1. AKTIVEER JOU GELOOF
Geloof moet aktief wees. Dit moet iets doen. Hoe kry ʼn mens jou geloof aktief? Petrus sê: Voeg deugsaamheid by jou geloof. Maar wat is deugsaamheid? Deugsaamheid het met aksie te doen. Om jou geloof met deugsaamheid te verryk, beteken dat jy energie en aksie by jou geloof byvoeg. ʼn Leunstoel geloof gaan jou nêrens bring nie. Jakobus skryf in sy brief skryf dat geloof wat nie tot dade oorgaan nie, ʼn dooie geloof is.
En dan gaan Petrus verder en sê jy moet die deugsaamheid met kennis verryk. Hierdie kennis waarvan Petrus praat, is egter nie die kennis wat tot geloof lei nie. Daaroor het ons aan die begin klaar gepraat. Dit is iets wat God gee. Hierdie kennis het met insig en wysheid te doen. Die gelowige se dienswerk word nie volgens ʼn mens se eie goeddunke gedoen nie, maar met die wysheid en insig wat God gee. (Verlede Sondag: Ons moet verder en dieper kan kyk)
ʼn Mens kan nie anders as om hierdie woorde van Petrus te lees en dan te dink dat hy nogal uit eie ervaring praat. Petrus was mos die voortvarende een van die apostels. Hy het sommer uit die skuit gespring en op die water begin loop. En Hy het sommer sy swaard gegryp en die slaaf van die hoëpriester se oor afgekap. En hy het ook nadat hy belowe het dat hy dit nooit sou doen nie, die Here Jesus drie keer verloën. Hy het nie altyd met die nodige kennis opgetree nie.
Ons dienswerk en ywer vir die Here moet met wysheid en insig aangepak word, anders kan ons dalk meer skade doen – soos Petrus toe hy die Here verloën het.
Maar kom ons kyk hoe ek en jy ons geloof nog verder moet verryk.
Die volgende twee woorde wat Petrus gebruik gaan oor ʼn mens se ingesteldheid
2. LET OP JOU INGESTELDHEID
Alhoewel ons wedergebore is en alhoewel ons nuwe mense in Christus is, beteken dit nog glad nie dat ons nou sonder sonde is nie. Solank ons op hierdie aarde is, het ons nog die probleem van ons sondige natuur. Ons het nog neigings en begeertes wat met God se wil in stryd is. Ons voel dat dinge volgens ons wil moet gebeur. Daarom is dit nodig dat ons gedurig selfbeheersing sal toepas. Ons mag nie toelaat dat ons gedagtes met ons op loop gaan nie. Ons mag ook nie toelaat dat ons sondige geneigdheid en begeertes ons verkeerde dinge laat sê doen nie.
Saam met selfbeheersing gaan volharding. Volharding is natuurlik onontbeerlik vir ʼn gedissiplineerde dienaar van die Here. Ons gooi so maklik tou op. As ons net ʼn bietjie weerstand kry, dan hou ons sommer op! Dan dink ons dat ons nie kan oorwin nie. Maar geliefdes, ons geloofslewe word nie sonder rede so dikwels in die Skrif met ʼn hinderniswedloop vergelyk nie. In so ʼn wedloop moet jy kan vasbyt!
Om in die geloof te kan vorder, moet ʼn mens jou geloof met wysheid in dade gestalte laat kry, maar dan moet jy dit met insig doen, en dit verg selfbeheersing en volharding.
Maar daar is nog meer. ʼn Aktiewe geloof wat ook duidelik impak maak het altyd met verhoudings te doen. Daarom moet ek en jy
3. WERK AAN ONS VERHOUDING MET ANDER
Die eerste woord wat Petrus hier noem is Godsvrug. As jou verhouding met God reg is, sal dit ook al jou ander verhoudings bepaal. Ons hooftaak, of primêre opdrag, is immers om God te verheerlik! Ons moet sorg dat ons verhouding met God van so ʼn aard is, dat dit geloofsvrugte dra. Hier kan ons maar net weer dink aan die vrug van die Gees soos Paulus dit in Gal. 5 uitspel (Lees).
As jou lewe as gelowiges nie in die heel eerste plek tot eer van God is nie, is jy nie met Godsdiens besig nie, maar met selfdiens! Dan wil jy ʼn gelowige wees, maar net in so verre dit tot jou eie voordeel sterk...
As ek en jy ʼn Godvrugtige lewe lei, word dit in die eerste plek sigbaar in ons houding teenoorons broers en susters in die gemeente. Ons houding teenoor ons medegelowiges spreek van liefde, vergewensgesindheid, eensgesindheid en vrede. Petrus vat dit saam in die woord broederliefde.
Maar ek en jy kan as gelowiges nie ons Godvrugtige lewe net tot ons onsself en medegelowiges beperk nie. Nee as ons sout en lig wil wees, moet ons ook liefde teenoor alle mense bewys. Ja, ons moet selfs ons vyande liefhê!
Liefde is die sigbare bewys dat ons geloof uiteindelik grond toe kom! Die Here sê immers as ons ʼn verskil in ander mense se lewens maak, het ons dit vir Hom gedoen!
ʼn Mens kan baie oor geloof praat. Jy kan baie oor geloof lees. Jy kan baie oor geloof nadink. Jy kan selfs baie oor geloof bid. As jy egter nie jou geloof verryk nie, gaan jy nêrens heen nie. Dan is die gevaar groot dat jy met ʼn dooie geloof opgeskeep sit. En ʼn dooie geloof beteken net so min soos geen geloof!
[Julle jongmense wat vandag julle geloof bely, moet weet dat ʼn mens se geloof verryk moet word. God gee aan jou alles wat jy nodig het om te lewe en hom te dien, maar die vraag is: Wat maak jy met dit wat Hy vir jou gee? As jy nie jou geloof verryk nie, kan dit maklik soos ʼn plant wat geen aandag kry nie, verlep en doodgaan.
Net soos ʼn mens ʼn boom plant en dit versorg met die verwagting dat dit vrugte sal dra, so gee die Here aan ons geloof. Hy gee aan ons alles wat nodig is om te lewe en hom te dien. Hy verwag dat ons sal groei en vrugte dra.
Hy verwag dat ons ʼn impak op die samelewing sal maak!
SLOT
Geliefdes, die Here se liefde en genade is groot. Hy het ons geroep en Hy het ons uitverkies. Hy het ons die wedergeboorte geskenk. Hy het ons in die bloed van sy Seun gewas en deur sy Gees in ons kom woon. Wat wil ons meer hê?
Ons het geloof. Nou moet ons ons geloof verryk met ʼn lewe tot sy eer! Hy verwag dat ons in liefde sal lewe.
Onthou:
In die Christelike lewe begin jy altyd by geloof en jy eindig by liefde.
AMEN.