Sosiale Skakels

Besoekers

We have 27 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Thursday, 28 April 2011 12:01

Titus 5:5 DOOP: ONS BAD VAN WEDERGEBOORTE

Written by 
Rate this item
(0 votes)

 

Skriflesing:  Titus 3:1 – 11

Teks: Titus 3:5       

Tema:  DOOP: ONS BAD VAN WEDERGEBOORTE

 

Die doopsformulier begin met  ʼn baie direkte en duidelike stelling:

Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore en is daarom onder die toorn van God, sodat ons nie in die ryk van God kan inkom nie, tensy ons opnuut gebore word.

Hoor u wat hier geskryf staan?  Om in die ryk van God te kom, moet  ʼn mens weer gebore word.

Dit is presies wat die Here Jesus vir Nikodemus gesê het toe hy destyds vir Jesus kom vra het hoe  ʼn mens aan die koninkryk van God deel kry.  Jesus het toe gesê:

As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.  (Joh. 3:3)

Ja, geliefdes wedergeboorte is  ʼn absolute voorvereiste om kind van God te word.  Hoe word  ʼn mens weergebore?

Die Here leer ons met die sakrament van die doop wat wedergeboorte prakties in ons elkeen se lewe beteken.

Kyk, om verlos te word, moet  ʼn mens uit die ryk van die sonde en duisternis oorgaan na die koninkryk van God.  Dit is min of meer dieselfde as om van een land na  ʼn ander te emigreer. 

Daar is deesdae mos  ʼn klomp mense wat uit Suid Afrika  padgee.  Hulle sê hier is te veel misdaad.  Hulle kan nie meer hier woon nie, daarom emigreer hulle na Australië of Europa of Amerika.  Daar begin hulle  ʼn nuwe lewe onder  ʼn nuwe regering en in  ʼn nuwe samelewing.  As hulle daar gaan woon dink hulle dat hulle van  ʼn slegte verlede in Suid Afrika verlos is.

Vandag praat ons oor  ʼn beter oplossing vir  ʼn mens se probleme. Dit behels ook  ʼn emigrasie, maar jy hoef nie fisies te verhuis nie.  Die feit van die saak is:  Jy blyplek hoef nie te verander nie.  Jy moet verander. En dit is wat die doop ons leer.

Die doop verduidelik aan ons:   Om werklike verlossing te beleef, moet  ʼn mens uit “die land van die ou sondige lewe” emigreer na “die land van die nuwe lewe in Christus”.   Wanneer  ʼn mens op so  ʼn manier verhuis het of geemigreer het, kom jy noodwendig in  ʼn nuwe omgewing en staan jy onder ʼn nuwe regering.

Kom ons kyk eers  ʼn bietjie na

    

1. DIE LAND VAN DIE OU LEWE

Hoe lyk dit daar?   Elke mens word in die “land van die ou lewe”,  “in sonde ontvang en gebore”.   Hierdie woorde “in sonde ontvang en gebore” is  ʼn raak beskrywing van die plek en die toestand waarin elke mens is wanneer hy of sy fisies op aarde gebore word.   In hierdie  “land van die ou lewe” of  te wel “die land van sonde” voer die duiwel en sy trawante die heerskappy.  In hierdie land doen elke mens net wat hy wil en laat hom deur sy eie begeertes op sleeptou neem.

Paulus ken die lewenswyse in hierdie ou land en daarom kan hy dit goed beskryf. Kom ons lees wat skryf hy in vers 3: 

Vroeër was julle ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot;  ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat.

Dit is hoe die omgewing daar uitsien waar elke mens sy of haar eerste lewenslig aanskou. 

Hierdie “land van die ou lewe” word dikwels ook sommer “die wêreld” genoem.  Die lewe waarin ons elke dag ons bestaan voer, is vol kwaadwilligheid en jaloesie. Daar is haat en geweld. Daar is selfsug en gierigheid.

In hierdie “land van die ou lewe” is daar nie hoop nie.  Dit is  ʼn doodsbestaan. Die mense vestig hulle hoop op tydelike dinge.  Hulle bou hulle lewe met materiële dinge.  Uiteindelik loop die lewe in hierdie “land van die ou lewe” uit op die ewige dood.

Maar die sakrament van die doop leer ons dat daar  ʼn ander land is naamlik die land van die nuwe lewe in Christus.  En daar is  ʼn manier om na daardie land toe te emigreer, want daar is  ʼn

2. BRUG TUSSEN DIE TWEE LANDE

Hierdie brug is nie iets wat deur mense gebou is nie. Dit is  ʼn geestelike brug wat deur God se genadewerk gebou is.  

Kom ons kyk hoe lyk hierdie brug.  Toe die mens nog in die land van die sonde en dood vasgekeer was, sê Paulus, ... het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn (vers 4). 

Ja, ons Here Jesus Christus is die brug. Hy het gekom om ons uit die ou land van sonde te verlos. Hy het ons kom red.  As  ʼn mens na die land van die nuwe lewe wil emigreer, moet jy saam met Hom gaan.  Hy is die Weg en die Waarheid en die Lewe!

Waarom het God dit gedoen?  Waarom het Hy die klomp mense wat as gevolg van hulle eie sonde in die land van die sonde en dood beland het,  ʼn weg van verlossing gegee?

Dit is bloot net genade. Die enigste grond daarvoor is God se onbeskryflike liefde. Kom ons lees weer vers 5 se eerste deel.

Maar hoe het Hy die brug gebou?  Hy sê verder in vers 5:  Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.

Die doop is  ʼn demonstrasie van dit wat God bloot uit genade in ons lewens doen.

 ʼn Klein babatjie wat gedoop word kan niks vir homself doen nie.  Hy weet nie eers dat hy gedoop word nie.  En dit is presies wat die Here ons wil leer!  Al die sonde van die ou leefwyse word afgewas sonder dat ons iets doen.   Hierdie bad maak van ons nuwe mense.   Die wedergeboorte verander  ʼn mens se totale persoonlikheid en jou karakter.  Jy word gewas en jy is totaal vernuwe!  Jy word  ʼn heel nuwe mens!  ʼn Mens wat van die land van die sonde en die dood oorgaan na die land van die nuwe lewe onder die heerskappy van ons Koning en ons Verlosser die Here Jesus Christus.

Maar nou moet ons baie goed verstaan.  Die sakrament van die doop is nie opsigself hierdie oorgang nie.  Die sakrament het nie krag in homself nie.  Dit is net die teken en waarborg van dit wat God in  ʼn mens se lewe doen. 

Die oorgang of te wel wedergeboorte is iets wat in elkeen van ons se lewe prakties moet gebeur!  Ons elkeen moet geestelik emigreer van die ou land van sonde na die land van die nuwe lewe in Christus.

Ja, eers wanneer  ʼn mens met  ʼn ware geloof oor hierdie brug beweeg, ondergaan jy die wedergeboorte.  Dit verander jou totaal.  Eers daarna woon jy in

3. DIE LAND VAN DIE NUWE LEWE

En kyk nou na Paulus se beskrywing van hierdie nuwe lewe onder  ʼn nuwe regering in verse 6 en 7:

God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser.  So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.  Ons nuwe lewe is  ʼn ewige lewe onder die heerskappy van ons Koning Jesus Christus

As jy weergebore is, is jy  ʼn nuwe mens en staan jy onder  ʼn nuwe Koning!

Hierdie nuwe lewe verskil soos dag by nag van die vorige lewe. Jou hele gesindheid en ingesteldheid het  ʼn 180 grade omkeer gemaak.

Waar jy voorheen net na jouself gekyk het en net jou eie belange raakgesien het en net jou eie begeertes nagejaag het, kyk jy nou anders die lewe.

Omdat jy deur die Heilige Gees weergebore is, lewe jy nou  die lewe van die nuwe mens.  Jou lewe word nou gekenmerk deur liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, nederigheid, getrouheid en selfbeheersing. 

Jy kyk nie nou meer na jouself en sien net jou eie belange raak nie.  Nee, jy hou jou oë gevestig op ons Here Jesus Christus.  Jy volg Hom na en lewe in gehoorsaamheid aan Hom.  Dit gaan nou nie meer oor jou eie wil nie, maar oor sy wil.

SLOT

Die doop leer ons dat ons nie sonder die wedergeboorte na die land van die nuwe lewe in Christus kan emigreer nie. 

Ons word wedergebore, sê die apostel Petrus deur middel van die Woord van God.  Die Woord is die saad van die wedergeboorte (1 Pet 1:23)

Daarom belowe ouers by die doop dat hulle hul kinders in die Woord van God sal onderrig. Sodoende kom die kinders by Christus uit en Hy was dat die kinders met sy bloed sodat hulle onder leiding van die Heilige Gees oor die brug stap om deel te kry aan die land van die nuwe lewe in Christus.

Die vraag waaroor elkeen van ons sekerheid moet kry is:

 

Is ek wedergebore?

                                                                   AMEN.

Read 4111 times Last modified on Monday, 17 September 2012 16:32
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek