met sy aardse oë na die aardse werklikheid.
Elisa daarenteen bly rustig en kalm, want hy kon meer as die slaaf sien. Hy kyk met sy geloofs-oë. Hy kyk dieper en sien God se werking. En dan bid Elisa: Here maak tog sy oë oop dat hy kan sien. Dan maak die Here sy oë oop en hy kan ook, soos Elisa, sien dat die berge rondom die stad vol perde en strydwaens van vuur is. Die hemelse leërmagte is daar en hulle is oorweldigend meer as die Arameërs! Ja, God is daar en Hy is in beheer. Daar sal nie eers ʼn haar van jou kop val as dit nie sy wil is nie.
Die vraag waarmee ons elkeen vanoggend gekonfronteer word is: Kyk jy in geloof of kyk jy maar net op ʼn aardse manier?
Ja, geliefdes, sien ons die probleme en die gevaar soos die koerant daaroor berig of sien ons die almagtige God agter die gevaar? Sien jy dit wat die mense rondom jou sien of sien jy dit wat God wil hê jy moet sien? As ʼn mens met jou geloofs-oë na die lewe kyk, kan jy rustig wees en vrede hê, want God is daar. Hy sluimer nie in nie en Hy slaap nie.
Die feit van die saak, broeder en suster, is:
2. DIE WERKLIKHEID IS GROTER AS WAT ONS SIEN
Toe die slaaf met sy gewone oë gekyk het, sien hy die werklikheid, maar nie die volle werklikheid nie. Hy sien net dit wat sy aarsde oë kan sien.
Die apostel Paulus wys ons op dieselfde punt wanneer hy in 1 Kor. 13 sê: Nou kyk ons nog in ʼn dowwe spieël en sien ʼn raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken. (1 Kor. 13:12)
Ons as gelowiges het die voordeel dat ons beter as ander mense kan sien. Onder leiding van die Heilige Gees sien ons die Here wat agter die skerms aan die werk is. Baie mense kan Hom glad nie sien nie en weet ook nie van sy liefde en sy genade en sy almag nie, want hulle glo nie. Dit is mos in Hebreërs 11:1 waar ʼn definisie van geloof gegee word: Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
As ons dit altyd in gedagte hou dat die werklikheid groter is as dit wat ons met ons blote oë kan sien, sal ons rustig raak. Dan weet ons mos dat God in volle beheer is. Hy gebruik selfs die goddelose magte so dat Hy sy uiteindelike doel met alles bereik. Dit was immer Hy wat destyds in Egipte die farao se hart verhard het sodat Hy sy almag en liefde aan sy volk kon bewys (vgl. Rom. 9:17).
Geliefdes, ek en jy moet leer om onder die kragtige leiding van die Heilige Gees in die geloof dieper te kyk. Dan sal ons nie so gou ontsteld raak oor mense se optrede nie. Ja, bid soos Elisa vir oop oë om die Here in sy grootheid en almag raak te sien.
Mense wat nie die Here en sy kragtige werking raaksien nie, tree volgens noodwendig hulle sondige aard op. Hulle ken nie die Here se liefde en genade nie. Hulle weet ook nie van sy krag en wysheid nie. Dan maak hulle wat hulle wil en dink dat hulle self oplossings vir hulle probleme kan kry.
Maar kom ons kyk verder na Elisa se verhaal.
3. DIE HERE WERK ANDERS AS WAT ONS VERWAG
Ons sou dink die perde en strydwaens van vuur moet met die Arameërs veg, maar dit gebeur nie. Die Here slaan die soldate met blindheid. Hierdie blindheid was egter nie so dat hulle glad nie kon sien nie, hulle het net verkeerd gesien.
Hulle kon vir Elisa sien, maar het hom nie herken nie. Verder kon Elisa hulle wysmaak dat hulle op die verkeerde plek is as hulle na Elisa soek. Hy bied dan aan om hulle na die regte plek toe te neem.
Elisa lei hulle dan sonder dat hulle dit agterkom in ʼn lokval in. Hier sien ʼn mens dit weer. Dit wat die soldate sien, was nie die volle werklikheid nie. Hulle sien, maar net gedeeltelik.
En dan dink die koning van Israel in Samaria dat hy die soldate kan doodmaak. Maar hy kyk ook verkeerd. Hy sien ook net gedeeltelik. Elisa sê: Nee, moet hulle nie doodmaak nie ... sit vir hulle eet- en drinkgoed voor dat hulle kan eet voordat hulle teruggaan na hulle koning toe.
In plaas daarvan dat die Israeliete hulle vyande doodmaak, gee hulle aan die Arameërs ʼn feesmaal!
Broeder en suster, kyk u dieper? Kan u die Here sien wat agter die skerms aan die werk is? Dit is hoe die Here werk. Dit is hoe Hy met ons elkeen werk. Hy het nie sy vyande summier kom doodmaak nie. Nee, Hy het in die Persoon van die Seun vir sy vyande aan die kruis kom sterf!
Hy het ons, wat as gevolg van ons sonde met blindheid geslaan is en nou net ten dele kan sien, na sy volk en sy koninkryk gelei, waar ʼn feesmaal vir ons voorberei is. Ja, dit is wat Hy doen. Kom ons lees Rom 5:10. (Lees) Waarlik, Hy lei sy vyande na ʼn feesmaal!
Kyk na die gevolg van die Here se optrede met die Arameërs. Kom ons lees net weer vers 23: Die koning van Israel het vir hulle ʼn groot feesmaal gegee. Nadat hulle geëet het, het hy hulle laat gaan, terug na hulle koning toe. Die bendes van die Arameërs het toe nie weer in die land Israel gekom nie.
Dit is wat die Here van elkeen van ons verwag. Ons moet dieper kyk en Hom raaksien. Hy is agter die skerms aan die werk. As ons aan Hom gehoorsaam is, kan ons rustig wees. Hy het ons vyande sowel as sy vyande volkome onder beheer. Selfs die satan en sy bose magte is gebind. Die Here Jesus het hulle mos klaar oorwin!
SLOT
Kom ons vat saam. Ons is geneig om ons teen die sogenaamde werklikheid blind te staar. Soos Elisa se slaaf, sien ons nie noodwendig die volle werklikheid nie. Daarom word ons bang en moedeloos. As ons egter met ons geloofsë dieper kyk, sal ons die volle werklikheid sien. Ons sal sien dat God in beheer is en dat Hy alles volgens sy ewige raadsplan uitvoer.
Ons is in en deur ons Here Jesus Christus meer as oorwinnaars en ons kan seker wees, Niks en iemand kan ons van God se liefde skei nie!
AMEN.