Sosiale Skakels

Besoekers

We have 26 guests online

Teken In

Follow us on FacebookFollow us on Twitter


Monday, 08 August 2011 05:11

WAAR STAAN JY - BY DIE KERK OF BY DIE HERE? - JEREMIA 7:1 - 15

Written by 
Rate this item
(0 votes)

SKRIFLESING:  JEREMIA 7:1 - 15

TEKS: JEREMIA 7:3 & 4                        

TEMA:  WAAR STAAN JY -  BY DIE KERK OF BY DIE HERE?

 

As  ʼn mens op  ʼn bepaalde plek staan en na iets kyk, sien jy dit vanuit  ʼn sekere hoek en daarom net vanuit jou perspektief.  As jy op  ʼn ander plek gaan staan en dieselfde ding kyk, lyk dit weer anders.  Dink maar net hoe hierdie kerkgebou van verskillende kante af anders lyk.

Dit laat my dink aan  ʼn keer toe ons as gesin in Oos Transvaal getoer het. Ons kom toe daar tussen Graskop en Sabie by Gods Window. Soos u seker weet, kry jy daar  ʼn uitsig oor die Laeveld wat jou asem wegslaan.  Jy kom onder die indruk van die grootheid van God se skepping.  Dit voel mos of jy saam met die Here uit die hemel op die aarde afkyk.  Ons twee seuns was toe so in die Laerskool. Toe ons so na die uitkykpunt toe stap, sien ons  ʼn spesiaal omgeboude 4X4 voertuig met alles wat kan oop en toemaak.  Dit het onmiddellik die twee seuns se aandag getrek. Hulle het rondom die voertuig geloop en dit goed bekyk. Toe ons hulle roep het hulle vir  ʼn oomblik of twee by die uitkykpunt gaan staan en kyk en toe is hulle weer terug na die 4X4.  Hulle kon natuurlik later die dag en selfs nog die volgende dag vir jou alles oor die 4X4 voertuig vertel, maar  van die uitsig vanaf Gods Window kon hulle nie veel onthou nie.

Waar  ʼn mens staan, bepaal nogal met watter hoek jy kyk en dit bepaal uiteindelik ook wat sien.  Die twee seuns was by  ʼn plek met  ʼn asemrowende mooi uitsig oor God se skepping, maar hulle het dit nie behoorlik gesien nie, want hulle het teen ʼn indrukwekkende voertuig daar naby gaan staan en toe net dit gesien.

Die Here se volk Juda het  vanuit hulle geskiedenis die volle uitsig op God se liefde, sy bewaring en sy krag gehad, maar hulle het by die tempel gaan staan en net na die tempel gekyk.  Hulle het hulle toe nie verder juis aan die Here gesteur nie.

Ons moet erken,

1. DIE TEMPEL WAS REGTIG INDRUKWEKKEND

Dit  het bo die stad Jerusalem uitgetroon waar dit op die tempelberg gestaan het. Dele daarvan was met goud oorgetrek.  As jy na Jerusalem toe aangekom het, het jy die tempel  gesien soos dit in die son geskitter het. 

Elke Judeër was besonder trots op die tempel.  Sommige geskiedskrywers noem dit as een van die sewe wonders van die antieke tyd.  En daar in die tempel, in die allerheiligste waar die verbondsark gestaan het,  so het hulle geglo, het die Here gewoon.  Hulle godsdiens het rondom die tempel gesentreer. Die tempel was simbool van God se teenwoordigheid by sy volk.

Met al die Priesters en Leviete wat by die tempel diens gedoen het en al die offers wat daar gebring is, was daar  ʼn voortdurende bedrywigheid.  Daar was oggend- en aandoffers.  Mense het hulle tiendes en ander offerandes daarheen gebring.

Met hierdie indrukwekkende tempel, wat hulle as bewys van die Here se teenwoordigheid gesien het, was hulle vol vertroue dat hulle op die regte pad was.

Wat hulle egter nie begryp het nie, of ten minste dan vergeet het, was dat die Here veel groter as die tempel is.  Hulle het so teen die tempel vasgekyk dat hulle nie die Here gesien het nie. Salomo, die bouer van die tempel het by die ingebruikneming gebid: Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het?  Enin Hand 17: 24 sê Paulus:  God wat die hemel en die aarde gemaak het.... Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie.

Vandag het ons nie meer die tempel nie, maar wel die kerk. Ons praat ook graag van die kerk as die huis van God.  En sommige mense praat selfs van die kerkgebou as die huis van God.  Die kerk is deur die eeue ook al indrukwekkend ingerig met strukture, belydenisskrifte en kerkorde. Ons het bepaalde gebruike en gewoontes. Ons is trots op die kerk.

Maar ons moet  onthou

2. DIE TEMPEL IS MENSLIKE BOUWERK

Al was die tempel met groot noukeurigheid en teen hoë koste opgerig, bly dit mensewerk.  Mensewerk tot eer van God, maar steeds net mensewerk.

Juda was so besig met die tempel en hulle tempeldiens dat hulle die Here van die tempel misgekyk het.  Hulle het naderhand hulle vertroue op die tempel geplaas in plaas daarvan dat hulle hul hoop op die Here gebou het.  Toe hulle deur die Assiriërs en selfs die Babiloniërs bedreig is, het hulle aan die tempel vasgeklou.

Daarom sê die Here in ons teksvers:  Moenie julle vertroue stel in leuens nie.  Julle sê: “Ons is veilig!  Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!”

Die volk was so besig met hulle tiendes en offerhande en al die rituele by die tempel dat hulle al hulle aandag daaraan gegee het en in die proses die Here vergeet het.

Is dit nie presies wat deesdae ook gebeur wanneer ons so fokus op strukture en gebruike in die kerk nie? 

·         Mense het al bitter kwaad geword en vir ure gestry oor vrouens se hoede en mans se baadjies. En mag vroue diakens of ouderlinge wees?

·         Sommige lidmate raak hewig ontsteld as die liturgiese orde in die erediens net aangepas of verander word.

·         Party lidmate word warm onder die kraag oor dinge soos sit of staan tydens die geloofsbelydenis of sang of gebed. 

·         Dinge soos of die kollekte onder die erediens of by die deur moet wees en of ons aan die einde saam “Amen” moet sing of nie, word dinge waaroor daar vurig gepraat word.   

Hoor wat sê die Here vir die Judeërs wat so met die tempel en die dinge by die tempel besig was:

Maak liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is, moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aandoen nie. ......  Julle kan mos nie steel, moor, egbreuk pleeg, vals ede aflê, wierookoffers vir Baäl bring.... en My dan ook nog in hierdie tempel wat na my Naam genoem is, kom dien en sê: Ons is veilig!” nie.(verse 5 – 6 en 9 -10)

Sien u die verskil?  In plaas daarvan om by die Here te staan en jou oor sy almag, wysheid, liefde en genade te verwonder, staan jy by die kerk en jy raak so besig met die dinge in en om die kerk dat dit al jou aandag in beslag neem. Jy wil dinge by die kerk op  ʼn sekere manier gereël sien, maar hoe lyk jou lewe?

As jy by die Here staan, verander sy grootheid en sy almag en sy liefde jou tot  ʼn nuwe mens wie se hele lewe nuut word.  As jy by die kerk staan, staan jy by  ʼn mens gemaakte struktuur wat jy voortdurend probeer verander om te word soos jy dit wil hê.

Ons het in die evangelie volgens Johannes gelees hoe die Here Jesus by die tempel in Jerusalem gekom het en hoe Hy die mense met  ʼn sweep daar uitgejaag het.  Waarom het Hy hulle uitgejaag?  Hulle het die tempel verkeerd gebruik!  Hulle het van die tempel  ʼn menslike gebruiksartikel gemaak.  Hulle moes die Here daar ontmoet, maar hulle was met hulle eie handelsbedrywighede besig. Op  ʼn ander plek sê die Here Jesus dat hulle van die tempel  ʼn rowerspelonk maak.

Die Here Jesus het met sy optrede die Jode ontstel en hulle vat Hom sommer net daar aan: Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?

Jesus antwoord hulle:  Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.

Die Jode, en selfs sy dissipels, het nie verstaan wat Hy sê nie, want Hy het hulle aandag van die gebou wat daar staan na Homself verskuif.  Hy het bedoel dat Hy na 3 dae sal opstaan as hulle sy liggaam doodmaak.

Die tempel en die Here Jesus het daar gestaan.  Maar die Jode het net die tempel gesien. Hulle het die Here wat voor hulle oë was totaal misgekyk!

Juis omdat die mense so die aardse tempel en die gebruike daar gefokus was,  en in die proses Hom verlaat het, het die Here sy Seun gestuur sodat die mense aan Hom kon vasgryp.

3. JESUS CHRISTUS SE LIGGAAM IS DIE WARE TEMPEL

Die hele Nuwe Testament is vol bewyse dat die Here Jesus se liggaam die ware tempel is.  En ons is mos ledemate in sy liggaam!

·         In Joh. 2:21 staan:  Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel.

·         Die apostel Paulus sê in Romeine 12:5  Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar

·         En in sy eerste brief aan die Korintiërs sê hy: Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?                                                                                                       (1 Kor3:16)

·         Volgens Openb. 21:22 is daar nie  ʼn tempel in die nuwe Jerusalem nie, want die Here is Self die tempel.

Broeders en susters, as ek en jy by die Here Jesus staan, ja as ons met  ʼn opregte geloof deel is van sy liggaam, sal ons anders kyk.  Ons sal die Here raaksien en nie die kerk nie.  Ons sal nie ons sekerheid en ons veiligheid in ons Gereformeerd-wees soek nie, maar in Christus, want dan lewe ons uit Hom en deur Hom en tot Hom!

As jy in Christus is, is jy  ʼn nuwe mens!  Dan lewe jy soos Christus en dan tree jy op onder leiding van die Heilige Gees.  Ja, dan word jou lewe gekenmerk deur liefde, vrede, vreugde, vriendelikheid, goedhartigheid, nederigheid, getrouheid en selfbeheersing.

 

 

SLOT

Broeder en suster.  Vanoggend vra die Here vir elkeen van ons:  Waar staan jy?  Staan jy by die kerk of staan jy by die Here?  As jy by die kerk staan, is die gevaar groot dat jy net die kerk sien en daarom die Here se grootheid, almag, sy liefde en genade nog miskyk.

                                                               AMEN.

Read 4841 times Last modified on Friday, 09 March 2012 08:10
Danie de Kock

Website: www.facebook.com/profile.php?id=1438745475 Email This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
Login to post comments

Soek