Sosiale Skakels

Besoekers

We have 27 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Thursday, 28 April 2011 11:59

CHRISTUS OF VYEBLARE?

Written by 
Rate this item
(0 votes)

CHRISTUS OF VYEBLARE?

 

Geliefdes in die Here.

 

Wat is jou reaksie as jy hoor dat die Here na jou roep:  Waar is jy?  

 

Toe Adam en Eva die Here se roepstem gehoor het, het hulle in die tuin tussen die bome gaan wegkruip.  Hulle was bang om die Here in die oë te kyk.

 

Ons is dalk ook bang of huiwerig om ons hemelse Vader voluit in die oë te kyk, want ons is ook soms met sonde besig. 

 

Die punt is:

 

1.  SONDE MAAK JOU SKAAM

 

Die probleem het begin toe Adam en Eva  ongehoorsaam geword het. Hulle het baie goed geweet wat God sê.  Die Satan het hulle egter so ver gekry om oor God se duidelike opdrag te redeneer. Met sy subtiele verleiding vra die Satan vir Eva: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”  Satan maak asof God onregverdig sou wees.  Eva se reaksie daarop is om te begin redeneer.  In die proses verdraai sy God se Woord. Sy sê dat God gesê het dat hulle nie eers die vrugte van die boom in die middel van die tuin mag “aanraak” nie!  Net hier gebruik Satan sy kans om met ‘n leuen die mens tot sonde te verlei.

 

Sien u die probleem geliefdes?  Vandag gebeur presies dieselfde.  As jy eers so ver kom om oor God se duidelike opdrag te begin redeneer, kry die Satan ‘n voet in die deur.  Dan kom hy met sy leuens. En as jy sy leuens begin aanvaar, lyk God se opdrag vir jou onregverdig.  En dan volg jy jou eie kop en oortree God se opdrag.

 

En dan, natuurlik,  kom die  gevolge:

 

In die eerste plek staan die mens met sy ongehoorsaamheid onder God se oordeel. Adam en Eva moes die tuin van Eden verlaat, boonop is die aarde  om hulle ontwil vervloek en die verhouding tussen hulle as mense het begin versleg tot dit uiteindelik gelei het tot moord by hulle kinders.

 

In die tweede plek het die sondeval ook gevolge binne in die mens self gehad. Adam en Eva het besef hulle is kaal. Hulle fokus het van God af na mekaar as mense verskuif.  Ja, ongehoorsaamheid aan God het die mens se natuur, sy hart, sy wese is aangetas. Sy denke en behoeftes was nie meer Godgerig nie, maar selfgerig. Sy oordeelsvermoë is skeef getrek en die gevolg was dat sy lewe al hoe meer gekompliseerd en gespanne geword het.

 

Maar dit is nie al nie. Wat die mens nog verder doen, is om in sy sondevervalle toestand van God af weg te hardloop.  Toe hulle God in die tuin hoor wandel, gaan  kruip hulle vir Hom weg!  Die mens doen vandag nog presies dit.  Wanneer mense aan God ongehoorsaam is, hou hulle op om kerk toe te kom. Hulle probeer afsprake met die ouderling of predikant of medegelowiges ontduik, want hulle wil nie hoor wat God sê nie. Hulle gewetens kla hulle aan en dit maak hulle baie ongemaklik.

              

En dan, wanneer hulle wel met God se Woord gekonfronteer word, begin hulle hulleself verontskuldig.  Hulle gee allerhande redes vir hulle optrede. Adam sê dis Eva en Eva sê dis die slang, en uiteindelik word God beskuldig:  Adam sê: Dis die vrou wat “U my gegee het”

 

Die tragiese in hierdie hele saak van sonde is, broeders en susters, is die feit dat

 

2. DIE MENS SELF PROBEER OM SY SONDE TE BEDEK.

 

Benewens selfverontskuldiging maak die mens allerhande plannetjies om sy sondenaaktheid en sy skaamte te verdoesel.

 

Hy kan byvoorbeeld ‘n skynbeeld van voorspoed en sukses probeer voorhou. Ja die mens maak asof niks verkeerd is nie, maar onder die glans van materialisme,  sosiale status en wêreldse sukses verberg hy ‘n lewe  vol ongehoorsaamheid, sedeloosheid, selfgesentreerdheid, goddeloosheid en bedrog.

 

Soos Adam en Eva gebruik die moderne mens ook maar net vyeblaarverskonings om ‘n vrugtelose selfgesentreerdheid te bedek.

 

Dit is juis waarom ons lees dat Jesus die vyeboom vervloek het. Hierdie vyeboom waarvan ons gelees het, het ‘n lowerryke blaredos gebruik om sy vrugtelose binnekant te verberg. Hoewel dit nie eers tyd vir vye was nie, gee hy met sy blare ‘n belofte van vye. Hy leef in skyn en valsheid.  Hy trek mense se aandag met sy uiterlike skyn, maar dis vals, want daar is geen vrugte nie. 

 

Dit is interessant om te weet.  Hierdie was die enigste vloek wat Jesus, terwyl Hy op aarde was, uitgepreek het. En dit was nie sonder rede dat dit juis ‘n vyeboom was nie. Dit hou verband met Adam en Eva se vyeblaar verskonings en ook die verskonings wat ons vandag nog soos vyeblare voor ons hang om ‘n sondige en vrugtelose  lewe te probeer verdoesel.

 

Die mens het soveel nuttelose vyeblare as verskonings. Het u al opgelet broeders en susters?  Sonde word mos allerhande mooi name gegee.  Sonde  word goedgepraat.  ‘n Dronkaard word ‘n alkoholis genoem en as ‘n siek mens geklassifiseer. Nou is hy mos nie meer verantwoordelik nie, want hy is mos “siek”.  En nou dink die sogenaamde siek mens: Die Here is tog nie so onregverdig om werklik ‘n siek mens te veroordeel nie.  Maar wat sê die Here?  Hy sê onomwonde dat ‘n dronkaard nie in die koninkryk sal ingaan nie! (Gal 5:21) Sien u die vyeblaar?

 

Netso word ‘n gewoontedief ‘n kleptomaan genoem en dan sommer van sy misdaad verskoon! Nog ‘n sogenaamde geestes-siekte. Nog ‘n vyeblaar. En ‘n vrou wat haar lyf verkoop, is nie meer ‘n hoer nie. Nee, sy is nou ‘n sekswerker.  Die sondige wêreld het al rye en rye name vir allerhande sogenaamde geestes-siektes wat behandel moet word. Intussen is die meeste van hierdie sogenaamde sielkundige toestande bloot net onverantwoordelikheid en ongehoorsaamheid. En dus sonde!

 

Die feit van die saak is: Ons vyeblaar verskonings bedek nie ons sondige harte voor God nie.  Ons het Ps. 139 gesing en  daar bely dat Hy ons woorde ken en self ons gedagtes lees nog voordat hulle by ons opgekom het!

 

Al probeer die mens om sy sondenaaktheid vir God en vir mekaar bedek, is dit alles tevergeefs, want dit is net maar vyeblare.  Vyeblare is grof en ongemaklik, en boonop laat dit jou jeuk.  Vyeblare verlep en verdroog boonop baie vinnig.  Presies so is die mens se skynlewe.  Dit skuur en skaaf en verloor sy glans baie gouer as wat ‘n mens sou dink. 

 

Die enigste verlossing uit hierdie valsheid kom as God in die mens se lewe kom ingryp. En die genade is:

 

3.  DIE HERE KOM HAAL ONS UIT

 

Die Here het nie vir Adam en Eva in hulle sondeverlorenheid gelos nie. Hy roep na hulle: Waar is jy?  Dit is  ʼn roep van geregtigheid en hartseer en liefde.

 

 

Ons sonde maak ons hemelse Vader hartseer. Hy wil immers vir ons die goeie gee.

 

 Hy wil hê dat ons in geregtigheid voor Hom sal lewe.

 

God se genade is so groot dat Hy die mens wat besig is om vir Hom weg te hardloop en agter vyeblare probeer wegkruip, opsoek. Hy na die sondige mens, na elkeen wat so probeer wegkruip: “Waar is jy?”

 

Daar is baie voorbeelde hiervan in die Bybel.  Dink aan iemand soos Jakob.  Nadat hy sy broer bedreig en sy pa belieg het.  Hy hardloop weg, maar by Bet-el verskyn God aan hom. Daar wys die Here hom op die feit dat die pad na Hom toe oop is.  Of dink aan Dawid in sy sonde met Batseba.  Dit is die Here wat sy profeet Natan na Dawid toe stuur en Hom tot ‘n sondebelydenis lei.  Kyk ook na Paulus. Hy vervolg Christus se kerk. En dan, op pad na Damaskus gryp die Here in.

 

Broeder en suster, die Here los  jou nie!  As Hy jou uitgekies het om sy kind te wees, los Hy jou nie. Hy roep na jou. Hy gryp op allerhande maniere in jou lewe in. Hy laat soms swaar beproewings oor jou kom net om jou tot besinning te bring en jou tot bekering te lei.

 

Die heel duidelikste bewys van God se genade is die feit dat God persoonlik na ons sondige mense toe kom.  In die persoon van Jesus Christus het Hy na ons op hierdie aarde gekom. Jesus is mos Immanuel: God met ons.

 

In sy liefde kom haal Hy ons waar ons wegkruip.

 

Natuurlik moes Adam en Eva die gevolge van hulle sonde dra.  Eva sou met moeite kinders in die wêreld bring en Adam sou met moeite  ʼn bestaan maak.  Hulle is uit die paradys verdryf.

 

Maar kyk dan na die Here se genade

 

4. DIE HERE BEDEK ONS SONDE

 

In plaas van hulle selfgemaakte vyeblare trek die Here vir Adam en Eva velklere aan.  Hy gee die regte bedekking vir hulle sonde.  Deur sy Gees beklee Hy ons elkeen met die Here Jesus Christus.

 

Onthou. Jesus Christus het gekom. Hy het gesterf. Reeds daar by die sondeval het God die pad van verlossing aangedui. Hy gee die moederbelofte, dat die saad van die vrou die slang se kop sou vermorsel. Maar dan doen hy nog iets. Hy het vir die mens en sy vrou velklere gemaak.   En nou moet ons verstaan: Benewens die feit dat velklere of leerklere gemaklik en duursaam is, moet ‘n dier sterf om die klere te kan maak.  Dit wys natuurlik op die plaasvervangende werk van Jesus Christus.  Hy moes in sy naaktheid, vir almal om te sien, aan die kruis hang en in ons plek sterf om ons sondeskuld te bedek.  Daarom sê die apostel Paulus: “Beklee julle met die Here Jesus Christus”. Ja, trek Hom soos klere aan!

 

Moontlik kruip jy ook weg en skuil agter ‘n vyeblaarverskoning.  Ons probeer graag onsself verontskuldig en die blaam op iemand anders plaas.  Soms gee ons ander mense en selfs vir God die skuld.  Maar daardie vyeblaar skaaf ongemaklik.  Wat gaan jy doen as daardie blaarverskoning verlep en verdroog?

 

SLOT:

                  

Geliefdes.  Die enigste manier om van die las van die sonde ontslae te raak, is om na God se belofte te luister.

 

Hy roep jou. Hy vra: Waar is jy?  Laat God  toe om die vyeblaarverskonings deur sy Heilige Gees af te ruk en jou met Jesus Christus  te beklee.

 

                                                                         AMEN.

Read 2826 times Last modified on Friday, 09 March 2012 08:17
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek