SKRIFLESING: JEREMIA 13:1 – 17
TEKS: JEREMIA 13:11
TEMA: KLOU AAN GOD VAS
Ons is hierdie week so min of meer halfpad met ons studie van die boek Jeremia. Wat het u tot dusver geleer?
Ja, die volk Juda het die Here nie meer met oorgawe gedien nie. Hulle het die Here wat hulle oor soveel eeue gelei en bewaar het vergeet. Hulle het hulle hoop op afgode begin stel. Dit klink byna onmoontlik dat so iets kan gebeur, maar dit het. So algaande, byna sonder dat hulle dit self agtergekom het, het hulle van die Here af weggedrywe. En hoe meer die profeet Jeremia hulle gewaarsku het, hoe minder het hulle geluister.
Op hierdie stadium was Jeremia self al moeg en moedeloos met sy opdrag. Hy preek vir die mense in Juda, maar hulle hoor nie. Hulle sê die heeltyd hulle is onskuldig. En as hulle tog wel tot by ʼn punt van sondebelydenis kom, is dit maar halfhartig.
Vandag lees ons dat die Here ʼn nuwe strategie met die volk het. Hy gaan nou nie meer net sy profeet met die volk laat praat nie. Nee. Hy gaan nou sy profeet op ʼn ander, op ʼn nuwe manier laat werk. Hy sê vir Jeremia: Gaan koop vir jou ʼn linnegordel en maak dit om jou lyf vas.(vers 1)
1. JEREMIA PREEK MET ‘N DEMONSTRASIE
Die linnegordel wat hy moes gaan koop was nie ʼn gordel waarmee jy jou klere vasgemaak het of waarin jy ʼn swaard kon steek nie. Hierdie linnegordel was meer soos onderklere wat om jou heupe gedra is. Dit was dus ʼn baie belangrike en ook persoonlike kledingstuk.
Nou wonder ʼn mens hoe kan so ʼn linnegordel wat soos onderklere was ʼn demonstrasie vir die volk wees?
Mans het gewoonlik die gordel onder hulle klere gedra. Wanneer hulle egter handewerk verrig het, het hulle hul boklere uitgetrek en net met die gordel om hulle lywe gewerk.
Gewoonlik was hierdie gordels van leer, maar Jeremia moes een van linne koop. Linne is baie duursame en kosbare materiaal wat uit die vlasplant gemaak word. Linne was gewoonlik ook die materiaal wat deur priesters gedra is. Die gordel is gewoonlik omdat dit onderklere was, gewoonlik elke dag of twee gewas.
Jeremia moes sy gordel egter vir ʼn geruime tyd nooit uittrek nie en ook nie was nie. Die mense moes sien, elke keer wanneer Jeremia handewerk gedoen het, dat hy steeds dieselfde gordel aanhet. Hy het dit nooit uitgetrek nie. Dit het naderhand seker nie meer so goed gelyk nie, om nie eers te praat hoe dit dalk geruik het nie!
Dan op ʼn stadium kry Jeremia die opdrag om meer as 300 km ver te stap en die linnegordel by die Eufraatrivier te gaan wegsteek. En dan, so lees ons, na ʼn lang ruk moes hy die gordel weer gaan haal. Hy moes toe grawe om die gordel weer te kry. En toe hy dit uithaal het die gordel begin vergaan. Dit was nutteloos. Hy kon dit nie weer aantrek nie.
Wat was die preek? Wat het hierdie demonstrasie gesê?
Kom ons lees weer wat sê die Here in vers 11:
Soos ʼn gordel stewig vas is om die lyf van ʼn man, so het Ek al die mense van Israel en Juda aan My vasgemaak ... hulle moes My roem en eer en ʼn sieraad vir My wees, maar hulle het nie geluister nie.
Hier is ʼn bewys van die Here se genade en liefde
2. DIE HERE HET SY VOLK AAN HOMSELF VASGEMAAK
Dit was nie die volk wat Hom gesoek het of besluit het om Hom te dien nie. Hy het hulle voorvader Abraham uit Ur geroep. Hy het die volk uit Egipte uitgelei. Hy het aan hulle die land Kanaän gegee om in te woon. Hy het met hulle ʼn verbond gesluit. Ja, Hulle het hulle bestaan en voortbestaan geheel en al aan Hom alleen te danke.
Boonop het Hy hulle lank verdra. Soos Jeremia nie die vuil en natgeswete linnegordel uitgetrek en gewas het nie, het die Here sy volk gedra en verdra. Al was hulle optrede vol sonde en het hulle in werklikheid afstootlik geword het die Here hulle nie gelos nie.
Maar wat doen die volk? Hulle sien nie die Here se trou en sy liefde nie. Hulle raak besig met die wêreld. Die Eufraatrivier is die rivier wat deur Assirië en deur Babilonië loop. Omdat die dele semi-woestyngebiede is, is die Eufraat hulle lewensaar. Dit is hulle waterbron.
Omdat die volk hulleself so met die wêreldse dinge besig gehou het en op die dinge van die wêreld vertrou het, gee die Here hulle nou oor aan die wêreld. Hulle moet by die wêreld se lewensaar gaan lê.
En dan na ʼn lang tyd, is hulle nutteloos, verlore.
Hierdie demonstrasie was nog waarskuwing aan die volk. Dit het enersyds gewys op die Here se genade en vergiffenis, maar dit was ook ʼn oproep tot bekering. Maar die volk het steeds nie geluister nie.
Israel sou in ballingskap gaan. Weggevoer word na Babel toe...
Die volk wou eenvoudig nie na die profete luister nie. Die enigste ware oplossing was. God moes self na hierdie aarde toe kom. Hy moes mens kom word....
3. DIE HERE JESUS MAAK ONS DEEL VAN SY LIGGAAM
Toe God in die Persoon van ons Here Jesus na hierdie wêreld gekom het, het Hy ons nie soos klere kom aantrek nie. Nee, Hy het meer kom doen! Hy het ons deel van Homself kom maak!
Elkeen wat in Hom glo, is nou ʼn ledemaat van sy liggaam. Daarom praat ons van lidmate van die kerk. Die kerk is die liggaam van Christus en ons is ledemate daarvan.
En wat het die Here met ons sonde gedoen? Hy het daarmee aan die kruis gaan hang. Die nagmaal wat ons DV weer oor twee weke gaan vier, wys ons weer daarop dat ons voluit deel is van Christus se liggaam. As ons met ʼn ware geloof aan ons Here Jesus Christus verbind is, is dit so goed as dat ons self persoonlik vir ons sondes betaal het.
Ons het soveel meer as Israel en Juda om voor dankbaar te wees.
Daarom is die vraag ook aan elkeen van ons vandag:
· Lewe jy voluit saam die Here?
· Is Hy alleen jou lewensbron?
· Is sy koninkryk jou ewige lewensdoel?
SLOT
Onthou, die Here het met ons ʼn verbond gesluit. Die doop is sy bewys daarvan. Hy het ons deel van sy volk gemaak. Hy het ons aan Hom vasgemaak. Daarom wil Hy hê dat ons deur ʼn ware geloof aan Hom alleen sal vasklou. Dan is ons seker van ʼn ewige toekoms by Hom in die Vaderhuis.
AMEN.