SKRIFLESING: JEREMIA 2:1 – 19
TEKS: JEREMIA 2:13 EN JOHANNES 4:28 & 29
STAAN JY BY DIE FONTEIN OF BY JOU EIE WATERBAK?
Soms vang ons mense dom dinge aan... Het u ook al ʼn ding gedoen waaroor u later gevoel het: Ek kan nou my hare uit my kop trek?
Dit gebeur mos dat ʼn mens oor iets gewaarsku word, maar teen alle waarskuwings en selfs teen jou eie beterwete, gaan jy voort om te doen wat jy wil. Dit is baie dom, maar tog gebeur dit in die lewe.
Die profeet Jeremia was met so ʼn probleem gekonfronteer.
Die Here het hom na sy verbondsvolk, na die nageslag van Jakob gestuur, want broeder en suster, hoe onlogies en onmoontlik dit ook mag lyk,
1. GOD SE VOLK HET HOM VERRUIL
Jeremia moes dit vir die volk gaan sê. En hoor nou die verwyt in die Here se stem:
“My volk het wee sondes begaan: Hulle het My die bron van lewende water verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie”(2:13).
Omdat die Here se volk in ʼn gebied gewoon het waar water skaars is, moes mense planne maak om water op te gaar. In die Bybel is verskeie voorbeelde van veewagters wat met hulle veetroppe na waterputte toe moes trek om die diere water te gee.
ʼn Ander manier waarop hulle water bewaar het, was in groot waterbakke wat hulle uit die rots gekap het. Hierdie holtes in die rots was gewoonlik min of meer so groot soos ons watertenks wat ons hier op die plase op die tenkstaanders het. Wanneer dit gereën het, het die waterbakke dan die water opgevang en dit is dan vir mens en dier gebruik. Soms was daar egter baste in die rots en dit het dan die water stadig laat uitlek.
Die Here stuur vir Jeremia om met die volk te gaan praat. En nou gebruik hy hierdie beeld: Die Here selfs is soos ʼn fontein wat gedurig vars skoon water lewer. Die volk het nog altyd vrye toegang tot die fontein gehad. Maar nou, sê die Here het hulle Hom verlaat. Hulle het ʼn baie dom ding gaan doen. Hulle het Hom verruil vir hulle eie waterbakke wat hulleself uitgekap het. Hierdie waterbakke is gebars en die water daarin is vuil!
Die Here sê dit is ʼn ondenkbare dom ding om te doen. Nie eers die heidennasies doen so iets nie. Al aanbid hulle afgode, verruil hulle nie hulle afgode vir ander afgode nie. Maar dit is wat die Here se volk gedoen het. Hulle het Hom die ware, lewende God vir hulle selfgemaakte afgode verruil. Die Here sê hulle optrede laat selfs die hemel sidder en beef van skrik.
Dit is so dom om die ware God vir jou selfgemaakte afgod te verruil dat ʼn mens sou dink dat ons moderne mense tog nooit so iets sou doen nie. Maar moenie glo nie! Dit gebeur vandag nog. En boonop is dit sogenaamde kerkmense wat dit doen.
Dit gebeur wanneer jy jou lewe met iets anders as die Here vol maak. Wanneer jy aan iets anders in jou lewe meer aandag gee as aan die Here. Dit kan sport of oefening wees of dit kan geld en besittings wees. Jy gee soveel aandag aan daardie aspek in jou lewe dat dit jou fokuspunt word. Dit oorheers jou denke en neem byna al jou aandag in beslag. Dit kan familie of vriende wees of dit kan jou loopbaan of jou ontspanning wees.
Die Here Jesus het gewaarsku: Jy kan nie God en Mammon dien nie. En op ʼn ander plek: Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of sy dogter liewer het as vir My, is nie wed om aan My te behoort nie (Matt 10:37).
Ons moenie te gou en te gemaklik ʼn oordeel oor die ou Jode uitspreek nie, ons doen baie manklik dieselfde dom ding as wat hulle gedoen het. Ons verruil ook soms die Here, ons fontein, vir ons eie gebarste klipwaterbakke.
Die Here is baie kwaad vir sy volk wat so dom is. Deur sy profeet sê Hy aan hulle dat Hy hulle gaan straf, want selfs die priesters, wat die Here se wil aan die volk bekend moes maak, het hulle teen die Here verset. Hulle was deel van die verval en afgodery. Wat die Here saak nog erger maak, is die feit dat die volk hoor wat Jeremia sê, maar hulle ontken hulle skuld. Hulle ontken dat hulle die Here verruil het. In vers 34 wys die Here hulle daarop dat daar bloed van onskuldige mense aan die some van hulle klere is, maar steeds weier hulle om om hulle oortredinge te bely.
En ten spyte van dit alles sê jy: “Ek is onskuldig; die Here is nie toornig op my nie”. Maar Ek gaan jou straf omdat jy gesê het: “Ek het nie gesondig nie”.
Luister wat staan in Hfst. 2:19:
Die kwaad wat jy gedoen het, sal jou straf word, omdat jy van My af weggedraai het, sal jy daaronder ly. Jy sal agterkom hoe rampspoedig dit is, jy sal proe hoe bitter dit is om My, die Here jou God te verlaat...
Dit verbaas ʼn mens regtig dat die Here se volk, wat so lang pad saam met Hom geloop het, so dom kan wees en ook so hardhorend en selfs nog ontken dat hulle met hulle ongehoorsaamheid teleurgestel het en Hom selfs verlaat het. Dit nadat hulle, sê die Here, soos bronstige kameelkoeie was wat die wind opgesnuif het en onkeerbaar in haar hittigheid was. Hulle het agter die sonde aangeloop. Hulle het die sonde gesoek. Dit was vir hulle lekker om sonde te doen!
Maar weet u wat is nog meer verbasend as die volk se domheid?
2. GOD IS BEREID OM GENADE TE BEWYS
Al is hy kwaad en al stuur Hy groot en geweldadige gevegsmagte uit die noorde om sy volk aan te val en plat te slaan, is daar nog ontferming.
Hoor wat sê Hy:
“Klim op sy terrasse en kap die wingerde uit, maar moenie alles vernietig nie...”(5:10). “Maar ook in daardie dae, sê die Here, sal Ek nie ʼn einde aan julle maak nie” (5:18)
Die Here sê Hy gaan sy volk straf en die straf gaan verskriklik wees, maar Hy sal sy volk nooit totaal vernietig nie. Omdat Hy God is, kan Hy nie aan Homself en sy beloftes ontrou wees nie.
Daarom roep Hy tussen sy oordeelsuitsprake ook nog na sy volk om terug te keer en ʼn nuwe begin te maak:
So sê die Here vir die mense van Juda en Jerusalem
Ploeg vir julle ʼn braakland en moenie tussen die dorings saai nie. Wy julle aan die diens van die Here en verwyder alle ontrou uit julle harte(Hfst 4:3 en 4):
Die Here wil met ʼn oorblyfsel van die volk, die wat getrou is, ʼn nuwe begin maak. Hy is altyd bereid om te vergewe. Hy sal die een wat na Hom toe terugdraai nooit verwerp nie.
Maar die volk wou nie leer nie. Hulle het aangehou om van die Here af weg te draai. In Maleagi se tyd, vra die Here: Is daar nie tog net iemand wat die tempel se deure wil sluit nie – sodat die volk kan ophou met hulle vals godsdiens.
En dan is daar vir 400 jaar stilte. Die Here stuur geen profeet nie. En dan gryp Hy weer in. Kyk na
3. GOD SE OPLOSSING VIR ONS SONDES
Hy kom in die Persoon van die Seun na ons toe. Uit die stomp van Isaï laat Hy ʼn loot uitspruit. Uit die geslag van Dawid word die Here Jesus as mens gebore.
En op ʼn dag stap Hy en sy dissipels deur Samaria. Dit is die gebied waar nasate van die ou tienstammeryk gewoon het. Hierdie mense was met die Assiriërs vermeng. Dws nie meer suiwer Israeliete nie. Jesus wag by ʼn put buite die dorp Sigar wat blykbaar destyds deur Jakob en sy mense gegrawe is.
Om ʼn gesprek te begin, vra Jesus vir ʼn Samaritaanse vrou water om te drink. Sy optrede was ongehoord. Die Jode het hulle nie eers verwerdig om met die Samaritane te praat nie. Wat nog van ʼn Samaritaanse vrou?! Maar die Here Jesus wil redding bring. Hier by ʼn mensgemaakte klipwaterbak kom staan Hy en praat.
Die Here Jesus wys met sy optrede dat die Here se genade groot is. Hy ontferm Hom nog steeds oor sy volk wat weggedraai het. Hy is nog steeds bereid om te vergewe. En boonop strek sy genade en ontferming weier as net die Jode van destyds.
Daarom sê Hy vir die vrou: “Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry, maar wie van die water gedrink het, wat Ek hom gee, sal in alle ewigheid nooit weer dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ʼn fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee” (Joh. 4:13 en 14).
Die Here Jesus wys met hierdie woorde dat Hy die fontein van die lewe is. As jy met ʼn ware geloof aan Hom vasgryp, sal jy nooit weer dors kry nie.
En kyk nou na die vrou se reaksie. Hier staan: Die vrou het haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: Kom kyk....! Haar mensgemaakte waterkruik was nou vergete. Sy het die fontein van die lewe gevind!
SLOT
Geliefdes, vertrou ons op ons eie waterbakke en waterkruike? Dink ons dat ons geestelike dors met ons eie maaksels geles sal word?
Ons Here Jesus het na ons toe gekom. Hy roep ons om by Hom, by die fontein van die lewe te staan. Dan sal ons self fonteine word wat opborrel sodat ander mense saam met ons die fontein van die lewe kan benut. AMEN.