Sosiale Skakels

Besoekers

We have 27 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Thursday, 28 July 2011 04:01

DIE HERE ROEP JOU OM JOU TE STUUR - JEREMIA 1

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING: JEREMIA 1

TEKSVERSE: JEREMIA 1:4 – 8

TEMA: DIE HERE ROEP JOU OM JOU TE STUUR

 

Die Here Jesus het op  ʼn stadium  ʼn gelykenis vertel van  ʼn pa wat sy twee seuns geroep het en aan elkeen afsonderlik die opdrag gegee het om in die wingerd te gaan werk.

 

Die eerste seun het na sy pa se opdrag geluister en gesê dat hy nie in die wingerd wil gaan werk nie.  ʼn Rukkie later het hy egter  berou gekry en tog in die wingerd gaan werk.  So het die pa ook die sy tweede seun geroep en dieselfde opdrag aan hom gegee. Hy het dadelik “ja” gesê, maar toe nooit in die wingerd gaan werk nie. Dan vra Jesus aan die mense:  Wie van die twee seuns, dink julle, was aan die pa gehoorsaam?

 

Die logiese en ook korrekte antwoord is die eerste seun. Al wou hy aanvanklik nie gaan nie, het hy tog uiteindelik berou gekry en toe tog sy pa se opdrag uitgevoer.

 

Soos die Here volgens ons teksverse vir Jeremia geroep het en hom toe gestuur het om sy woord te gaan verkondig, doen die Here ook met ons elkeen. Kom ons lees gou Ef. 1:4 en 5 (Lees).

           

So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om sy kinders te wees.

 

Die Here werk met sy volk, sy uitverkore kinders, reeds lank voor hulle geboorte.  Hy het met elkeen van ons se lewe  ʼn deeglik uitgewerkte plan.  In Psalm 139 verduidelik Dawid hoe die Here kom kunstig in sy moederskoot gevorm het.  Hy sê ook in die psalm dat sy lewensdae al lank voor sy geboorte in God se lewensboek opgeskryf was.

 

Ons elkeen is so persoonlik deur die Here geroep anders sou ons mos nie vanoggend hier gewees het nie.  Verder kry ons elkeen  ʼn spesifieke opdrag van die Here.  Ons het mos in Romeine 12 gelees dat die Here aan elkeen van ons  ʼn gawe gegee het om Hom daarmee  te dien.  Daarom het elkeen van ons  ʼn opdrag.

 

Broeder en suster, het u al vir  die Here in soveel woorde gevra:

 

1.  WAT IS MY OPDRAG?

                                             

As dit so gevra het, het u al die antwoord gekry?  Weet u al wat u opdrag is? Of wonder u nog daaroor?  As mens nie weet wat jou opdrag is nie, kan jy mos nie vir die Here werk nie!  Dan is jy in die omgewing waar die werk gedoen word, maar jy staan net daar rond.

 

As u graag wil weet wat u opdrag is, broeder en suster, is dit in die eerste plek belangrik om in  ʼn nabyverhouding met die Here te staan.  ʼn Mens kan net die Here se stem kan hoor as jy naby aan Hom is. As jy te ver weg staan, sal jy nie kan hoor nie. En dan moet jy ook saam met Hom lewe, elke dag die pad saam met Hom loop.  

 

In Psalm 73 lees  ʼn mens hoe Asaf  ʼn worsteling het. Hy verstaan nie die Here se wil in sy persoonlike lewe nie. Hy sê dan:  Daarom het ek diep nagedink om te verstaan en was dit vir my bitter moeilik totdat ek die heiligdom van God ingegaan het... (Ps. 73:16 en 17).  Toe Asaf saam met sy medegelowiges in God se heiligdom kom staan, toe begin hy begryp.  Toe gaan daar vir hom  ʼn lig op.  As   ʼn mens  saam met jou medegelowiges naby aan die Here lewe, daagliks met Hom besig is deur sy Woord te lees en met Hom in gebed te praat, leer jy outomaties sy wil ken.  In Ef. 3 wys Paulus die lidmate van die gemeente in Efese daarop dat die gelowiges wat in onderlinge liefde saamleef, stewig staan.  Saam met jou broers en susters leer jy jou hemelse Vader se gedagtes volg. Dikwels kry  ʼn mens die Here se opdrag deur middel van jou medegelowiges wat met jou praat. So saam met jou broers en susters leer  ʼn mens gehoorsaamheid.  As jy so daagliks in die liggaam van Christus Here lewe, verstaan jy baie makliker wat Hy vir jou beplan. 

 

Omdat mense soos Moses en Jeremia en Paulus juis naby aan die Here gelewe het, kon hulle sy stem hoor en sy wil doen. Hulle het presies geweet wat Hy wil hê.  Dit is die enigste manier hoe ek en jy die Here se stem kan hoor.  Ons moet saam naby aan Hom lewe.

 

Maar nou is daar nog iets wat ek en jy baie goed moet verstaan. As die Here jou roep en aan jou  ʼn opdrag gee, is dit nie noodwendig die opdrag wat jy graag wil ontvang nie!  Soms laat die Here se opdrag jou skrik.  Jy voel dit is net te groot vir jou. Jy kan nie.  Jy sien nie kans nie.

 

Toe die Here vir Jeremia sy opdrag gee, het hy dadelik  ʼn probleem. Dit wat die Here wil hê hy moet gaan doen, is vir hom te moeilik.  Hy het gedink hy sal dit nie kan doen nie!  En Jeremia is nie alleen nie. Moses het ook nie kans gesien om die Here se opdrag uit te voer nie. Hy het ook verskonings gesoek. En wat van Jona?  Hy het so groot geskrik toe hy sy opdrag kry dat hy sommer  ʼn ander koers ingeslaan, op  ʼn skip geklim en weggevaar het! 

 

 ʼn Baie belangrike punt waaroor ek en jy dus helderheid moet kry, is: 

 

2. HOE REAGEER EK OP MY OPDRAG?

 

As die Here ons roep, reageer ons mos op een of ander manier.  Dink maar weer aan die twee seuns in die Here Jesus se gelykenis waarvan ons aan die begin gepraat het.  Ek en jy sê miskien maklik “Ja”, maar doen nie!  Of ons sê ons dalk eers “Nee”, maar bedink onsself en gaan doen dan tog wat die Here verlang?   Of moontlik kom ons, soos Jeremia en Moses, met verskonings!

 

Jeremia se reaksie op die Here se opdrag was vinnig:  Ag Here my God, ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk. Interessant genoeg, het Moses ook die verskoning gehad dat hy nie goed kan praat nie.

 

Broeder en suster, wat is jou reaksie op die Here se opdrag? Wat doen jy? 

 

Ja, dit is so dat  ʼn mens te klein voel en onbevoeg voel.  Maar dit gaan nie oor ons en ons kragte en ons vermoëns nie!  Toe Jeremia sê hy kan nie goed praat nie, het die Here sy hand uitgesteek en Jeremia se mond aangeraak.  Die Here het sy woorde in Jeremia se mond gelê.  En toe Jeremia sê dat Hy te jonk is, het die Here gesê:  Moenie bang wees nie, Ek is by jou, Ek sal jou red.

 

Jeremia se verskonings was toe nie meer geldig nie.  Die Here werk met ons, maar hy is nie van ons krag of wysheid of ouderdom of vaardighede afhanklik nie.  Hy belowe dat Hy vir ons alles sal gee wat ons nodig het om Hom te dien! Vir Paulus het die Here mos op  ʼn stadium gesê:  My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.

                                                                                        (2 Kor. 12)

 

Die graat vraag is nie:  Het ek genoeg krag of is ek welsprekend nie?!

Nee, die groot vraag is:  Vertrou ek die Here? Glo ek sy beloftes?

 

Dawid het in Psalm 18 gesing:  Met u hulp loop ek  ʼn bende storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie (Ps. 18:30).  En Paulus sê in Fil.4:13: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

 

 3. WAT IS DIE REAKSIE WAT GOD VERLANG?

 

Hy soek gehoorsaamheid! Hy sê vir Jeremia: ... sê vir hulle alles wat Ek jou beveel.  Moenie vir hulle skrik nie, want dan verpletter Ek jou voor hulle oë (Jer. 1:17). 

 

Jeremia het tussen twee vure gesit.  Aan die een kant die Here se duidelike opdrag.  Aan die ander kant sy vrees vir mense. Hy moet vir hulle gaan sê wat die Here sê, maar dit was beslis nie wat die volk wou hoor nie. Hy het geweet:  Hulle gaan nie na hom luister nie! 

 

Jeremia het nie uitkomkans nie.  Hy sal of die mense se weerstand moet hanteer, of met God te doen kry, wat duidelik sê:  Maak klaar, staan op, sê vir hulle alles wat ek jou beveel. Moenie vir hulle skrik nie, want dan verpletter Ek jou voor hulle oë (vers 17).

 

Ons Here Jesus was in dieselfde soort stryd. Toe Hy  voor sy kruisdood in Getsemane gebid het, het Hy geweet wat die mense Hom wil aandoen. Hy het geweet die kruis lê voor.  Maar Hy het ook geweet dat Hy ten volle aan sy hemelse Vader gehoorsaam moes wees.  Hierdie stryd het Hom bloed laat sweet.

 

Omdat die Here Jesus die pad geloop het, hierdie stryd gestry het, ken Hy ook my en jou stryd. Hy weet hoe moeilik dit is om tot die dood gehoorsaam te bly.  Daarom het Hy voor sy hemelvaart aan sy volgelinge die versekering gegee:  Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matt 28:20).

 

SLOT

 

Die  Here roep ons elkeen om ons te stuur.  Paulus wys ons in Rom. 12 op verskillende moontlike opdragte. Sommige van ons moet mense wat hartseer is vertroos, ander moet onderrig gee, terwyl nog ander hulp moet verleen. Siekes moet versorg word en armes moet gehelp word. Kleinmoediges moet versterk word en afgedwaaldes moet teruggeroep word.  Weet u wat u opdrag is?  Wat is u antwoord?

 

Onthou!  Ons verskonings help nie, want God gee ons alles wat ons nodig het om Hom en ons naaste te dien.

                                                                            Amen.

Read 6471 times Last modified on Friday, 09 March 2012 08:11
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek