1. ONS BELANGE VERSKIL VAN DIé VAN ONGELOWIGES
As gevolg van die vloek wat God na die sondeval op die mensdom uitgespreek het, swoeg en sweet die mensdom om vir homself te sorg.
In Gen. 3:17 – 19 sê die Here vir Adam: Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ʼn bestaan maak jou lewe lank; die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit en jy sal veldplante eet; net deur harde werk sal jy kan eet...
As gevolg van die sondeval moet die mens werk om te lewe. In plaas daarvan dat die mens se werk omdat sy lewe ʼn plesier in diens van God is, is het werk nou ʼn las geword. Die mens moet werk om aan die lewe te bly. Werk put ʼn mens uit. Dit bring spanning en frustrasie. En as die mens tog deur middel van harde werk en slim planne uiteindelik genoeg bymekaar gemaak het, word sy besittings vir hom ʼn las en ʼn struikelblok. Hy moet staan en toekyk hoe mot en roes sy besittings verteer. Boonop moet hy die heeltyd op sy hoede wees, want diewe wil sy besittings vat – ja, selfs sy lewe is dan op die spel!
Die burger van God se koninkryk is egter bevry van hierdie vloek. Sy lewe is nie van sy besittings afhanklik nie. Die Here is mos sy lewe! En Hy weet sy lewe is in sy hemelse Vader se hande. Die apostel Paulus sê dit so mooi: Die lewe is vir my Christus.
Iemand wat deur ʼn ware geloof in Christus ingelyf is, is ʼn nuwe mens. Saam met Paulus sê ons as nuwe mense:
Maar wat eers vir my ʼn bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus my Here te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik.... (Fil 3:7 & 8).
Die gelowige werk nie om te lewe nie. Hy werk ook nie vir homself nie. Die gelowige lewe vir die Here. Sy werk is daarom dienswerk in God se koninkryk. Hy sien sy salaris of loon daarom ook nie as betaling vir sy werk nie. Nee, dit is hoe die Here hom versorg. Die Here gee vir hom sy daaglikse brood.
Ja, geliefdes
2. ONS HEMELSE VADER WEET WAT ONS NODIG HET
Kyk weer na verse 31 en 32:
Julle moet julle dus nie bekommer en vra: “Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?” nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.
Die gelowige kyk eenvoudig net hoe God sy skepping versorg en verstaan dan met dankbaarheid dat sy hele lewe in sy hemelse Vader se hande is. Ja, geliefdes, ons verstaan dat ons as kinders van God op baie meer as voëls en plante kan aanspraak maak. Ons is immers meer werd as voëls of plante. Ons is met die bloed van Jesus Christus aan die kruis gekoop!
Die Here Jesus verseker ons dat ons hemelse Vader alles weet. Selfs die hare op ons koppe is getel. Ja, selfs nie die heel kleinste dingetjie wat met ons gebeur, gaan by ons hemelse Vader verby nie. Hy weet selfs wat ek en jy voel en wat ons dink!
Wanneer ons moedeloos is en voel dat daar vir ons geen hoop meer is nie, weet hy dit. Hy weet van jou en my siekte en pyn. Hy weet van ons hartseer en nood.
Daarom sê ons Here Jesus dat ons nie bekommerd hoef te wees nie. Moenie vir ʼn oomblik dink dat jy aan jou eie lot oorgelaat is nie. Hy verseker ons immers: Ek is by julle tot met die voleinding van die wêreld.
Dit is net die heidene en die ongelowiges wat hulle oor hulle eie lewe bekommer. Hulle dink mos hulle moet self vir hulle eie lewe sorg....
Broeders en susters, kom
3. ONS WERK AAN ʼn HEGTER VERHOUDING MET GOD
Ons Here Jesus sê: Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God.
God se koninkryk het in die Here Jesus Christus gekom. Hy is immers die Koning wat sou kom. Die Ou Testament is vol van die beloofde Messias. Die Koning wat moes kom om op Dawid se troon te sit.
Die fout wat die Jode destyds gemaak het en vandag nog maak, is om ʼn aardse koning te verwag. Hulle soek politiek bevryding. Sedert hulle die ware Messias 2000 jaar gelede gekruisig het, is hulle nog altyd in ʼn bevrydingstryd gewikkel. Hulle veg nog steeds om ʼn aardse bestaan te maak. Hulle soek ʼn aardse koninkryk. Hulle mis die koninkryk van God en staan nog steeds onder die vloek van die sondeval.
Ons ken egter die Koning van die konings. Ons Here Jesus Christus het gekom en duidelik verklaar: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matt 28:18).
Omdat die Here Jesus ons Koning is, is ons saam met Hom oorwinnaars. Aan sy koninkryk is daar geen einde nie. Ons oorwinning is behaal. Ons lewe is Christus. Ons is burgers van God se ryk.
En ja, ons toekoms is gewaarborg. Ons het ʼn hemelse erfenis. Dit is ʼn skat wat nie deur mot en roes vernietig kan word nie. Diewe kan ook nie daar inbreek en dit steel nie!
Hierdie wonderlike toekoms kan ʼn mens slegs sien en hierdie vrede kan jy net ervaar as jy God se koninkryk kan sien. En nou moet ons mooi luister wat ons Here Jesus aan Nikodemus gesê het:
Dit verseker Ek jou: as iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie(Joh 3:3)
Ja, broeder en suster, ʼn mens kan sy koninkryk van God net sien as jy ʼn wedergebore kind van God is. Hoe nader jy in Christus aan God lewe, hoe helderder en hoe duideliker sien jy sy koninkryk. En hoe beter ken jy sy wil. En hoe meer vrede kry jy in jou gemoed.
SLOT
Om jou vir God se koninkryk te kan beywer, moet ʼn mens aan die Koning van God se koninkryk, Jesus Christus, met ʼn lewende geloof verbind wees. As jy in Hom lewe, weet jy dat jy meer as ʼn oorwinnaar is en dat niks jou van sy liefde kan skei nie.
Dan weet jy wat ware vrede is. Nie ʼn aardse vrede en aardse geluk nie, maar ʼn hemelse vrede en ewige geluk.
AMEN.