NAGMAAL
SKRIFLESING: JER 25:15 – 29 EN MATT 26:36 – 46
TEKS: JEREMIA 25:15 EN MATT 26:39
T EMA: SLEGTE NUUS WORD GOEIE NUUS
Om seremonieel uit ʼn beker te drink, het deur die geskiednis, en selfs in verskillende kulture, die betekenis om gemeenskaplikheid te vier en lewenslot te deel.
Om byvoorbeeld ʼn heildronk saam te drink, beteken dat ons dit geniet om hier gesellig saam te wees. Verder bepaal die inhoud van jou beker wat jy drink ook jou lewenslot. ʼn Gesellige glasie wyn vrolik die geselskap op, maar ʼn groot beker gemeng met sterk drank kan iemand sleg dronk laat word. In die ou tyd is selfs die doodstraf soms met ʼn beker vol gif uitgevoer.
In die Bybel word die beeld van die beker as metafoor gebruik vir dit wat die mens uit God se hand ontvang. En die beker is dan ʼn groter houer soos ons nagmaalsbeker.
Ons het vanoggend van DRIE BEKERS gelees:
Die Here gee ʼn opdrag aan Jeremia: Vat hierdie beker uit my hand. Dit is gevul met die wyn van my toorn. Jy moet al die nasies na wie toe Ek jou stuur, daaruit laat drink. (Jer. 25:15)
In doodsangs hoor ons die Here Jesus in Getsemane bid: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil. (Matt 26:39)
Toe die Here Jesus die nagmaal ingestel het, het Hy nadat Hy die dankgebed uitgespreek het ʼn beker wyn aan sy dissipels gegee met die woorde: Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. (Matt 26:27 & 28)
Wat het hierdie drie bekers met mekaar te doen?
1. BEKER EEN IS VIR DIE MENSDOM IN HULLE SONDE
Volens die konteks is hierdie beker nie ʼn fisiese beker vol wyn nie, maar eerder ʼn metafoor van dit wat die volk uit die Here se hand ontvang. Teen hierdie tyd is die Here regtig keelvol vir die volk Juda. Hy het deur sy profeet met hulle gepraat. Toe praat nie wil help nie, het Hy vir Jeremia gestuur om aan hulle te demonstreer wat besig is om met hulle te gebeur. Verder het die Here hulle aandag gevestig op dit wat met hulle volkgenote, die Tienstammeryk in die Noorde gebeur het. Hoe hulle deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer is. Maar niks wou help nie.
En nou begin die Here met sy optrede teen Juda. Genoeg is nou genoeg. Nou moet Jeremia God se oordeel oor Juda gaan uitspreek. Die Here gee aan Hom ʼn beker om aan Juda te gaan gee. Die beker is gevul met God se toorn. Nou is God regtig kwaad. Sy geduld is op. Hy wil nie verder praat nie. Nou sal hulle sy beker vol oordeel drink! Dit is byna soos iemand wat die doodstraf gekry het en nou die beker vol gif moet drink. En nie net Juda nie, ook die ander nasies moet dit drink. Almal het mos gesondig!
Onthou ons praat hier van byna 600 jaar vC. Jerusalem word deur Nebukadnesar van Babel se soldate ingeval en totaal verwoes. Die meeste mense word na Babel weggevoer.
Hierdie mense het nog nie ʼn Verlosser gehad nie. Hulle staan in hulle sondenaaktheid voor die Here. Hy verwag gehoorsaamheid en liefde, maar hulle is ontrou en vol selftevredenheid.
Ook vandag se mens sonder Christus, staan in presies dieselfde toestand voor God – In sy sondenaaktheid. Liefdeloos, selftevrede, ongehoorsaam, eiegeregtig. Die sonder Christus is ʼn verlore mens en hy ontvang die beker van God se toorn
Maar kom ons kyk na die volgende beker.
2. BEKER TWEE IS VIR JESUS CHRISTUS AAN DIE KRUIS
Die tweede beker is ook vol van God se woede.
Ons het gelees hoe die Here Jesus die nag waarin Hy verraai is in Getsemane gebid het. Hy het drie keer gaan bid. Onthou, drie is die volheidsgetal in die Skrif. Dit beteken dus dat Hy volledig tot sy hemelse Vader gebid het. Boonop het Hy het so ernstig gebid dat sy sweet soos bloeddruppels op die grond geval het.
Waarom het Hy so gebid? Hy het gevra: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan.....
Die lyding waarvoor Hy so bang was, was nie in die eerste plek die lyding wat die Joodse raad en die Romeinse soldate Hom sou aandoen nie. Nee, die lyding waaroor Hy so benoud was, was dit wat tydens die 3 ure lange duisternis gebeur het, toe Hy God se volle toorn oor ons sonde moes dra. En toe Hy dit klaar gedoen het, het Hy uitgeroep: Dit is volbring.
Jesus Christus het aan die kruis die beker van God se woede oor ons elkeen se sonde gedrink. In Getsemane was dit vir Hom slegte nuus. Dit het Hom laat bloed sweet, maar uiteindelik word dit vir ons, wat in Hom glo, goeie nuus!
Dit bring ons by die derde beker
3. BEKER DRIE IS VIR ONS WAT VERLOS IS
Dit is die beker wat ons vanoggend aan die Nagmaalstafel saam drink. Dit is die beker wat ons vir mekaar aangee en sê: Drink almal daaruit. Dit is ʼn beker vol van God se liefde en vergiffenis.
Dit is ʼn beker wat simbolies ook ons lewenslot bepaal. Die beker sê: Ons wat sondaars was, is nou verlos van God se woede en sy oordeel, deur die beker wat die Here Jesus aan die kruis gedrink het.
Daarom is hierdie derde beker wat ons vandag in ons hande gaan vashou en vir mekaar gaan aangee, is vol vergiffenis en vreugde en dankbaarheid.
Dit is ʼn beker wat ons verseker van God se liefde vir ons. Dit verseker ons van God se genade vir ons.
As ons vanoggend die beker aan die Nagmaalstafel drink, gaan ons saam feesvier. Ons gaan bly wees en dankbaar wees, want ons het ʼn heerlike toekoms in die ewige Vaderhuis. Ons gaan mekaar verseker van ʼn wonderlike toekoms saam as kinders van God.
Ja, ons gaan saam bly en dankbaar wees, want ons weet dat niks ons van God se liefde kan skei nie, die liefde wat daar is in Jesus Christus ons Here!
SLOT
Kom ons vat kort saam:
Alle mense op aarde verdien God se beker van toorn. Hy is woedend oor die mens se sonde. Hy het immers die mens goed geskep, maar dis die mens wat in ongehoorsaamheid aanhou met sondig.
God stuur sy Seun na hierdie aarde om die mensdom te kom verlos. Hy drink die lydensbeker van God se toorn aan die kruis sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
Ons drink vandag die Nagmaalsbeker wat God ons gee. Dit is ʼn beker vol van God se liefde, genade en ontferming. Ons drink dit saam en ons vier saam fees, want ons is oppad na ons hemelse erfenis. Ons het ʼn ewige blink toekoms saam met ons hemelse Vader.
Die slegte nuus van die Here Jesus se kruisdood, wat Hom bloed laat sweet het, het vir ons goeie nuus geword.
Kom ons vier saam fees!!
AMEN.